Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/22 bl. 3-6
  • “Die wêreld se grootste werkverskaffer”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die wêreld se grootste werkverskaffer”
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Goue eeu van toerisme
  • Die 20ste-eeuse oplewing
  • Bewaring deur ekotoerisme
  • Hoe om ’n ekotoer te identifiseer
  • Wat ekotoerisme al bereik het
  • Toerisme—’n wêreldwye bedryf
    Ontwaak!—2002
  • Die toekoms van toerisme
    Ontwaak!—2005
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Wat ons oor die tydskrifte kan sê
    Ons Koninkryksbediening—2005
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/22 bl. 3-6

“Die wêreld se grootste werkverskaffer”

Elke jaar is daar meer as 600 miljoen mense wat internasionaal reis. Honderdmiljoene ander reis in hulle eie land, hetsy vir werk of plesier. Gevolglik word die toeristebedryf—wat hotelle, vakansieoorde, lugrederye, reisagentskappe en ander sakeondernemings insluit wat in die behoeftes van reisigers voorsien—as “die wêreld se grootste werkverskaffer” beskryf.

WÊRELDWYD het die toeristebedryf ’n jaarlikse omset van nagenoeg 24 biljoen rand. Individuele toeriste beskou hulleself dalk nie as deel van ’n wêreldwye vredesbeweging nie, maar dit is hoe die VN se Wêreldtoerismeorganisasie die bedryf beskryf. In 2004 het Francesco Frangialli, die sekretaris-generaal van die organisasie, by ’n presidensiële konferensie in die Midde-Ooste gesê: “Toerisme en vrede kan nie geskei word nie. Die invloed van toerisme is so kragtig dat dit oënskynlik onveranderlike situasies kan verander en versoening kan teweegbring waar niemand gedink het versoening moontlik is nie.”

Hoe het hierdie invloedryke bedryf ontstaan? Is toerisme werklik ’n krag ten goede? En kan “die invloed van toerisme” werklik vrede teweegbring?

’n Goue eeu van toerisme

Die saadjies van die moderne toeristebedryf in die Weste is hoofsaaklik in die 19de eeu gesaai. Namate die industriële revolusie die middelklas in Europa en die Verenigde State laat groei het, het al hoe meer mense die geld asook die tyd gehad om te reis.

Daarbenewens is groot vooruitgang op die gebied van massavervoer gemaak. Kragtige lokomotiewe het passasiers tussen groot stede vervoer, en groot stoombote het vinnig tussen vastelande gevaar. Om voorsiening te maak vir die toenemende aantal reisigers, het groot hotelle naby spoorwegstasies en hawens verrys.

In 1841 het die Engelse entrepreneur Thomas Cook die potensiaal daarvan gesien om hierdie elemente te kombineer. Hy was die eerste persoon wat vervoer, akkommodasie en aktiwiteite by sekere plekke op die roete as deel van ’n vakansietoerpakket gekombineer het. “Danksy die stelsel wat deur mnr. Cook ontwikkel is”, het die Britse staatsman William Gladstone in die 1860’s gesê, “het hele klasse dit vir die eerste keer maklik gevind om ander lande te besoek, en die kennis wat hulle opgedoen het, het nie tot haat nie, maar tot welwillendheid gelei.”

Die 20ste-eeuse oplewing

Ongelukkig het die toenemende vertroudheid met buitelanders wat deur toerisme bevorder is, nie gekeer dat twee wêreldoorloë gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu uitbreek nie. En tog is die toeristebedryf nie nadelig geraak deur die maatskaplike veranderinge en tegnologiese vooruitgang wat uit daardie oorloë voortgespruit het nie; dit het die bedryf eerder vinniger laat groei.

Lugvervoer het vinniger en goedkoper geword, hoofweë het vastelande begin deurkruis en die aantal motors het vinnig toegeneem. Teen die middel van die 20ste eeu was vakansies en toerisme ’n aanvaarde deel van die Westerse kultuur en bekostigbaar vir die meeste klasse van die samelewing. Verder het miljoene huishoudings televisiestelle aangeskaf, en prente van eksotiese plekke het hulle verbeelding aangegryp en by hulle die begeerte gewek om te reis.

Gedurende die vroeë 1960’s het die getal internasionale toeriste 70 miljoen per jaar bereik. Teen die middel van die 1990’s het daardie syfer opgeskiet tot oor die 500 miljoen! Toeristeoorde het regoor die wêreld verrys om vir internasionale sowel as plaaslike reisigers voorsiening te maak. Bedrywe wat nie direk met toerisme verband hou nie, het ook daarby baat gevind, aangesien toeriste groot hoeveelhede eet- en drinkgoed verbruik en geld aan talle ander goedere en dienste bestee.

Vandag is toerisme belangrik vir die ekonomie van meer as 125 lande. ’n Persverklaring wat in 2004 deur die VN se Wêreldtoerismeorganisasie uitgereik is, het die aandag gevestig op die voordele wat toerisme kan meebring en het verduidelik dat toerisme armoede kan verlig deur die skepping van toerismeverwante klein en middelslagondernemings. Terwyl dit nuwe werksgeleenthede skep, kan dit mense meer “bewus maak van omgewings-, kulturele en maatskaplike sake”.

Maar jy vra dalk: ‘Hoe kan toerisme dit regkry? En hoe kan dit die omgewing tot voordeel strek?’

Bewaring deur ekotoerisme

In die vroeë 1980’s het sommige wetenskaplikes en rolprentvervaardigers al hoe meer belangstelling daarin getoon om reënwoude en koraalriwwe sowel as die diere wat daarvan afhanklik is, te red. Die verslae en dokumentêre natuurprogramme wat daaruit voortgespruit het, het ’n groter begeerte by die publiek gewek om hierdie natuurwonders te besoek. Die klein sakeondernemings wat ontstaan het om in die behoeftes van die wetenskaplikes en rolprentvervaardigers te voorsien, het uitgebrei om die toestroming van ekologiebewuste toeriste te hanteer.

Ekotoere het vinnig gewild geword en het ekotoerisme die deel van die toeristebedryf gemaak wat die vinnigste groei. Ja, dit het baie winsgewend geword om natuurwonders te bemark. Die joernalis Martha S. Honey het verduidelik: “In etlike lande het natuurgerigte toerisme die grootste verdiener van buitelandse valuta geword; die inkomste daaruit is nou meer as dié uit piesangs in Costa Rica, koffie in Tanzanië en Kenia asook tekstiel- en juweliersware in Indië.”

Toerisme het dus ’n waardevolle finansiële dryfveer geword om plante en diere te red. “In Kenia”, het Honey gesê, “is een leeu sowat $7 000 [R42 000] per jaar werd danksy die inkomste uit toerisme, en die waarde van ’n olifanttrop is omtrent $610 000 [R3,7 miljoen] per jaar.” Hawaii se koraalriwwe bring elke jaar sowat $360 miljoen (R2,2 miljard) in deur middel van natuurgerigte toerisme!

Hoe om ’n ekotoer te identifiseer

Die verslag Ecotourism: Principles, Practices and Policies for Sustainability deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram sê: “Baie reis- en toeristeagentskappe beskou die woord ‘ekotoerisme’ as ’n nuttige term om in hulle publikasies te gebruik, en regerings het die term al baie gebruik om hulle bestemmings te bemark, maar sonder om enige van die mees fundamentele beginsels [van ekotoerisme] te implementeer.” Hoe kan jy vasstel of die toer waarop jy wil gaan, werklik ’n ekotoer is?

Volgens Megan Epler Wood, skrywer van die bogenoemde verslag, sluit ’n goeie ekotoer die volgende in: Voor die reis word inligting voorsien oor die kultuur en omgewing wat besoek gaan word, en riglyne word gegee oor watter klere en gedrag gepas sal wees; daar word gereël dat breedvoerige inligting verskaf word oor die geografiese, maatskaplike en politieke kenmerke van die bestemming, en reëlings word getref om buite kommersiële konteks met die plaaslike mense kontak te maak; daar word verseker dat alle toegangsfooie vir parke ten volle betaal is en dat omgewingsensitiewe akkommodasie gereël is.

Wat ekotoerisme al bereik het

Ekotoerisme is dikwels meer as net ’n georganiseerde toer van ’n natuurgebied. Dit is al gedefinieer as ’n “doelgerigte besoek aan natuurgebiede om die kultuur en natuurgeskiedenis van die omgewing te verstaan sonder om die ekosisteem te versteur, terwyl dit ekonomiese geleenthede skep wat dit vir die plaaslike mense lonend maak om natuurlike hulpbronne te bewaar”.

Het ekotoerisme hierdie hoë ideale verwesenlik? Martin Wikelski van die Princeton-universiteit sê: “Ekotoerisme is een van die vernaamste faktore in die bewaring van die Galapagos[eilande].” In die Afrikaland Rwanda het die suksesvolle bevordering van ekotoerisme blykbaar gehelp om die berggorilla-bevolking te red en wilddiefstal te bekamp omdat toerisme die plaaslike mense van ’n alternatiewe inkomste voorsien. In ander Afrikalande word wildreservate deur toeristebesteding onderhou.

Ekotoerisme het wêreldwyd bygedra tot omgewings- en maatskaplike verbeteringe, en die toeristebedryf het ongetwyfeld baie finansiële voordele meegebring. Maar is hierdie bedryf altyd ’n krag ten goede? Wat is die vooruitsigte dat mense in die toekoms na verskillende wêrelddele sal kan reis?

[Venster/Prent op bladsy 6]

Wenke vir internasionale reisigersa

Voor jy vertrek

1. Maak ’n lys van belangrike feite—paspoortinligting, kredietkaartnommers, vliegtuigkaartjienommers en besonderhede in verband met reisigerstjeks. Los ’n afskrif by die huis en neem ook ’n afskrif saam met jou.

2. Maak seker dat jy ’n geldige paspoort en visum het; reël om enige immuniseringsinspuitings te kry wat dalk vereis word.

3. Maak seker dat jy voldoende mediese versekering het, aangesien noodbehandeling of vervoer van die buiteland af jou duisende rande kan kos. As jy ’n mediese probleem het, moet jy ’n brief van jou dokter saamneem wat jou toestand en enige medikasie wat jy gebruik, beskryf. (Let wel: Dit is dalk onwettig om sekere medisyne in party lande in te neem. Raadpleeg die naaste ambassade of konsulaat van die land wat jy wil besoek vir besonderhede in dié verband.)

Terwyl jy op reis is

1. Moet niks saam met jou neem wat jy nie kan bekostig om te verloor nie.

2. Hou jou paspoort en ander waardevolle besittings na aan jou liggaam, nie in ’n handsak of oop broek- of baadjiesak nie. Moenie dat een gesinslid al die dokumente hou nie.

3. As jy jou beursie in ’n broek- of baadjiesak dra, kan jy rekkies daarom draai, wat dit vir sakkerollers dalk moeiliker sal maak om dit te steel.

4. Hou ’n rekord van kredietkaartaankope, en moenie meer spandeer as wat jy beplan het nie. As jy jou kredietperk oorskry, kan jy in sommige lande in hegtenis geneem word.

5. Moenie sommer foto’s van militêre personeel of geboue of nywerheidsfasiliteite, soos dié by hawens, spoorweë of lughawens, neem nie. In party lande kan dit as ’n sekuriteitsrisiko beskou word.

6. Moenie pakkies vir enigiemand aflewer wat jy nie goed ken nie.

Wanneer jy aandenkings koop

1. Onthou, in baie lande is dit verbode om ivoor, skilpaddoppe, plante, pels en ander artikels in die land in te bring, al is dit klein aandenkings.

2. Moenie sommer enige geglasuurde keramiek koop nie, aangesien sommige van hierdie artikels loodvergiftiging kan veroorsaak as dit nie reg vervaardig is nie.

[Voetnoot]

a Inligting aangepas uit Publikasie 10542 vir die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake.

[Prent op bladsy 5]

Ekotoere het vinnig gewild geword

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel