Ons het eers die Koninkryk gesoek
SOOS VERTEL DEUR OLIVE SPRINGATE
Ma het pas tevore die kers doodgeblaas en uit die kamer gegaan nadat sy na ons gebede geluister het. My jonger broertjie het my onmiddellik gevra: “Olive, hoe kan God ons deur baksteenmure sien en hoor?”
“MA SÊ hy kan deur enigiets sien”, het ek geantwoord, “selfs tot in ons hart.” Ma was ’n godvresende vrou en ’n ywerige Bybelleser, en sy het by ons as kinders ’n diepe eerbied vir God en vir Bybelbeginsels ingeskerp.
Ons ouers was lede van die Anglikaanse Kerk in die dorpie Chatham, in die Graafskap Kent, Engeland. Hoewel Ma gereeld kerk toe gegaan het, het sy geglo dat ’n Christen meer moes doen as om net een keer per week in die kerk te sit. Sy was ook seker dat God net een ware kerk het.
Waardering vir Bybelwaarheid
In 1918, toe ek ongeveer vyf was, het Ma die boeke Studies in the Scriptures aangeskaf, wat deur Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, geskryf is. ’n Paar jaar later, terwyl ons in ’n plekkie met die naam Wigmore gewoon het, het een van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het, met Ma in aanraking gekom. Sy het die Bybelstudiehulp Die harp van God geneem en die antwoorde op baie van haar Bybelvrae daarin gevind. Daar het elke week ’n pienk kaartjie met gedrukte vrae oor elke hoofstuk deur die pos gekom. Die kaartjie het ook aangedui waar die antwoorde in die boek gevind kon word.
In 1926 het ek, my ouers en my suster Beryl die Anglikaanse Kerk verlaat omdat ons ontevrede was oor die kerk se betrokkenheid by die politiek asook oor baie van sy verkeerde leringe. ’n Vername lering was dat God mense vir ewig in ’n helse vuur pynig. My ma, wat opreg na Bybelwaarheid gesoek het, was oortuig dat die Anglikaanse Kerk nie die ware kerk is nie.
Kort daarna het mev. Jackson, ’n Bybelstudent, ons in antwoord op Ma se opregte gebede besoek. Sy het byna twee uur lank met my en Ma gesels en ons vrae met behulp van die Bybel beantwoord. Ons was verheug om onder andere te leer dat ons ons gebede tot Jehovah God, die Vader van Jesus Christus, moet rig en nie tot die een of ander raaiselagtige Drie-eenheid nie (Psalm 83:18, NW; Johannes 20:17). Maar vir my was die onvergeetlikste vraag wat Ma gevra het hierdie een: “Wat beteken dit om eers die Koninkryk te soek?”—Mattheüs 6:33.
Die Bybelse antwoord het ’n verreikende invloed op ons lewe gehad. Daardie selfde week nog het ons begin om die Bybelstudente se vergaderinge by te woon en die dinge wat ons geleer het aan ander te vertel. Ons was oortuig dat ons die waarheid gevind het. ’n Paar maande later, in 1927, is Ma gedoop as simbool van haar toewyding om Jehovah te dien, en in 1930 is ek ook gedoop.
Ek betree die pionierdiens
Ons gesin het die Gillinghamgemeente se vergaderinge bygewoon wat uit ongeveer 25 mense bestaan het. ’n Hele paar van hulle was voltydse bedienaars, oftewel pioniers, en hulle almal het die hemelse hoop gehad (Filippense 3:14, 20). Hulle Christelike ywer was aansteeklik. Toe ek nog ’n tiener was, het ek in die vroeë dertigerjare ’n rukkie in België pionierdiens gedoen. Dit het my begeerte na verdere Koninkryksdiens gewek. Destyds het ons gesorg dat elke geestelike ’n eksemplaar van die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld kry.
My pa het ons Christelike bedrywighede mettertyd hewig begin teëstaan, en in 1932 het ek deels as gevolg daarvan na Londen verhuis om kollege toe te gaan. Later het ek vier jaar lank skoolgehou, waartydens ek aan die Blackheathgemeente, een van net vier destyds in Londen, verbonde was. Op daardie tydstip het ons begin hoor van die gevangesetting en lyding van ons Christenbroers en -susters in Hitler se Duitsland omdat hulle geweier het om Hitler se oorlogspoging te steun.
In 1938, in dieselfde maand as wat ek die laaste skuld op my boeke afbetaal het, het ek uit my werk bedank sodat ek my begeerte kon vervul om ’n pionier te word. My suster Beryl het terselfdertyd in Londen pionierdiens begin doen, maar sy het in ’n ander pionierhuis gewoon. My eerste pioniermaat was Mildred Willett, wat later met John Barr, nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, getroud is. Saam met ander in ons groep het ons per fiets na die gebied toe gery en die hele dag uitgebly, dikwels ondanks die reën.
Die oorlogswolke het reeds oor Europa gehang. Gasmaskeroefeninge is vir burgerlikes gehou, en voorbereidsels is getref om die kinders in geval van oorlog na die Engelse platteland of na klein dorpies toe te stuur. Ek het net genoeg spaargeld gehad om ’n paar skoene te koop, en my ouers sou my glad nie geldelik kon help nie. Maar het Jesus nie gesê ‘al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word as julle eers die koninkryk soek’ nie? (Mattheüs 6:33, vgl. NW). Ek het die volle vertroue gehad dat Jehovah in al my behoeftes sou voorsien, en hy hét dit nog al hierdie jare oorvloedig gedoen. Gedurende die oorlog het ek soms my klein voedselvoorraad aangevul met groente wat ek langs die pad opgetel het wanneer die gelaaide vragmotors verbygery het. En ek het dikwels voedsel in die hande gekry deur Bybellektuur vir vrugte en groente te verruil.
My suster Sonia is in 1928 gebore. Sy was maar net sewe toe sy haar lewe aan Jehovah toegewy het. Sonia sê dit was reeds op daardie jeugdige ouderdom haar doelwit om ’n pionier te word. In 1941, kort nadat sy haar toewyding deur waterdoop gesimboliseer het, het sy daardie doel verwesenlik toe sy en Ma as pioniers in Caerphilly, Suid-Wallis, aangestel is.
Ons bediening gedurende die oorlogsjare
Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek, en ons Christenbroers en -susters in Brittanje is om presies dieselfde rede as hulle medegelowiges in Nazi-Duitsland opgesluit—hulle neutrale standpunt ten opsigte van deelname aan oorlog. Die lugaanvalle op Engeland het in die middel van 1940 begin. Die oorverdowende blitsoorlog het nag ná nag gewoed, maar met Jehovah se hulp kon ons ’n bietjie slaap inkry en verfris voel vir die predikingswerk die volgende dag.
Soms het ons na ons velddiensgebied toe gegaan en dan gesien dat die meeste huise in puin lê. In November het ’n bom skaars ’n paar meter van die huis af geval waar ’n klomp van ons gewoon het en die vensters in duisend skerwe laat spat. Die swaar voordeur is losgeruk en het met ’n geweldige slag neergeslaan en die skoorsteen het ineengestort. Nadat ons die res van die nag in ’n skuilkelder deurgebring het, het ons uitmekaar gegaan en by verskillende Getuies gaan woon.
Kort daarna het ek ’n toewysing in Croydon, in Groter Londen, ontvang. My pioniermaat was Ann Parkin, wie se broer Ron Parkin later die Takkomiteekoördineerder in Puerto Rico geword het. Daarna het ek na Bridgend, Suid-Wallis, verhuis, waar ek my pionierdiens voortgesit het terwyl ek ses maande lank in ’n woonwa gewoon het wat deur perde getrek is. Van daar af het ons ses kilometer per fiets na die naaste groot gemeente in Port Talbot gery.
Teen hierdie tyd was die publiek ons al baie vyandiggesind en het hulle ons “conchies” (“conscientious objectors”) genoem. Dit was dus vir ons moeilik om huisvesting te kry, maar Jehovah het vir ons gesorg soos hy belowe het.
Later is agt van ons as spesiale pioniers in Swansea, ’n hawedorp in Suid-Wallis, aangestel. Hoe hewiger die oorlog geraak het, hoe groter was die vooroordeel teenoor ons. Die woorde “verraaiers” en “lafaards” is op die muur van ons pionierhuis geverf. Hierdie vyandigheid is veral aangeblaas deur die koerantberigte wat ons weens ons neutrale standpunt veroordeel het. Uiteindelik is sewe van ons een vir een tronk toe gestuur. Ek was in 1942 ’n maand lank in die tronk in Cardiff, en my suster Beryl was later ook ’n ruk lank daar. Hoewel ons op materiële gebied min gehad het en bespotting en skande moes verduur, was ons geestelik ryk.
Intussen het Ma en Sonia in Caerphilly pionierdiens gedoen en het hulle soortgelyke ondervindinge gehad. Sonia het haar heel eerste Bybelstudie met ’n vrou gehou met wie sy gereël het om haar een Vrydagaand te besoek. Sonia het gedink dat Ma saam met haar sou gaan, maar Ma het verduidelik: “Ek het ’n ander afspraak. Jy het die reëling getref, en daarom sal jy maar alleen moet gaan.” Hoewel Sonia maar 13 was, het sy op haar eie gegaan, en die vrou het geestelik goed gevorder en later ’n toegewyde Getuie geword.
Naoorlogse bedrywigheid—toe Gilead
Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, het ek in afgesonderde gebied in Whaley Bridge, Derbyshire, gewerk. Die oggend toe die skietstilstand aangekondig is, het ons die mense wat toe al heeltemal sat was van oorlog—met sy weeskinders, weduwees en verminkte liggame—besoek en vertroos.
Etlike maande later het die Genootskap vrywilligers gevra wat in Ierland, die Smarageiland, predikingswerk kon doen. Destyds was daar net ongeveer 140 Getuies van Jehovah op die eiland, en dit is dus as sendelinggebied beskou. Binne ’n paar maande is sowat 40 spesiale pioniers daarheen gestuur, en ek was een van hulle.
Nadat ek ’n tyd lank in Coleraine en Cookstown in die noorde gewerk het, is ek saam met drie ander na Drogheda aan die ooskus gestuur. Hoewel die Iere van nature baie hartlik en gasvry is, was hulle op godsdiensgebied baie bevooroordeeld. Daarom kon ons gedurende ’n hele jaar net ’n paar Bybelstudiehulpe (eintlik een boek en ’n paar boekies) onder die publiek versprei.
Gedurende ons verblyf in Drogheda het ek per fiets van die een plaas na die ander gery toe ’n jong plaasarbeider skielik deur die heining tot in die pad gespring het. Hy het met die pad op en af gekyk en toe met ’n sagte stem gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Toe ek bevestigend geantwoord het, het hy gesê: “Ek het gisteraand ’n verskriklike argument met my verloofde oor julle meisies gehad, en ons het ons verlowing verbreek. Sy het volgehou dat julle Kommuniste is, soos die Katolieke priesters en die koerante sê, maar ek het gesê dat dit heeltemal onmoontlik is, aangesien julle openlik van huis tot huis gaan.”
Ek het hom ’n boekie gegee om te lees, wat hy in sy sak versteek het, en ons het reëlings getref om mekaar die aand te ontmoet en verder te praat, aangesien hy gesê het: “As iemand sien dat ek met jou praat, sal ek my werk verloor.” Daardie aand het twee van ons hom ontmoet en sy talle vrae beantwoord. Hy was skynbaar oortuig dat dit die waarheid is, en hy het belowe om ’n ander aand na ons huis toe te kom om meer uit te vind. Hy het nooit gekom nie, en ons het toe vermoed dat hy die eerste aand deur ’n paar fietsryers herken is wat daar verbygery het en moontlik sy werk verloor het. Ons wonder dikwels of hy ooit ’n Getuie geword het.
Nadat ons in 1949 die streekbyeenkoms in Brighton aan die suidkus van Engeland bygewoon het, is ’n hele paar van ons na die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die staat New York genooi. Altesaam 26 van Brittanje het die 15de klas bygewoon, wat op 30 Julie 1950 gegradueer het tydens die internasionale byeenkoms in die Yankee-stadion.
Ons bediening in Brasilië
Die volgende jaar het ek ’n toewysing in Sao Paulo, Brasilië, een van die snelgroeiendste stede ter wêreld, ontvang. Destyds was daar net vyf gemeentes van Jehovah se Getuies, maar nou is daar byna 600 gemeentes! Hoe anders was dit tog as om in Ierland te werk! Baie van die huise in ons gebied in Sao Paulo was herehuise met hoë ysterheinings en kunstige hekke van smee-yster. Ons het ons hande geklap om die huiseienaar of die bediende te roep.
Met die verloop van jare was daar nuwe toewysings. Ek het die voorreg gehad om nuwe gemeentes op verskeie plekke in die binneland van die staat Sao Paulo te help stig, waaronder een in Jundiai in 1955 en nog een in Piracicaba in 1958. My suster Sonia het later, in 1960, my sendelingmaat geword, en ons is na Porto Alegre, die hoofstad van die staat Rio Grande do Sul, gestuur. Jy wonder seker hoe sy in Brasilië beland het.
Sonia en Ma was ná die Tweede Wêreldoorlog steeds pioniermaats in Engeland. Maar vroeg in die vyftigerjare het Ma ’n operasie vir kanker ondergaan en was sy te swak om nog van huis tot huis te gaan, maar sy kon Bybelstudies hou en briewe skryf. Sonia het met die pionierdiens aangehou, en sy het terselfdertyd gehelp om Ma te versorg. In 1959 het Sonia die voorreg gehad om die 33ste Gileadklas by te woon en is sy na Brasilië toe gestuur. Intussen het Beryl na Ma omgesien totdat sy in 1962 oorlede is. Teen daardie tyd was Beryl getroud, en sy en haar gesin dien Jehovah getrou.
In Brasilië het ek en Sonia etlike mense gehelp om hulle vir toewyding en doop te bekwaam. Maar een van die probleme wat heelwat Brasiliane gehad het, was om hulle huwelik te laat wettig. Omdat dit in Brasilië so moeilik is om ’n egskeiding te verkry, is dit niks ongewoons dat paartjies net saamwoon sonder dat hulle getroud is nie. Dit is veral die geval wanneer een van die huweliksmaats sy wettige maat verlaat.
Een vrou genaamd Eva was in hierdie situasie toe ek met haar in aanraking gekom het. Haar wettige eggenoot het verdwyn, en ons het toe ’n aankondiging oor die radio laat doen om hom op te spoor. Toe haar man gevind is, het ek saam met haar na ’n ander stad toe gegaan sodat hy ’n dokument kon teken wat haar vrygestel het sodat sy haar huwelik kon laat wettig met die ongetroude man met wie sy saamgelewe het. In die hof het die regter vir my en Eva gevra om te verduidelik waarom sy haar huwelik in orde wou bring. Die regter het sy verbasing maar ook sy tevredenheid uitgespreek toe dit aan hom verduidelik is.
By ’n ander geleentheid het ek saam met een van my Bybelstudente gegaan om te reël dat ’n regsgeleerde haar saak hanteer. Weer eens is ’n goeie getuienis gelewer oor die huwelik en God se sedelike standaarde. In hierdie geval was die egskeiding so duur dat albei die huweliksmaats moes werk om die koste te dek. Maar vir hierdie nuwe Bybelstudente was dit die moeite werd. Ek en Sonia het die voorreg gehad om die getuies by hulle troue te wees, en daarna het ons saam met hulle drie tienderjarige kinders na ’n kort Bybeltoespraak in hulle huis geluister.
’n Ryk, lonende lewe
Toe ek en Sonia ons lewe aan Jehovah toegewy en pioniers geword het, was dit ons doel om, indien moontlik, die voltydse bediening ons lewenstaak te maak. Ons het nooit werklik gedink wat in ons latere jare sal gebeur indien ons siek sou word of geldelike probleme sou hê nie. Tog is ons nooit in die steek gelaat nie, net soos Jehovah belowe het.—Hebreërs 13:6.
O, ja, ’n gebrek aan geld was soms ’n probleem. Op een tydstip het ek en my maat ’n hele jaar lank pietersielietoebroodjies vir middagete geëet, maar ons het nooit honger gely en nooit ’n gebrek aan die lewensbenodigdhede gehad nie.
Ons krag het met die verloop van jare afgeneem. Gedurende die middel-tagtigerjare het ons albei ernstige operasies ondergaan wat vir ons ’n kwaai beproewing was, aangesien dit ons predikingsbedrywigheid baie beperk het. In Januarie 1987 is ons genooi om lede van die hoofkwartierpersoneel van Jehovah se Getuies in Brasilië te word.
Ons groot gesin van meer as duisend bedienaars woon sowat 140 kilometer buite Sao Paulo in ’n pragtige gebouekompleks waar ons Bybellektuur vir Brasilië en ander dele van Suid-Amerika druk. Hier sien toegewyde knegte van God liefdevol na ons om. Toe ek aanvanklik in 1951 na Brasilië toe gekom het, was daar ongeveer 4 000 verkondigers van die Koninkryksboodskap, maar nou is daar oor die 366 000! Ons medelydende hemelse Vader het beslis ‘al hierdie ander dinge’ vir ons bygevoeg omdat ons eers sy Koninkryk gesoek het.—Mattheüs 6:33, vgl. NW.
[Prent op bladsy 22]
Olive by Mildred Willett langs ’n inligtingswa, 1939
[Prent op bladsy 25]
Olive en Sonia Springate