Wat sou ons doen sonder donkies?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ETIOPIË
IN DIE strate van Addis Ababa—die hoofstad van Etiopië, die 16de mees digbevolkte land ter wêreld—is die donkie al lank ’n belangrike vervoermiddel. Die meeste motorbestuurders het geleer om by hulle aan te pas en is bewus dat donkies gewoonlik weet waarheen om te gaan en vasbeslote is om daar uit te kom. Donkies is nie bang vir swaar verkeer nie, maar hulle wye vragte kan probleme skep, en hulle kyk nie agtertoe nie. As jy dus nie teen die houtskool, gedroogde beesmis, of wat die vrag ook al is, wil skuur nie, beter jy padgee!
Na skatting is die donkiebevolking in Etiopië ongeveer vyfmiljoen, byna 1 donkie vir elke 12 mense. Miljoene Etiopiërs bly op afgeleë heuwels, wat deur diep klowe van mekaar geskei word. Die land se groot sentrale plato word deur tallose klein stroompies verdeel. Om brûe of selfs grondpaaie vir toegang na hierdie plekke te bou, sou ’n groot las op die hulpbronne van enige land plaas. Die getroue en vasvoetige donkie is dus ’n ideale vervoermiddel.
Die donkie kan omtrent al Etiopië se verskeie klimate hanteer—van droë, warm laaglande tot bergagtige streke. En hy kwyt hom uitstekend van sy taak om oor styl hange, nou voetpaadjies, klipperige rivierbeddings, modderige paaie en ander ongelyke terrein te loop. Hy kan gaan waar geen perd of kameel dit waag nie. Vir miljoene mense is die donkie die vernaamste manier om goedere te vervoer, veral in stede waar baie huise nie met motorvoertuie bereik kan word nie.
Donkies kan om skerp draaie en deur smal, omheinde toegangspadjies gaan. Hulle benodig nie duur bande nie en het byna nooit ’n probleem op gladde oppervlakke nie. Hulle dra vragte van alle vorms en groottes en voorsien ’n tuisafleweringsdiens na byna enige plek. Terwyl geïrriteerde motorbestuurders hulle toeters sit en druk, vind donkies maklik hulle weg deur verkeersknope. Geen polisieman sal daaraan dink om ’n donkie te beboet wat in die verkeerde rigting met ’n eenrigtingstraat op loop nie. En parkering is nooit ’n probleem nie. ’n Donkie kan jou omtrent 370 rand uit die sak jaag, maar as jy dink aan die prys van ’n motorvoertuig, is daar geen vergelyking nie!
Donkies in die hoofstad
Soggens loop derduisende donkies dikwels verder as 25 kilometer na Addis Ababa—wat ’n bevolking van meer as 3 000 000 het. Woensdae en Saterdae is veral besig omdat dit die weeklikse markdae is. Dit kan tot drie uur neem om daar te kom, wat beteken dat hulle voor sonop moet vertrek. Soms stap hulle eienaars langs hulle, maar meer dikwels hardloop hulle agterna en probeer hulle byhou.
Die vragte bestaan oor die algemeen uit sakke graan, groente, vuurmaakhout, sement en houtskool, sowel as blikke kookolie en kaste bier of koeldrank. Sommige donkies dra vragte van 90 kilogram of meer. Vragte langwerpige items, soos bamboes- of bloekompale, word aan die donkies se sye vasgemaak en sleep agter hulle op die pad. Die vragte wat waarskynlik die interessantste lyk, is die hoë bondels strooi of geperste hooi waaronder die diere amper verdwyn.
Wanneer die donkies soggens met hulle swaar vragte op pad na die mark is, kan hulle nogal teen ’n redelike pas draf. Wanneer die vrag verkoop is, keer hulle teen ’n gemakliker pas terug huis toe en stop hulle selfs om aan plante langs die pad te peusel. Op die dae wanneer die donkies nie mark toe gaan nie, word hulle nog steeds gebruik vir hulle daaglikse take om water en vuurmaakhout te haal. Hulle kan ook uitgeleen of verhuur word. Party behoort selfs aan “vlote” wat deel vorm van professionele donkie-vervoerondernemings! In sommige plekke trek donkies karretjies, of soms sal twee donkies ’n redelike groot wa trek.
Hulle verdien respek
Donkies het betreklik min sorg nodig. Hulle soek hulle eie kos en eet omtrent enigiets. Wanneer hulle goed behandel word, raak donkies geheg aan hulle eienaar. Daar word gereken dat hulle intelligenter as perde is. Hulle het ook ’n uitstekende geheue wanneer hulle die pad êrens heen moet onthou. Hulle kan op hulle eie water gaan haal by plekke wat meer as agt kilometer ver is, net solank iemand aan elke punt die vrag oplaai en aflaai. Daar word selfs vir hulle klokke aangesit sodat mense wat langs die pad bly, die donkie kan hoor aankom en sy aflewerings kan neem.
Hoewel donkies harde werkers is, het hulle besliste idees oor die maksimum wat hulle bereid is om te dra, sowel as wanneer ’n blaaskansie nodig is. In hierdie situasies, of wanneer die vrag in so ’n posisie geplaas is dat dit pyn veroorsaak, sal hulle moontlik net stilstaan of gaan lê. Wanneer dit gebeur, kan hulle misverstaan word en uitgeskel of fisies mishandel word. Jy onthou moontlik die Bybelverslag van so ’n geval.—Numeri 22:20-31.
Donkies verdien aandag en versorging. Dit is tragies wanneer ’n vrag nie goed vasgemaak is nie, skuif en veroorsaak dat die donkie in ’n sloot val en sy bene breek. Sere, verskeie parasiete, klouseer, longontsteking en ander probleme kan hierdie ywerige lasdiere laat verswak. Met die oog hierop is ’n moderne donkiekliniek gestig in Debre Zeyit, nie ver van Addis Ababa nie. Dit is toegerus met rekenaars, ondersoekkamers, voertuie om behandeling buite die kliniek te gee en selfs ’n uitstekende operasiesaal vir operasies op donkies. In 2002 het ongeveer 40 000 donkies dus verskeie vorme van mediese sorg ontvang.
Die aartsvader Abraham het die bergagtige terrein op sy donkie oorgesteek toe hy op pad was na die berg Moria (Genesis 22:3). Deur die lang geskiedenis van die nasie Israel heen, was die donkie ’n deel van die daaglikse lewe. Selfs met Jesus Christus se triomfantlike intog in Jerusalem, het hy op ’n esel gery.—Matteus 21:1-9.
Ook in Etiopië het die donkie ’n lang geskiedenis. Maar hier speel hulle nog steeds ’n belangrike rol in mense se lewens. Terwyl vragmotors en motors oor die jare heen verander het, is die donkie nog steeds dieselfde. En hy verdien beslis respek!
[Foto-erkenning op bladsy 26]
‘The Donkey Sanctuary’, Sidmouth, Devon, UK