Sy—“die koningin van vesels”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
VAN die mooiste kledingstukke in die wêreld—waaronder die Japannese kimono, die Indiese sari en die Koreaanse hanbok—het iets in gemeen. Hulle word dikwels van sy gemaak, ’n weelderige tekstielstof wat al die koningin van vesels genoem is. Mense in alle wêrelddele, van koninklikes van die verlede tot gewone mense van vandag, is al deur die elegansie van sy bekoor. Maar dit was nie altyd so algemeen beskikbaar nie.
In die ou tyd was die vervaardiging van sy ’n bedryf wat tot China beperk was. Niemand anders het geweet hoe om dit te vervaardig nie, en enigiemand in China wat die geheim van die sywurm verklap het, kon as ’n verraaier tereggestel word. Dit is geen wonder dat hierdie monopolie op die vervaardiging van sy dit so duur gemaak het nie. Sy was byvoorbeeld regoor die Romeinse Ryk sy gewig in goud werd.
Mettertyd het Persië al die sy beheer wat uit China gekom het. Die prys was egter nog steeds hoog, en pogings om die Persiese koopmanne uit te skakel, was tevergeefs. Toe het die Bisantynse keiser Justinianus ’n plan beraam. In ongeveer 550 G.J. het hy twee monnike op ’n geheime sending na China gestuur. Hulle het twee jaar later teruggekeer. Versteek in hulle uitgeholde bamboeskieries, was die lang verwagte skat—sywurmeiers. Die geheim was uit. Die symonopolie het tot ’n einde gekom.
Die geheim van sy
Sy word deur sywurms, oftewel ruspes van die sywurmmot, vervaardig. Daar is honderde soorte sywurms, maar die wetenskaplike naam van die een wat die beste gehalte sy lewer, is Bombyx mori. Heelwat sywurms is nodig om symateriaal te maak, en dit het aanleiding gegee tot kommersiële sywurmteelt vir die vervaardiging van sy. Die gesin van Sjoitsji Kawaharada, wat in Goenma-prefektuur, Japan, woon, is een van ongeveer 2 000 huisgesinne in hierdie land wat nog steeds hierdie arbeidsintensiewe werk doen. Sy dubbelverdiepinghuis, wat ideaal is vir sywurmteelt, is geleë op ’n heuwelhang wat uitkyk oor ’n moerbeiplantasie (1).
Die wyfiesywurmmot lê tot 500 eiers, waarvan elkeen so groot soos ’n speldekop is (2). Ná ongeveer 20 dae broei die eiers uit. Die sywurmpies het ’n onversadigbare eetlus. Dag en nag eet hulle moerbeiblare—en net moerbeiblare (3, 4). Ná net 18 dae sal die sywurms tot 70 keer hulle oorspronklike grootte gegroei het en vier keer vervel het.
Mnr. Kawaharada het sowat 120 000 sywurms op sy plaas. Die geluid wat hulle maak wanneer hulle eet, is soortgelyk aan dié van swaar reën wat op blare val. Teen die tyd dat ’n sywurm volgroeid is, is hy 10 000 keer swaarder as aan die begin! Dan is hy gereed om ’n kokon te spin.
Hulle spin in stilte
Wanneer die sywurm volgroeid is, word sy liggaam deursigtig, wat aandui dat dit tyd is om te begin spin. Wanneer die sywurms onrustig raak en ’n plekkie begin soek om hulle kokon te spin, is hulle gereed om op ’n laai met baie vierkantige openinge geplaas te word. Daar skei hulle hulle fyn, wit draadjie af (5) en spin hulle hulle toe in ’n omhulsel van sy.
Dit is die besigste tyd vir mnr. Kawaharada, aangesien al 120 000 sywurms op ongeveer dieselfde tyd begin spin. Rye en rye laaie word in ’n koel, geventileerde solder op die tweede verdieping van die huis gehang (6).
Intussen vind daar ’n merkwaardige verandering binne die sywurm plaas. Verteerde moerbeiblare het in fibroïen verander, ’n soort proteïen wat geberg word in twee kliere wat langs die hele lengte van die ruspe se liggaam loop. Wanneer die fibroïen deur hierdie kliere gepers word, word dit met ’n gomagtige stof bedek wat serisien genoem word. Voordat dit uit die spinklier kom, wat by die wurm se mond geleë is, word twee fibroïenvesels deur die serisien aanmekaargeplak. Wanneer dit met die lug in aanraking kom, word hierdie vloeibare sy ’n vaste stof en vorm dit ’n enkele sydraadjie.
Wanneer die sywurm begin om sy te vervaardig, kan niks hom keer nie. Die sywurm spin teen ’n spoed van tussen 30 en 40 sentimeter per minuut, terwyl hy sy kop aanhoudend swaai. Volgens ’n skatting in een bron het die sywurm, teen die tyd dat die kokon voltooi is, sy kop sowat 150 000 keer geswaai. Nadat die sywurm twee dae en twee nagte lank gespin het, het hy ’n enkele draadjie van tot 1 500 meter voortgebring. Dit is omtrent vier keer die hoogte van ’n hoë wolkekrabber!
Binne net een week sal mnr. Kawaharada sy 120 000 kokonne geoes het, wat dan versend sal word vir verwerking. Omtrent 9 000 kokonne is nodig om ’n kimono te maak en omtrent 140 om ’n das te maak, terwyl meer as 100 dalk nodig is vir ’n syserp.
Hoe symateriaal gemaak word
Die proses om sy van ’n kokon af op ’n tol te draai, word syspinnery genoem. Hoe het syspinnery begin? Mites en legendes is volop. Volgens een het die Chinese keiserin Hsi Ling-Sji opgemerk dat ’n kokon van ’n moerbeiboom afgeval en in haar koppie tee beland het. Toe sy dit probeer uithaal, het sy gesien dat dit in ’n delikate sydraadjie geëindig het. Dit het tot die ontstaan van syspinnery gelei, ’n proses wat vandag geoutomatiseer is.
Die papies binne-in die kokonne moet doodgemaak word voordat hulle uitbroei sodat die kokonne markwaarde sal hê. Hitte word gebruik om hierdie onaangename taak te verrig. Kokonne met ’n defek word verwyder, en die res is gereed om geprosesseer te word. Eerstens word die kokonne in warm water of stoom gesit om die sydraad los te maak. Daarna word die punt van die sydraad met draaiende borseltjies opgevang (7). Afhangende van die dikte wat verlang word, kan sydraadjies van twee of meer kokonne gekombineer word om ’n enkele draad te vorm. Die draad word droog gemaak terwyl dit op die tol gedraai word. Die rou sy word weer opgedraai, op ’n groter tol, om ’n string van die verlangde lengte en gewig te kry (8, 9).
Dalk het jy al symateriaal gevoel wat so sag is dat jy dit sommer teen jou wang wou druk. Wat gee aan sy hierdie herkenbare tekstuur? Een faktor is ontgomming, of die verwydering van die serisien wat die fibroïen bedek. Sy wat nie ontgom is nie, voel grof en is moeilik om te kleur. Chiffon het ’n korrelrige tekstuur, aangesien al die serisien nie verwyder is nie.
Die tweede faktor is hoeveel draaiing die draad kry. Japannese haboetai-materiaal is sag en glad. Dit het net ’n bietjie of geen draaiing nie. In teenstelling daarmee, het crêpemateriaal ’n kreukelrige tekstuur. Dit het ’n sterk draaiing.
Die kleurproses is ook belangrik. Dit is maklik om sy te kleur. Die struktuur van fibroïen stel kleurstowwe in staat om diep in die vesel in te dring, wat baie goeie kleurvastheid tot gevolg het. Daarbenewens het sy, anders as sintetiese vesels, positiewe sowel as negatiewe ione, wat beteken dat byna enige kleurstof goeie resultate sal oplewer. Sy kan as ’n draad gekleur word voordat dit op ’n weefraam geweef word (10) of as ’n stuk materiaal na die tyd. Met die beroemde joezen-kleurproses van kimono’s word pragtige motiewe geteken en met die hand gekleur nadat die sy geweef is.
Hoewel die meeste sy tans in lande soos China en Indië vervaardig word, neem die haute couture van Frankryk en die modeontwerpers van Italië nog steeds wêreldwyd die voortou in syontwerpe. Vandag is daar natuurlik talle goedkoop kunsvesels, soos rayon en nylon, aan die kleremark beskikbaar. Maar sy het nog steeds geen gelyke nie. “Selfs met vandag se wetenskaplike vooruitgang, kan sy nie gesintetiseer word nie”, sê die kurator van die Symuseum in Jokohama, Japan. “Ons weet alles daaromtrent, van sy molekulêre formule tot sy struktuur. Maar ons kan dit nie namaak nie. Dit is wat ek die raaisel van sy noem.”
[Venster/Prent op bladsy 26]
KENMERKE VAN Sy
Sterk: Sy is so sterk soos staaldraad van dieselfde dikte.
Glansryk: Sy se glans is soos dié van pêrels. Dit is afkomstig van die prisma-agtige struktuur van fibroïen, met sy baie lae, wat lig versprei.
Sag op die vel: Die aminosure waaruit sy bestaan, is sag op die vel. Daar word gesê dat sy beskerming bied teen verskeie velverwante kwale. Sekere skoonheidsmiddels word van sypoeier gemaak.
Vogabsorberend: Die aminosure en die klein lugruimtes in die syvesel absorbeer en laat ’n aansienlike hoeveelheid sweet deur, wat jou in die warm seisoen droog en koel hou.
Hittebestand: Sy brand nie maklik nie en gee nie giftige gas af wanneer dit brand nie.
Beskermend: Sy absorbeer ultravioletstrale en beskerm sodoende die vel.
Bou nie maklik statiese elektrisiteit op nie: Aangesien sy positiewe sowel as negatiewe ione bevat en vog absorbeer, vorm dit nie maklik statiese elektrisiteit, soos die geval is met ander materiale nie.
VERSORGING VAN Sy
Was: Dit is gewoonlik die beste om sykledingstukke te laat droogskoonmaak. As jy dit by die huis was, gebruik ’n neutrale wasmiddel in warm water (teen ongeveer 30 grade Celsius). Werk saggies, en moenie die materiaal knie of uitwring nie. Laat dit lugdroog word.
Stryk: Sit ’n lap tussen die sy en die strykyster. Probeer om in die rigting van die grein te stryk, by ’n temperatuur van ongeveer 130 grade Celsius. Gebruik slegs ’n bietjie stoom, indien enige.
Vlekverwydering: As ’n noodmaatreël, sit die symateriaal met die regte kant na onder op ’n droë stuk lap. Tik dit van agter met ’n klam lap; moet dit nie vryf nie. Laat die kledingstuk dan droogskoonmaak.
Berging: Vermy vogtigheid, wees versigtig vir motte en vermy blootstelling aan lig. Gebruik hangers wat met spons bedek is of bêre dit plat met so min voue as moontlik.
[Prent op bladsy 25]
Kokonne van sy
[Foto-erkennings op bladsy 26]
Foto’s 7-9: Matsuida Machi, Annaka City, Gunma Prefecture, Japan; 10 en patroon van naderby: Kiryu City, Gunma Prefecture, Japan