Wanneer is ’n by nie ’n by nie?
Bye lei ’n besige lewe, want hulle besoek elke dag honderde blomme en neem nektar terug na die korf. Wanneer dit lente word, soek mannetjiebye ’n maat. Hiervoor maak hulle op hulle gesigsvermoë en reuksin staat. Maar ’n onwaarskynlike maat—’n orgidee—probeer ook die aandag van die bysiende by trek.
In suidelike Europa is daar verskeie wilde orgideë wat wyfiebye moet naboots om bevrug te kan word. Hierdie orgideë moet “pakkies” stuifmeel na ander orgideë stuur. Bye is die ideale karweiers. Maar aangesien die orgideë geen smaaklike nektar het om die bye mee te lok nie, moet die orgideë as ’t ware van foppery gebruik maak. En die streep wat dit die by trek, is dat die blom soveel na ’n wyfieby lyk en ruik dat die mannetjieby daarmee probeer paar! Elke spesie van hierdie orgideë het sy eie vermomming en geur.
Wanneer die by sy fout agterkom, sit daar reeds ’n klewerige pakkie stuifmeel van die orgidee aan sy liggaam vas. Die by vlieg dan weg en word weer deur ’n ander orgidee geflous, wat die stuifmeel ontvang. Nadat die by ’n hele paar keer so gefop is, besef hy dat hierdie orgideë nie vertrou kan word nie. Teen daardie tyd het hy waarskynlik al party van die blomme bestuif.
Hoe het hierdie orgideë, wat nie kan dink nie, die regte reuk en voorkoms gekry om die bye te flous? Hierdie merkwaardige kenmerke getuig van ’n intelligente Ontwerper, wie se skepping altyd verbasend en fassinerend is.