Wene se geliefde Reusewiel
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN OOSTENRYK
DIE skilderagtige stad Wene lê uitgestrek op die voorgrond, en ’n mens kan die heuwels van die Weense woude in die verte sien. Alles is so volmaak dat jy amper die meesleurende klanke van Strauss se walse in die lug kan hoor. ’n Jong man het doelbewus hierdie plek gekies, maar nou sukkel hy om sy senuwees te kalmeer terwyl hy sy beminde vra om met hom te trou. Hulle is 60 meter bo die grond. Hoe so? Hy is nie die eerste en sal beslis ook nie die laaste een wees wat Wene se geliefde Riesenrad, of reusewiel, tydens so ’n spesiale geleentheid besoek nie.
Die reusewiel, wat in ’n groot park in Wene is wat die Prater genoem word, is al meer as 100 jaar lank ’n landmerk in hierdie stad wat mense na aan die hart lê. ‘Jy ken Wene net as jy dit vanuit die reusewiel gesien het’, sê die uitnodiging by die ingang van die besienswaardigheid. Maar al bestaan dit langer as enige ander groot Ferriswiel in die wêreld, het dit al baie probleme deurstaan. Hoe het hierdie staalreus ontstaan? Hoe het dit die storms van die tyd oorleef?
Die eerste Ferriswiel
As ons meer omtrent die geskiedenis van die reusewiel wil uitvind, moet ons teruggaan na die 19de eeu en die Industriële Revolusie. Gedurende daardie tyd was staal die gewildste nywerheidsboumateriaal. Staalstrukture met buitengewone ontwerpe is in verskeie hoofstede van die wêreld opgerig—die staal-en-glas Crystal Palace in Londen, die Palmhuis in Wene en die Eiffeltoring in Parys. Maar die stad wat die bekendste vir hierdie soort argitektuur is, was Chicago, en dit was daar, by die Wêreldtentoonstelling in 1893, dat die Amerikaanse ingenieur George Ferris die eerste reusewiel gebou het.
Ferris se sensasionele wiel was 76 meter in deursnee en het 36 waentjies gehad wat elk 40 passasiers in die lug kon opneem sodat hulle 20 minute lank oor die pragtige Chicago en sy omgewing kon uitkyk. Dit was vir baie besoekers by die tentoonstelling die mees besondere aantreklikheid. Maar die Ferriswiel in Chicago het uiteindelik sy gewildheid verloor, en nadat dit twee keer geskuif is, is dit in 1906 afgebreek vir skrootyster. Nietemin het die idee van ’n reusewiel alreeds die verbeelding van mense op ander plekke aangegryp.
Die reusewiel word in Wene gebou
Die ingenieur en afgetrede Britse vlootoffisier Walter Basset was blykbaar baie entoesiasties oor Chicago se reusewiel. In 1894 het hy ’n groot wiel begin ontwerp wat in Earl’s Court in Londen opgerig sou word, en hy het later ander wiele in Blackpool, Engeland, en in Parys gebou. Intussen het die Weense vermaaklikheidsentrepreneur Gabor Steiner na nuwe aantreklikhede vir Wene gesoek. Eendag het ’n verteenwoordiger van Walter Basset vir Steiner gesê dat hulle vennote moet word om ’n reusewiel in Wene op te rig. Die mans het gou tot ’n ooreenkoms gekom, en ’n geskikte terrein is gevind vir die nuwe sensasie uit Engeland. Maar wat van ’n boupermit?
Toe Steiner sy bouplanne aan die stad voorlê, het ’n amptenaar na die planne gekyk, na Steiner gekyk en weer na die planne gekyk. Hy het toe sy kop geskud en gevra: “Meneer die Direkteur, dink jy werklik dat jy iemand sal kry wat jou sal toelaat om hierdie gedrog te bou en verantwoordelikheid daarvoor sal aanvaar?” Steiner het gesmeek: “Maar sulke wiele bestaan in Londen en Blackpool, en hulle werk sonder enige probleme!” Die amptenaar wou hom nie laat oortuig nie. “Die Engelse kan doen wat hulle wil”, het hy geantwoord, “maar ek gaan nie my nek uitsteek nie.” Steiner het moedig deurgedruk en uiteindelik toestemming gekry om te bou.
Die oprigting van die reusagtige staalstruktuur was op sigself ’n opspraakwekkende gebeurtenis. Nuuskierige toeskouers het daagliks by die bouterrein saamgedrom om die vordering te bespreek. Dit is binne slegs agt maande voltooi. Op 21 Junie 1897 het lady Horace Rumbold, die vrou van die Engelse ambassadeur aan die Weense Hof, die laaste hamerslae geslaan. ’n Paar dae later is die reusewiel in werking gestel. Steiner het later gesê: “Almal was verheug, en mense het na die kaartjieskantore gestroom.”
Die gebeurtenisvolle geskiedenis van die reusewiel
Aartshertog Frans Ferdinand, die regmatige troonopvolger van Oostenryk-Hongarye, het dit geniet om hoog vanuit die reusewiel oor die ryk se hoofstad uit te kyk. Die sluipmoord op hom in Junie 1914—die voorspel tot die Eerste Wêreldoorlog—het ook ’n uitwerking op die reusewiel gehad. Die wiel was nie alleen sy beroemde besoeker kwyt nie, maar dit is ook vir die publiek gesluit toe dit ’n militêre wagpos geword het. Die reusewiel het in Mei 1915 weer begin werk. Maar teen daardie tyd was daar ’n tekort aan yster in die land, en daar, oop en bloot, het die reusewiel gestaan, asof dit net wag om afgebreek te word! Die wiel is in 1919 aan ’n Praagse handelaar verkoop, wat dit binne drie maande moes afbreek. Maar dit sou meer kos om die ingewikkelde struktuur af te breek as wat die yster werd was. Die reeds beroemde landmerk het dus net-net ’n ‘doodsvonnis’ vrygespring en aangehou om ’n waarderende publiek te vermaak.
Die oorlog en die ineenstorting van die Oostenryks-Hongaarse monargie het groot veranderinge in Wene teweeggebring. Die ekonomie het in die 1930’s versleg, en die politieke situasie was onstabiel. Steiner, wat vroeër ’n beroemde man was, moes vir sy lewe vlug weens sy Joodse afkoms. Nietemin het rekordgetalle in 1939 en 1940 op die reusewiel gery. Dit het gelyk asof die Tweede Wêreldoorlog, wat intussen uitgebreek het, mense hulle aan plesier laat oorgee het. Maar in September 1944 het ontstellende nuus deur die stad versprei—die reusewiel was aan die brand! ’n Kortsluiting op die tuimeltrein langsaan het ’n brand laat ontstaan wat na die reusewiel versprei en ses van sy waentjies verwoes het. Maar die ergste het nog voorgelê.
In April 1945, gedurende die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog, het die wiel weer aan die brand geraak. Hierdie keer is al 30 waentjies saam met die beheerapparate vernietig. Al wat oorgebly het, was die wiel se uitgebrande ysterraam. Maar selfs dit het nie die einde van die wiel beteken nie. Terwyl baie huise na die oorlog in puin gelê het, het die reusewiel uitdagend daar gestaan, al was dit net ’n staalgeraamte. Daar is weer eens gevind dat dit te duur sou wees om dit af te breek. Was daar ’n ander oplossing?
Ja! Dit is weer eens gerestoureer, maar weens veiligheidsredes is net elke tweede waentjie vervang. Van Mei 1947 tot vandag toe draai dit nog steeds al in die rondte en neem dit sy vreugdevolle passasiers stadig op en af. Weens rolprente soos The Third Man, met sy onvergeetlike temamusiek wat op die siter gespeel is, het die reusewiel ook ver buite Wene bekend geword.
Wene se reusewiel het behoue gebly, terwyl dié wat oorspronklik in Chicago, Londen, Blackpool en Parys opgerig is, almal skrootyster geword het. Dit bly ’n bewys van die naoorlogse geslag se sterk wil om te herbou en het ’n simbool van Wene geword. As jy ooit Wene besoek, moet jy beslis op die reusewiel ry. Terwyl jy daar is, sal jy dalk ’n bejaarde man sien wat sy kleinkinders vertel hoe hy, hoog in die reusewiel, probeer het om sy senuwees te kalmeer toe hulle ouma ingestem het om met hom te trou.
[Venster/Prent op bladsy 19]
DIE RIESENRAD (REUSEWIEL)
Gebou in: 1897
Hoogte: 65 meter
Deursnee van wiel: 60 meter
Gewig van wiel: 245 ton
Gewig van die hele ysterstruktuur: 430 ton
Spoed: 2,7 kilometer per uur
[Erkenning]
Bron: The Vienna Giant Ferris Wheel, deur Helmut Jahn en Peter Petritsch, 1989, bladsy 39
[Prent op bladsy 21]
’n Uitsig vanuit die reusewiel oor die noordoostelike stadsprofiel van Wene