Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/06 bl. 24-25
  • Kalipso—Trinidad se unieke volksmusiek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kalipso—Trinidad se unieke volksmusiek
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Styl en invloed
  • Moderne kalipso
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
  • Musiek—God se gawe aan die hart
    Ontwaak!—2008
  • ’n Ryk Christelike erfenis het my gehelp om te floreer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 12/06 bl. 24-25

Kalipso—Trinidad se unieke volksmusiek

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TRINIDAD

WAARAAN dink jy wanneer jy hoor van die tweelingeiland-republiek van Trinidad en Tobago? Baie mense sal dink aan die klanke van staalorkeste en die opgewekte wysies van kalipsomusiek. Trouens, kalipso se aansteeklike ritmes en kenmerkende styl het ver buite die geboorteplek van hierdie musiek in die suide van die Karibiese See gewild geraak.a

Volgens die boek Calypso Calaloo kan die naam kalipso verwys na “enige liedjie wat ná omstreeks 1898 tydens karnavaltyd in Trinidad gesing is, hetsy in die strate deur feesvierders of in opvoerings deur semiprofessionele en professionele sangers”. Die inspirasie vir kalipso het moontlik gekom van die ou Afrikatradisie om stories te vertel, wat deur swart slawe na Trinidad gebring is. Later het gewilde elemente van Afrikasang, -dans en -trommespel tesame met Franse, Spaanse, Engelse en ander etniese invloede uiteindelik die bestanddele voorsien waaruit kalipso ontstaan het.

Daar bestaan onsekerheid oor die oorsprong van die naam kalipso. Sommige glo dat dit afkomstig is van die Wes-Afrikaanse woord kaiso, wat gebruik is om ’n goeie uitvoering te prys. Selfs voor die einde van slawerny in Trinidad en Tobago in die 1830’s het skares tydens die jaarlikse karnavalfeesvieringe bymekaargekom om te hoor hoe chantuelles (sangers) in sang hulle eie deugde prys en met mekaar die spot dryf. Vir groter effek het elke kalipsosanger ’n bynaam, of verhoognaam, aangeneem en ook ’n kenmerkende styl ontwikkel.

Styl en invloed

Kalipsosangers is nog altyd gerespekteer vir hulle gevatte sêgoed. Wat meer is, baie kalipsosangers het die merkwaardige vermoë ontwikkel om ’n hele paar verse wat volmaak rym, op die plek uit te dink, en hulle kikker dit dikwels op met beeldspraak wat verbasend goed pas by die onderwerp van die lied. In die vroeë dae was kalipsosangers merendeels Afro-Trinidadiërs en mense van die armer sosiale stand, maar vandag kom hulle uit elke ras, kleur en klas.

Dr. Hollis Liverpool, voormalige direkteur van kultuur vir Trinidad en Tobago, is ’n geskiedkundige sowel as ’n kalipsosanger. Aangaande die vroeë kalipsosangers het hy vir Ontwaak! gesê: “Hulle sterk punt was nog altyd hulle humor, want mense het hoofsaaklik na die [kalipso]tent gekom om vermaak te word, om die gerugte te hoor wat die rondtes doen en om die gebeure waarvan hulle gehoor het, te bevestig. Die hoër stand het spesifiek gekom om te hoor wat die laer stand doen, terwyl die goewerneur en sy gevolg gekom het om te sien hoeveel politieke ondersteuning hulle het.”

Dikwels het die kalipsosangers die spot gedryf met die burokrasie en die hoër stande van die gemeenskap. Gevolglik is kalipsosangers vereer as helde en as kampvegters vir die gewone mense, maar diegene in gesagsposisies het hulle as ’n doring in die vlees beskou. Kalipsosangers se komposisies het soms sulke snydende kritiek bevat dat die koloniale regering uiteindelik genoodsaak gevoel het om wette uit te vaardig om hulle in toom te hou. Op hulle beurt het die sangers dubbelsinnigheid in hulle lirieke begin gebruik en dit tot ’n fyn kuns ontwikkel. Dubbelsinnigheid is tot vandag toe ’n belangrike element van kalipsolirieke.

Kalipsosangers het nie net woorde gebruik nie, hulle het ook woorde geskep. Trouens, hulle het ’n betekenisvolle bydrae gemaak tot die woordeskat van die Wes-Indiese omgangstaal. Dit is geen wonder nie dat baie mense, selfs sommige politici, dikwels kalipsosangers aanhaal wanneer hulle ’n punt wil beklemtoon.

Moderne kalipso

In onlangse tye het baie style en hibridiese vorme van kalipso ontwikkel wat byval vind by mense met verskeie musieksmake. Soos met die meeste ander vorme van musiek, weerspieël die lirieke van party kalipsoliedjies nie goeie sedelike waardes nie. Dit is natuurlik verstandig om selektief te wees in die soort spraak waaraan ons ons blootstel (Efesiërs 5:3, 4). Ons kan ons afvra: ‘Sal ek verleë wees om sekere dubbelsinnighede te verduidelik aan my kinders of aan iemand wat nie kalipsomusiek ken nie?’

As jy na Trinidad en Tobago kom, sal jy jou ongetwyfeld verlustig in die pragtige strande en riwwe en gefassineer word deur die eiland se mengelmoes van rasse en kulture. En dalk sal jy ook die staalorkeste geniet, sowel as kalipso—die opgewekte, aansteeklike klanke wat die verbeelding van jonk en oud regoor die wêreld aangegryp het.

[Voetnoot]

a Staalorkeste speel dikwels kalipsowysies, maar die kalipsosanger word gewoonlik begelei deur instrumente soos die kitaar, trompet, saksofoon en tromme.

[Prente op bladsy 24, 25]

Staaltromme

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel