Die Giant’s Causeway
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND
VOLGENS ’n Ierse legende wou ’n reus met die naam Finn MacCool, van Ierland, teen ’n reus veg met die naam Benandonner, van Skotland. Maar daar was ’n probleem. Daar was nie ’n boot wat groot genoeg was om een van die twee oor die see na die ander te neem nie! Finn MacCool, so lui die legende, het hierdie probleem opgelos deur ’n verhoogde pad van enorme steenkolomme te bou.
Benandonner het die uitdaging om te veg, aanvaar en oor die pad na Ierland gereis. Hy was groter en sterker as Finn MacCool. Toe Finn MacCool se vrou dit sien, het sy die slinkse plan beraam om haar reus van ’n man as ’n baba te vermom. Toe Benandonner by hulle huis aankom en die “baba” sien, het hy bang geword, want hy wou nie die pa van hierdie baba ontmoet nie! Hy het teruggevlug Skotland toe! Om seker te maak dat Finn MacCool hom nie kon agtervolg nie, het hy in die hardloop die pad agter hom opgebreek. In Ierland is al wat oorgebly het, die stene waaruit die Giant’s Causeway vandag bestaan.
Hierdie humoristiese verhaal word al meer as driehonderd jaar lank aan miljoene besoekers vertel ter verduideliking van hoe die Giant’s Causeway ontstaan het. Hoe het dit nou eintlik ontstaan, en wat maak dit so ’n uitsonderlike besienswaardigheid? Ons het besluit om self uit te vind.
’n “Reuse”-natuurwonder
Die Giant’s Causeway is aan die noordkus van Ierland geleë, ongeveer 100 kilometer noordwes van Belfast. Toe ons daar aankom, het ons die kort entjie van die besoekersentrum na die strand toe en om ’n draai geloop. Voor ons was ’n asemrowende gesig—duisende groot, vertikale steenkolomme wat tot ses meter hoog is. Party mense het al geskat dat daar sowat 40 000 is. Maar dit was nie die aantal kolomme wat ons aandag getrek het nie; dit was die simmetrie daarvan. Elkeen het ’n deursnee van 40 tot 50 sentimeter, die bokante lyk plat, en dit wil voorkom of elkeen seskantig is. Hulle is so eenvormig dat dit van bo af lyk asof hulle soos ’n heuningkoek inmekaarpas. Ons het later ontdek dat ongeveer ’n kwart van die kolomme vyf kante het en dat daar ook ’n paar is met vier, sewe, agt en selfs nege kante.
Die Giant’s Causeway bestaan uit drie dele. Die grootste deel, die Grand Causeway, begin op die strand aan die voet van die kranse. Aanvanklik lyk dit meer soos ’n reeks reusagtige trapklippe sonder enige vaste patroon, waarvan party tot ses meter hoog is. Dit loop af na die see, en ’n mens kan maklik sien waar die idee van ’n pad vir reuse vandaan kom omdat die heuningkoekagtige bokante kort voor lank gelyk word. Daar lyk dit soos ’n geplaveide pad wat tussen 20 en 30 meter breed is. Met laagwater kon ons ’n paar honderd meter op hierdie pad van stene loop voordat hulle geleidelik onder die golwe verdwyn, oënskynlik op pad na Skotland.
Die ander twee dele, die Middle Causeway en die Little Causeway, is langs die Grand Causeway. Albei lyk meer na klein heuweltjies as paaie. Hulle plat bokante maak dit maklik vir enige avontuurlustige besoeker om van een na die ander te klouter. ’n Mens moet egter baie versigtig wees, want ons het gevind dat die kolomme naaste aan die water nat en baie glibberig is!
Ander reuseformasies
Ons het verder geloop langs die ongeveer ses kilometer lange deel van die kuslyn wat gewoonlik Causeway Headlands genoem word, en ons het nog duisende van hierdie kolomme teen die kranswande gesien. Oor die jare heen het mense name aan party van die formasies gegee. Twee van hulle is vernoem na musiekinstrumente. Een hiervan, die Organ, het sy naam gekry omdat sy lang, reëlmatige kolomme soos die pype van ’n reuse-orrel lyk. Die ander een, Giant’s Harp, het enorme geboë kolomme wat na die strand afloop.
Die reus-tema vind ons ook in ander name. Byvoorbeeld, daar is Giant’s Loom, Giant’s Coffin en Giant’s Cannons, sowel as Giant’s Eyes. Daar is selfs Giant’s Boot! Op die strand ’n entjie van die Giant’s Causeway af sien ons hierdie stewelvormige steen. Dit is sowat twee meter hoog. Volgens sommige se berekeninge moes die mitiese reus wat glo die “stewel” gedra het, ten minste 16 meter lank gewees het.
’n Ander formasie, die Chimney Tops, laat ’n mens aan die beroemde Spaanse Armada dink. Chimney Tops is deur erosie en verwering van die hoofkranswand afgeskei en bestaan uit net ’n paar kolomme wat uitstaan op ’n kaap wat uitkyk oor die Causeway-kus. Dit is maklik om te sien hoe matrose wat van die see af daarna gekyk het, dit kon aansien vir die skoorstene van ’n yslike kasteel. Blykbaar het ’n Spaanse oorlogskip, die Girona, ’n salvo op hierdie kolomme afgevuur toe dit gevlug het ná die nederlaag van die Spaanse Armada in 1588, omdat hulle gedink het dat dit ’n vyandelike kasteel is.
Aan die ander punt van die Causeway
Die Giant’s Causeway is kwansuis gebou om Ierland en Skotland met mekaar te verbind. Waar is die ander punt dan? Daar is identiese basaltkolomme 130 kilometer noordoos op Staffa-eiland, ’n baie klein, onbewoonde eiland aan die weskus van Skotland. (Die naam Staffa beteken “Pilaar-eiland”.) Benandonner, die Skotse reus wat van Finn MacCool gevlug het, is ook Fingal genoem, en die hoofkenmerk van Staffa-eiland—die groot seegrot wat in hierdie basaltkolomme gevorm het en 80 meter in die rots ingaan—word Fingal se grot genoem. Die golwe wat by die grot breek, het die Duitse komponis Felix Mendelssohn geïnspireer om sy “Hebride-ouverture”, wat ook bekend staan as “Fingal se grot”, in 1832 te komponeer.
Hoe het dit ontstaan?
Aangesien hierdie eenvormige kolomme nie deur vegtende reuse gemaak is nie, hoe het hulle dan ontstaan? Ons het gevind dat die werklike antwoord lê in ’n begrip van hoe sommige rotse gevorm word.
Noord-Ierland is op ’n gebied van saamgeperste kalksteen geleë. Lank gelede het vulkaanaktiwiteit diep in die aardkors gesmelte rots, wat ’n temperatuur van meer as 1 000 grade Celsius bereik het, opwaarts deur krake in die kalksteen geforseer. Toe dit met lug in kontak kom, het dit afgekoel en gestol. Maar waarom het dit nie net ’n reusagtige massa met ’n onreëlmatige vorm geword nie?
Gesmelte rots, of magma, bestaan uit talle chemiese elemente en kan dus verskillende rotstipes voortbring. Die tipe wat by die Giant’s Causeway tot so ’n dramatiese formasie gelei het, is basalt. Terwyl die magma stadig afgekoel het, het dit gekrimp, en weens die chemiese samestelling daarvan het krake in reëlmatige seshoekige vorms op die buitenste oppervlak ontstaan. Namate die magma na binne afgekoel het, het die krake stelselmatig afwaarts beweeg, wat tot die ontstaan van ’n magdom potloodvormige basaltkolomme gelei het.
‘Waarop kan die argitek roem?’
Kolomme soos dié is nie uniek aan Ierland of Skotland nie. Maar in die meeste ander dele van die wêreld verg dit dikwels baie moeite om naby hulle te kom. Dit is ’n seldsame verskynsel om soveel goed bewaarde seskantige kolomme te vind op ’n plek waar dit vir almal toeganklik is.
Aan die einde van die 18de eeu is sir Joseph Banks so diep getref deur die uitsonderlike prag van die betreklik min kolomme wat hy op Staffa-eiland ontdek het, dat hy gesê het: “In vergelyking hiermee, wat is die katedrale en paleise wat deur mense gebou is! . . . Waarop kan die argitek dan roem?”
Ons besoek aan die Giant’s Causeway, een van Ierland se natuurwonders, het soortgelyke gevoelens van bewondering by ons gewek. Ons het tussen hierdie natuurlike argitektuur geloop en nagedink oor die krag en skeppingsvermoë van die Grootse Skepper en Argitek, Jehovah God.
[Prent op bladsy 15]
’n Natuur- verskynsel—Die meeste van die steenkolomme is seskantig
[Erkenning]
Courtesy NITB
[Prent op bladsy 16, 17]
Die basaltkolomme kom langs ses kilometer van die kus voor
[Prent op bladsy 17]
Giant’s Boot, wat ongeveer twee meter hoog is
[Prent op bladsy 17]
Hierdie 12 meter hoë kolomme lyk soos die pype van ’n reuse-orrel
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Links bo: Courtesy NITB; onder: © Peter Adams/Index Stock Imagery