Waar kamele en brumbies rondswerf
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
AUSTRALIË se Agterveld—waaraan dink jy wanneer jy van hierdie plek hoor? ’n Land vol springende kangaroes en emoes wat nie kan vlieg nie, stowwerige rooi woestyne en snikhete dae? Tot ’n mate is jy reg—maar dit is ook ’n land van verrassings.
Het jy geweet dat Australië die tuiste is van die laaste ongetemde kameelkuddes op aarde, die grootste trop wilde perde ter wêreld en die grootste donkieplaag op die planeet? Die aankoms en oorlewing van hierdie geharde diere is ’n verhaal van aanpasbaarheid en konflik waarvan min mense weet en is ’n lewende herinnering aan vergange tye.
Op die kameel se rug gebou
Sommige veeboere in die Agterveld het die afgelope vier dekades oor dieselfde probleem gekla as ’n cowboy wat in die boek The Camel in Australia gesê het: “Ek het al hier gesien dat 5 kamele [10 kilometer] grensheining feitlik platgetrek het . . . By een plek het hulle nie net die draad gebreek nie, maar ook die pale omgestamp.”
Duur heinings is kinderspeletjies vir die lang bene en swaar lyf van ’n vasbeslote kameel. Maar hierdie selfde sterk bene het dit moontlik gemaak om die lewenslyne oor die dorre binneland van hierdie vasteland te bou.
Kamele is in 1860 uit Indië ingevoer, en die ontdekkingsreisigers Burke en Wills het hulle gedurende hulle epiese tog van die suide tot die noorde van Australië saam met hulle geneem. Die vroeë avonturiers het verkies om hierdie buitengewone diere te gebruik weens hulle groot krag en stamina. Hulle het verbasend min water nodig, en het net 15 liter water gedrink terwyl hulle vragte van 300 kilogram 800 kilometer ver vervoer het.
Kamele is baie betroubaar en is gebruik om voedsel en toerusting na afgeleë goudmyndorpies te karwei, om die oorlandse telegraaflyn van Adelaide na Darwin te bou, asook tydens die landmeting van die Trans-Australiese Spoorweg wat Sydney en Perth verbind. Oor ’n gebied van viermiljoen vierkante kilometer het hulle in gebiede gewerk waar moderne masjiene dit nog steeds moeilik vind om te werk.
Teen 1922 het die getal mak kamele ’n hoogtepunt van 22 000 bereik, maar namate die motor al hoe gewilder geword het, is baie kamele vrygelaat. Hulle kon vry rondswerf en aanteel, en vandag is Australië se woestyne volgens berig die tuiste van meer as 200 000 kamele, en party mense skat dat die bevolking binne ses jaar sal verdubbel.
Maar nie al hierdie kamele word toegelaat om rond te swerf nie. ’n Woordvoerder vir die Sentraal-Australiese Kameelvereniging het vir Ontwaak! gesê: “Omdat Australië die enigste siektevrye kameelkuddes ter wêreld het, word ’n klein aantal elke jaar na dieretuine en parke in die Verenigde State en Asië uitgevoer.” Plaaslike toergidse bied besoekers ook die geleentheid om op ’n kameel te klim en Australië se wilde binneland van nuuts af te ontdek—’n gebied wat ook die tuiste van ander vrygestelde pakdiere is.
Wat is ’n brumby?
Die eerste vloot Engelse skepe het in 1788 gevangenes, soldate en perde aan die Australiese kus afgelaai. Die geskiedenis van die perd in hierdie land is, soos dié van die mense, romanties sowel as tragies.
Perde het ’n belangrike rol gespeel om nuwe gebiede oop te stel omdat hulle vroeë pioniers na die vier uithoeke van die vasteland geneem het. Rondloperperde en perde wat weggeloop het, het gou troppe wilde perde laat ontstaan. Die woord “brumby” kom moontlik van ’n woord uit die Queensland-inboorlingtaal, baroomby, wat “wild” beteken.
Die wilde, vrye gees van die brumby het die verbeelding van digters soos A. B. (Banjo) Paterson aangegryp, en sy ballade “The Man From Snowy River” het verseker dat die brumby ’n plek in die harte van baie Australiërs gekry het. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die brumbies vermeerder toe die aanvraag na die Waler—’n perd wat spesifiek geteel is vir die Australiese Ligte-ruitery-brigade en ook gebruik is in die Indiese leër—afgeneem het en die perde vrygelaat is. Nou swerf ongeveer 300 000 wilde perde op die vasteland rond.
Waar hulle rondswerf, stamp hulle hoewe die kosbare bogrond soos ’n ystersmid se hamer en vertrap hulle die oewers van watergate. Wanneer daar ’n droogte is, sterf hulle van die honger of dors. In ’n land wat reeds sukkel om sy veekuddes te onderhou, het hierdie brumbies ’n ondraaglike las geword. Gevolglik word duisende elke jaar uitgedun. Party word vir menslike verbruik verwerk; ander word as troeteldierkos verkoop.
Maar wat getalle betref, is dit die brumby se neef, die donkie, wat werklik onbeheerbaar geword het. Aangesien hy vinniger as die wilde perd aanteel en oor ’n groter gebied as die kameel versprei is, het hy ’n slagoffer van sy eie sukses geword.
Die Judas-oplossing
Soos die perd, is donkies vir die eerste keer in die laat 1700’s ingevoer om as trek- of ploegdiere te dien, en hulle het hulle sommer gou tuisgemaak. Hulle is in die 1920’s op groot skaal in die natuur vrygelaat, en hulle bevolkingsdigtheid het 30 keer groter geword as dié van inheemse troppe wilde esels.
Donkies is ideaal aangepas vir die woestynlewe, en soos die kameel sweet hulle minder wanneer hulle gedehidreer is en kan hulle tot 30 persent van hulle liggaamsgewig aan water verloor en nog steeds lewe. (’n Verlies van 12 tot 15 persent sal baie ander soogdiere se dood beteken.) Hulle verkies geil weiding, maar kan selfs van harde plante lewe waarin vee glad nie belangstel nie. Teen die 1970’s het meer as 750 000 donkies oor die helfte van die vasteland rondgeswerf. Hierdie groeiende getalle het ’n bedreiging vir die ekologie en die veebedryf geword; iets moes gedoen word.
Van 1978 tot 1993 is die donkies stelselmatig uitgedun, en meer as 500 000 van hulle is in noordwestelike Australië alleen doodgemaak. Tans dra 300 donkies radiosenders in wat die Judas-program genoem word. Hierdie donkies word vrygelaat om by hulle trop aan te sluit, waarna hulle met ’n helikopter opgespoor word, en die ander donkies in die trop word dan met so min lyding as moontlik doodgemaak. Wanneer die Judas-donkie in ’n ander groep opgeneem word, word hulle ook opgespoor en uitgewis.
“Dit is ’n langtermynprobleem”, het ’n landboubewaringsamptenaar in Wes-Australië vir Ontwaak! gesê. “As klein vrugbare bevolkings oorgelaat word, sal donkiegetalle gou weer wees waar dit in die 1970’s was”, het hy gewaarsku. “Mense verstaan dikwels nie waarom hierdie diere uitgedun en net daar gelos word nie. Maar mense besef nie hoe ontoeganklik hierdie gebiede is nie. Daar is geen paaie nie, en die meeste van die gebied kan slegs per helikopter bereik word. Dit is mense wat die probleem veroorsaak het, daarom moet ons die skade probeer beperk op die manier wat die minste lyding veroorsaak.”
Geharde diere wat vinnig aanteel
Jy sal nie kwalik geneem word as jy nou dink dat die sentrale deel van Australië stampvol pakdiere is wat niemand meer wil hê nie. Maar Australië het baie ruimte. Hierdie diere swerf rond in ’n gebied wat so groot soos Europa en byna so verlate soos die maan is—met dele wat baie soos albei plekke lyk. Om die diere op te spoor, is ’n uitdaging, om nie eers te praat van hulle onder beheer te hou nie.
Anders as talle bedreigde inheemse spesies, kerf hierdie geharde diere wat vinnig aanteel vir hulle ’n permanente plek in die land uit. Omdat hulle nie natuurlike vyande het nie en geïsoleer is van siekte, swerf hulle vry rond in Australië se Agterveld!
[Prent op bladsy 16]
Sowat 200 000 kamele swerf vry rond in Australië se woestyne
[Erkenning]
Agriculture Western Australia
[Prent op bladsy 16, 17]
“Brumbies” op die rand van die Simpson-woestyn
[Prent op bladsy 17]
’n Karavaan van kamele wat wol vervoer, 1929
[Erkenning]
Image Library, State Library of New South Wales
[Prent op bladsy 18]
“Brumbies” word aangekeer—soos dit in die Agterveld gedoen word
[Erkenning]
© Esther Beaton
[Prente op bladsy 18]
’n Judas-donkie kry ’n radiosender
[Erkenning]
Agriculture Western Australia