Paniolo’s—Die cowboys van Hawaii
Deur Ontwaak!-medewerker in Hawaii
BAIE mense wat die Hawaii-eilande besoek, is verbaas om uit te vind dat beesboerdery hier floreer, veral op die Groot Eiland, wat Hawaii genoem word. Hoewel die vroeëre suiker- en pynappelplantasies en Kona-koffie bekend is, is cowboys, of paniolo’s, ’n vreemde, onverwagse gesig vir besoekers. Hulle vra: “Hoe op dees aarde het beeste en cowboys na Hawaii gekom?”
Die aankoms van die beeste
Beeste het reeds in 1793 na die Groot Eiland, Hawaii, gekom toe ’n Engelse skeepskaptein en ontdekkingsreisiger, George Vancouver, hulle as ’n geskenk vir koning Kamehameha I gebring het. Kaptein Vancouver het die Hawaii-eilande goed geken, aangesien hy vroeër saam met kaptein James Cook, ’n bekende Britse ontdekkingsreisiger, was toe hulle twee die eerste Europeërs geword het wat op ’n toer van die eilande gegaan het.
Die koning het die geskenk aanvaar en was so in sy skik daarmee dat Vancouver die daaropvolgende jaar met nog beeste en skape teruggekeer het. Vancouver het gehoop dat die diere sou floreer en sodoende ’n bykomende ekonomiese hulpbron sou wees vir die Sandwich-eilande, soos hulle destyds bekend gestaan het. Om dit te bereik, het hy voorgestel dat koning Kamehameha ’n kapu (taboe) instel, waarvolgens mense verbied is om hierdie diere te slag sodat hulle vinnig kon vermeerder. Die koning het onmiddellik die voordeel hiervan gesien en die kapu vir ’n tydperk van tien jaar ingestel.
Die beeste word ’n las
Die beeste wat Vancouver ingevoer het, was langhoringbeeste van Kalifornië. (Sien foto op bladsy 18.) Hulle was groot, vreesaanjaende diere met weglêhorings. Dit was nie lank voordat die Hawaiërs hulle pua‘a pipi (letterlik, beesvark) genoem het nie. Hulle het ook op ’n veilige afstand van die beeste gebly en dus die kapu gerespekteer. Omdat die beeste alleen gelaat is, het hulle vryelik rondgewei en geweldig vermeerder.
Die beeste het kort voor lank ’n las geword! Omdat hulle kon gaan waar hulle wou en daar nie roofdiere was nie, het hulle ernstige skade aan die inheemse woude in die mauka-land (bergland) begin aanrig, en hulle het herhaaldelik in die tuine van die makai-land (laer kusland) gewei, waar die dorpenaars hulle patats, broodwortel, taro’s en ander gewasse verbou het. Veeheinings van vulkaniese klip en selfs papipi (heinings van turksvybome) kon nie hierdie sterk, wilde en vasbeslote diere uithou nie.
Dit was eers teen om en by 1815 dat ’n ondernemende Nieu-Engelander, John Palmer Parker, deur koning Kamehameha I toegelaat is om die beeste, wat teen daardie tyd al baie aangeteel het en ’n las op die Groot Eiland was, met sy nuwe, Amerikaansvervaardigde geweer te skiet. Die versiende koning het weldra besef dat die vleis, harde vet en velle van hierdie diere ’n waardevolle kommersiële bate is, en uiteindelik sou soutbeesvleis sandelhout as die vernaamste produk van die Groot Eiland vervang.
Van vaquero’s tot paniolo’s
Teen die vroeë 1830’s was die wilde troppe beeste so groot en gevaarlik dat iets gedoen moes word. Koning Kamehameha III het besef dat hulle onder beheer gebring moes word. Daarom het hy ’n hoofman na Spaans-Kalifornië gestuur om ervare beeswagters terug te bring. Hulle werk sou wees om die beeste bymekaar te jaag en Hawaiërs te leer om dieselfde te doen. Teen daardie tyd was die diere nie net op die Groot Eiland nie, maar ook op Oahu, Maui en Kauai.
In 1832 het Spaanse, Mexikaanse en Indiaanse vaquero’s, of veewagters—kleurvolle, ervare cowboys wat op Spaans-Mexikaanse plase hulle werk geleer het—in Hawaii aangekom. Met hulle unieke sombreros, saals, toue en spore aan hulle stewels het hulle gou die naam paniolo’s gekry weens hulle Spaanse (español) agtergrond. Dit het hulle naam geword, en hulle staan vandag nog as paniolo’s bekend.
Die paniolo’s was hardwerkende, pretlustige cowboys, wat nie net in hulle werk uitgeblink het nie, maar dit ook geniet het om te sing en musiekinstrumente te speel. Met hulle ondervinding, moed, stamina en groot trots in hulle werk, het hulle hierdie reusetaak aangepak. ’n Ou paniolo het hulle gevoel soos volg uitgespreek: “As jy hard werk, sal jy lank lewe.” En hulle het hard gewerk! Hulle het van sonop tot ná donker beeste bymekaargejaag, afgesonder, met toue gevang en gebrandmerk. En die heinings moes natuurlik opgerig en herstel word, aangesien die beeste nou mak gemaak moes word.
Maar wat is ’n cowboy sonder sy perd? In 1803 het Richard J. Cleveland die eerste perde aan boord van die Lelia Byrd na Hawaii gebring. Hierdie perde was van Arabiese en Moorse afkoms, en koning Kamehameha I was die eerste Hawaiër op die eilande wat ’n perd gery het!
Hierdie perde was vinnig, rats en taai en het goed aangepas by die ongelyke terrein. Die paniolo’s het gevind dat die perde onontbeerlik was vir hulle veeleisende werk om die beeste te hanteer en mak te maak.
Aanvanklik het party perde net soos die beeste vry rondgeswerf, en mettertyd het hulle met ander perde gepaar wat van Groot Brittanje en die Verenigde State ingevoer is, insluitende volbloed- en Arabiese perde. Hierdie verbastering het ’n interessante verskeidenheid perde opgelewer wat die paniolo’s kon gebruik. Maar as jy ’n paniolo vandag vra watter perd hy verkies om beeste mee aan te jaag en te vang, sal dit heel waarskynlik die kwartmylperd wees. Waarom? Want met die dier se vermoë om vinnig weg te spring, te stop en bevele te gehoorsaam, is dit moeilik om ’n beter perd vir die werk te vind, soos die paniolo’s uitgevind het.
Wêreldrodeokampioenskap
Die Hawaiïese paniolo’s het die vaardighede bemeester waarvoor cowboys bekend is—om perd te ry, diere met toue te vang en resies te jaag. Hulle was so goed dat ’n hele paar van hulle, insluitende Ikua (Ike) Purdy en Archie Ka‘au‘a, in 1908 aan die grootste rodeo in die Verenigde State deelgeneem het. Dit was die Frontier Days Rodeo in Cheyenne, Wyoming, waarlik ’n besondere geleentheid.
Hierdie paniolo’s, met hulle kleurvolle drag, swierige styl en Hawaiïese blommekranse, het die aandag van die Westerse cowboywêreld getrek. En watter naam het hulle tog vir hulleself gemaak! Ike Purdy het die wêreldkampioen in die bulvangkompetisie geword, en Archie het ook baie goed gevaar in die rodeo. Die wêreld was verbaas en het kennis geneem van Hawaii en sy fassinerende paniolo’s. Later, in 1996, is Ike Purdy selfs vir die Nasionale Cowboyheldesaal genomineer.
Die hedendaagse paniolo
Watter soort lewe lei ’n paniolo vandag? Miskien is dit ’n bietjie rustiger, maar op ’n hedendaagse beesplaas moet hulle nog steeds heelwat harde werk doen. Die Parker-beesplaas in Waimea op die Groot Eiland is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit is ’n groot plaas met honderde kilometers heining en derduisende beeste. Daar is baie werk vir die paniolo, en saam met sy gunstelingperd jaag hy die beeste van die een weiveld na die ander.
Vandag in Waimea, ná ’n dag se werk, sal jy dalk ’n groep paniolo’s kry wat by hulle geliefkoosde uithangplek ontspan—in blou jeans, cowboystewels en ’n cowboyhoed, moontlik versier met ’n Hawaiïese blommekrans—terwyl hulle na die kenmerkende ghitaarmusiek luister wat eie is aan hierdie gebied of miskien ’n ou, geliefkoosde Hawaiïese liedjie saamsing!
[Prent op bladsy 17]
Koning Kamehameha I
[Prent op bladsy 18]
Beeste word gebrandmerk
[Prent op bladsy 18]
Langhoringbees
[Prent op bladsy 18]
Van links na regs: Archie Ka‘au‘a, Eben Low en Ike Purdy
[Erkenning]
Paniolo Preservation Society/Dr. Billy Bergin
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Hawaii-eilande: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Parker Ranch/John Russell
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Parker Ranch/John Russell