Ontmoet die magtige Mekong
DIE Mekong-rivier kronkel deur ses Asiatiese lande en onderhou sowat 100 miljoen mense van bykans 100 inheemse en etniese groepe. Jaarliks word tot 1,3 miljoen ton vis in die rivier gevang—vier keer meer as die vangs in die Noordsee! Dit strek 4 350 kilometer ver en is die langste waterweg in Suidoos-Asië. En omdat die rivier deur ’n aantal lande vloei, het dit baie name, waarvan die bekendste naam—Mekong—’n sametrekking is van die Thai-naam Mae Nam Khong.
Die Mekong, wat sy oorsprong hoog in die Himalajas het, vloei asof met jeugdige krag terwyl dit teen die berghange afstort en deur diep klowe bruis. Teen die tyd dat die rivier China verlaat, waar dit die Lancang genoem word, het sy waters reeds byna die helfte van die rivier se lengte afgelê en met ’n ongelooflike 4 500 meter gedaal. Die onderste helfte van die Mekong daal met net 500 meter. Gevolglik vloei hierdie deel van die rivier baie kalmer. Nadat dit China verlaat het, vorm die rivier die grens tussen Mianmar en Laos en ’n groot deel van die grens tussen Laos en Thailand. Dit verdeel in Kambodja en vloei in Viëtnam in as twee takke wat uitsprei en in die Suid-Chinese See uitmond.
In die laat 1860’s het die Franse ’n bevaarbare roete met die Mekong op tot in China probeer vind. Hulle verwagtinge was egter verpletter toe hulle stroomversnellings naby die dorp Kratie, in Kambodja, teëgekom het sowel as ’n ontsaglike reeks katarakte wat die Khone-waterval genoem word, in die suide van Laos. Meer water stroom oor die Khone-waterval as oor enige ander waterval in die wêreld, selfs twee keer soveel as oor die Niagara-waterval, op die grens tussen Kanada en die Verenigde State.
’n Rivier van lewe
Die Mekong is noodsaaklik vir die ekonomie van Suidoos-Asië. Vientiane, die hoofstad van Laos, en Phnom Penh, die hoofstad van Kambodja, is albei hawestede langs die rivier. Stroomaf is die Mekong die lewensbloed van Viëtnam. Daar verdeel dit in sewe takke, wat ’n delta van 40 000 vierkante kilometer vorm, met ’n geskatte 3 200 kilometer waterweë. Hierdie oorvloed water word gebruik om landerye en ryslande nat te lei en verryk dit met nuttige slik, wat boere in staat stel om jaarliks drie oeste rys te lewer. Trouens, naas Thailand is Viëtnam die wêreld se grootste uitvoerder van hierdie gewilde stapelvoedsel.
Na skatting is daar 1 200 visspesies in die Mekong en daar word met party van hierdie spesies, asook met garnale, geboer. Een gewilde plaaslike vis, die trey riel (Cirrhinus caudimaculatus), is bekend weens ’n unieke rede—Kambodja se geldeenheid, die riel, is na hierdie vis vernoem. Die Mekong is ook die tuiste van ’n bedreigde baberspesie wat tot 2,75 meter lank kan word. In 2005 het vissermanne ’n baber van 290 kilogram in ’n net gevang, dalk die grootste varswatervis wat tot dusver in die wêreld gevind is! ’n Ander bedreigde spesie, ten minste in die Mekong, is die Irawadi-dolfyn. Navorsers sê dat daar dalk minder as 100 in die rivier oor is.
Die Mekong voed nie net miljoene mense nie, maar dien ook as ’n waterweg vir vaartuie van alle groottes—bootjies wat passasiers vervoer, groter vaartuie wat goedere vervoer en vragskepe wat na die oop see en terug vaar. Die rivier is ook gewild onder toeriste, en baie hou daarvan om verder as die Khone-waterval te reis om Vientiane te besoek. Hierdie stad, wat beroemd is vir sy kanale, pagodes en huise op houtpale, is al meer as 1 000 jaar lank ’n middelpunt van die handel, politiek en godsdiens. Van Vientiane kan ’n mens stroomop na Luang Prabang reis. Hierdie hawestad was eens die hoofstad van ’n groot Thai-Laosiaanse staat en was ’n tyd lank, insluitende die tydperk onder Franse bewind, die koninklike hoofstad van Laos. ’n Franse koloniale atmosfeer heers nog steeds in hierdie geskiedkundige stad.
In onlangse tye het kommerwekkende veranderinge langs die Mekong plaasgevind. Dit sluit vernietigende visvangmetodes, ontbossing en die bou van enorme hidroëlektriese damme in. Vir baie waarnemers lyk dit asof die situasie buite beheer is. Maar daar is hoop.
Die Bybel belowe dat ons liefdevolle Skepper binnekort in menseaangeleenthede gaan ingryp deur middel van sy Koninkryk (Daniël 2:44; 7:13, 14; Matteus 6:10). Onder die leiding van hierdie volmaakte wêreldregering sal die hele aarde herstel word en sal die riviere, figuurlik gesproke, “hulle hande klap” van pure blydskap (Psalm 98:7-9). Mag die magtige Mekong ook deel hê in daardie applous.
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
CHINA
MIANMAR
LAOS
THAILAND
KAMBODJA
VIËTNAM
Mekong-rivier
[[Prent op bladsy 24]
Ryslande, Mekong-delta
[[Prent op bladsy 24]
Daar is ongeveer 1 200 visspesies in die Mekong-rivier
[Prent op bladsy 25]
Drywende mark, Viëtnam
[[Foto-erkenning op bladsy 24]
Ryslande: ©Jordi Camí/age fotostock; persoon wat visvang: ©Stuart Pearce/World Pictures/age fotostock; agtergrond: © Chris Sattlberger/Panos Pictures
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Mark: ©Lorne Resnick/age fotostock; vrou: ©Stuart Pearce/World Pictures/age fotostock