Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/22 bl. 10-11
  • Die sonneblom—Pragtig en nuttig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die sonneblom—Pragtig en nuttig
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Reis om die aarde
  • Dit volg die son
  • Ekonomiese voordele
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Kweek jou eie spruite
    Ontwaak!—1997
  • Fassinerende patrone in plante
    Ontwaak!—2006
  • Plante versus besoedeling
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/22 bl. 10-11

Die sonneblom—Pragtig en nuttig

Deur Ontwaak!-medewerker in Switserland

HELDER, sonnige dae beur ons gewoonlik op. Dit is dus geen wonder nie dat mense regoor die wêreld ook opgebeur word deur die blom wat na die son vernoem is—die sonneblom! Die vrolike, glimlaggende gesig van net een sonneblom in ’n tuin kan ’n mens beter laat voel. Hoeveel te meer ’n groot landery vol heldergeel gesigte!

Maar weet jy hoe hierdie vriendelike blom so gewild geword het? Draai dit regtig na die son? En is dit werklik nuttig?

’n Reis om die aarde

Die sonneblom se oorspronklike tuiste het gestrek van Sentraal-Amerika tot in wat vandag Suid-Kanada is. Daar het die Indiane sonneblomme gekweek. Nadat Spaanse ontdekkingsreisigers in 1510 G.J. die plant oor die Atlantiese Oseaan geneem het, het dit vinnig deur Wes-Europa versprei. Aanvanklik is die sonneblom beskou as ’n plant wat net bedoel is om botaniese en privaattuine te versier. Maar teen omstreeks die middel van die 18de eeu is die saad as ’n lekkerny begin beskou. Destyds het mense ook tee van die blare en blomme gemaak as ’n middel teen koors.

In 1716 het ’n Engelsman ’n lisensie gekry om olie uit sonneblomme te pers vir gebruik in die weef- en looibedryf. Tog het sonneblomolie tot die 1800’s feitlik onbekend gebly in die res van Europa. Die Russiese tsaar Petrus die Grote het sonneblomsade weliswaar in 1698 uit Nederland na Rusland geneem. Maar die kommersiële verbouing van sonneblomme in Rusland het eers in die 1830’s begin. ’n Paar jaar later het Rusland se Voronezj-streek duisende tonne sonneblomolie gelewer. Die verbouing van sonneblomme het kort voor lank versprei na die naburige Bulgarye, Hongarye, die voormalige Joego-Slawië, die Oekraïne en Roemenië.

Wat ironies is, is dat Russiese immigrante die sonneblom teen die einde van die 19de eeu na Noord-Amerika teruggeneem het. Vroeë setlaars op die vasteland het nie aangehou om die sonneblom te kweek soos die Indiane nie. Vandag is daar groot sonneblomlanderye in lande regoor die wêreld.

Dit volg die son

Draai die sonneblom werklik na die son? Ja! Sy blare sowel as sy blomme is heliotropies, dit wil sê, die beweging daarvan word deur die son bepaal. Die plant berg ouksien, ’n planthormoon wat groei beheer. Omdat daar meer ouksien is aan die kant van die plant wat weggekeer is van die lig, veroorsaak dit dat die stingel na die lig toe groei. Maar sodra die blomme heeltemal oop is, is hulle nie meer heliotropies nie; hulle kyk dan oor die algemeen oos.

Die sonneblom se Latynse naam, Helianthus annuus, is afgelei van die Griekse woorde wat “son” en “blom” beteken en van die Latynse woord wat “jaarliks” beteken. Die plant groei gewoonlik tot sowat twee meter hoog, maar sommige reusesoorte groei tot meer as twee keer so hoog. Boaan die stewige stingel met sy growwe, groen blare is ’n groot, ronde blom met heldergeel kroonblare. Die kroonblare omring ’n donker middelste gedeelte wat uit klein, buisvormige blommetjies bestaan. Wanneer dit deur insekte bestuif word, ontwikkel hierdie kleiner blommetjies in die sonneblom se eetbare saad. Die middelste gedeelte van ’n sonneblom kan tussen 5 en 50 sentimeter in deursnee wees en dit kan tussen 100 en 8 000 sade lewer.

Daar is duisende soorte Helianthusse, en nuwe variëteite word voortdurend ontwikkel. Gewoonlik word slegs twee soorte vir landboudoeleindes gekweek. Een is Helianthus annuus, wat hoofsaaklik gekweek word vir die vervaardiging van sonneblomolie. Die ander, Helianthus tuberosus, ook bekend as die Jerusalemartisjok, word gekweek vir sy aartappelagtige knolle. Dit word as voer en in die vervaardiging van suiker en alkohol gebruik.

Ekonomiese voordele

Vandag word die meeste sonneblomme gekweek vir hulle saad, wat ’n uitstekende olie lewer. Sonneblomolie word vir kookdoeleindes, in slaaisous en in margarien gebruik. Die saad het ’n hoë voedingswaarde en bevat 18 tot 22 persent proteïen sowel as ander voedingstowwe.

Baie mense geniet sonneblomsaad wat liggies gerooster en gesout is, as ’n versnapering. Meel wat van hierdie saad gemaak is, word gebruik om mee te bak. Daarbenewens is sonneblomolie ’n bestanddeel in sjampoe, lipsalf, handeroom, lyfroom en babasorgprodukte. Dit word selfs in die vervaardiging van industriële motorolie gebruik. Sonneblomsaad word ook as kos vir voëls en klein diertjies gebruik.

’n Sonneblomlandery is ’n paradys vir heuningbye—een hektaar sonneblomme kan tussen 25 en 50 kilogram heuning lewer. Wanneer die sonneblomoes verby is, bly die stingels agter, wat bestaan uit 43 tot 48 persent sellulose en gebruik kan word om papier en ander produkte mee te maak. Wat van die sonneblom oorbly, kan as kuilvoer vir diere of as bemesting gebruik word.

Die sonneblom is werklik ’n wonderlike gawe aan die mensdom. Die prag daarvan het kunswerke, soos Vincent van Gogh se “Sonneblomme”, geïnspireer. Waar hulle ook al groei, lyk dit asof sonneblomme die son in ons huise en tuine inbring. Ons dink dalk aan hulle vrolike gesigte en talle gebruike wanneer ons die psalmis se woorde lees: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons . . . Dit [het] te talryk geword om te vertel.”—Psalm 40:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel