Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/22 bl. 5-7
  • Waarom verlaat mense tradisionele godsdienste?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom verlaat mense tradisionele godsdienste?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiens se droewige geskiedenis
  • Wat gebeur met die kerke?
    Ontwaak!—2007
  • Kan die kerke gered word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Godsdienskrisis in Nederland
    Ontwaak!—1993
  • Godsdiens—Watter nut het dit?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/22 bl. 5-7

Waarom verlaat mense tradisionele godsdienste?

SOWAT 1,7 MILJARD MENSE behoort aan godsdienste wat sê dat hulle hulle leringe op dié van Jesus Christus baseer. Opnames toon dat die Christendom die wêreld se grootste godsdiens is en selfs meer lidmate as gewilde godsdienste soos Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam het. Berigte toon egter dat die Christendom in talle sogenaamde Christenlande sy houvas op die massas verloor.

Mense uit alle sosiale agtergronde verlaat hulle kerk. Ronald F. Inglehart, ’n navorser by die Universiteit van Michigan en die direkteur van die Wêreldopname oor Waardes, het gesê dat godsdiens ’n al hoe kleiner rol in ontwikkelde lande speel. Die tydskrif Bible Review het hom soos volg aangehaal: “Dit is nie net die weeklikse kerkbywoning wat skerp gedaal het nie, maar Latyns-Amerikaanse lande stuur nou sendelinge uit om die siele van hulle voormalige koloniseerders te red.” Hy beweer dat die “ineenstorting van godsdiens” veral opvallend is in party Noord-Europese lande. In Noorweë en Denemarke is slegs 5 persent van die bevolking gereelde kerkgangers. In Swede is dit net 4 persent en in Rusland net 2 persent.

Berigte uit Duitsland toon dat die aantal gereelde kerkgangers onder geregistreerde Katolieke tussen 1984 en 1993 van 25,3 persent tot 19 persent gedaal het. Teen 1992 het slegs 4 persent van alle Protestante Sondagdienste gereeld bygewoon. In 1999 het Christianity Today berig: “Slegs een uit tien Duitsers gaan elke week kerk toe.”

Wat die afname van gelowiges in Brittanje betref, sê die koerant The Guardian: “Die Christelike godsdiens was nog nooit in ’n slegter toestand nie.” Die artikel sê dat “1950-2000 die slegste halfeeu vir priesters en presbiters was”. Die koerant het na ’n spesiale verslag oor godsdiens in die Verenigde Koninkryk verwys en gesê dat dit nie net jongmense is wat geloof in georganiseerde godsdiens verloor nie, maar ook bejaardes. Dit sê: “Ouer mense verloor geloof in God namate hulle ouer word. Nuwe navorsing wat hierdie tendens bevestig, sal ’n skok wees vir kerke in Brittanje wat ’n krisis beleef en wat tot nou toe die bejaardes as die steunpilare van hulle kwynende gemeentes beskou het.”

Soortgelyke tendense word buite Europa gesien. Die Kanadese tydskrif Alberta Report sê byvoorbeeld dat Kanada ’n “ineenstorting van georganiseerde godsdiens en aanbidding” beleef en dat “drie keer meer Kanadese verkies om hulle eie persoonlike idees van God te vorm as om ’n duidelike geloofsbelydenis te volg”.

Baie mense voel eenvoudig dat hulle nie geestelik verryk of verlig word deur kerkdienste by te woon nie. Volgens die Kanadese tydskrif Maclean’s het Jode sowel as Katolieke met wie daar by ’n ashram, of ’n Hindoegodsdienssentrum, in die Himalajas ’n onderhoud gevoer is, die volgende gesê: “Ons word nie meer deur onpersoonlike rituele beweeg nie.” Trouens, selfs nadat party jare lank getrou kerkdienste bygewoon het, wonder hulle: ‘Wat het ek werklik in die kerk geleer? Het dit my nader aan God gebring?’ ’n Mens kan dus verstaan waarom “geestelike armoede in die Weste, en nie meer materiële armoede nie, die vernaamste gebrek van ons tyd is”, soos die skrywer Gregg Easterbrook dit gestel het.

Daar is natuurlik baie lande waar die kerkbywoningsyfer hoër is. Maar die feit dat iemand kerk toe gaan, beteken nie altyd dat hy getrou by kerkleringe bly nie. Die Australiese koerant The Age berig byvoorbeeld dat daar in die Weste “’n skerp afname is in die aantal Christene wat hulle godsdiens beoefen. In groot dele van Afrika, Asië en Latyns-Amerika is die Christelike godsdiens ’n sluier waaragter baie mense skuil terwyl hulle voortgaan om eksotieser stam- of kultiese opvattings te volg wat niks met die ortodokse Christelike leer in gemeen het nie, dikwels daarmee in stryd is en jare gelede amptelik verwerp is.”

Waarom verlaat so baie mense, oud en jonk, hulle kerk? Iets wat blykbaar grootliks hiertoe bygedra het, is ontnugtering.

Godsdiens se droewige geskiedenis

The Guardian maak die volgende opmerking: “Die Rooms-Katolieke kerk het ’n betreurenswaardige reputasie dat hulle regdeur die 20ste eeu kop in een mus met Fascisme was, van die tyd dat hulle generaal Franco ná die Spaanse burgeroorlog gelukgewens het tot onlangse pogings ten behoewe van generaal Pinochet.” The Guardian het ook gesê dat pous Pius XII, wat gedurende die oorlogstyd pous was, “meer as gewillig was om ’n ooreenkoms met [Hitler] aan te gaan en sodoende van moontlike verleenthede weg te skram, soos om die Slagting te veroordeel”.

The Age sê: “Die Christelike godsdiens se bewerings was alte dikwels net leë woorde. Christene kon nie hulle eie interne vrede en eenheid bewaar nie, wat nog te sê ander help om dit te bereik. Al die plunderings- en veroweringsoorloë wat geregverdig is deur die bewering dat dit bekeerlinge vir Christus maak, getuig hiervan. Geloof, hoop en liefde is moontlik die voortreflikste Christelike deugde, maar diegene wat glo hierdie deugde nastreef, kan net so sinies wees, net so maklik wanhopig raak as nie-Christene en is moontlik geensins vrygewiger nie. . . . Dit is ’n Christenland wat vir die Slagting verantwoordelik was en ’n ander Christenland wat die verwoesting van atoomoorlogvoering teen Japan ontketen het.”

Party redeneer dalk dat die Christendom lank reeds deugde soos spaarsamigheid, standvastigheid, matigheid en geregtigheid bevorder. The Age sê egter: “Wel, Christene in Europa, Noord-Amerika en Australië gebruik oor die algemeen baie meer as hulle deel van die aarde se hulpbronne en duld nog steeds dat armer lande uitgebuit en onderdruk word, asook dat hulle omgewing verwoes word om hulle hebsugtigheid te bevredig.”

Wat die Christendom se toekoms betref, gaan The Age voort: “Sonder ’n gesonde georganiseerde raamwerk kan die Christelike godsdiens daarvan vergeet om die sosiale mag terug te kry wat dit eeue gelede gehad het. Dit kan goed of sleg wees, afhangende van hoe ’n mens dit beskou. Maar dit is die werklikheid wat die Christelike godsdiens in die toekoms in die gesig staar.”

As gevolg van die agteruitgang in die wêreld van georganiseerde godsdiens, verlaat baie mense die gevestigde kerke. Maar voorsien die alternatief wat hulle vind, werklik in hulle behoeftes? Is dit die antwoord?

[Prente op bladsy 7]

Oordadige seremonies laat baie geestelik leeg voel

[Prent op bladsy 7]

Baie het tradisionele godsdienste verlaat omdat dit oorloë en onderdrukkende politieke regimes ondersteun

[Erkenning]

foto: age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel