Die wêreld word gryser
IN 1513 het die Spaanse ontdekkingsreisiger Juan Ponce de León op ’n onbekende deel van die Noord-Amerikaanse kus aan wal gestap. Volgens een verslag was die gebied wat hy gevind het met blomme oortrek, en daarom het hy dit Florida genoem, wat “blomryk” in Spaans beteken. Om ’n naam te vind, was maklik. Om die doelwit van sy ekspedisie te bereik—’n waterfontein met die krag om bejaardes weer jonk te maak—was onmoontlik. Nadat hy die land maande lank gefynkam het, het die ontdekkingsreisiger sy soektog na die legendariese fontein van jeug beëindig en verder gevaar.
Alhoewel fonteine van jeug vandag net so ontwykend is as in Ponce de León se dag, lyk dit of die mens dít ontdek het wat Betty Friedan “die fontein van ouderdom” genoem het. Sy het dit gesê na aanleiding van die opvallende toename in die aantal bejaardes regoor die wêreld. Soveel mense bereik nou ’n gevorderde leeftyd dat die samestelling van die wêreldbevolking besig is om te verander. Die wêreld word as ’t ware gryser.
“Een van die grootste oorwinnings van die mensdom”
Demografie vertel die verhaal. Aan die begin van hierdie eeu was die lewensverwagting by geboorte, selfs in die rykste lande, onder 50 jaar. Vandag het dit tot bo 75 gestyg. In ontwikkelende lande soos China, Honduras, Indonesië en Viëtnam is die lewensverwagting by geboorte eweneens 25 jaar langer as wat dit net vier dekades gelede was. Elke maand word eenmiljoen mense regoor die wêreld 60 jaar oud. Die bevolkingsgroep op aarde wat nou die vinnigste groei, is verbasend genoeg dié van 80 jaar en ouer, die ‘oudste van die oudstes’, en nie dié van jongmense nie.
“Die verlenging van die lewensverwagting”, sê die demograaf Eileen Crimmins in die tydskrif Science, “is een van die grootste oorwinnings van die mensdom.” Die Verenigde Nasies stem hiermee saam, en om die aandag op hierdie prestasie te vestig, het hulle die jaar 1999 as die Internasionale Jaar van Ouer Mense aangewys.—Sien venster op bladsy 3.
Ons siening moet verander
Hierdie oorwinning behels egter meer as net ’n verandering in die mens se lewensverwagting. Dit sluit ook in dat die mens se siening van veroudering verander het. Die gedagte daaraan om oud te word, maak baie mense weliswaar bekommerd, selfs bevrees, omdat bejaardheid gewoonlik geassosieer word met ’n swak liggaam en ’n verstand wat agteruitgaan. Maar navorsers wat die verouderingsproses bestudeer, beklemtoon dat veroudering en siekte twee verskillende dinge is. Die verouderingsproses verskil heelwat van mens tot mens. Daar is ’n verskil, sê navorsers, tussen chronologiese ouderdom en biologiese ouderdom. (Sien die venster “Wat is veroudering?”) Met ander woorde, om ouer te word en om op die afdraande te wees, is nie noodwendig dieselfde ding nie.
Trouens, namate jy ouer word, kan jy maatreëls tref wat die gehalte van jou lewe verbeter. Hierdie maatreëls sal jou weliswaar nie jonger maak nie, maar dit kan jou help om gesond te bly terwyl jy ouer word. Die volgende artikel bespreek sommige van hierdie maatreëls. Selfs as jy op die oomblik nie juis baie in die onderwerp van veroudering belangstel nie, kan jy gerus verder lees, want kort voor lank sal dit wel vir jou belangrik wees.
[Venster/Prente op bladsy 3]
DIE INTERNASIONALE JAAR VAN OUER MENSE
“Aangesien ek self al 60 geword het . . . , word ek nou onder die statistiek gereken wat ek vroeër genoem het”, het die VN se sekretaris-generaal Kofi Annan onlangs tydens die bekendstelling van die Internasionale Jaar van Ouer Mense gesê. Mnr. Annan is nie alleen nie. Navorsers sê dat 1 uit elke 5 mense in baie lande teen die eeuwisseling 60 of ouer sal wees. Party van hulle sal versorging nodig hê, maar almal van hulle sal maniere nodig hê waarop hulle hulle onafhanklikheid, hulle waardigheid en hulle produktiwiteit kan behou. Om beleidvormers te help om die uitdagings die hoof te bied wat deur hierdie ‘demografiese revolusie’ gestel word en om groter begrip vir “die waarde van bejaardes in die samelewing” te verkry, het die VN se Algemene Vergadering in 1992 besluit om 1999 as die Internasionale Jaar van Ouer Mense aan te wys. Die tema van hierdie spesiale jaar is: “Na ’n samelewing vir alle ouderdomme.”
[Prent]
Kofi Annan
[Erkennings]
UN photo
UN/DPI photo by Milton Grant
[Venster/Prent op bladsy 4]
WAT IS VEROUDERING?
“Die biologiese kristalbal is baie vaag oor veroudering”, sê een navorser. “Niemand verstaan dit ten volle nie”, sê ’n ander. Gerontoloë (wetenskaplikes wat die verouderingsproses bestudeer) het nietemin probeer om dit te definieer. Hulle sê dat veroudering eenvoudig die chronologiese tyd is wat iemand al bestaan. Maar veroudering behels meer as die verloop van jare. ’n Mens sê gewoonlik nie dat ’n kind verouder nie omdat veroudering met ’n afname in lewenskrag verband hou. Veroudering is die uitwerking wat die verloop van jare op ’n individu het. Party mense lyk jonk vir hulle chronologiese ouderdom. Dit word byvoorbeeld geïmpliseer wanneer daar vir iemand gesê word dat hy “goed lyk vir sy ouderdom”. Om tussen chronologiese en biologiese veroudering te onderskei, beskryf navorsers biologiese veroudering (veroudering wat gepaardgaan met nadelige fisiese veranderinge) gewoonlik as senessensie.
Die professor in soölogie Steven N. Austad beskryf senessensie as “die progressiewe agteruitgang van feitlik elke liggaamsfunksie met verloop van tyd”. En dr. Richard L. Sprott, van die Nasionale Instituut van Veroudering, sê dat veroudering “die stadige agteruitgang is van daardie dele van ons stelsels wat ons in staat stel om goed op invloede te reageer”. Die meeste deskundiges stem egter saam dat dit nog steeds ’n uitdaging is om ’n duidelike definisie van veroudering te formuleer. Die molekulêre bioloog dr. John Medina verduidelik waarom: “Van kop tot tone, van proteïene tot DNS, van geboorte tot die dood ontwikkel tallose prosesse om die veroudering van ’n mens met 60 biljoen selle teweeg te bring.” Dit is dus geen wonder nie dat baie navorsers tot die gevolgtrekking kom dat veroudering “die ingewikkeldste biologiese probleem” is!