Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/07 bl. 21-23
  • Die verkeer—Hoe om daarmee saam te leef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verkeer—Hoe om daarmee saam te leef
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom verkeersprobleme moeilik is om op te los
  • ’n Paar oplossings om die situasie draagliker te maak
  • Wat kan jy doen?
  • Die verkeer—Wat kan jy daaromtrent doen?
    Ontwaak!—2005
  • Hoe vermy miere verkeersknope?
    Is dit ontwerp?
  • Lugverkeerbeheer—Hoe verseker dit jou veiligheid?
    Ontwaak!—2008
  • Stede—Waarom in ’n krisis?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 2/07 bl. 21-23

Die verkeer—Hoe om daarmee saam te leef

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

JY HET ’n afspraak met die dokter, en jy ry by die huis weg onder die indruk dat jy meer as genoeg tyd het om daar te kom. Maar jy het nie gedink dat jy in ’n verkeersopeenhoping sal beland nie. Terwyl die minute verbytik en jou motor stadig vorentoe kruip, word jy al hoe ongeduldiger. Uiteindelik kom jy ’n halfuur laat by die dokter se spreekkamer aan.

Een van die grootste frustrasies van die stadslewe is die verkeer, veral die buffer-teen-buffer-verkeer wat die strate onbegaanbaar maak en die lug besoedel. Ongelukkig is daar geen einde in sig vir hierdie beproewing waarmee miljoene stadsbewoners elke dag te doen kry nie.

Die Vervoerinstituut van Texas het die volgende oor die Verenigde State berig: “Verkeersopeenhopings het oral toegeneem, in gebiede van alle groottes.” Die verslag het bygevoeg dat die owerhede eenvoudig nie met doeltreffende oplossings vorendag kan kom om aan die toenemende eise van stadsreisigers te voldoen nie. Regoor die wêreld is die situasie soortgelyk. Onlangs het duisende motoriste in China hulle in ’n 100 kilometer lange verkeersopeenhoping bevind wat verkeerspolisie etlike dae geneem het om reg te stel. In Mexikostad kan ’n rit van 20 kilometer deur die middestad meer as vier uur lank duur—langer as wat dit die gemiddelde voetganger sal neem om dieselfde afstand te stap.

Dit is nie moeilik om te sien waarom die strate van stede so oorvol is nie. Stede groei onophoudelik, en deesdae woon ongeveer die helfte van die wêreld se bevolking in stedelike gebiede. Namate stede groei, neem die aantal voertuie toe. Een skrywer het dit so gestel: “Te veel mense besit te veel motors, en almal wil hulle motors in dieselfde beperkte ruimte bestuur.”

Waarom verkeersprobleme moeilik is om op te los

Omdat die mensdom op motors staatmaak, beteken dit dat daar al hoe meer voertuie in die stede is. Met ’n bevolking van ongeveer viermiljoen het die stad Los Angeles, in die Verenigde State, nou meer motors as mense! Ander stede het dalk nog nie daardie punt bereik nie, maar daar is min stede wat die toenemende instroming van voertuie kan hanteer. “Stede is nie ontwerp vir die motor nie”, sê Carlos Guzmán, president van die Stadskommissie van Madrid. Ou stede met nou straatjies sukkel die meeste hiermee, maar selfs in moderne metropole word breë paaie gou oorvol, veral gedurende die spitstye in die oggend en laatmiddag. “Groot stede ondervind nou verkeersopeenhopings gedurende die grootste deel van die dag, en die probleem word al hoe erger”, sê dr. Jean-Paul Rodrigue in sy verslag “Stedelike vervoerprobleme”.

Aangesien motors veel vinniger verkoop word as wat regerings snelweë kan bou, kan ’n vinnige toename in die aantal voertuie selfs die beste padstelsel oorweldig. “Op die lange duur”, verduidelik die boek Stuck in Traffic—Coping With Peak-Hour Traffic Congestion, “verlig dit geensins verkeersopeenhopings tydens spitstyd wanneer nuwe paaie gebou word of bestaande paaie uitgebrei word nie.”

Te min parkeerfasiliteite lei ook tot verkeersopeenhopings. Op enige gegewe tyd is daar ’n aansienlike aantal motors wat in stede rondry net om parkeerplek te probeer vind. Daar word geskat dat lugbesoedeling wat deur die verkeer veroorsaak word—hoofsaaklik in stede—elke jaar die dood van ongeveer 400 000 mense veroorsaak. Volgens een verslag is lugbesoedeling in Milaan, Italië, so erg dat om die stad se lug vir een dag in te asem dieselfde is as om 15 sigarette te rook.

Die koste van verkeersopeenhopings moet ook gemeet word aan die ure wat vermors word en die stres waaraan bestuurders onderwerp word. Die emosionele tol is moeilik om te bepaal, maar in een studie in die Verenigde State is daar bereken dat die ekonomiese koste van verkeersopeenhopings in 75 van die land se grootste stede tot ongeveer 500 miljard rand per jaar beloop. Kan enigiets gedoen word om die situasie te verbeter?

’n Paar oplossings om die situasie draagliker te maak

Verskeie stede het reeds drastiese stappe gedoen. Singapoer, wat een van die grootste konsentrasies voertuie ter wêreld het, beheer die aantal motors wat verbruikers mag aankoop. Ou stede, insluitende ’n aantal Italiaanse stede, het motors heeltemal uit die middestad verban gedurende die grootste deel van die dag.

’n Oplossing wat ander stede op die proef stel, is ’n “verkeersopeenhopingsfooi”, waar bestuurders moet betaal om die middestad binne te gaan. In Londen het hierdie plan daarin geslaag om verkeersvertragings met 30 persent te verminder, en dit lyk of ander stede gretig is om dieselfde te doen. In plekke soos Mexikostad, in Mexiko, word motors slegs op sekere dae toegelaat om die middestad binne te gaan, afhangende van die registrasienommer van die voertuig.

Stadsowerhede het ook groot somme geld daarin belê om openbare vervoerstelsels en snelweë te verbeter en ringpaaie om stede te bou. Hulle gebruik gerekenariseerde stelsels om verkeersligte te beheer en verkeerspolisie in kennis te stel van opeenhopings wat deur ongelukke veroorsaak is, sodat dit vinnig hanteer kan word. Spesiale bane vir busse sowel as bane waarop die rigting van die verkeer verander kan word na gelang van die behoefte, help ook met die verkeersvloei. Maar sukses hang nog steeds grootliks af van die samewerking van die padgebruikers.

Wat kan jy doen?

Jesus Christus het gesê: “Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen” (Matteus 7:12, Today’s English Version). Hierdie wyse raad kan help om van die ergste verkeersprobleme te verlig. Maar as almal net aan hulle eie gerief dink, kan selfs die beste planne faal. Hier is ’n paar wenke wat jou kan help om die verkeersopeenhopings in jou stad beter te hanteer.

Oor kort afstande is dit dalk beter om te loop of met ’n fiets te ry. In baie gevalle is enige van hierdie alternatiewe vinniger, makliker en gesonder. Oor langer afstande is openbare vervoer dalk die ideale opsie. Baie stede probeer hulle bus-, moltrein- en treindienste verbeter om mense aan te spoor om hulle motors by die huis te laat. Dit kan ook goedkoper wees om hierdie dienste te gebruik. Al moet jy ’n gedeelte van die afstand bestuur, kan jy openbare vervoer gebruik om in die middestad te kom.

As jy jou motor móét gebruik, kan jy die moontlikheid oorweeg om ’n saamryklub te vorm. Dit is een van die doeltreffendste maniere om spitsverkeer te verminder. In die Verenigde State gebruik 88 persent van alle pendelaars motors, en ongeveer twee derdes van hulle ry alleen. As ’n aansienlike persentasie van mense oorreed kan word om saam werk toe te ry, “kan dit ’n dramatiese uitwerking op die vertragings en opeenhopings tydens spitstye hê”, sê Stuck in Traffic. Op party plekke is vinnige bane uitsluitlik vir motors met twee of meer insittendes. Motors met slegs een persoon word nie toegelaat om hierdie bane te gebruik nie.

As jy ’n mate van beheer het oor wanneer jy op die pad sal wees, kan jy spitsverkeer probeer vermy. Dit sal sake vir jou en vir ander motoriste makliker maak. En as jy behoorlik parkeer, sal jou voertuig nie die vloei van verkeer belemmer nie. Natuurlik sal selfs die beste planne nie waarborg dat jy nie in die verkeer sal vassit nie. Op sulke tye kan die regte gesindheid baie help om die frustrasie te verminder.—Sien die bygaande venster.

As jy in ’n groot stad woon, sal jy ongetwyfeld met verkeersopeenhopings moet saamleef. Maar jy kan nietemin die uitdagings van die verkeer die hoof bied as jy self verantwoordelik optree en hoflikheid en geduld teenoor ander bestuurders aan die dag lê.

[Venster/Prent op bladsy 23]

Hoe om kalm te bly inverkeerschaos

Jaime, ’n taxibestuurder in Madrid, Spanje, moes meer as 30 jaar lank met verkeersopeenhopings saamleef. Hier is hoe hy onder frustrerende toestande kalm bly:

◼ Ek neem iets saam om te lees. Dan, as die verkeer glad nie beweeg nie, word ek nie so gefrustreerd nie.

◼ Wanneer die verkeer baie stadig beweeg, luister ek na die nuus op die radio of na ’n opname van die Bybel. So het ek iets anders om oor te dink as die verkeer.

◼ Ek gebruik oor die algemeen nie die toeter nie, aangesien dit ander net omkrap en geen doel dien nie. Wanneer ek hoflikheid teenoor ander bestuurders toon, vermy ek stres en help ek ander om dieselfde te doen.

◼ Ek probeer kalm bly wanneer ek aggressiewe bestuurders teëkom, en ek probeer maar uit hulle pad uit bly. Geduld is noodsaaklik.

◼ Hoewel ek alternatiewe roetes probeer vind, laat ek my kliënte weet dat die swaar verkeer soms ’n vertraging gaan veroorsaak. Stadsverkeer en stiptelikheid gaan nie altyd saam nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel