Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/11 bl. 12-13
  • Voëls se vindingryke visvangmetodes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voëls se vindingryke visvangmetodes
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Visvang met lokaas
  • Gryp-en-gaan-tegnieke
  • Duik vir kos
  • Visvang as ’n span
  • Wanneer vis jou siek maak
    Ontwaak!—2006
  • Waterkultuur—Vis as “vee”
    Ontwaak!—1995
  • Visskole
    Ontwaak!—2012
  • Bass Rock—Waar seeganse bymekaarkom
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 9/11 bl. 12-13

Voëls se vindingryke visvangmetodes

VISSERS—hetsy mense of voëls—moet drie fundamentele probleme oplos: Hulle moet (1) vis vind, (2) tot by hulle kom en (3) hulle vang.

’n Tipiese metode van eertydse Egiptiese vissermanne was om ’n harpoen te gebruik om vis te vang. Hierdie vissermanne het dieselfde basiese tegnieke gebruik wat party voëls van die reierfamilie gebruik het lank voordat menslike mededingers op die toneel verskyn het.

Die bloureier, ’n voël wat algemeen in Egipte se Nyldelta voorkom, gebruik sy skerp snawel soos ’n lans om visse te deurboor. Hy kan selfs twee verskillende visse terselfdertyd deurboor en kan meer as ’n halwe kilogram vis per dag eet. Daar kan gesê word dat die reier baie vernuftiger as menslike vissers is.

Oor die algemeen is reiers baie bedrewe daarin om hulle prooi te bekruip en te vang. ’n Reier sal stadig deur vlak water loop of soms net doodstil staan—gereed om ’n vis met sy snawel te deurboor. Wanneer ’n vis binne trefafstand kom, steek hy sy kop vinnig in die water en vang hy die vis met sy snawel. Geduld is gewoonlik die sleutel tot die voël se sukses.

Visvang met lokaas

Volgens die boek The Life of Birds lyk dit asof groenrugreiers in Japan mense wat visse in visdamme brood voer, naboots. Hierdie vindingryke voëls gebruik stukkies brood om vis nader te lok totdat hulle binne bereik is.

Egrette op die Karibiese Eilande gebruik ook brood om visse te lok. Hulle vang selfs vis sonder enige aas deur hulle geel pote te gebruik. Hulle staan op een poot in vlak water en swaai die ander poot in die water om die aandag van nuuskierige visse te trek.

Gryp-en-gaan-tegnieke

Voëls vang vis op verskillende maniere. Visvalke en visarende kan beskryf word as vissers wat gryp-en-gaan-tegnieke gebruik. Hulle vlieg oor die water op soek na enige visse wat naby die oppervlak swem. Wanneer hulle een sien, vou hulle hulle vlerke en duik hulle af na die water. Hulle pas terselfdertyd hulle posisie aan sodat hulle die vis in hulle kloue kan vasgryp. Hierdie tegniek vereis volmaakte tydsberekening en uitstekende sig.

Soms vind ’n visarend dat die vis wat hy in sy kloue gevang het, te swaar is om op te lig. Die vis kan tot 2,7 kilogram weeg! Wat doen die arend dan? Natuurkenners het al gesien hoe party die probleem oplos deur met hulle vlerke na die oewer te roei!

Duik vir kos

Malgasse duik ook om vis te vang, maar hulle duik loodreg af na die water. Klein swerms vlieg saam op soek na skole vis wat naby die oppervlak swem. Die silwer lywe van hierdie visse verander die kleur van die see van donkerblou na liggroen wanneer dit van bo af gesien word. Wanneer malgasse so ’n kenmerkende groen kol sien, spring hulle aan die werk.

Nadat malgasse ’n skool visse opgespoor het, skiet hulle soos pyle in die water in teen snelhede van tot 96 kilometer per uur. Dit is ’n skouspel wat met ’n Olimpiese duikkompetisie vergelyk kan word. Ander swerms sien gou die bedrywigheid en vlieg vinnig daarheen om in die feesmaal te deel.

Anders as reiers deurboor malgasse nie hulle prooi wanneer hulle in die water induik nie. Weens die spoed waarmee die voëls die water tref, duik hulle ’n paar meter onder die oppervlak in. Wanneer hulle dan na die oppervlak swem, vang hulle die vis en sluk hulle dit heel in.

Seeswaeltjies, oftewel sterretjies, is ook uitstekende duikers, maar hulle is geneig om oor die wateroppervlak te swiep of te fladderhang. Die Handbook of the Birds of the World verduidelik dat seeswaeltjies nie soos malgasse neerskiet nie, maar dat hulle op “vaardigheid, grasie en ratsheid in die vlug” staatmaak. Gewoonlik raap hulle visse op wat naby die oppervlak swem. Hulle sal net nou en dan, en net vir ’n kort rukkie, ’n vis onder die water agternasit.

Visvang as ’n span

Pelikane lyk miskien lomp as gevolg van hulle groot snawels, maar hulle kan goed vlieg en visvang. Bruinpelikane duik gewoonlik vir hulle kos, en soms steel hulle ook vis by plaaslike vissermanne wat hulle nette intrek. Maar pelikane blink eintlik daarin uit om as ’n span vis te vang.

Pelikane is van nature groepdiere. Hulle het die merkwaardige gewoonte om saam te werk wanneer hulle visvang. Gewoonlik sal ’n swerm van ’n stuk of twaalf voëls op die water gaan sit en ’n halfsirkel vorm. Terwyl hulle stadig swem, keer hulle ’n skool visse na ’n geskikte plek in vlak water aan. Dan maak hulle almal terselfdertyd hulle vlerke oop en steek hulle hulle kop onder die water in om vis met hulle snawel op te skep.

Soos met enige visserman misluk voëls se pogings dikwels. Maar oor die algemeen is hulle baie suksesvoller as hulle menslike mededingers.

[Prent op bladsy 12]

Visarend

[Erkenning]

Photolibrary

[Prent op bladsy 12]

Bloureier

[Prent op bladsy 13]

Noordelike malgasse

[Prent op bladsy 13]

Gewone sterretjie

[Prent op bladsy 13]

Australiese pelikane

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel