Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 8/8 bl. 16-17
  • Die kleurvolle wêreld van koraalriwwe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kleurvolle wêreld van koraalriwwe
  • Ontwaak!—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Koraal word bedreig en sterf uit
    Ontwaak!—1996
  • Sponse—eenvoudig dog verstommend
    Ontwaak!—2006
  • “Rooi goud” uit die Middellandse See
    Ontwaak!—2002
  • Wat kan gedoen word om koraalriwwe te red?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 8/8 bl. 16-17

Die kleurvolle wêreld van koraalriwwe

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PAPOEA-NIEU-GUINEE

KORAALRIWWE lê langs feitlik die hele kus van Papoea-Nieu-Guinee. In vervloë dae het matrose dit net as ’n gevaar beskou. Maar vir diegene wat die waters om koraalriwwe al verken het, is dit die poort tot ’n wêreld van besonderse prag, kleur en kalmte—’n kaleidoskoop onder die water!

Dit is waarlik ’n uitdaging om hierdie onderwaterwêreld op film te probeer vaslê. In die eerste plek lyk voorwerpe onder die water asof hulle ongeveer driekwart van hulle werklike afstand van jou af is; dit is derhalwe moeilik om te fokus. Water absorbeer, versprei en breek lig. Kleure kan ook baie wissel na gelang van die weer, die hoek van die son, die teenwoordigheid van alge en plankton, die diepte van die water en die tipe en kleur van die seebodem. En om alles te kroon, is die water, die onderwerp wat afgeneem word en die fotograaf self voortdurend in beweging!

Party fotograwe het nietemin in hierdie opsig ’n mate van sukses behaal. Die foto’s wat jy hier sien, is onder die water geneem. Laat ons jou vertel van vier van die fassinerende diere wat onder die golwe afgeneem is.

Foto 1 toon ’n pragtige seebewoner wat die tierkaurie (Cypraea tigris) genoem word. Hierdie naam is ongewoon as ons in aanmerking neem dat sy skulp wat met pragtige patrone versier is gespikkeld en nie gestreep is nie. Die tierkaurie is hier tuis, aangesien hy van koraal en sponse lewe. Die eertydse Chinese is so beïndruk deur sy skulp dat hulle dit as ’n soort betaalmiddel gebruik het. Hier in Papoea-Nieu-Guinee word kaurie-skulpe nog in party plaaslike markte as kleingeld gebruik. Maar die meeste plaaslike inwoners versamel hulle bloot omdat hulle so mooi is.

Foto 2 is die pragtig gekleurde buiswurm (Spirobranchus giganteus). Hy kan van dooie koraal leef of in lewende koraal ingrawe. Wanneer hy rus, lyk hy soos ’n blom. Maar wanneer hy honger is, sprei hy sy voelers oop om ’n “net” te vorm om verbygaande stukkies kos vinnig te vang. Wanneer sy veeragtige voelers beweeg, lyk dit soos ’n ry klein danseressies wat hulle waaiers waai. Hierdie eksemplaar was net tien millimeter breed. Maar die fotograaf moet versigtig wees om nie enige skielike bewegings te maak nie. Met die eerste aanduiding van gevaar beweeg hierdie delikate klein diertjies blitsvinnig terug in hulle geraamtetuiste in.

Foto 3 is die spons. Dit lyk glad nie soos die sintetiese soort wat in jou bad dryf nie. ’n Spons is eintlik ’n lewende dier, nie ’n plant nie. Dit is ’n poreuse massa selle wat op ’n baie eienaardige wyse saam funksioneer. Die boek The Undersea sê dat die selle van sponse “nie streng georganiseer of onderling afhanklik is nie. As ’n lewende spons dus in stukke geskeur word, vorm elke deel uiteindelik ’n nuwe spons. Selfs as die individuele selle geskei word, wriemel hulle soos amebes totdat hulle saamkom en weer hele sponse vorm.”

Anders as ’n plant, wat sy eie kos vervaardig, “jag” die spons vir sy kos. Hy trek omringende water in en filtreer dit om die organiese materiaal daaruit te haal. Soos enige ander dier, verteer hy sy kos en skei hy afvalstowwe uit. Jy sal sponse vind waar hulle aan rotse of aan skulpe op die seebodem vasgeheg is.

Ten laaste is daar die nederige gapermossel op foto 4. Hulle beweeg nie veel nie en kan maklik in koraalrotse gevind word of waar hulle net op die seebodem lê. Die meeste leef van plankton wat uit die water gefiltreer word. Die gapermossel word ’n tweekleppige skaaldier genoem omdat hy twee skulpe, of kleppe, het. Die skulpe word deur ’n ligament aanmekaargeheg en word deur twee kragtige spiere oop- en toegemaak. Wanneer ’n gapermossel moet beweeg, maak hy oop en kom sy vlesige voet ’n bietjie uit. Maar sou ’n vyand nader kom, trek hy in sy skulp terug.

Hierdie foto’s gee net ’n vlugtige kykie op die wonderlike tonele wat in die koraalseë gesien kan word—net nog ’n plek waar Jehovah se skeppingswysheid vertoon word.—Romeine 1:20.

[Prente op bladsy 16, 17]

1. Die tierkaurie word nog steeds as geld gebruik

2. Hierdie “blomme” is eintlik buiswurms

3. Die spons is ’n dier, nie ’n plant nie

4. Die gapermossel leef van plankton (mond word gewys)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel