Ons beskou die wêreld
◼ “Ongeveer een uit elke vier mense” in die Verenigde State “ontwikkel ten minste een geestesversteuring in enige gegewe jaar, en byna een uit elke twee mense ontwikkel dit op die een of ander tyd in hulle lewe.”—SCIENCE NEWS, VSA.
◼ In September 2004 het die orkaan Ivan ten minste 24 golwe hoër as 15 meter in die Golf van Mexiko veroorsaak. Die grootste golf was 27,7 meter hoog.—DIE TYDSKRIF SCIENCE, VSA.
◼ Wanneer motoriste selfone gebruik terwyl hulle bestuur, is die kanse vier keer groter dat hulle in ’n botsing betrokke sal wees wat hospitalisasie vereis, of hulle nou ’n handvrye toestel gebruik of nie.—BMJ, BRITTANJE.
◼ ’n Nuwe uitgawe van ’n katalogus wat ontwerp is om Bybelvertalers te help, bevat ’n lys van 6 912 lewende tale.—THE NEW YORK TIMES, VSA.
◼ Ondanks waarskuwings dat dit kinders benadeel, rook 30 persent van vroue in Pole tydens hulle swangerskap of tydens die jare wat hulle borsvoed.—DIE TYDSKRIF ZDROWIE, POLE.
Gesindhede teenoor rykdom
Volgens ’n studie oor gesindhede teenoor rykdom, wat deur die Australië-instituut gedoen is, meen net 1 uit elke 20 Australiese miljoenêrs dat hulle welvarend is, berig ABC News Online. Clive Hamilton, uitvoerende direkteur van die instituut, sê: “Hoe ryker ons word, hoe minder tevrede is ons met ons inkomste.” Trouens, net 13 persent van mense in die hoogste inkomstegroep voel heeltemal tevrede met die lewe. Hamilton sê: “Dit laat jou regtig wonder waarom mense in ons samelewing finansiële sukses meer as enigiets anders najaag, terwyl al die getuienis daarop dui dat dit ander aspekte van die lewe is wat werklik tot ons tevredenheid en geluk bydra.”
Rommel wat om die aarde wentel
“Stel jou voor hoe omgekrap mense sal wees as bestuurders hulle motors in die straat sou los nadat hulle brandstof opgeraak het”, sê die tydskrif New Scientist. Tog gebeur iets soortgelyks met verouderde satelliete, en dit vergroot die gevaar dat nuwer ruimtetuie sal bots teen rommel wat om die aarde wentel. Volgens skatting wentel sowat 1 120 voorwerpe groter as 60 sentimeter in deursnee naby die geostasionêre baan, waar baie kommunikasietoerusting geplaas word, maar slegs sowat 300 van hierdie voorwerpe is funksionerende satelliete. Van die gevaarlike voorwerpe wat op verskillende hoogtes in hulle wentelbane agtergelaat is, is 32 verouderde kernreaktors.
Wapens en oorlog
Toe die Koue Oorlog tot ’n einde gekom het, was daar ’n afname in die wapenbedryf. Maar die afgelope paar jaar het hierdie bedryf gefloreer. In 2004 het die wêreldwye militêre besteding R6,62 biljoen bereik, sê ’n verslag deur Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut (SIPRI). Hierdie syfer is gelykstaande aan R1 072 vir elke man, vrou en kind op die planeet. In 2004 was daar volgens SIPRI 19 konflikte wat elk meer as 1 000 lewens geëis het. Sestien van daardie konflikte het toe reeds meer as tien jaar lank voortgesleep.
Motors wat twee soorte brandstof gebruik
’n Derde van nuwe motors wat nou in Brasilië verkoop word, kan twee soorte brandstof gebruik, berig die tydskrif Veja. Hierdie voertuie word aangedryf deur petrol, alkohol wat van suikerriet afkomstig is, of ’n mengsel van die twee in enige verhouding. Tussen 2003 en 2004 het die verkope van alkoholbrandstof met 34 persent toegeneem. Hierdie neiging het min te doen met besorgdheid oor die omgewing. Dit is eenvoudig goedkoper vir die meeste motoriste om alkohol as brandstof te gebruik. Hierdie motors kan help om “die verbruiker teen brandstofkrisisse en prysskommelinge” te beskerm, verduidelik Rafael Schechtman, direkteur van die Brasiliaanse Sentrum vir Infrastruktuur. “As die prys van alkohol styg, gebruik jy petrol, en andersom.”