Maak dit saak wat jy glo?
DINK jy dat die lewe ’n doel het? As evolusie waar was, dan sou die stelling wat in die tydskrif Scientific American aangehaal is, geldig wees: “Ons huidige begrip van evolusie gee te kenne . . . dat daar nie ware sin in die lewe bestaan nie.”
Dink aan die implikasies van hierdie woorde. As daar nie ware sin in die lewe bestaan het nie, dan sou jy geen doel in die lewe hê behalwe om te probeer om darem iets goeds te doen en miskien jou genetiese eienskappe aan die volgende geslag oor te dra nie. Wanneer jy sterf, sou jy vir ewig ophou bestaan. Jou brein, met sy vermoë om te dink, te redeneer en oor die sin van die lewe te peins, sou bloot ’n produk van die toeval wees.
Dit is nie al nie. Baie wat in evolusie glo, beweer dat God nie bestaan nie of dat hy nie in menseaangeleenthede sal ingryp nie. Hoe dit ook al sy, ons toekoms sou in die hande van politieke, akademiese en godsdiensleiers wees. Te oordeel aan die geskiedenis, sou die chaos, konflik en korrupsie wat die mensegemeenskap verderf, voortduur. As evolusie wel waar was, sou daar blykbaar oorgenoeg rede wees om volgens die fatalistiese leuse te lewe: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.”—1 Korintiërs 15:32.
Een ding is egter seker. Jehovah se Getuies aanvaar nie die bogenoemde stellings nie. Die Getuies aanvaar ook nie die veronderstelling waarop daardie stellings gegrond is nie—naamlik evolusie. Inteendeel, die Getuies glo dat die Bybel waar is (Johannes 17:17). Daarom glo hulle wat dit sê oor hoe ons hier gekom het: “By u [God] is die bron van die lewe” (Psalm 36:9). Hierdie woorde het diepgaande implikasies.
Die lewe het sin. Ons Skepper het ’n liefdevolle voorneme wat almal insluit wat kies om in harmonie met sy wil te lewe (Prediker 12:13). Hierdie voorneme sluit die belofte in van lewe in ’n wêreld wat vry is van chaos, konflik en korrupsie—selfs van die dood (Jesaja 2:4; 25:6-8). Miljoene van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld kan daarvan getuig dat om van God te leer en sy wil te doen, die lewe sinvoller as enigiets anders maak!—Johannes 17:3.
Dit maak beslis saak wat jy glo, aangesien dit ’n uitwerking kan hê op jou geluk nou sowel as op jou lewe in die toekoms. Die keuse is joune. Sal jy ’n teorie glo wat geen rede gegee het waarom die toenemende bewyse van ontwerp in die natuur verontagsaam moet word nie? Of sal jy aanvaar wat die Bybel sê, naamlik dat die aarde en lewe daarop die produk is van ’n wonderlike Ontwerper—Jehovah, die God wat “alles geskep” het?—Openbaring 4:11.