Sy was lief vir wat sy geleer het
NIE lank gelede nie is ’n brief gevind wat deur ’n vrou geskryf is net voordat sy in Mei 2004 aan kanker oorlede is. Sy het nie die brief voltooi nie, blykbaar omdat haar gesondheid skielik verswak het. Maar diegene wat later hierdie ongeposte brief gelees het, is tot trane beweeg en hulle geloof in God is versterk.
In die brief het die vrou, Susan, gesê dat sy ’n jong tiener in Connecticut, VSA, was toe sy vir die eerste keer ’n Christen- ouer man van Jehovah se Getuies geskakel het. Sy het toe die situasie beskryf waarin sy haar gedurende haar tienerjare bevind het. Susan se ma het die roerende brief laat verlede jaar gekry en ’n afskrif daarvan aan die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York gestuur.
Susan het geskryf dat sy in 1973 die telefoonnommer van die ouer man in Connecticut in die telefoongids gevind het. “Dit was die jaar”, het sy verduidelik, “dat ek, op 14-jarige ouderdom, besluit het op grond van wat ek in Die Wagtoring en Ontwaak! gelees het, dat dit die waarheid moet wees. Aangesien ek nog nooit een van Jehovah se Getuies teëgekom het nie, het ek hulle in die telefoongids probeer opspoor en ’n nommer gekies waarvan die eerste drie syfers ooreenstem met dié waar ek gewoon het. Toe broer Genrich geantwoord het, was hy verbaas om te hoor dat ek nog nooit ’n Getuie ontmoet het nie.”a
’n Dramatiese probleem
Susan het in haar brief verduidelik dat sy gestuur is om by haar ma se suster in Connecticut te gaan woon toe sy tien was. Dit was veronderstel om tydelik te wees, maar ná ’n ruk het Susan vir haar ma, wat alleen in Florida gewoon het, gesê dat sy by haar tannie wou bly. In haar brief het Susan geskryf dat haar situasie soortgelyk was aan “wat die Stockholm-sindroom genoem word, waar iemand ’n band vorm met sy onderdrukkers”.b Sy is erg mishandel.
“My tannie en haar mansvriend”, het Susan geskryf, “het my verskriklik mishandel. Wat meer is, ander mense is selde by ons huis ingelaat. Wanneer ek toegelaat is om skool toe te gaan, het ek nie kos of ordentlike klere gekry nie, selfs al het my ma genoeg geld vir my onderhoud gestuur. Ek het net een stel onderklere gehad, terwyl my tannie se twee dogters, wat ’n paar jaar jonger was as ek, alles gehad het.” Sy het dit geskryf om te toon waarom sy geweet het dat sy in groot moeilikheid sou beland as haar tannie sou uitvind dat sy meer omtrent die Bybel wou leer.
Hoe Susan meer Bybelkennis ingeneem het
“Broer Genrich het my aan Laura, ’n ryp Christensuster, voorgestel”, het Susan geskryf, “en sy het baie tyd daaraan bestee om al my Bybelvrae te beantwoord en het my dikwels by ’n wassery ontmoet.” Susan het verduidelik dat sy tot op daardie stadium nog nooit ’n onafhanklike besluit omtrent enigiets geneem het nie, maar dat sy dit wel gedoen het ná hierdie besprekings en nadat sy Bybellektuur soos die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gelees het.
“Dit was ’n Vrydagaand”, het Susan verder vertel, “toe ek vir my tannie gesê het dat ek besprekings met die Getuies gehad het. Sy het my gedwing om die hele nag in die middel van die kombuis te staan. Daarna was ek meer vasbeslote as ooit om ’n Getuie te word.”
Broer Genrich het van toe af altyd lektuur aan Susan verskaf om haar te help om die Bybel te verstaan. “Ek onthou die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses baie goed”, het Susan geskryf, “want dit het vertel van hoe die Getuies in Nazi-Duitsland voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog vervolg is. . . . Dit is toe dat ek die ouer man gevra het om die Koninkryksliedere vir my op kasset op te neem sodat ek dit kon leer. Binne ’n jaar kon ek al 119 liedere in die 1966-liedereboek, ‘Sing en begelei julself met musiek in julle hart’, van voor tot agter sing.”
“Intussen het broer Genrich ook vir my opnames van Bybeltoesprake, dramas en byeenkomsprogramme gegee. Hy het dit naby ’n telefoonpaal op Roete 10 gelos, en ek het dit daar gaan haal. . . . My situasie het my nou begin frustreer, want ek het soveel vooruitgang gemaak as wat ’n mens kan sonder om enige vergaderinge by te woon. Toe het ek seker maar net moeg geraak.”
Susan het gesê dat die volgende paar jaar baie moeilik was. Sy het kontak verbreek met die enigste twee Getuies wat sy geken het. Maar toe het sy gesê dat “dit ’n ‘vloek’ geword het om al die liedere te ken”. Waarom? “Want die woorde van ’n lied sou by my opkom, soos: ‘Stryders van Jah is nie lui of bang of traag.’ Ek het geweet dat hierdie woorde tydens die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Getuie in ’n Duitse konsentrasiekamp geskryf is, en dit het my nog ongelukkiger gemaak. Ek het soos ’n lafaard gevoel en gedink dat Jehovah my verlaat het.”c
Uiteindelik vryheid
“My 18de verjaarsdag was die keerpunt. Jare lank het geen Getuie ons huis besoek nie omdat my tannie gevra het dat ons nie besoek moet word nie. Maar daardie dag het iemand van ’n ander gemeente ons huis besoek, en omdat daar niemand anders by die huis was nie, kon ek met haar gesels. Dit was die eerste keer wat ek kan onthou dat ek op ’n Saterdag alleen by die huis was. Ek het dit beskou as ’n bewys dat Jehovah my nie verlaat het nie. Ek het dus vir broer Genrich, met wie ek aanvanklik in aanraking gekom het, geskakel en vir hom gesê dat ek gereed was om die huis te verlaat en gevra of hy enige idees het. Uiteindelik is ek gehelp om uit die huis te trek.”
Susan het in April 1977 uitgetrek. Haar brief het verder gesê: “Gedurende die volgende jaar kon ek uiteindelik al die vergaderinge en byeenkomste bywoon, en ek het aan die bediening begin deelneem. Ek het weer met my ma in aanraking gekom. Sy het nie besef hoe erg ek al die jare mishandel is nie en was verpletter. Sy het onmiddellik seker gemaak dat ek alles kry wat ek nodig het. My ma het ’n paar jaar tevore na Alaska getrek. Aangesien sy groot belangstelling in Bybelwaarhede getoon het, het ek in 1978 na Alaska getrek om saam met haar te wees. Sy het uiteindelik ’n Getuie geword en dien tot vandag toe getrou.
“Nadat ek vergaderinge begin bywoon het, het broer Genrich gereël dat ’n groep die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, besoek, en hy het my genooi om saam te kom. Dit was een van die beste geskenke wat iemand my nog gegee het, want dit het by my ’n lewenslange waardering vir Jehovah se organisasie ingeboesem. Wel, dit is omtrent al. Ek het dit verkort, want ek wou dit betyds klaarkry.”
Die aanhalings hierbo is eintlik net uittreksels uit ’n brief van ses en ’n half bladsye. Na aan die einde van die brief het Susan gesê: “Ek was laas maand baie siek in die hospitaal en het glad nie gedink dat ek dit sal maak nie . . . Ek het tot Jehovah gebid vir net nog twee weke van goeie gesondheid sodat ek ’n paar dinge in orde kan kry. . . . Ek verwag nie om baie langer te lewe nie, maar ek moet sê dat hierdie jare in die waarheid werklik wonderlik was, die beste lewe wat enigiemand ooit kon begeer.”
Sy het nie die brief behoorlik afgesluit of geteken nie, en dit is nooit gepos nie. Diegene wat dit gevind het, het nie geweet aan wie dit gestuur moet word nie. Maar, soos vroeër genoem is, is die brief uiteindelik aan Susan se ma gestuur.
Meer omtrent Susan
Nadat Susan op 14 April 1979 gedoop is, het haar ma teruggetrek na Florida. Susan het in Alaska gebly, aangesien sy ’n hegte verhouding opgebou het met die broers en susters in die North Pole-gemeente. Kort daarna het sy as ’n pionier begin dien. Uiteindelik het sy na Florida getrek, en in 1991 het sy met ’n Christen- ouer man en mede-pionierbedienaar getrou, wat kort ná Susan oorlede is.
Susan en haar man was ’n geliefde egpaar wat saam in die voltydse bediening was tot haar siekte dit vir hulle onmoontlik gemaak het om daarmee vol te hou. Sy het altesaam meer as 20 jaar in die voltydse bediening deurgebring. Die North Pole-gemeente het per telefoonverbinding na haar begrafnistoespraak in Florida geluister.
Susan se brief kan ons help om selfs groter waardering te hê vir die geestelike seëninge wat diegene ontvang wat Jehovah dien en die wonderlike opstandingshoop het (Handelinge 24:15). Hierdie lewensverhaal toon ook duidelik dat God na aan almal is wat nader aan hom kom!—Jakobus 4:7, 8.
[Voetnote]
a Broer Genrich en sy vrou is in 1993 in ’n tragiese ongeluk oorlede.
b Sien die Ontwaak! van 22 Desember 1999, bladsy 7.
c Sing lofliedere voor Jehovah, lied 29, “Voorwaarts, Getuies!”
[Lokteks op bladsy 23]
‘Hierdie jare in die waarheid was werklik wonderlik, die beste lewe wat enigiemand ooit kon begeer’
[Prent op bladsy 21]
Susan, toe sy tien jaar oud was
[Prent op bladsy 23]
Susan saam met haar man, James Seymour