Goeie behuising vir almal—Uiteindelik!
NET buite Nairobi, Kenia, is die Verenigde Nasies se pragtige Gigiri-kompleks van 56 hektaar, waar onder andere die VN-HABITAT se hoofkwartier geleë is. Hierdie gemeenskap is ’n simbool van die internasionale verbintenis daartoe om die wêreldwye behuisingskrisis op te los. ’n Wandeling langs die Gigiri-natuurroete, wat deel van die kompleks is, bied ’n treffende bewys van wat met doelbewuste inspanning en voldoende fondse vermag kan word. Hier is ’n onbewerkte stuk grond verander in ’n ten volle funksionele, pragtige ontspanningsgebied vir die personeel en besoekers.
Maar net ’n paar kilometer daarvandaan is ’n betreklik nuwe krotbuurt wat bly uitbrei. Dit is ’n sombere herinnering aan hoe ingewikkeld die huidige behuisingskrisis in werklikheid is. Die krotwonings wat van modder, stokke en sinkplate gebou is, beslaan ongeveer 16 vierkante meter elk. In die deurgange tussen die huisies is daar die stank van vuil afvalwater. Die inwoners betaal tot vyf keer meer vir water as die gemiddelde persoon in die Verenigde State. Die meeste van die sowat 40 000 mense wat hier bly, is in hulle twintiger- en dertigerjare. Hulle is nie lui of ongemotiveerd nie. Hulle het hierheen gekom op soek na werk in die nabygeleë Nairobi.
In skerp teenstelling hiermee vergader wêreldleiers hier in ’n skoon, funksionele, aantreklike omgewing om die toekoms te bespreek van verarmde mans, vroue en kinders wat net langsaan bly. Die frustrerende waarheid, volgens die Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, is dat “die wêreld die middele, kennis en mag het” om die lewens van krotbewoners aansienlik te verbeter. Wat moet dus gedoen word? “Ek hoop”, sê mnr. Annan ten slotte, “dat . . . alle betrokke partye die onverskilligheid en gebrek aan politieke wilskrag [kan] oorkom wat vooruitgang verhinder.”
Maar hoe realisties is daardie hoop? Wat sal dit verg om al die internasionale, streeks- en plaaslike politici te kry om hulle eie belange ter syde te stel en hulle vir ’n gemeenskaplike oplossing te beywer? Daar is Iemand wat die middele, kennis en mag het om ’n einde aan die huidige krisis te maak. Nog belangriker, hy het ook die medelye en die wilskrag om binnekort op te tree. Trouens, sy regering het reeds ’n omvangryke program uiteengesit wat die wêreldwye behuisingsprobleem permanent sal oplos.
’n Nuwe behuisingsprogram
In die Bybel sit ons Skepper, Jehovah God, sy voornemens uiteen. Hy belowe: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (Jesaja 65:17). Dit sal ’n drastiese verandering tot gevolg hê. Die nuwe “hemele”, oftewel ’n hemelse regering, sal bereik wat huidige menseregerings nie kan nie. God se Koninkryk, of regering, sal gesondheid, veiligheid en selfrespek waarborg vir elkeen wat deel is van die nuwe aardse mensegemeenskap. Vroeër is daar vir Jesaja gesê dat toekomstige lede van hierdie nuwe aardse gemeenskap gedurende “die einde van die dae” versamel sou word (Jesaja 2:1-4). Dit beteken dat hierdie veranderinge op hande is.—Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5.
Dit is betekenisvol dat God, soos opgeteken in ander verse in Jesaja hoofstuk 65, spesifiek aanbied om in daardie tyd vir elkeen ’n permanente tuiste te voorsien. “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon”, sê hy. “Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie” (Jesaja 65:21, 22). Stel jou voor dat jy uiteindelik ’n behoorlike dak oor jou kop het en in ’n skoon omgewing en in veilige toestande in ’n wonderlike paradys woon! Wie smag nie na sulke toestande nie? Maar hoe kan jy seker wees van God se beloftes?
’n Belofte waarop jy kan vertrou
Toe God Adam en Eva in die begin geskep het, het hy hulle nie in ’n woesteny aan hulleself oorgelaat nie. Hy het hulle eerder in ’n tuin in Eden gevestig, ’n pragtige park met skoon lug en genoeg kos en water (Genesis 2:8-15). Daar is vir Adam gesê om ‘die aarde te vul’, nie om dit te oorbevolk nie (Genesis 1:28). Dit was van die begin af God se voorneme dat almal orde, harmonie en ’n oorvloed goeie dinge moes geniet.
Later, in Noag se dag, het die mensegemeenskap vol geweld en onsedelikheid geraak, en daarom het “die aarde . . . verdorwe geraak voor die oë van die ware God” (Genesis 6:11, 12). Het God die situasie bloot deur die vingers gesien? Nee. Hy het onmiddellik opgetree. Hy het die aarde deur middel van ’n wêreldvloed gereinig, ter wille van sy eie naam asook ten behoewe van die regverdige man Noag en sy nageslag. Toe Noag dus uit die ark gekom het en in sy nuwe tuiste was, is daar weer eens vir hom gesê om ‘baie te word en die aarde te vul’.—Genesis 9:1.
Nog later het God vir die Israeliete die erfenis gegee wat aan hulle voorvader Abraham belowe is. Daardie Beloofde Land is beskryf as “’n goeie en uitgestrekte land, . . . wat oorloop van melk en heuning” (Eksodus 3:8). Weens hulle ongehoorsaamheid het die Israeliete 40 jaar lank in die wildernis rondgedwaal sonder ’n permanente tuiste. Maar, soos hy belowe het, het God uiteindelik vir hulle ’n land gegee waarin hulle hulle kon vestig. Die geïnspireerde verslag sê: “Jehovah [het] hulle aan alle kante rus gegee . . . Geen belofte van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is bewaarheid.”—Josua 21:43-45.
Uiteindelik tuis!
Dit is dus duidelik dat Jehovah se woorde in Jesaja hoofstuk 65 nie leë beloftes is nie. As die Skepper van alles het hy beslis die krag om te doen wat ook al nodig is om die aarde te reinig en sy oorspronklike voorneme daarmee te vervul (Jesaja 40:26, 28; 55:10, 11). Bowendien verseker die Bybel ons dat hy dit wil doen (Psalm 72:12, 13). Hy het in die verlede opgetree om regverdige mense van geskikte behuising te voorsien, en hy sal dit binnekort weer doen.
Trouens, toe sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gekom het, het Jesus sy volgelinge spesifiek geleer om te bid dat “[God se] wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Hy het aangedui dat die aarde ’n paradys sal wees (Lukas 23:43). Dink wat dit sal beteken. Geen krotbuurte, plakkerskampe, mense wat op straat slaap, of uitsettings nie. Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog wees! Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal almal uiteindelik ’n permanente tuiste ontvang!
[Venster/Prent op bladsy 10]
HUISE IN EERTYDSE ISRAEL
Blykbaar het die Israeliete, soos die Kanaäniete voor hulle, kliphuise verkies, aangesien hierdie geboue sterker was en beter beskerming gebied het teen indringers (Jesaja 9:10; Amos 5:11). Maar in die laaglande is songedroogde of oondgebakte modderstene gebruik vir die mure van wonings. Die meeste dakke was plat, en soms is ’n bovertrek daarop gebou. Daar was dikwels ’n oond in die binnehof en, soms, ’n put of ’n reënput.—2 Samuel 17:18.
Die Mosaïese Wet het verskeie riglyne in verband met huise ingesluit. Veiligheid was natuurlik van die allergrootste belang. ’n Muurtjie moes om ’n plat dak gebou word om ongelukke te voorkom. Die tiende gebod het die Israeliete gewaarsku om nie hulle medemens se huis te begeer nie. Enigiemand wat sy huis moes verkoop, het ten minste ’n tyd lank die terugkoopreg gehad.—Eksodus 20:17; Levitikus 25:29-33; Deuteronomium 22:8.
’n Huis in Israel was ook ’n belangrike plek van geestelike onderrigting. Vaders is spesifiek beveel om God se vereistes aan hulle seuns te leer wanneer hulle in hulle huis gesit het, en daar moes niks in die huis gewees het wat met afgodediens verband gehou het nie.—Deuteronomium 6:6, 7; 7:26.
[Prent]
In eertydse Israel is huise vir geestelike bedrywighede gebruik, soos vir die viering van die Huttefees
[Venster/Prent op bladsy 12]
DIE VROEGSTE HUISE
Die Bybel sê nie dat die eerste mens, Adam, in ’n huis gebly het nie. Genesis 4:17 sê egter dat Kain “’n stad gaan bou [het] en die stad na die naam van sy seun Henog genoem [het]”. Volgens hedendaagse standaarde was daardie stad waarskynlik niks meer as ’n versterkte dorp nie. Die verslag sê nie watter soort huise gebou is nie. Miskien het die hele dorp uit Kain se naaste familielede bestaan.
In vroeëre tye was tente ’n algemene vorm van beskutting. Nog een van Kain se nakomelinge, Jabal, word “die vader van dié wat in tente woon en vee het”, genoem (Genesis 4:20). Dit sou natuurlik baie makliker gewees het om tente op te slaan en daarmee rond te trek.
Mettertyd het baie beskawings stede met al hoe indrukwekkender huise gebou. In die stad Ur byvoorbeeld, waar die aartsvader Abram (Abraham) op ’n stadium gewoon het, toon ruïnes dat sommige inwoners die gerief van gepleisterde en afgewitte huise met 13 of 14 vertrekke geniet het. Sulke huise is destyds heel moontlik deur ander beny.
[Prent op bladsy 8, 9]
God belowe veilige behuising vir die regverdiges