Die rol van samewerking in die natuur
Om in die natuur te oorleef, “is goeie verhoudings met jou bure net so belangrik as groei en voortplanting”.—“Liaisons of Life.”
DIE see was kalm en stil. Die enigste versteuring was die gekrys van tientalle seevoëls. Hulle opgewondenheid was ’n teken dat iets onder die oppervlak aan die gang was. Skielik het borrels begin verskyn en geleidelik het dit ’n wit kring gevorm. Oomblikke later het twee enorme, donker vorms hulle verskyning in die helder water in die middel van die kring gemaak. Dit was twee boggelwalvisse wat uit die dieptes opgekom het met hulle bekke wawyd oop, die balein daarin duidelik sigbaar. By die oppervlak het hulle hulle enorme kake toegemaak, deur hulle spuitgate geblaas en afgeduik om die proses te herhaal.
Die twee walvisse het as ’n span saamgewerk om die massa garnaalagtige kril aan te keer en te eet. Asof hulle ’n onderwaterballet uitvoer, het die soogdiere, wat elk 40 ton weeg, onder die skaaldiertjies ingeduik en in ’n nou sirkel geswem terwyl hulle lug uit hulle spuitgate blaas. Hierdie vindingryke taktiek het ’n “net” van borrels om die kril gevorm. Die walvisse het toe in die middel van hulle “net” vertikaal na die oppervlak geswem en hulle prooi verorber.
Op die vlaktes van Afrika werk bobbejane en rooibokke dikwels saam. “Die twee spesies vorm ’n onderlinge alarmstelsel”, sê die tydskrif Scientific American. Die rooibokke se goeie reuksin komplementeer die bobbejane se goeie gesigsvermoë, wat dit moeilik maak vir roofdiere om ongemerk nader te kom. ’n Soortgelyke vennootskap bestaan tussen volstruise, wat goed kan sien, en sebras, wat goed kan hoor.
Dit is net ’n paar van die tallose voorbeelde van samewerking in die lewende wêreld om ons. Trouens, wedersydse ondersteuning kan op elke vlak van die lewe gesien word, van mikrobes tot mense en tussen gelyksoortige en ongelyksoortige spesies. Duisende jare gelede het koning Salomo, wat ’n student van die natuur was, die nederige mier opgemerk. Hy het geskryf: “Gaan na die mier, jou luiaard; kyk na sy weë en word wys. Hoewel hy geen aanvoerder, leier of heerser het nie, berei hy sy voedsel in die somer voor; hy het sy voedselvoorraad tydens die oes ingesamel.”—Spreuke 6:6-8.
Miere is ’n goeie voorbeeld van samewerking, vlytigheid en ordelikheid en werk dikwels saam om voorwerpe wat baie groter is as hulle, na die nes te dra. Party miere sal beseerde of uitgeputte lede van die kolonie selfs help om terug by die nes te kom. Met die oog op hierdie eienskappe is dit geen wonder nie dat Salomo miere gekies het as ’n voorbeeld wat ons kan volg.
In die volgende artikels sal ons sien hoe samewerking ’n fundamentele tema is in die ‘boek van die natuur’ en hoe dit lewe, insluitende menselewe, moontlik maak. Ons sal ook leer omtrent die teenoorgestelde rol wat mense speel in die uitbuiting en besoedeling van die omgewing, en hoe hulle diere tot uitwissing bring. Sal die Skepper hierdie tendens vir ewig toelaat?
[Prent op bladsy 3]
Bo: Bobbejane en rooibokke vorm ’n onderlinge alarmstelsel
[Prent op bladsy 4]
Miere is ’n goeie voorbeeld van samewerking
[Prent op bladsy 4]
’n Vennootskap bestaan tussen volstruise, wat goed kan sien, en sebras, wat goed kan hoor