Jongmense vra . . .
Vigs—Loop ek gevaar?
DIE tydskrif Newsweek het gesê dat die aankondiging ‘die wêreld verstom het’. Op 7 November 1991 het die gewilde Amerikaanse atleet Earvin “Magic” Johnson die pers ingelig dat hy met die vigs-virus besmet is. Ná hierdie opsienbarende bekendmaking is die blitslyne vir inligting oor vigs met oproepe oorstroom. Sommige hospitale is deur versoeke om vigs-toetse oorval. Party mense het selfs minder promisku begin lewe—ten minste tydelik.
Maar hierdie aankondiging het seker die grootste uitwerking op jongmense gehad. Die hoof van gesondheidsdienste aan een universiteit sê: “Studente het—’n ruk lank—die boodskap van ‘dit het met hom gebeur, dit kan ook met my gebeur’ ter harte geneem. . . . Vir die meeste studente sal dít wat met Magic Johnson gebeur het geen verskil aan hulle seksuele bedrywighede maak nie. Hulle dink steeds hulle kan ‘skotvry daarvan afkom’.”
Die Bybel het voorspel dat ons tyd gekenmerk sal word deur “pessiektes”, oftewel aansteeklike siektes wat vinnig versprei (Lukas 21:11). Vigs kan beslis ’n pessiekte genoem word. Dit het agt jaar geduur—van 1981 tot 1989—voor die eerste 100 000 vigs-gevalle in die Verenigde State ontdek is. Maar dit het skaars twee jaar geduur voor die tweede 100 000 gevalle aangemeld is!
Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer beklemtoon hierdie onrusbarende syfer “die vinnig toenemende omvang van die [vigs-]epidemie in die Verenigde State”. Maar vigs is ’n wêreldwye epidemie wat vir baie sterftes en ellende in Afrika, Asië, Europa en Latyns-Amerika verantwoordelik is. Dit is betekenisvol dat dr. Marvin Belzer van die Kinderhospitaal in Los Angeles van vigs praat as “die angswekkendste probleem wat jongmense in die negentigerjare in die gesig staar”.
Die sluipende infeksie
Presies wat is hierdie vreemde siekte, en waarom is dit so dodelik? Dokters meen dat vigs ontwikkel wanneer ’n mikroskopiese deeltjie—’n virus wat HIV (menslike immuungebreksvirus) genoem word—die bloedstroom binnegaan. Wanneer die virus eers daar is, voer dit ’n soek-en-vernietigingsveldtog teen sekere van die liggaam se wit bloedliggaampies, die helper-T-selle. Hierdie liggaampies speel ’n belangrike rol om die liggaam te help om siektes te beveg. Die vigs-virus stel hulle egter buite werking en vernietig so die immuunstelsel.
’n Geruime tyd kan verbygaan voor die besmette persoon siek voel. Party mense kan byna ’n dekade lank geen simptome hê nie. Maar mettertyd ontwikkel simptome soortgelyk aan dié van griep—gewigs- en aptytverlies, koors en diarree. Namate die immuunstelsel se rampspoedige ineenstorting voortduur, raak die slagoffer vatbaar vir ’n duisternis van infeksies—longontsteking, breinvliesontsteking, tering of sekere soorte kanker—wat opportunisties genoem word omdat hulle van die geleentheid gebruik maak wat deur ’n slagoffer se verlaagde weerstandsvermoë geskep is.
“Ek het gedurig pyn”, sê een 20-jarige vigs-slagoffer. Die siekte het swere in sy dikderm en rektum veroorsaak. Vigs wat ten volle ontwikkel het, het egter nie net ongerief en pyn tot gevolg nie; vir feitlik al sy slagoffers beteken dit die dood. Sedert 1981 het meer as ’n miljoen mense in die Verenigde State alleen die siekte opgedoen. Meer as 160 000 het reeds gesterf. Deskundiges voorspel dat die aantal sterfgevalle teen die jaar 1995 sal verdubbel. Daar is tans so ver dit bekend is geen geneesmiddel vir vigs nie.
Jongmense loop gevaar
Volgens die vigs-gevalle wat aangemeld is, het net ’n baie klein persentasie tieners—minder as 1 persent in die Verenigde State—tot dusver vigs opgedoen. Jy ken dalk persoonlik geen jongmense wat aan die siekte gesterf het nie. Dit beteken nie dat jongmense nie gevaar loop nie! Ongeveer ’n vyfde van alle vigs-slagoffers in die Verenigde State is in hulle twintigerjare. Aangesien dit etlike jare duur voor die simptome waarneembaar is, is die meeste van hierdie mense moontlik tydens hulle tienderjare besmet. As die huidige tendens voortduur, sal nog duisende jongmense vigs-pasiënte word.
Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer skuil die dodelike virus “in besmette mense se bloed, semen en vaginale vog”. HIV word dus oorgedra deur “geslagsomgang—vaginaal, anaal of oraal—met ’n besmette persoon te hê”. Die meeste het die siekte só opgedoen. Vigs kan ook oorgedra word deur “’n naald of spuitnaald wat deur of vir ’n besmette persoon gebruik is te gebruik of daarmee raak gesteek te word”. Daarbenewens “word party mense besmet wanneer hulle bloedoortappings ontvang” wat met HIV besmet is.—Voluntary HIV Counseling and Testing: Facts, Issues, and Answers.
Talle jongmense loop dus gevaar. ’n Onrusbarende aantal jongmense (party sê tot 60 persent in die Verenigde State) het al met onwettige dwelms geëksperimenteer. Aangesien party van hierdie dwelms ingespuit word, is die risiko van besmetting deur middel van ’n besmette naald baie groot. Volgens een Amerikaanse opname het 82 persent hoërskoolleerlinge (middelbare leerlinge) al sterk drank gebruik, en ongeveer 50 persent doen dit tans. Jy kry nie vigs as jy ’n blikkie bier drink nie, maar daarna kan dit jou oordeel belemmer en die kanse vergroot dat jy die heel gevaarlikste ding sal doen—om promiskue geslagsomgang, homoseksueel of heteroseksueel, te hê.
In 1970 het minder as 5 persent 15-jarige meisies geslagsomgang gehad. Teen 1988 het daardie syfer tot meer as 25 persent toegeneem. Soos opnames ook toon, is 75 persent van die meisies en 86 persent van die seuns in die Verenigde State op die ouderdom van 20 seksueel aktief. Hier volg nog ’n angswekkende statistiek: Byna 1 uit elke 5 tieners het al met meer as vier seksmaats geslagsomgang gehad. Ja, al hoe meer jongmense het voorhuwelikse geslagsomgang, en hulle begin op ’n al hoe jonger ouderdom daarmee.
Die situasie is nie minder skrikwekkend in ander lande nie. In Latyns-Amerikaanse lande het tot ’n drie kwart van die tienderjariges al voorhuwelikse geslagsomgang gehad. In Afrikalande het baie mans na wat berig word tienderjarige meisies gekies om mee geslagsomgang te hê in ’n poging om hulleself teen die vigs-virus te beskerm. Die gevolg? Daar is ’n ontsaglike vermeerdering in vigs-gevalle onder tienderjarige meisies in Afrika.
Die verspreiding van vigs het glad nie hierdie stroom van vernietigende gedrag gekeer nie. Beskou een Latyns-Amerikaanse land. Meer as 60 persent van die “ongetroude jongmense wat seksueel aktief is, staan ’n groot kans om met die vigs-virus besmet te word”. Maar minder as 10 persent meen dat hulle persoonlik gevaar loop. Hulle sê vir hulleself: ‘Dit sal nie met my gebeur nie.’ Hierdie land het egter “een van die hoogste HIV-besmettingsyfers in die Amerikas”.—Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer.
Dit kan gebeur!
Die vigs-epidemie onderstreep die waarheid van die Bybel se waarskuwings dat “die end” van geslagsonsedelikheid so “bitter soos wilde-als” is (Spreuke 5:3-5; 7:21-23). Die Bybel verwys natuurlik hoofsaaklik na die geestelike en emosionele skade. Maar dit behoort ons nie te verbaas dat geslagsonsedelikheid ook ’n aantal skadelike fisiese gevolge het nie.
Dit is dus lewensnoodsaaklik dat jongmense realisties moet wees oor die gevaar om vigs en ander seksueel oordraagbare siektes op te doen. Die selfvoldane gesindheid dat vigs ‘nie met my kan gebeur nie’, kan dodelik wees. “Wanneer jy vyftien, sestien of selfs sewentien, agtien, negentien of twintig is, dink jy graag dat jy immuun is”, het ’n jong man David gesê. Die feite bewys egter die teenoorgestelde. David is met die vigs-virus besmet toe hy 15 was.
Om dit dus padlangs te stel: As jy onwettige dwelms gebruik of voorhuwelikse omgang het, loop jy gevaar! Maar wat van bewerings dat ’n mens “veilige seks” kan hê? Is daar realistiese maniere waarop ’n mens jou teen hierdie epidemie kan beskerm? Ons volgende artikel in hierdie reeks sal dié vrae bespreek.
[Venster op bladsy 18]
Ander seksueel oordraagbare siektes
Vigs het groot opslae in die nuus gemaak. The Medical Post waarsku egter: ‘Kanada is in die middel van ’n adolessente SOS [seksueel oordraagbare siekte]-epidemie.’ Kanada is nie die enigste land nie. “Elke jaar word 2,5 miljoen Amerikaanse tieners met ’n SOS besmet”, sê die Sentrum vir Bevolkingsopsies in Amerika. “Hierdie getal verteenwoordig ongeveer een uit elke ses tienderjariges wat seksueel aktief is en een vyfde van die nasionale SOS-gevalle.”
Sifilis, wat almal vroeër byvoorbeeld gedink het aan die verdwyn was, het weer in onlangse jare verskyn en ’n ongekende aantal jong lewens geëis. Gonorree en chlamydia (die algemeenste SOS’e in die Verenigde State) is ook uitsonderlik bestand teen uitwissingspogings. En adolessente het die hoogste besmettingsyfer. The New York Times meld eweneens “’n skerp toename” in die aantal tieners wat geslagsvratte het. Duisende jongmense het ook die herpesvirus. Volgens Science News “loop mense met geslagsherpes groter gevaar om met [HIV], wat vigs veroorsaak, besmet te word”.
Die Sentrum vir Bevolkingsopsies sê: “Hoewel SOS’e meer onder adolessente as onder enige ander ouderdomsgroep voorkom, is hulle die minste geneig om mediese hulp te soek. Wanneer SOS’e nie gediagnoseer en behandel word nie, het dit bekkenontsteking, onvrugbaarheid, ektopiese swangerskap en servikale kanker tot gevolg.”
[Prente op bladsy 16, 17]
Enigeen wat hom met onwettige dwelms inspuit of promiskue geslagsomgang het, loop gevaar om vigs op te doen