Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 7/22 bl. 5-9
  • Natuurrampe en die menslike faktor

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Natuurrampe en die menslike faktor
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Planetêre hittewisselaars
  • Stygende seevlakke en ontbossing
  • Wanneer die grond skud
  • Vulkane—skeppers en vernietigers
  • Sal natuurrampe aanhou toeneem?
  • Vulkane—Is jy in gevaar?
    Ontwaak!—1996
  • Natuurrampe—Is God daarvoor verantwoordelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Word die planeet Aarde bedreig?
    Ontwaak!—2008
  • Natuurrampe—Waarom so algemeen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 7/22 bl. 5-9

Natuurrampe en die menslike faktor

WANNEER ’n motor goed in stand gehou word, kan dit ’n veilige vervoermiddel wees. Maar daardie voertuig kan gevaarlik wees as dit misbruik of verwaarloos word. In sekere sin kan dieselfde van die aarde gesê word.

Volgens ’n aantal wetenskaplikes het veranderinge in die aarde se atmosfeer en oseane wat deur mense veroorsaak is, bygedra tot meer en hewiger natuurrampe, wat ons planeet ’n gevaarlike plek gemaak het. En die toekoms lyk onseker. “Ons is in die middel van ’n groot onbeheerde eksperiment op die enigste planeet wat ons het”, het ’n hoofartikel oor klimaatverandering in die tydskrif Science gesê.

Om beter te verstaan hoe mensebedrywighede dalk ’n uitwerking het op die voorkoms en hewigheid van natuurrampe, moet ons ’n paar dinge omtrent onderliggende natuurverskynsels verstaan. Byvoorbeeld, wat lei daartoe dat swaar storms, soos orkane, ontstaan?

Planetêre hittewisselaars

Die aarde se klimaatstelsel is al vergelyk met ’n masjien wat sonenergie omsit en versprei. Omdat die trope die meeste van die son se hitte kry, word die atmosfeer in beweging gebring deur die gevolglike temperatuurwanbalans.a Die aarde se daaglikse rotasie veroorsaak dat hierdie massa bewegende, vogtige lug werwelings vorm, waarvan party depressies, of atmosferiese laagdrukgebiede, word. Depressies kan op hulle beurt storms word.

As ’n mens na die algemene patroon van tropiese storms kyk, sal jy sien dat hulle geneig is om noord- of suidwaarts van die ewenaar af weg te beweeg na koeler gebiede. Sodoende tree storms ook soos enorme hittewisselaars op wat help om die klimaat te reguleer. Maar wanneer die temperatuur in die boonste deel van die oseaan—die “ketelkamer” van die klimaatmasjien—hoër as 27 grade Celsius styg, kan tropiese storms genoeg energie kry om siklone, orkane of tifone te word—die streeksname vir basies dieselfde verskynsel.

Gegrond op lewensverlies is die ergste natuurramp in die geskiedenis van Amerika deur ’n orkaan veroorsaak wat op 8 September 1900 die eilandstad Galveston, Texas, getref het. Stormgolwe het tussen 6 000 en 8 000 lewens in die stad geëis, asook 4 000 in nabygeleë gebiede, en dit het sowat 3 600 huise vernietig. Trouens, nie ’n enkele gebou in Galveston het ongeskonde gebly nie.

Soos in die vorige artikel genoem is, was daar in onlangse jare ’n hele aantal hewige storms. Wetenskaplikes ondersoek die moontlikheid dat dit verband hou met aardverwarming, wat stormstelsels dalk van meer energie voorsien. Maar veranderinge in die weer is miskien net een simptoom van aardverwarming. ’n Ander potensieel skadelike gevolg is moontlik reeds waarneembaar.

Stygende seevlakke en ontbossing

Volgens ’n hoofartikel in die tydskrif Science “het seevlakke 10 tot 20 sentimeter in die afgelope eeu gestyg, en ons kan verwag dat dit verder sal styg”. Hoe hou dit met aardverwarming verband? Navorsers verwys na twee moontlike meganismes. Een is die moontlikheid van smeltende gletsers en landys in poolstreke, wat die watervlak van die oseane sal laat styg. Die ander faktor is warmte-uitsetting—namate oseane warmer word, word die volume daarvan groter.

Die klein Pasifiese eilande van Toewaloe ondervind dalk reeds die gevolge van stygende seevlakke. Die tydskrif Smithsonian meld dat die seevlak daar, volgens data wat op die atol Foenafoeti versamel is, “oor die afgelope dekade elke jaar met gemiddeld 0,22 duim [5,6 millimeter]” gestyg het.

In baie wêrelddele lei die bevolkingsgroei tot die uitbreiding van stede, ’n toename in krotbuurte en verdere agteruitgang van die omgewing. Dit vererger dikwels die gevolge van natuurrampe. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Haïti is ’n eilandnasie met ’n groot bevolking en ’n geskiedenis van ontbossing. ’n Onlangse nuusberig het beweer dat Haïti se ekonomiese, politieke en maatskaplike probleme, hoe erg dit ook al is, glad nie so ’n groot bedreiging vir die land se voortbestaan inhou as ontbossing nie. Hierdie bedreiging het in 2004 op ’n tragiese manier duidelik geword toe swaar reëns modderstortings veroorsaak het wat duisende lewens geëis het.

Volgens die Time van Asië is “aardverwarming, damme, ontbossing en kap-en-brand-boerdery” faktore wat natuurrampe in Suid-Asië vererger. Aan die ander kant kan ontbossing droogtes vererger deur grond vinniger te laat uitdroog. In onlangse jare het droogtes in Indonesië en Brasilië gelei tot die mees verwoestende brande tot nog toe in woude wat gewoonlik te nat is om te brand. Uiterste weerstoestande is egter nie die enigste oorsaak van natuurrampe nie. Baie lande ondervind rampe wat diep binne die aarde begin.

Wanneer die grond skud

Die aarde se kors bestaan uit plate van verskillende groottes wat in verhouding tot mekaar beweeg. Trouens, daar is soveel beweging in die aardkors dat daar dalk elke jaar etlike miljoene aardbewings plaasvind. Natuurlik word baie hiervan nie opgemerk nie.

Na bewering vind sowat 90 persent van alle aardbewings langs breuke op die buiterande van plate plaas. Aardbewings vind ook binne die plate self plaas, en hoewel dit seldsaam is, is dit soms baie verwoestend. Volgens skattings is die dodelikste aardbewing in die opgetekende geskiedenis een wat drie provinsies in China in die jaar 1556 getref het. Dit het moontlik 830 000 lewens geëis!

Aardbewings kan ook dodelike nagevolge hê. Byvoorbeeld, op 1 November 1755 het ’n aardbewing die stad Lissabon, Portugal, wat ’n bevolking van 275 000 gehad het, in puin gelê. Maar dit was nie die einde van die nagmerrie nie. Die aardbewing het brande veroorsaak sowel as tsoenami’s wat volgens skatting 15 meter hoog was en van die Atlantiese Oseaan ingestroom het. Die sterftesyfer in die stad was altesaam meer as 60 000.

Maar weer eens hou die omvang van sulke rampe tot ’n mate verband met die menslike element. Een faktor is bevolkingsdigtheid in hoërisikogebiede. “Byna die helfte van die wêreld se groot stede is nou in gebiede geleë waar daar ’n seismiese risiko is”, sê die skrywer Andrew Robinson. ’n Ander faktor is geboue—die boumateriaal wat gebruik is sowel as die strukturele gehalte daarvan. Die gesegde, “dit is nie aardbewings wat lewens eis nie, maar wel geboue”, is alte dikwels waar. Maar watter keuse het mense wanneer hulle te arm is om huise te bou wat aardbewingbestand is?

Vulkane—skeppers en vernietigers

“Daar sal waarskynlik ten minste 20 vulkaniese uitbarstings wees terwyl jy hierdie woorde lees”, sê ’n verslag deur die Smithsonian-instituut in die Verenigde State. Die teorie van plaattektoniek sê basies dat aardbewings en vulkane in soortgelyke streke voorkom—in breuksones, veral seebreuksones; in die aardkors, waar magma uit die mantel deur krake styg, en by subduksiesones, waar een plaat onder ’n ander gedruk word.

Subduksie-vulkanisme hou die grootste bedreiging in vir mense weens die aantal waargeneemde uitbarstings en omdat dit naby bevolkte gebiede voorkom. Die Stille Oseaan-gordel, wat die Vuurgordel genoem word, het honderde van hierdie vulkane. ’n Klein aantal word ook by warmkolle gevind wat nie langs plaatgrense geleë is nie. Die Hawaii-, Asore-, Galapagos- en Genootskapseilande is blykbaar almal die produk van warmkolvulkanisme.

In werklikheid het vulkane ’n lang en konstruktiewe rol in die aarde se geskiedenis gespeel. Volgens ’n universiteitswebwerf is tot “90% van alle kontinente en oseaanbekkens die produk van vulkanisme”. Maar wat veroorsaak dat sommige uitbarstings besonder hewig is?

Uitbarstings begin met ’n opwelling van magma uit die aarde se warm kern. By party vulkane sypel lawa eenvoudig uit, en dit beweeg selde vinnig genoeg om mense onkant te betrap. Maar ander vulkane ontplof met meer energie as ’n kernbom! Die onderliggende faktore sluit in die samestelling en vloeibaarheid van die gesmelte materiaal wat die vulkaan voed en die hoeveelheid gasse en superverhitte water wat daarin opgelos is. Namate die magma nader aan die oppervlak kom, sit die vasgevangde water en gas vinnig uit. Met die regte samestelling van magma is die effek soortgelyk aan gaskoeldrank wat uit ’n blikkie skiet wanneer dit oopgemaak word.

Gelukkig gee vulkane dikwels vooraf ’n waarskuwing dat hulle gaan uitbars. Dit was die geval in 1902 met Mont Pelée op die Karibiese eiland Martinique. Maar dit was kort voor ’n verkiesing in nabygeleë St. Pierre, en politici het die mense aangemoedig om te bly, ten spyte van die as, siekte en vrees wat deur die stad versprei het. Trouens, die meeste winkels was al dae lank toe!

Die agtste Mei was Hemelvaartdag, en baie mense het na die Katolieke katedraal gegaan om te bid vir beskerming teen die vulkaan. Daardie oggend, kort voor 08:00, het Mont Pelée uitgebars en ’n verskroeiende massa vulkaanas, obsidiaan, puimsteen en superverhitte gas uitgespu wat tussen 200 en 500 grade Celsius was. Die dodelike donker wolk wat gevorm het, het net bokant die grond gebly, vinnig teen die berg af beweeg, die stad oorweldig, bykans 30 000 mense se dood veroorsaak, die kerkklok laat smelt en die skepe in die hawe aan die brand laat slaan. Dit was die dodelikste uitbarsting van die 20ste eeu. Maar dit sou nie soveel lewens geëis het as mense op die waarskuwingstekens ag geslaan het nie.

Sal natuurrampe aanhou toeneem?

In hulle World Disasters Report 2004 sê die Internasionale Federasie van Rooi Kruis- en Rooi Halfmaan-verenigings dat geofisiese en weerverwante rampe gedurende die afgelope dekade met meer as 60 persent toegeneem het. “Dit weerspieël tendense oor die langer termyn”, sê die verslag, wat gepubliseer is voordat die rampspoedige tsoenami’s op 26 Desember in die Indiese Oseaan plaasgevind het. Ja, as bevolkings in hoërisikogebiede aanhou groei en woude aanhou krimp, is daar nie juis rede om optimisties te wees nie.

Daarbenewens gaan baie nywerheidslande voort om al hoe meer kweekhuisgasse in die atmosfeer vry te stel. Volgens ’n hoofartikel in die tydskrif Science is die onwilligheid om die vrystelling van gasse te verminder, “soos om medisyne te weier vir ’n infeksie wat versprei: Ons gaan beslis later ’n hoër prys betaal.” Met verwysing na hierdie prys het ’n Kanadese verslag oor rampverligting gesê: “Klimaatverandering kan beskou word as die grootste en verreikendste omgewingskwessie wat tot nog toe deur die internasionale gemeenskap hanteer is.”

Tans kan die internasionale gemeenskap egter nie eers eenstemmigheid daaroor bereik of mensebedrywighede tot aardverwarming bydra nie, wat nog te sê van hoe om dit te beheer. Hierdie situasie laat ’n mens dink aan die Bybelwaarheid: “Dit behoort nie aan die mens . . . om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Maar die situasie is nie hopeloos nie, soos ons in die volgende artikel sal sien. Trouens, die huidige probleme, insluitende die stormagtige toestande in die mensegemeenskap, lewer verdere bewys dat verligting op hande is.

[Voetnoot]

a Die oneweredige verspreiding van die son se hitte veroorsaak ook dat seestrome vorm, wat energie na kouer omgewings verplaas.

[Venster/Prent op bladsy 6]

MEER AS NET MIELIES OP ’N MIELIELAND

IN 1943 het ’n mielieboer in Mexiko gesien hoe iets buiten mielies op sy plaas groei. Terwyl hy besig was op sy land, het hy krake, of skeure, in die grond gesien. Teen die volgende dag het die skeure ’n klein vulkaan geword. Gedurende die daaropvolgende week het die kegel 150 meter hoog geword en ’n jaar later was dit 360 meter hoog. Uiteindelik het die kegel, wat 2 775 meter bo seespieël is, ’n hoogte van 430 meter bereik. Die vulkaan, wat Paricutín genoem is, het skielik in 1952 opgehou om lawa uit te stoot en is sedertdien onaktief.

[Erkenning]

U. S. Geological Survey/Photo by R. E. Wilcox

[Venster/Prent op bladsy 8]

TOE GOD INGEGRYP HET TYDENS ’N RAMP

HONGERSNOOD is ’n soort natuurramp. Een van die vroegste opgetekende hongersnode het in eertydse Egipte in die tyd van Josef, die seun van Jakob, of Israel, plaasgevind. Die hongersnood het sewe jaar lank geduur, en Egipte, Kanaän en ander lande is daardeur geraak. Maar dit het nie tot grootskaalse verhongering gelei nie, want Jehovah het dit sewe jaar voor die tyd voorspel. Hy het ook geopenbaar dat die jare voor die hongersnood jare van oorvloed in Egipte sou wees. Onder die toesig van die godvresende man Josef, wat deur God se toedoen as die eerste minister en voedseladministrateur aangestel is, het die Egiptenaars soveel graan gestoor dat ‘hulle opgehou het om dit te tel’. Egipte kon dus nie net voedsel vir sy eie mense voorsien nie, maar ook vir “mense van die hele aarde”, insluitende Josef se familie.—Genesis 41:49, 57; 47:11, 12.

[Prente op bladsy 7]

HAÏTI 2004—Seuns dra drinkwater in oorstroomde strate. Grootskaalse ontbossing het bygedra tot verwoestende modderstortings

[Erkennings]

Agtergrond: Sophia Pris/EPA/Sipa Press; inlasfoto: Carl Juste/Miami Herald/Sipa Press

[Prent op bladsy 9]

Baie lande gaan voort om kweekhuisgasse in die atmosfeer vry te stel

[Erkenning]

© Mark Henley/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel