Die verkeer—Wat kan jy daaromtrent doen?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE FILIPPYNE
WAARSKUWING: ’n Ongesonde situasie heers in talle groot stede. Dit is nie ’n aansteeklike siekte nie. Nogtans bedreig dit die welstand van miljoene mense. Wat is dit? Verkeersopeenhopings!
Volgens navorsers kan herhaalde blootstelling aan verkeersopeenhopings nadelig wees vir jou gesondheid. In ’n onlangse studie is daar selfs bevind dat iemand wat in die verkeer vasgesit het, ten minste ’n uur daarna ’n groter risiko loop om ’n hartaanval te kry. The New Zealand Herald berig dat “die uitlaatgasse van motors, geraas en spanning heel moontlik die hoofoorsake van die skielike toename in hierdie risiko is”.
Gifstowwe in die lug
Die meeste motors gee stikstofoksiede en sekere kankerverwekkende stowwe af. Baie voertuie, veral dié met dieselenjins, stel enorme hoeveelhede klein deeltjies vry. Dit hou groot gevare vir die openbare gesondheid in. Na raming sterf tot driemiljoen mense elke jaar as gevolg van lugbesoedeling, en baie daarvan kom van motors. Een verslag sê dat 10 persent van asemhalingsinfeksies by Europese kinders deur fynpartikelbesoedeling veroorsaak word, en die syfer is selfs hoër in stede met swaar verkeer.
Dink ook aan die gevare vir die omgewing. Stikstofoksiede en swaeldioksied in motors se uitlaatgasse dra by tot suurreën, wat water besoedel, die waterlewe benadeel en ’n groot verskeidenheid plante beskadig. Wat sake vererger, is dat voertuie groot hoeveelhede koolstofdioksied vrystel. Dit is die gas waaraan aardverwarming, wat blykbaar ander gevare vir die aarde inhou, hoofsaaklik toegeskryf word.
Meer ongelukke
Namate die verkeer meer word, raak die gevare vir menselewe ook groter. Meer as ’n miljoen mense sterf elke jaar in verkeersongelukke, en die syfer styg voortdurend. In sekere gebiede is die gevaar besonder groot. Navorsers van die Europese Kommissie het byvoorbeeld gevind dat daar “vir elke miljoen inwoners 690 mense in Griekeland op die paaie sterf teenoor 120 mense in Swede”.
’n Betreurenswaardige faktor wat in onlangse jare baie aandag gekry het, is padwoede. Berigte van bestuurders wat hulle woede op ander bestuurders uithaal, word algemener. Volgens ’n opname wat deur die Nasionale Administrasie vir Verkeersveiligheid op Hoofweë in die Verenigde State gedoen is, het bestuurders gevoel dat een van die redes vir die toename in bestuurdersaggressie “die toename in verkeer of verkeersopeenhopings” is.
Die ekonomiese implikasies
Verkeersopeenhopings kos ook geld. Volgens ’n studie word meer as viermiljard liter brandstof elke jaar in Los Angeles, Kalifornië, alleen vermors as gevolg van vertragings in die verkeer. Daar is ook indirekte verliese, onder meer verlore sakegeleenthede, ekstra gesondheidsorguitgawes weens besoedeling, en die skade wat veroorsaak word deur ’n toename in verkeersongelukke.
Hierdie verliese het saam ’n nadelige uitwerking op landsekonomieë. Volgens een studie kos net die tyd en brandstof wat weens verkeersknope vermors word, Amerikaners elke jaar omtrent 68 miljard dollar (454 miljard rand). In die Verre-Ooste het ’n berig in die Philippine Star gesê: “Soos ’n taximeter wat aanhou loop, verloor die land elke jaar miljarde peso’s as gevolg van verkeersknope.” In Europa is die koste volgens skatting omtrent tweebiljoen rand.
Wat sê die verkeersvoorspelling?
Ondanks talle pogings om verkeersprobleme op te los, het die situasie vererger. Die Vervoerinstituut van Texas het ’n landwye opname in 75 stedelike gebiede in die Verenigde State gedoen en gevind dat die tyd wat verlore gaan weens verkeersvertragings, van gemiddeld 16 uur per jaar in 1982 tot 62 uur in 2000 toegeneem het. Die tyd wat padgebruikers waarskynlik in verkeersopeenhopings sal deurbring, het van 4,5 tot 7 uur toegeneem. Die verslag sê dat “verkeersopeenhopings gedurende die tyd waaroor die studie gestrek het, oral erger geword het. Verkeersopeenhopings duur langer en sluit nou meer paaie en meer verkeer in as in die verlede.”
Soortgelyke verslae het uit ander lande gekom. Navorsers wat onder leiding van die Europese Kommissie werk, het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Tensy ons die manier waarop ons reis, drasties verander, sal verkeersknope stede in die volgende dekade heeltemal lamlê.”
Lande in Asië sit in dieselfde verknorsing. Tokio is berug vir sy verkeersknope, en die verkeer in ander stede oral in Japan word al hoe meer. In die Filippyne is berigte soos die volgende, uit die Manila Bulletin, algemeen: “Die strate word verstop deur buffer-teen-buffer-verkeer, terwyl duisende pendelaars vir saamrygeleenthede wag gedurende spitsure wat al hoe langer duur.”
Ons moet egter realisties wees en besef dat dit nie op die oomblik lyk of daar ’n manier is om die verkeersprobleem heeltemal op te los nie. Anthony Downs, die skrywer van die boek Stuck in Traffic—Coping With Peak-Hour Traffic Congestion, het die volgende gevolgtrekking gemaak: “Ongeag watter openbare beleid in reaksie op toekomstige verkeersopeenhopings aangeneem word, dit sal waarskynlik in byna alle wêrelddele vererger. Ten slotte wil ek dus net sê: Raak daaraan gewoond.”
Wat kan jy doen?
Met die oog hierop, wat kan jy doen om hierdie irriterende probleem te verlig? As jy een van die miljoene is wat gereeld in die verkeer moet sit, is daar dinge wat jy kan doen om jou fisiese en geestesgesondheid te beskerm.
◼ WEES VOORBEREID. Baie is gespanne nog voordat hulle in die verkeer vassit. Hulle staan te laat op. Hulle moet haastig stort, aantrek en eet. Hulle raak angstig omdat hulle dalk laat by die werk gaan aankom. Verkeersopeenhopings maak hulle net meer gespanne. Laat meer tyd vir jou rit toe as jy verwag dat jy in die verkeer gaan vassit. As jy vroeër ry, sal jy die spitsverkeer moontlik selfs mis. Volgens die boek Commuting Stress—Causes, Effects, and Methods of Coping “begin ’n minder gespanne rit die vorige dag of aand”. Die boek sê verder: “Klere, aktetasse en middagetes vir die pendelaar of kinders in die gesin word in die aand reggekry om ’n gejaag in die oggend te vermy.” ’n Goeie nagrus is natuurlik noodsaaklik. As jy vroeg in die pad wil val, moet jy vroeg genoeg gaan slaap.
Daar is ander voordele daaraan verbonde om vroeër op te staan. Byvoorbeeld, as jy lank in die verkeer sit, kan dit jou spiere gespanne en minder soepel laat word. As jou omstandighede dit toelaat, kan jy in die oggend oefen. ’n Gereelde oefenprogram kan jou algehele fiksheid verbeter en jou help om die fisiese spanning die hoof te bied wat ’n mens ondervind wanneer jy in die verkeer vassit. As jy vroeër opstaan, sal jy moontlik genoeg tyd hê om ’n voedsame ontbyt te eet. Om in die verkeer vas te sit as jy gemorskos of niks geëet het nie, kan jou selfs meer gespanne maak.
Jy kan verdere spanning vermy deur seker te maak dat jou motor in ’n goeie toestand is. Daar is min dinge wat so frustrerend is as wanneer jou motor in die middel van ’n verkeersknoop gaan staan. Dit is veral die geval in slegte weer. Maak dus seker dat jy die motor se remme, bande, lugversorger, verwarmer, ruitveërs, ontvriestoestelle en ander noodsaaklike stelsels behoorlik in stand hou. Selfs ’n klein ongeluk in ’n verkeersopeenhoping kan baie spanning veroorsaak. En jy moet natuurlik altyd seker maak dat jy genoeg brandstof in die tenk het.
◼ WEES OP HOOGTE VAN SAKE. Voordat jy vertrek, sal dit dalk help as jy op hoogte is van spesiale toestande soos slegte weer, padkonstruksie, paaie wat tydelik gesluit is, ongelukke en ander verkeerstoestande van die dag. Jy kan hierdie inligting in die hande kry deur na die nuus te luister of die koerant te lees. Kry ook ’n padkaart van die gebied. As jy alternatiewe roetes leer ken, kan jy probleemgebiede vermy.
◼ MAAK JOU GEMAKLIK. Verstel die lugtoevoer in jou motor sowel as die posisie van jou sitplek sodat jy so gemaklik as moontlik sal wees. As jy ’n radio of ’n kasset- of CD-speler het, kan jy na jou gunstelingmusiek luister. Sekere soorte musiek het ’n kalmerende effek en kan jou minder gespanne laat voel. Dit kan ook die irriterende geraas van ’n verkeersopeenhoping demp.a
◼ WEES PRODUKTIEF. Een van die beste dinge wat jy kan doen terwyl jy in die verkeer vassit, is om oor positiewe dinge te dink. Probeer om oor die dag se aktiwiteite te dink eerder as om geïrriteerd te raak deur die slegte verkeerstoestande. As jy alleen in die motor is, kan die tyd wat jy in ’n verkeersknoop deurbring, jou ’n ideale geleentheid gee om oor belangrike dinge na te dink en selfs besluite te neem sonder om gesteur te word.
As jy ’n passasier is en na die lang ry voertuie voor jou staar, gaan jy net meer gespanne word. Beplan dus om die tyd wat jy in die verkeer deurbring, produktief te gebruik. Jy kan jou gunstelingboek of -koerant saamneem. Miskien kan jy van die pos lees wat jy die vorige dag ontvang het. Vir party mense is dit ’n goeie tyd om briewe te skryf of om ’n bietjie werk op ’n skootrekenaar te doen.
◼ WEES REALISTIES. As jy in ’n gebied woon waar verkeersopeenhopings ’n probleem is, moet jy verwag dat jy in die verkeer sal vassit en moet jy dienooreenkomstig beplan. Verkeersopeenhopings sal in die meeste stede altyd ’n probleem wees. Die boek Stuck in Traffic—Coping With Peak-Hour Traffic Congestion sê: “Daar kan amper met sekerheid gesê word dat redelik ernstige verkeersopeenhopings tydens spitsverkeer vir die afsienbare toekoms sal voortduur in al die stedelike gebiede waar dit reeds ’n probleem is.” Leer dus om die verkeer as ’n normale deel van jou lewe te aanvaar, en doen wat jy kan om die situasie so goed as moontlik te benut!
[Voetnoot]
a Baie Ontwaak!-lesers geniet dit om na opnames van hierdie tydskrif sowel as sy medetydskrif, Die Wagtoring, te luister. In sekere tale is dit op oudiokasset, kompakskyf en MP3-formaat beskikbaar.
[Prent op bladsy 26]
Vermy die verkeer deur vooruit te beplan
[Prent op bladsy 26]
Kies ’n gepaste kasset of CD voordat jy vertrek
[Prent op bladsy 26]
Vind ’n manier om produktief te wees as ’n passasier
[Prent op bladsy 26]
Moenie ontsteld raak oor dinge wat jy nie kan verander nie