Kommer in die Latyns-Amerikaanse Kerk—Waarom breek miljoene weg?
VAN die noordelike grens van Mexiko tot by die suidelike punt van Chili is daar skaars ’n Latyns-Amerikaanse stad of dorp wat nie met ’n Rooms-Katolieke kerk op sy stadsplein spog nie. Maar ’n “groot verandering vind in Latyns-Amerika plaas”, erken Joseph E. Davis, die programbestuurder van ’n inrigting wat Katolieke bedrywighede bevorder. Hy het ook erken dat Latyns-Amerika, ’n streek wat meer as drie eeue lank onder die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk was, nou aan die vooraand van ’n groot verandering staan.
Dit is geen geheim dat die Katolieke Kerk se oorheersing vinnig afneem nie. Die aantal bedrywige Katolieke is onlangs gestel op slegs 15 persent van die hele bevolking van Latyns-Amerika. Die 1991 Britannica Book of the Year het berig: “Rooms-Katolieke Biskoppe en die pous self het hulle kommer uitgespreek dat Latyns-Amerika wat nog altyd Katoliek was gevaarlik teen die ou geloof draai.” Waarom gebeur dit? Waarom verlaat soveel die Katolieke kraal? Wat het gebeur met die wat afdwaal?
Die soeke na ’n verduideliking
Katolieke leiers blameer die vermenigvuldiging van “die sektes” vir hulle probleme. ’n Europese priester wat in Bolivia werk, het gekla: “Die kerk is soos ’n boom waarvan die krag deur onkruidagtige sektes ondermyn word.”
In Argentinië word daar elke jaar 140 nuwe godsdienste aangemeld, wat moontlik verduidelik waarom daar sedert die middel-sewentigerjare ’n afname van lede van die Katolieke Kerk van 90 persent tot 60 of 70 persent was. In Tijuana, Mexiko, het 10 persent van die tweemiljoen inwoners by die 327 nie-Katolieke godsdienste daar aangesluit. Die tydskrif Time het berig: “Verbasend genoeg is daar op Sondae seker meer Brasiliaanse Protestante in die kerk as Katolieke.” Dit is geen wonder nie dat, soos een koerant dit gestel het, toe “die Latyns-Amerikaanse kardinale saam met die pous in die Vatikaanstad vergader het om twee onderwerpe te bespreek wat vandag van die grootste belang vir die kerk is” een van hulle “die probleem met die sektes” was.
Tydens ’n vergadering met die biskoppe van Mexiko het die pous gesê dat die sukses van die baie nuwe godsdienste “toe te skryf is aan die halfhartigheid en onverskilligheid van die seuns van die kerk wat nie hulle evangeliese sending vervul nie”. Waarom is “die seuns van die kerk” onverskillig teenoor hulle verantwoordelikheid om die geestelike behoeftes van die Latyns-Amerikaners te bevredig en dít terwyl soveel van hierdie mense respek vir die Bybel het? ’n Hoofartikel in Última Hora, van La Paz, Bolivia, verduidelik: “Die kerk het in so ’n mate ’n deel van die wêreld geword dat dit lyk asof dit elke dag verder van sy eie sfeer af wegbeweeg. Dit moet ons nie verbaas as ons vind, soos wat wel gebeur, dat priesters eerder sosioloë, ekonome, joernaliste of politici is as wat hulle geestelikes is nie.”
Eerder politici as predikers?
Die kerk se politieke inmenging gedurende die sewentiger- en tagtigerjare het ongetwyfeld bygedra tot die afsku wat baie Latyns-Amerikaners nou van Katolisisme voel. ’n Studie wat in 1985 gepubliseer is, het die volgende opmerking gemaak aangaande Maryknoll, die Katolieke Buitelandse Sendinggenootskap van Amerika, met sy talle Latyns-Amerikaanse sendings: “Maryknoll het die Marxistiese-Leninistiese boodskap van gewelddadige revolusie met welslae vir die publiek aanvaarbaar gemaak omdat dit toegelaat is om as ’n vertakking van die Katolieke Kerk te funksioneer. Sy boodskap het nie net die gemiddelde kerkganger bereik nie, maar ook vooraanstaande Amerikaanse beleidmakers.”
Dink ook aan die sogenaamde vuil oorlog waartydens daar in die laat sewentigerjare ’n verstommende 10 000 tot 30 000 Argentyne ontvoer en sonder ’n verhoor vermoor is. ’n Hoofartikel in die National Catholic Reporter het onder die opskrif “Bloed bevlek kerk in Argentinië” gesê: “Die Argentynse ondervinding kom soveel ooreen met wat die Katolieke kerk in Nazi-Duitsland gedoen het, dat die vraag weer ontstaan of mag vir die kerk belangriker is as die Evangelie wat ’n onontbeerlike getuie van die waarheid moet wees.”
Die kerk se begeerte na mag in die wêreld se regerings toon duidelik dat dit nie ’n vriend van God is nie. Die Bybel sê: “Weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Dit is dus nie verbasend dat baie hulle nie meer tot die Katolieke Kerk wend vir geestelike leiding nie. Maar wat het gebeur met die mense wat die Katolieke kraal verlaat het?
Skape wat geen herder het nie
Hulle is baie soos die mense na wie die eerste-eeuse geestelike leiers van Judaïsme nie omgesien het nie. Die Bybel sê dat Jesus “innig jammer gevoel [het] vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Baie het die Katolieke Kerk verlaat om by sogenaamde evangeliese godsdienste aan te sluit. Het hulle enigsins beter na die afgedwaalde skape omgesien? Is Protestante meer geneig om soos Jesus se ware volgelinge te wees oor wie hy gesê het: “Hulle [is] nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie”?—Johannes 17:14.
Baie nie-Katolieke godsdienste probeer die beeld skep dat hulle die Bybel gehoorsaam pleks van godsdienstradisie na te volg. Dikwels is dit net skyn. Die grondleerstellings van die Protestantse organisasies kom soveel met die Katolieke Kerk s’n ooreen dat baie waarnemers maklik die Andeaanse spreekwoord kan gebruik: “Es la misma cholita con otra pollera” (Dit is dieselfde Indiaanse vroutjie met ’n ander romp).
Amper al die Protestantse groepe leer byvoorbeeld dat God ’n Drie-eenheid is, tog is dit nie ’n Bybelleerstelling nie. The Encyclopedia of Religion erken: “Hedendaagse Bybelverklaarders en teoloë stem saam dat die Hebreeuse Bybel nie ’n leerstelling oor die Drie-eenheid bevat nie . . . Die Nuwe Testament bevat ook nie ’n bepaalde leerstelling oor die Drie-eenheid nie.”a
Protestante is net soveel ’n deel van hierdie wêreld en sy politiek as Katolieke. Die Encyclopedia of Latin America sê: “Protestantisme in Latyns-Amerika het ook aangepas by . . . die gewilde verkiesingspolitiek. Plaaslike pastore word dikwels kliënte van politieke donateurs en verskaf stemme in ruil vir regeringsgunste vir hulle kerke.” Die Latin American Research Review sê: “Protestantisme is met die politiek in Guatemala getroud sedert dit in die land aangekom het” en het bygevoeg dat dit “net soveel gebruik word om politieke en sosiale gedrag oor te dra as wat dit ’n vorm van godsdiens is”.
Protestante se deelname aan die politiek het dikwels tot Protestante se deelname aan oorlog gelei. Wyle Harry Emerson Fosdick, wat as een van die invloedrykste Protestantse geestelikes in die Amerikaanse geskiedenis beskou word, het erken: “Ons Westerse geskiedenis bestaan uit een oorlog ná die ander. Ons het manne vir oorlog grootgemaak, manne vir oorlog opgelei; ons het oorlog verheerlik; ons het soldate ons helde gemaak en ons het die oorlogsvlae selfs in ons kerke geplaas . . . Ons het die Vredevors uit een mondhoek geloof en oorlog uit die ander mondhoek verheerlik.”
Wat moet jy doen?
Nadat die Bybelboek Openbaring valse godsdiens as ’n simboliese hoer beskryf wat met die regerings van die aarde hoereer, sê dit: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openbaring 18:4.
Talle mense besef dat daar baie korrupsie in die kerk is, maar hulle huiwer steeds om dit te verlaat omdat die Roomse Kerk so ’n ou geskiedenis het. Hou egter in gedagte dat die Joodse stelsel van aanbidding baie oud was; tog het God die Jode as sy gekose volk verwerp toe hulle van sy ware leerstellings afvallig geraak het. Getroue knegte van God het Judaïsme verlaat toe hulle besef het dat God nou die Christengemeente gebruik. Hoe kan jy vandag die ware Christengemeente uitken?
Byna ’n miljoen Latyns-Amerikaners het in die afgelope twee dekades Getuies van Jehovah geword. Waarom het hulle hierdie verandering gemaak? ’n Koerant in Martínez de la Torre, Veracruz, Mexiko, het hierdie vraag ondersoek. Dit het gesê: “Hierdie Bybelstudente bestaan bykans geheel en al uit voormalige aktiviste van verskillende gelowe, hoofsaaklik Katolieke, wat gesien het dat godsdiens na die politiek oorhel en dat dit onbybelse gebruike soos godsdiensvermenging, onsedelikheid en geweld aanvaar en goedkeur. Dit was vir hulle ’n bron van bevrediging om hulle te skik na die Bybel se gedragsbeginsels sonder om hulle na afgodediens of tradisies met ’n obskure oorsprong te wend. Dit het hulle lofwaardige eenheid van geloof gegee wat hulle van ander onderskei waar hulle ook al gaan.”
’n Ander Latyns-Amerikaanse koerant het dit só gestel: “Jehovah se Getuies is hardwerkende, eerlike, godvresende mense. Hulle is konserwatief en tradisievas, en hulle godsdiens is op die leerstellings van die Bybel gebaseer.” Ons nooi jou uit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer waar jy ook al woon. Jy sal uitvind dat hulle hoop en hulle hele lewenswyse op die Bybel gebaseer is. Ja, jy sal leer hoe om God “in gees en waarheid” te aanbid.—Johannes 4:23, 24.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, uitgegee word.
[Tabel op bladsy 21]
JEHOVAH SE GETUIES IN PARTY LATYNS-AMERIKAANSE LANDE
1971 1992
Land Verkondigers Verkondigers
Argentinië 20 750 96 780
Bolivia 1 276 8 868
Brasilië 72 269 335 039
Chili 8 231 44 067
Colombia 8 275 55 215
Costa Rica 3 271 14 018
Dominikaanse Republiek 4 106 15 418
Ecuador 3 323 22 763
El Salvador 2 181 20 374
Guadeloupe 1 705 6 830
Guatemala 2 604 13 479
Honduras 1 432 6 583
Mexiko 54 384 354 023
Panama 2 013 7 732
Paraguay 901 4 115
Peru 5 384 43 429
Puerto Rico 8 511 25 315
Uruguay 3 370 8 683
Venezuela 8 170 60 444
TOTAAL 212 156 1 143 175