Die bosluisvoël—’n Vriend van mens en dier
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
DIT was ongetwyfeld een van die vreedsaamste kolonisasies in die geskiedenis. Nie ’n enkele skoot is afgevuur nie; nie ’n druppel bloed is vergiet nie. Inheemse volke is nie uitgebuit nie, en geen land is van sy rykdom beroof nie. Nietemin het die koloniste onverpoos die een land na die ander ingeneem.
Hierdie inval het gedurende die 20ste eeu plaasgevind. Maar hierdie nuwe verowering het meestal ongemerk verbygegaan omdat die koloniste voëls was. Hierdie vindingryke voëls, wat tot dusver daarin geslaag het om vyf vastelande te beset, is bekend as bosluisvoëls—of Bubulcus ibis, hulle wetenskaplike naam.
’n Ongeëwenaarde kolonisasie
Die bosluisvoël is eeue lank hoofsaaklik in tropiese Afrika gevind. Maar omtrent honderd jaar gelede het hulle suidwaarts getrek en Suid-Afrika ingeneem. Volgens party bronne het soveel bosluisvoëls gedurende die 1930’s oor die Atlantiese Oseaan getrek dat hulle daarin geslaag het om ’n basis in Suid-Amerika te vestig. Teen die middel van die 20ste eeu het hulle in Florida aangekom, en ’n dekade later het hulle tuiste gestrek van Kanada in die noorde tot Argentinië in die suide. “As die bosluisvoël . . . met sy eie twee vlerke en die wind na die Nuwe Wêreld toe gekom het”, het Roger Tory Peterson in 1954 geskryf, “is dit die enigste Ou Wêreld-voël in die geskiedenis wat hom sonder die hulp van mense in die Amerikas gevestig het.”
Voëlkundiges het nou tot die slotsom gekom dat hierdie merkwaardige prestasie inderdaad aan die bosluisvoël toegeskryf kan word. Daar word bereken dat ’n bosluisvoël met behulp van heersende passaatwinde die oseaan tussen Wes-Afrika en Suid-Amerika in sowat 40 uur kan oorsteek. En die Atlantiese Oseaan was nie die enigste hindernis wat hulle oorkom het nie. Ander bosluisvoëls het ooswaarts gevlieg totdat hulle Nieu-Seeland bereik het. Gedurende dieselfde tydperk het hulle ’n algemene gesig geword in die grootste deel van Eurasië, waar hulle uitgestrekte gebied nou van die Iberiese Skiereiland in die weste tot Japan in die ooste strek.
Bosluisvoëls word standvoëls in lande waar die weer dit toelaat; maar in gebiede waar die winters kwaai is, trek hulle ná die broeiseisoen na plekke met ’n warmer klimaat. Hulle moedige reise gaan steeds voort, en hulle maak gereeld hulle opwagting op afgeleë eilande van die Stille Oseaan of selfs in Antarktika.
Die geheim agter die verowering
’n Vername faktor in die bosluisvoël se vermeerdering was sy aanpasbaarheid en sy verhouding met mense, veral met beesboere. Hoewel die meeste ander lede van die reierfamilie waterdiere eet, verkies die bosluisvoël insekte. Hulle wei gewoonlik saam met beeste, maar soms volg hulle olifante, kangaroes, trekkers of selfs veldbrande—enigiets wat die insekte opjaag sodat die bosluisvoël dit kan eet.
Bosluisvoëls kan natuurlik hulle kos sonder enige hulp kry, maar beeste is ideale aanjaers vir hierdie gevleuelde jagters. Terwyl beeste stadig deur die veld beweeg, jaag hulle sprinkane, vlieë en kewers op. Die oplettende bosluisvoëls wat langs die beeste loop, kan dan die insekte vang wat in hulle rigting vlieg. Die beeste help dus die bosluisvoëls om hulle prooi te vind en te vang—tot twee of drie insekte per minuut, volgens een berekening. Voëlkundiges reken dat ’n bosluisvoël 30 persent minder energie gebruik en 50 persent meer van sy prooi vang deur saam met beeste te wei.
Maar die bosluisvoël se soektog na ’n goeie jagmaat was nie die enigste rede waarom hy die wêreld met sukses gekoloniseer het nie. Bosluisvoëls het stamina. Dit lyk dalk of hulle met groter inspanning vlieg as eende of duiwe wat reguit en kragtig vlieg. Maar bosluisvoëls kan die Sahara oorsteek, en soos vroeër genoem is, het hulle oor die 4 000 kilometer tussen Wes-Afrika en Suid-Amerika gevlieg.
Daarbenewens hou bosluisvoëls blykbaar daarvan om rond te trek, en hulle trekgees bevorder ook hulle verspreiding. Watter ander inseketende voël sou dit so ver suid as die verlate Antarktika waag—skynbaar uit blote nuuskierigheid?
In hulle swerftog oor die aarde het bosluisvoëls feitlik oral ’n ideale habitat gevind. Op elke vasteland waar hulle geland het, het plaasboere óf groot gebiede in beesplase omskep óf lande natgelei wat van insekte gewemel het. Die bosluisvoëls het dus hulle intrek geneem en gefloreer.
Voordele vir mens en dier
Hulle wit veredos, sosiale aard en gewoonte om saam met beeste te wei, maak dit maklik om bosluisvoëls dop te hou. Spierwit bosluisvoëls wat in formasie oor die vlaktes vlieg, is nie net ’n pragtige gesig nie, maar hulle verrig ook ’n waardevolle diens as plaagbestryders. ’n Swerm van tot 40 000 bosluisvoëls is eenkeer in Tanzanië gesien waar hulle weggelê het aan swerms sprinkane. Party plaasboere beskou die bosluisvoël as so nuttig dat hulle die voël op hulle plase gevestig het met die doel om insekte te beheer wat hulle gewasse beskadig. Elke voël kan meer as 600 sprinkane en krieke per dag verorber.
Beeste vind ook baat by die teenwoordigheid van ’n swerm bosluisvoëls, aangesien die voëls vlieë en ander insekte eet wat die beeste gedurig irriteer. Dit lyk of die beeste weet dat die bosluisvoëls hulle vriende is, en hulle verduur dit maar wanneer die parmantige voëls nou en dan op hulle rug ry.
’n Sosiale voël
Bosluisvoëls hou van geselskap, of hulle nou broei, slaap of eet. Gedurende die broeityd deel hulle doodtevrede ’n boom met ander soorte reiers of met ooievaars. Blykbaar skrik hulle gewoonte om so saam-saam nes te maak, roofdiere af, en al die spesies vind baat by so ’n gemeenskaplike nes. Die broeikolonies is altyd besig en lawaaierig. Bosluisvoëls steel maklik stokkies uit hulle bure se nes, wat natuurlik ’n groot konsternasie veroorsaak. Party bosluisvoëls leun oor hulle neste, terwyl ander onder die boom hard besig is om bruikbare stokkies op te tel wat afgeval het. Hulle familielede, ander reiers en ooievaars, wat groot neste hoër in die boom bou, ignoreer gewoonlik al die lawaai om hulle.
Die bosluisvoëls se treffende hofmakery sluit in ’n gestrek, snawelkappery en ’n oordadige vertoon van die geel vere waarmee die mannetjies gedurende die broeiseisoen spog. Wanneer een van die ouers by die nes aankom, begroet die ander een hom met ’n “verwelkomingseremonie” wat die trotse vertoon van die pluime op die rug behels. Hierdie vertonings kan maklik gesien word, aangesien die voëls heeltemal bereid is om mense om hulle te duld.
Hetsy jy in Afrika op safari is, deur beeswêreld in Noord-Amerika reis of die ryslande in die Ooste besoek, jou kanse is groot om hierdie pragtige voëls te sien. Hulle loop dalk om die pote van olifante, ry parmantig op ’n jong os of is op pad na hulle nes wanneer die son begin ondergaan. Waar jy hulle ook al sien, sal hulle ongetwyfeld die landskap verfraai, terwyl hulle ook ’n nuttige diens vir mens en dier verrig. Hulle indrukwekkende kolonisasie bly een van die vreedsaamste ter wêreld.
[Prente op bladsy 14, 15]
Bosluisvoëls het hulle op vyf vastelande gevestig; hulle is ewe tuis saam met olifante en beeste
Guyana
Australië
Kenia
Verenigde State
Spanje
[Erkenning]
© Joe McDonald