Die grootste mens van alle tye
WIE sou jy kies as die grootste mens wat nog geleef het? Noag, wat die Vloed oorleef het en die voorvader geword het van almal wat nou lewe? (Genesis 7:1, 21, 22; 9:18, 19). Nebukadnesar, die eertydse wêreldheerser en bouer van die luisterryke stad wat hy Babilon die Grote genoem het? (Daniël 4:28-30). Dalk Aleksander die Grote, wat selfs in Bybelprofesie genoem word weens sy prestasies? (Daniël 8:5-8, 21, 22). Of wat van Julius Caesar, die beroemde Romeinse keiser?
Binne 45 jaar ná die dood van laasgenoemde keiser is ’n kind met die naam Jesus in Betlehem gebore. Het hy die grootste mens van alle tye geword? Omtrent honderd jaar gelede het die naslaanwerk The Historians’ History of the World gesê: “Die invloed van [Jesus se] bedrywighede op die geskiedenis was, selfs vanuit ’n streng sekulêre standpunt, betekenisvoller as die dade van enigiemand anders in die geskiedenis. ’n Nuwe era, wat deur die vernaamste beskawings van die wêreld erken word, het met sy geboorte begin.”
Tot vandag toe is daar intense belangstelling in Jesus Christus. ’n Paar jaar gelede het die welbekende Amerikaanse nuustydskrifte Time, Newsweek en U.S. News and World Report tegelykertyd voorbladartikels oor hom bevat. Trouens, hierdie belangstelling in Jesus is blykbaar aan die toeneem. “Hy lewe voort in rolprente, musiek en die modewêreld”, het die koerant Toronto Star in 2004 gesê. “Hy het ’n plek op ons ererol van helde verwerf.”
Maar vreemd genoeg, in die onlangse verlede het party aangevoer dat Jesus nooit bestaan het nie. Bruno Bauer (1809-82) was ’n vooraanstaande onderwyser wat so ’n bewering gemaak het. Karl Marx was een van sy studente. Robert E. van Voorst het onlangs in sy boek Jesus Outside the New Testament geskryf: “Marx het Bauer se idees van die mitiese oorsprong van Jesus in sy ideologie ingesluit, en amptelike Sowjet-literatuur en ander Kommunistiese propaganda het later hierdie bewering versprei.”
Maar vandag is daar min mense wat ontken dat Jesus werklik gelewe het. Trouens, daar is baie min dinge waaroor mense geredeliker saamstem as dat hy ’n werklike en baie belangrike persoon was. Die opskrif van ’n hoofartikel in die Wall Street Journal van Desember 2002 het gesê: “Die wetenskap kan Jesus nie ignoreer nie.” Die skrywer het hierdie gevolgtrekking gemaak: “Die meeste geleerdes, afgesien van ’n ateïs hier en daar, het Jesus van Nasaret reeds as ’n geskiedkundige persoon aanvaar.”
Maar Jesus was meer as net ’n geskiedkundige persoon. “’n Mens sal met baie vergesogte redenasies moet vorendag kom”, het die tydskrif Time berig, “om die feit te ontken dat Jesus van Nasaret die invloedrykste figuur is—nie net in hierdie twee millenniums nie, maar in die hele mensegeskiedenis.” Dit het bygevoeg: “Daar kan kragtig geredeneer word dat niemand anders se lewe naastenby so ’n sterk en blywende invloed gehad het soos Jesus s’n nie.”
Maar die vraag bly staan: Wie was hy werklik? Waarvandaan het hy gekom? Wat was sy doel op aarde? En waarom is dit so belangrik dat ons alles moontlik omtrent hom weet?