Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/22 bl. 21-23
  • ’n Virus waarvan vroue kennis moet neem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Virus waarvan vroue kennis moet neem
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Algemene infeksie
  • Risikofaktore
  • Hoe om ’n infeksie op te spoor
  • Behandeling en voorkoming
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2011
  • Wat vroue oor borskanker moet weet
    Ontwaak!—1994
  • Die sleutels tot oorlewing
    Ontwaak!—1994
  • Vigs—Loop ek gevaar?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 6/22 bl. 21-23

’n Virus waarvan vroue kennis moet neem

NADAT Cristinaa ’n jaar en ’n half getroud was, het sy haar eerste ginekologiese ondersoek, waaronder ’n Papsmeer, gehad. Die ginekoloog het iets gevind waaroor sy bekommerd was en het aanbeveel dat Cristina ’n prosedure ondergaan wat ’n kolposkopie genoem word. Die dokter het ’n letsel op die serviks gevind en ’n biopsie gedoen—dit wil sê ’n monster van die beskadigde weefsel vir diagnose verwyder.

“Twee weke later”, sê Cristina, “het die dokter my en my man gevra om haar in verband met die uitslae te kom spreek. Sy het ons vertel dat die letsel die gevolg was van ’n infeksie deur die menslike papilloomvirus en dat dit in ’n gevorderde stadium was. Sy het verduidelik dat die infeksie tot servikskanker kan lei en dat dit onmiddellik behandel moet word.

“Toe ek die diagnose hoor, het ek begin huil. Dit was vir my en my man ’n skok. ’n Klein operasie is vir die volgende dag gereël. Daardie middag was ek baie ontsteld en bekommerd. Ek het my afgevra: ‘Waarom ek?’”

Cristina het gelees dat die virus seksueel oordraagbaar is en kon nie verstaan hoe sy besmet is nie. Sy én haar man het nog altyd die Bybel se hoë sedelike beginsels gerespekteer.

’n Algemene infeksie

Die feit is dat miljoene vroue regoor die wêreld besmet is met die menslike papilloomvirus (HPV)—wat as die algemeenste seksueel oordraagbare siekte ter wêreld beskou word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is hierdie infeksie die vernaamste risikofaktor in die ontwikkeling van servikskanker.b

Jaarliks word daar wêreldwyd honderdduisende gevalle van HPV gediagnoseer, en elke jaar sterf derduisende vroue aan servikskanker, wat ’n gevolg van die infeksie is. Kanker as gevolg van HPV is dus ’n vername doodsoorsaak by vroue in ontwikkelende lande. Servikskanker is wêreldwyd die tweede algemeenste soort baarmoederkanker. Geen wonder die WGO noem HPV “’n wêreldwye openbare gesondheidsprobleem” nie! Wat moet ons nog omtrent hierdie virus weet?

Die menslike papilloomvirus is verantwoordelik vir vratte by mans sowel as vroue, insluitende genitale vratte, wat condyloma acuminata genoem word. Dit is gewoonlik nie kwaadaardig nie. Hoewel daar meer as honderd soorte HPV’s is, is daar net ’n paar wat tot kanker lei. Dit is slegs langdurige infeksie met sekere soorte HPV’s wat servikskanker veroorsaak. Boonop verdwyn die meeste HPV-infeksies vanself wanneer die liggaam se immuunstelsel dit suksesvol beveg.

Risikofaktore

Vroue wat vroeg al seksueel aktief is, wat verskillende manlike seksmaats het of wat geslagsomgang het met ’n man wat al verskillende seksmaats gehad het, loop die grootste gevaar. Dit is dikwels ’n man met geen uitwendige simptome nie wat die HPV-infeksie aan sy maat oordra.

Maar soms kan vroue wat ’n sedelik rein lewe lei of dalk nog nooit geslagsomgang gehad het nie, die infeksie opdoen. Onlangse studies toon byvoorbeeld dat die virus by geboorte van moeder na kind oorgedra kan word, of dat die persoon deur iets of iemand anders as die moeder besmet kan word. ’n Mens kan selfs jare nadat jy besmet is, uitvind dat jy die siekte het.

Hoe om ’n infeksie op te spoor

As jy ’n vrou is, wonder jy dalk: ‘Hoe sal ek weet of ek met HPV besmet is?’ Dit is ’n belangrike vraag, aangesien die siekte gewoonlik nie simptome het nie. Daarom is dit noodsaaklik om, soos in Cristina se geval wat aan die begin genoem is, ’n sitologiese ondersoek van die serviks te laat doen, wat ’n Papsmeer, of Papanicolaou-smeer, genoem word.c

’n Klinikus doen die toets met behulp van ’n skraper of borsel, waarmee ’n klein monster van die serviksselle geneem word, en die selle word na ’n laboratorium gestuur. Die toets kan ’n infeksie, ontsteking of abnormale selle aan die lig bring. Na bewering het Papsmere die sterftesyfer weens servikskanker sowel as die voorkomssyfer daarvan verminder.

Die WGO beweer: “Die vroeë opsporing van letsels in die voorkankerstadium deur middel van sitologiese toetse was en sal heel waarskynlik nog ’n hele ruk die vernaamste manier bly om die siekte wêreldwyd te bekamp.” As die uitslae van hierdie toets onbevredigend is, word ’n kolposkopie gedoen met behulp van ’n apparaat met ’n vergrootglas om die aangetaste gedeelte te ondersoek. Sodoende kan vasgestel word of daar ’n letsel is. As daar is, word ’n biopsie gedoen en word daar met behandeling begin.

Deesdae kan selfs meer gesofistikeerde laboratoriumtoetse gedoen word. Daarmee kan die siekte met baie groter sekerheid gediagnoseer word.

Behandeling en voorkoming

Daar is verskeie maniere waarop HPV-infeksie behandel kan word. Spesialiste maak gebruik van geneesmiddels wat direk aan die aangetaste deel aangewend word. Sommige behandelingsmetodes vernietig die selle wat die virus bevat, en ander stimuleer die immuunstelsel. Ander tegnieke behels die verwydering van die beskadigde of besmette deel deur middel van elektrochirurgie, laserchirurgie of kriochirurgie. Maar hoeveel beter sal dit tog wees om eerder die infeksie te voorkom as om daarvoor behandel te moet word. Hoe kan dit gedoen word?

’n Paar jaar gelede is ’n simposium in Mexikostad gehou oor die onderwerp “Servikskanker en HPV in die nuwe millennium”. Dr. V. Cecil Wright, die Kanadese gasspreker en deskundige op die gebied van HPV, se raad was: “Moenie geslagsomgang hê totdat jy getroud is nie.” Dr. Alex Ferenczy, ’n professor in patologie aan die McGill-universiteit in Montreal, Kanada, het eweneens gesê: “Wedersydse monogamie moet voorgestaan word . . . om servikskanker te voorkom.”

Die moontlikheid is dus kleiner dat mense wat volgens die sedelike beginsels van die Bybel lewe, die kankerverwante vorm van HPV-infeksie sal opdoen. Dit is omdat die Bybel geslagsomgang buite die huwelik veroordeel, getrouheid tussen huweliksmaats aanmoedig en Christene vermaan om slegs met iemand te trou wat hierdie selfde beginsels volg.—1 Korintiërs 7:39; Hebreërs 13:4.

Opvoeding is nogtans noodsaaklik, aangesien HPV-infeksie gewoonlik voorkom kan word. Daarbenewens kan dit met welslae behandel word, selfs wanneer die infeksie verskyn en vererger het. Trouens, die WGO erken: “As servikskanker in ’n vroeë stadium ontdek word voordat daar simptome is, is dit feitlik altyd geneeslik.”

Bo en behalwe sedelike opvoeding is dit belangrik dat vroue ingelig word oor die siekte en verstaan hoe belangrik dit is om gereeld toetse soos ’n Papsmeer te laat doen.d As ’n probleem ontdek word, kan ’n vrou mediese sorg kry. Wat die regte gesindheid ten opsigte van hierdie sorg betref, sê dr. Montserrat Flores, ’n kolposkopie-spesialis: “As ’n vrou weet hoe ernstig haar probleem is, kan sy twee gevaarlike uiterstes vermy: eerstens, om nie die siekte ernstig genoeg te beskou nie en nie voldoende mediese sorg te kry nie, wat tot kanker kan lei, en tweedens, om ’n fobie vir kanker te ontwikkel en haar aan onnodige chirurgiese prosedures te onderwerp.”

Wetenskaplikes probeer steeds doeltreffender en ekonomieser metodes vind om HPV op te spoor. Daarbenewens word entstowwe ontwikkel om hierdie infeksie te voorkom en te behandel.

Hoewel die uitslae van Cristina se laaste ondersoek bevredigend was, laat sy nog steeds elke ses maande ’n kolposkopie doen. Nadat sy baie oor haar siekte geleer het, het sy tot die slotsom gekom: “Selfs al is ’n mens ’n draer van HPV, is daar baie wat jy kan doen om gesond te bly.”

[Voetnote]

a Die naam is verander.

b Die serviks, of nek van die uterus, is die onderste, nou gedeelte tussen die vagina en die uterus, of baarmoeder, van ’n vrou.

c Vernoem na die Griekse dokter George N. Papanicolaou, wat die metode ontwikkel het om selsmere vir waarneming te kleur.

d Volgens die Nasionale Kankerinstituut van die Verenigde State moet hierdie toetse begin op 18-jarige ouderdom of wanneer ’n vrou seksueel aktief raak.

[Venster op bladsy 22]

Stappe wat vroue kan neem

Vroue moet gereeld ’n Papsmeer laat doen, hulle moenie tabak gebruik nie en hulle moet ’n gesonde dieet volg. So ’n dieet moet baie groente, vrugte en graan insluit. Volgens sommige studies lyk dit of karotene, vitamiene A, C en E en foliensuur die gevaar van servikskanker verminder.

[Venster/Prent op bladsy 23]

’n Dodelike virus

Die menslike papilloomvirus (HPV), wat as die algemeenste seksueel oordraagbare siekte ter wêreld beskou word, is ’n vername oorsaak van servikskanker in ontwikkelende lande. Servikskanker is wêreldwyd die tweede algemeenste soort baarmoederkanker.

[Erkenning]

© Science VU/NCI/Visuals Unlimited

[Prent op bladsy 23]

Dr. George Papanicolaou, wat die Papsmeer ontwikkel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel