Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/08 bl. 22-23
  • Waar ’n rivier agteruitvloei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar ’n rivier agteruitvloei
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom agteruit?
  • Wanneer ’n vloed ’n seën is
  • Die lewe op stelte en drywende platforms
  • Ontmoet die magtige Mekong
    Ontwaak!—2006
  • Die Victoria-meer—Afrika se groot binnelandse see
    Ontwaak!—1998
  • Die drywende eilande van die Titicaca-meer
    Ontwaak!—1994
  • Die skatte van Sentraal-Amerika se grootste meer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 10/08 bl. 22-23

Waar ’n rivier agteruitvloei

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KAMBODJA

HET jy al ooit gesien dat ’n rivier agteruitvloei? Wat van ’n woud wat die helfte van die jaar onderwater is? Het jy geweet dat daar mense is wat in drywende huise woon wat verskuif moet word omdat die water verdwyn? “Onmoontlik”, sê jy? Dan sal jy dalk van mening verander as jy Kambodja gedurende die moeson-, of reënseisoen, besoek.

Elke dag, van die middel van Mei tot en met Oktober, trek die helder oggendlug toe en val daar swaar reëns in die middag. Water stroom oor grond wat vroeër droog en stowwerig was, en riviere oorstroom hulle oewers.

Waarom agteruit?

Kyk na die bygaande kaart. Let op waar die magtige Mekong-rivier en die Tonle Sap-rivier bymekaar aansluit. Die riviere vloei ineen en verdeel kort daarna sodat dit die Bassac-rivier en die hoofdeel van die Mekong-rivier vorm. Dan vloei hulle verder suidwaarts deur Viëtnam en vorm die reusagtige Mekong-delta.

Kort nadat die reënseisoen begin, oorstroom die laer dele van die delta. Die vloedwaters oorstroom syriviere wat seisoenaal droog is. Deur die loop van die moeson dam die water in die Tonle Sap-rivier op en begin dit noordwaarts vloei, pleks van suidwaarts, soos gewoonlik. Op hierdie manier vloei die oorstroomde rivier agteruit totdat dit in die Tonle Sap-meer invloei.

Hierdie meer is op ’n lae vlakte geleë, omtrent 100 kilometer van Phnom Penh, die hoofstad van Kambodja. Tydens die droë seisoen is die oppervlakte van die meer omtrent 3 000 vierkante kilometer. Maar in die nat seisoen word die oppervlakte byna vier of vyf keer groter as gewoonlik, wat dit die grootste varswatermeer in Suidoos-Asië maak.

Gebiede waar daar voorheen ryslande, paaie, bome en dorpies was, is nou onder die water. Vissermanne, wie se bote gewoonlik in water dryf wat maar net ’n meter diep is, vaar nou oor boomtoppe wat tot tien meter hoog is! Op ander plekke word so ’n groot vloed gewoonlik as ’n ramp beskou. Maar die mense van Kambodja beskou dit dikwels as ’n seën. Waarom?

Wanneer ’n vloed ’n seën is

Wanneer die Tonle Sap-rivier agteruitvloei, word ryk lae spoelgrond in die Tonle Sap-bekken afgeset. Daarbenewens swem ontsaglike hoeveelhede vis van die Mekong-rivier af in die meer in, en hulle lê hulle eiers in hierdie voedingryke water. Trouens, die Tonle Sap-meer is een van die wêreld se rykste bronne van varswatervis. Ná die nat seisoen loop die meer so vinnig leeg dat vissermanne al visse uit die bome gehaal het!

Hierdie jaarlikse vloede skep ’n dinamiese ekosisteem. Bome en ander plante in die stroomgebied neem ’n ander groeisiklus aan as plante in gebiede wat nie oorstroom word nie. Tropiese bome groei gewoonlik stadig, verloor hulle blare in die droë seisoen en loop dan gedurende die nat seisoen uit. Maar bome in die Tonle Sap-gebied verloor nie hulle blare totdat hulle as gevolg van die swaar reëns onder die water is nie. En in plaas daarvan dat hulle gedurende die nat seisoen vinniger groei, groei hulle stadiger. Nadat die water gesak het en die droë seisoen begin het, loop die takke uit en groei die blare vinnig. Wanneer die meer leegloop, is die grond met ’n laag verrottende blare bedek wat tydens die daaropvolgende droë seisoen voeding vir bome en ander plantelewe voorsien.

Die lewe op stelte en drywende platforms

Wat van die mense? Party wat langs die meer woon, bou hulle huisies op stelte. Gedurende die droë seisoen is hierdie huise tot ses meter bo die grond. Maar wanneer die vloedwaters op hulle hoogste is, word vissersbote en groot metaalbakke wat soms gebruik word om kinders mee te vervoer, reg voor die deur vasgemeer.

Ander wat op die meer woon, woon in ’n soort huisboot wat hulle op drywende platforms bou. Wanneer die gesin groei, word nog ’n drywende platform daaraan vasgeheg, en so word die huis vergroot. Daar is nagenoeg 170 drywende dorpies op die meer.

Gedurende die dag is jonk en oud op die water besig met vislokvalle en visnette. Wanneer die watervlak styg of daal, kan huise of hele dorpies etlike kilometers skuif om naby die nuwe oewer te bly of naby gebiede waar daar meer vis is.

Lang kano’s word kruidenierswinkels of drywende marke, wat in al die daaglikse benodigdhede van die gemeenskap voorsien en selfs as openbare “busse” dien. Skoolgaande kinders gaan na ’n drywende skoolgebou. Alles, van die plante tot die mense, beweeg op die ritme van die water in die land waar die rivier agteruitvloei.

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Droë seisoen

Nat seisoen

KAMBODJA

Tonle Sap-meer

Tonle Sap-rivier

Mekong-rivier

PHNOM PENH

Bassac-rivier

Mekong-delta

VIËTNAM

[Prent op bladsy 23]

’n Seun wat met die Tonle Sap-rivier langs roei

[Prente op bladsy 23]

Foto’s van dieselfde dorpie—tydens die droë en die nat seisoen

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Kaart: Based on NASA/Visible Earth imagery; foto’s van dorpie: FAO/Gordon Sharpless

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel