Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 11/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vriendskappe en die hart
  • ’n Verbasende spons
  • ’n Afname in Antarktiese kril
  • Fluit-fluit kommunikeer
  • Die stygende koste van vertaling
  • Besoedelde lug in kerke
  • ’n Monument vir diere wat in oorlog gebruik is
  • Sponse—eenvoudig dog verstommend
    Ontwaak!—2006
  • Antarktika—’n vasteland in die moeilikheid
    Ontwaak!—2000
  • Antarktika—die laaste wildernis
    Ontwaak!—2000
  • Die kleurvolle wêreld van koraalriwwe
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 11/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vriendskappe en die hart

“Om vriende en goeie verhoudings met familielede te hê, word verbind met ’n laer risiko om ’n hartaanval of ’n beroerte te kry”, sê die Spaanse koerant Diario Médico. Dokters beskou cholesterolvlakke, bloeddruk en liggaamsgewig al lank as belangrike faktore wat ’n uitwerking op die toestand van die hart het. Maar volgens ’n onlangse studie van sowat 500 vroue wat borspyn gekry het, moet die omvang van die pasiënt se netwerk van familie en vriende sowel as die innigheid van haar verhouding met hulle in ag geneem word. Volgens die nuwe studie “is die risiko dat dié met die slegste sosiale verhoudings [ontydig] sal sterf twee keer groter as by vroue wat meer sosiaal is”. Carl J. Pepine, ’n medesamesteller van die studie, voeg by dat daar in die geval van mense wat selfs net “een of twee intieme vriende het, ’n afname in die risiko [van ’n beroerte of hartaanval] waargeneem is”.

’n Verbasende spons

Navorsers aan die Universiteit van Stuttgart, Duitsland, het onlangs ’n wit, bolvormige spons ontdek wat verbasende eienskappe openbaar, berig die Duitse koerant Die Welt. Die spons is baie klein, maar dit kan teen ’n spoed van etlike sentimeter per dag voortbeweeg, wat dit die vinnigste spons maak wat nog ontdek is. Die organisme druk water uit sy liggaam uit deur ritmies saam te trek, wat sy liggaamsvolume met tot 70 persent verminder. Wanneer dit inasem—deur water te absorbeer—word voedingstowwe en oplosbare suurstof opgeneem. Navorsers het ontdek dat die spons se sametrekkings baie sterker geword het wanneer klein skaaldiertjies in dieselfde akwarium gesit is. “Dit is baie ongewoon”, sê navorser Michael Nickel, omdat die spons “nie ’n senuweestelsel het nie”. Hoe beheer die spons sy bewegings of voel hy die teenwoordigheid van ander diere aan as hy nie ’n senuweestelsel het nie? Navorsers bestudeer die sponse ywerig in die hoop om te leer hoe hulle dit regkry.

’n Afname in Antarktiese kril

Kril—klein garnaalagtige skaaldiertjies wat ’n noodsaaklike rol in die mariene voedselketting speel—het sedert die 1970’s met 80 persent in Antarktika afgeneem, sê David Adam, volgens ’n berig in die Londense koerant die Guardian. Kril eet alge wat onder die see-ys voorkom, maar sedert die 1950’s het die gemiddelde lugtemperatuur om die Antarktiese Skiereiland met 2,5 grade Celsius gestyg, wat van die ys laat smelt het. Angus Atkinson, van die Britse Antarktiese Opname, sê: “Ons verstaan nie heeltemal hoe die verdwyning van see-ys hier verband hou met die verwarming nie, maar ons dink dat dit wel die rede vir die afname in kril kan wees.” Die span het die wetenskaplike visvangrekords ondersoek van nege lande wat van 1926 tot 1939 en van 1976 tot 2003 in Antarktika gewerk het. Hulle sê dat daar tans net omtrent ’n vyfde van die kril oor is van wat daar drie dekades gelede was.

Fluit-fluit kommunikeer

Die herders van La Gomera in die Kanariese Eilande gebruik ’n taal wat op fluite gebaseer is en as Silbo bekend staan. Deur ’n kode van twee vokale en vier konsonante te gebruik, wat op verskillende toonhoogtes gefluit word, kan die herders oor groot afstande met mekaar kommunikeer. Navorsers het onlangs magnetiese resonansiebeelding gebruik om die breinaktiwiteit van vyf Spaanssprekende persone te vergelyk met dié van vyf herders wat beide Spaans en Silbo praat. Die navorsers het gevind dat wanneer die herders met fluite kommunikeer “hulle brein dieselfde seine uitstuur as wanneer hulle praat”, sê die Spaanse koerant El País. Die berig haal een navorser aan wat gesê het: “Ons resultate lewer verdere bewys van die veelsydigheid van die mens se vermoë om taal in ’n verskeidenheid vorme te bemeester.”

Die stygende koste van vertaling

Die Europese Unie het in Mei 2004 uitgebrei en tien nuwe lidlande bygekry, wat hulle totaal op 25 te staan bring. Die uitbreiding het egter taalkundige uitdagings teweeggebring, wat hoër koste tot gevolg het. Die 20 tale wat deur die 25 lande gebruik word, word as amptelike tale beskou. Dokumente moet dus in elke taal vertaal word. “In 2003, voor die uitbreiding”, berig die Franse nuustydskrif Valeurs Actuelles, “het die Europese Kommissie 1 416 817 bladsye [teks] vertaal.” Die aantal bladsye wat vertaal moet word, sal egter vinnig styg. As gevolg van die nege nuwe tale het die moontlike vertaalkombinasies (byvoorbeeld uit Maltees in Fins of uit Estnies in Grieks) van 110 tot 380 toegeneem. Dit is moeilik om gekwalifiseerde vertalers en tolke te vind. Die begroting vir vertaling—wat tans 4,5 miljard rand is—gaan binnekort die hoogte inskiet, en “dit kan uiteindelik 808 miljoen euro [6,6 miljard rand] beloop”, sê Robert Rowe van die Europese Kommissie se vertaaldiens.

Besoedelde lug in kerke

Rookdeeltjies wat deur brandende kerse en wierook vrygestel word, kan ’n gesondheidsgevaar inhou vir priesters en gemeentelede wat baie tyd in swak geventileerde kerke deurbring, berig The Sydney Morning Herald. In ’n studie is bevind dat die vlak van rookdeeltjies in twee kerke “tot 20 keer hoër was as wat volgens Europese lugbesoedelingstandaarde veilig geag word om in te asem”, sê die koerant. Die berig het die lugbesoedelingsvlakke vergelyk met dié “van die lug langs paaie waarop 45- 000 motors per dag ry”. Een van die samestellers van die studie het gewaarsku dat gereelde blootstelling aan hierdie binnemuurse lugbesoedeling kan veroorsaak dat mense ’n groter risiko loop om longkanker of ander longkwale te ontwikkel.

’n Monument vir diere wat in oorlog gebruik is

“’n Nasionale monument vir diere wat deur die eeue heen saam met die Britse en Geallieerde magte in oorloë en konflikte gedien, gely en gesterf het”, is in Sentraal-Londen onthul, berig The Times. Die monument bestaan uit ’n brons standbeeld van ’n perd, ’n hond en twee muile wat ’n vrag dra, en dit word omsluit deur ’n klipmuur waarop daar afbeeldings is van ander diere wat in verskeie oorloë gedien het. Byvoorbeeld, in die Eerste Wêreldoorlog is sowat agtmiljoen perde sowel as tallose muile en donkies dood. Die koerant The Guardian berig dat soldate gedurende die Eerste Wêreldoorlog ligkewers gebruik het om kaarte in die nag te lees. ’n Merkwaardige dier met die naam Rob die “valskermhond” het meer as 20 valskermspronge in Noord-Afrika en Italië gemaak. Daarbenewens het ’n duif met die naam Cher Ami gedurende die Eerste Wêreldoorlog “niks minder nie as 12 boodskappe afgelewer en nooit gefaal nie”, sê The Times. Maar volgens een bron is ongeveer 20 000 duiwe gedurende daardie oorlog dood.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel