Natuurrampe—Waarom so algemeen?
BERIGTE oor rampe is volop in die nuus. Meer mense as ooit tevore is die slagoffers van die een of ander ramp. Die Sentrum vir Navorsing oor die Epidemiologie van Rampe, in België, berig dat daar in 2010 alleen 373 rampe was en dat ten minste 296 000 mense as gevolg daarvan gesterf het.
Die aantal gerapporteerde rampe het ook oor die afgelope klompie dekades merkbaar toegeneem. Byvoorbeeld, tussen 1975 en 1999 is heelwat minder as 300 rampe elke jaar opgeteken. Maar tussen 2000 en 2010 was daar gemiddeld amper 400 rampe per jaar. Dalk is jy een van dié wat wonder: ‘Waarom is daar nou soveel rampe?’
Hoewel mense dikwels sê dat hierdie rampe “dade van God” is, word dit in werklikheid verkeerdelik so genoem. God is nie verantwoordelik vir die rampe wat soveel mense vandag raak nie. Nietemin het die Bybel voorspel dat daar in ons tyd rampe sou wees. Byvoorbeeld, in Matteus 24:7, 8 lees ons Jesus se woorde: “Daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees. Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid.” Waarom het Jesus hierdie gebeure voorspel, en wat beteken dit vir ons?
God se Seun, Jesus, het met daardie woorde die volgende vraag beantwoord wat aan hom gerig is: “Wat sal die teken . . . van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Hy het vertel van verskeie dinge wat sou gebeur, insluitende rampe soos dié wat hierbo genoem is. Hy het toe hierdie betekenisvolle stelling gemaak: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, . . . weet dat die koninkryk van God naby is” (Lukas 21:31). Hierdie natuurrampe is dus vir ons van groot belang. Dit toon dat ’n tyd van ingrypende veranderinge op hande is.
Faktore wat tot rampe bydra
Maar baie mense vra nietemin: As God nie vir die rampe verantwoordelik is nie, wie of wat is dan? Ons kan die antwoord slegs verstaan as ons ’n belangrike waarheid erken wat in die Bybel genoem word: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hierdie vers openbaar dat dit nie God is wat vir die angswekkende wêreldtoestande verantwoordelik is nie, maar dat dit baie dikwels sy vyand, “die bose”, is—wat die Bybel ook “die Duiwel” noem.—Openbaring 12:9, 12.
Hierdie vyand van God word deur selfsug aangedryf en beskou mense dus as waardeloos. Aangesien die hele wêreld onder sy beheer is, het hy hierdie selfde gees onder die mensdom bevorder. Ja, die Bybel het hierop gewys toe dit voorspel het dat mense “in die laaste dae . . . liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig” sou wees (2 Timoteus 3:1, 2). Dit is dus nie verbasend nie dat die Duiwel ’n wêreldomvattende stelsel tot stand gebring het wat op hierdie en ander goddelose eienskappe floreer. Hy bevorder selfsugtige en gierige uitbuiting, wat mense dikwels in gevaarlike situasies plaas.
Hoe dra vandag se gierige stelsel tot rampe by? ’n Verslag van die Verenigde Nasies oor rampe regoor die wêreld sê: “Te dikwels is daar hoë bevolkingskonsentrasies in gevaarlike gebiede, soos vloedvlaktes. Daarbenewens belemmer die vernietiging van woude en vleilande die vermoë van die omgewing om rampe te voorkom. Dit word oorskadu deur die gevaar van wêreldwye klimaatsverandering en stygende seevlakke as gevolg van die toenemende konsentrasie kweekhuisgasse . . . weens mensebedrywighede.” Hoewel baie van hierdie “mensebedrywighede” na bewering ter wille van ekonomiese vooruitgang is, word dit in werklikheid aangedryf deur die selfsugtige en gierige gees wat die wêreld oorheers.
Gevolglik erken baie deskundiges nou dat onoordeelkundige mensebedrywighede die verwoestende gevolge van rampe vererger. Mense het in werklikheid die Duiwel se belange bevorder deur ’n stelsel te ondersteun wat rampe vererger.
Ons sien dus dat baie rampe deur roekelose mensebedrywighede veroorsaak word. Party rampe sou nie so verwoestend gewees het as dit êrens anders plaasgevind het nie. In baie wêrelddele is die gevolge van natuurrampe grootliks vererger deur die onderduimse aktiwiteite van gewetenlose mense of omdat baie mense gedwing is om in gevaarlike gebiede te woon weens die ekonomiese of maatskaplike ongelykhede wat ’n inherente deel van vandag se wêreld is. Natuurlik ly party mense weens rampe, nie omdat enigiemand moedswillig of nalatig was nie, maar omdat ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse hulle almal tref’.—Prediker 9:11.
Ongeag die oorsaak, wat kan jy doen as jy ’n rampslagoffer is? Ons sal nou kyk na wat gedoen kan word om die impak van rampe te verminder.