Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geniet daardie gaap!
  • Bosbessies teen infeksie
  • Breinbeskerming vir hartaanvalslagoffers
  • Kindersoldate verbied
  • Medikasie en die bejaardes
  • Dodelike ecstasy
  • Vloekery by die werksplek
  • Huiswerk is goeie oefening
  • Rysdoppe versterk beton
  • Dwelms—Waarom misbruik mense dit?
    Ontwaak!—2001
  • Wanneer diere gaap
    Ontwaak!—1997
  • Die bonsende bessie—Het jy dit al geproe?
    Ontwaak!—2005
  • Dwelms—Wie gebruik dit?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Geniet daardie gaap!

Net 11 weke ná bevrugting begin ’n baba in die baarmoeder reeds gaap, verduidelik die Spaanse weekblad Salud. Blykbaar kom hierdie onwillekeurige reaksie by die meeste soogdiere voor, sowel as by sekere voëls en reptiele. Hoewel navorsers nog nie presies weet waarom ons gaap nie, het hulle waargeneem dat ons ons gewoonlik strek wanneer ons gaap. Hierdie bewegings, sê hulle, “verhoog die bloeddruk en die hartklop, en dit laat ook die spiere en gewrigte ontspan”. Wanneer ons ’n gaap terughou deur ons kake te klem, geniet ons nie die gepaardgaande voordele daarvan nie. Die navorsingspan stel dus voor dat ons, as die omstandighede dit toelaat, “ons kake en gesigspiere natuurlik [moet] strek” wanneer ons gaap. Wie weet—’n lekker gaap kan jou miskien ’n bietjie beter laat voel!

Bosbessies teen infeksie

“Die sap van bosbessies [cranberries] is al lank bekend vir sy besonderse eienskappe”, sê The Times van Londen. “Dit was baie gewild as ’n geneesmiddel en ’n drankie onder Amerikaanse Indiane [en] is deur Amerikaanse matrose as ’n middel teen skeurbuik gebruik.” Behalwe dat dit ryk aan vitamien C en anti-oksidante is, “het bosbessiesap ook antimikrobiese eienskappe, wat dit ’n baie doeltreffende middel maak om urinekanaalinfeksies te bestry”. Maar dit is nie, soos voorheen gedink is, as gevolg van die uitwerking wat die sap op die suurgehalte van urine het nie. Volgens The Times is dit eerder weens stowwe in die sap wat “keer dat E. coli-bakterieë [die oorsaak van die meeste infeksies, onder andere blaasontsteking] aan die wand van die urinekanaal vaskleef, wat daartoe lei dat die bakterieë weggespoel word voordat ’n infeksie kan ontstaan”. Navorsers het ook gevind dat bosbessiesap tandvleissiektes kan verlig.

Breinbeskerming vir hartaanvalslagoffers

“As die liggaamstemperatuur van hartaanvalpasiënte met net ’n paar grade verlaag word, word die risiko aansienlik verminder dat hulle later breinskade sal opdoen of sal sterf, volgens twee baanbrekerstudies”, sê ’n berig in die Kanadese koerant Toronto Star. ’n Studie waarby vyf Europese lande sowel as ’n ander een waarby Australië betrokke was, het gevind dat pasiënte wat matige diepvriesbehandeling ontvang het, beter herstel het wat hulle neurologiese en kognitiewe funksies betref. Hartaanvalslagoffers wat bewusteloos was toe hulle by die hospitaal aangekom het, se liggaamstemperatuur is 12 tot 24 uur lank met behulp van koue lug en yssakke tot 33 grade Celsius verlaag. Volgens die hartspesialis Beth Abramson verminder hierdie goedkoop, eenvoudige behandeling “die brein se behoefte aan suurstof terwyl dit die chemiese prosesse onderdruk wat breinselle vernietig”, sê die Star. “Die afkoeltegniek werk blykbaar so goed dat dokters in Kanada, die Verenigde State, Australië en Europa aanbeveel dat die tegniek as standaardbehandeling gebruik word vir alle hartversakingpasiënte wat hospitaal toe gebring word.”

Kindersoldate verbied

“’n Verdrag om die gebruik van kinders as soldate te verbied, word vandag van krag, wat tien jaar van internasionale pogings bekroon om een van die groot oorsake van menseregteskendings in die wêreld te bestry”, het ’n persverklaring van die Verenigde Nasies van 12 Februarie 2002 gesê. Die Opsionele Protokol, wat deur 96 lande onderteken is, “bepaal dat niemand onder die ouderdom van 18 verplig sal wees om in staande magte te dien nie, en dit verplig State om die minimumouderdom vir vrywillige werwing tot ten minste 16 jaar te verhoog”. Volgens skattings “dien ’n halfmiljoen kinders tans in regeringsmagte sowel as in paramilitêre en gewapende groepe in 85 lande regoor die wêreld; meer as 300 000 van hulle is aktief betrokke by gevegte in meer as 35 lande”. Volgens die webblad van die VN se Nuusdiens is baie van hierdie kinders ontvoer en “word hulle geslaan of doodgemaak as hulle probeer ontsnap. Meisies is veral kwesbaar omdat hulle dikwels seksueel misbruik word.”

Medikasie en die bejaardes

“Mense oor 60 gebruik gemiddeld drie soorte geneesmiddels, drie keer meer as jonger pasiënte”, sê Duitsland se nuustydskrif Der Spiegel. “Maar die risiko van [medisyne]wisselwerking, en gevolglik die risiko van newe-effekte, vermeerder aansienlik met die aantal geneesmiddels wat gebruik word.” ’n Ander potensiële komplikasie is dat “gesinsdokters . . . dikwels nie die verminderde nierwerking van bejaardes in ag neem nie”. Die gevolg is dat geneesmiddels in die liggaam kan opbou. Gevolglik “kan die regte dosis vir ’n 40-jarige ’n 70-jarige vergif”, verduidelik Der Spiegel. “Baie bejaardes maak dinge selfs erger deur nie genoeg water te drink nie.” Ontwatering alleen, voeg die verslag by, kan newe-effekte veroorsaak wat soortgelyk is aan dié van middels soos pynstillers, kalmeermiddels en bloeddrukverligters. Simptome sluit verwarring, ylhoofdigheid en duiseligheid in, wat dikwels aan die ouderdom toegeskryf word.

Dodelike ecstasy

Nege uit 10 mense wat raves, of deurnagdanssessies, bywoon, gebruik ecstasy, ’n dwelm met ’n amfetamienbasis, berig die Spaanse koerant El País. Onlangs is twee jongmense dood nadat hulle ’n oordosis ecstasy by ’n rave in Spanje geneem het. “Ons is die hele tyd dwelms aangebied”, sê ’n vriend van die oorledenes. Waarom neem jongmense die dwelm? Weens portuurdwang en ’n tydelike gevoel van euforie en eiewaarde wat ecstasy voortbring. Jongmense meng ecstasy dikwels met dwelms soos dagga en kokaïen of met alkohol, wat almal die gevaarlike newe-effekte daarvan vererger. Behalwe geheueverlies en depressie kan ecstasy ‘asemhalingsprobleme, breinbloeding en selfs die dood’ veroorsaak, waarsku Spanje se Nasionale Antidwelmprogram.

Vloekery by die werksplek

Vloektaal het iets algemeens geword in baie werksomgewings, berig The Gazette van Montreal, Kanada. Party deskundiges beweer dat vloekery stres by die werksplek vererger. Karen Harlos, ’n professor van organisasiegedrag aan die McGill-universiteit, sê: “As afbrekende kritiek gepaardgaan met vloektaal, kan dit ’n nadelige uitwerking hê op ’n werknemer se produktiwiteit, eiewaarde of gesondheid.” Volgens die koerant “gee die baas dikwels die toon aan” by die werksplek, wat ander sal volg. As vloekery by die werksplek jou pla, stel The Gazette voor dat jy eers “die persoon [nader] wat jy dink te ver gaan en hom of haar vra om asseblief nie gekruide taal in jou teenwoordigheid te gebruik nie”.

Huiswerk is goeie oefening

Kan daar gesê word dat dit gesonde oefening is om te stofsuig, vensters te was en ’n kinderwaentjie te stoot? Die antwoord is ja, volgens ’n onlangse studie deur die Universiteit van Queensland, Australië. Navorsers het sewe moeders met kinders onder vyfjarige ouderdom se suurstofinname gedurende hulle daaglikse roetine met behulp van gasontleders gemeet, verduidelik ’n verslag in The Canberra Times. Volgens die navorsers “gee die bevindinge te kenne dat sommige huishoudelike takies genoeg inspanning verg om gesondheidsvoordele in te hou”. Professor Wendy Brown het gevind dat die intensiteit van “die vroue se huiswerk min of meer gelykstaande was aan matige oefeninge, soos om flink te stap, fiets te ry of te swem”, sê die verslag. “Dit is slegs voorlopige navorsing”, het Brown gesê, “maar dit is duidelik dat jy nie vroue wat die hele dag op hulle voete is, as onaktief kan bestempel nie.”

Rysdoppe versterk beton

“Navorsers voorspel ’n revolusie in die boubedryf”, sê Brasilië se Jornal da USP, met “strukture wat langer hou en meer bestand is teen die weer en omgewingsfaktore. Dit is danksy ’n nuwe soort sement wat ontwikkel is deur navorsers by die Ingenieursfakulteit van die Universiteit van Sao Paulo” in Brasilië. Die wetenskaplikes het silika wat uit die as van rysdoppe verkry is, met gewone sement gemeng om ’n besonder fyn, hoëgehalteproduk te maak. Die beton wat hiermee gemaak word, is minder poreus, meer bestand teen besoedeling en die elemente en ten minste drie tot vier keer sterker as gewone beton. Hulle kan kolomme dus tot 30 persent kleiner maak, “maar omdat dit nog net so sterk is, sal die resultaat die volgende wees: meer ruimte, ligter strukture, korter konstruksietyd, laer boumateriaalkoste, minder arbeid”, sê Jornal da USP. Elke jaar word daar ongeveer 80 miljoen ton rysdoppe wêreldwyd gelewer, waaruit 3,2 miljoen ton silika verkry word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel