’n “Swart swaan” op die kanale van Venesië
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
DIT word omring deur klam mure, geboë steenbrûe, arabeskevensters en balkonne vol blomme terwyl dit met ’n kanaal langs vaar. Dit is swart, elegant en stil. Van ’n afstand af lyk dit soos ’n swart swaan. Hoewel sy romp van hout en sy nek, wat allesbehalwe sag en donserig is, van metaal gemaak is, beweeg hy met dieselfde grasie as daardie edele voël op die kanale van Venesië, Italië. Dit is ’n gondel, wat volgens party die bekendste boot ter wêreld is. Wat is die oorsprong daarvan? Waarom is dit so gewild? Wat maak dit anders as ander bote?
Sy oorsprong
Dit is nie maklik om vas te stel presies wanneer die eerste gondel verskyn het nie, hoewel party glo dat dit in die 11de eeu G.J. was. Teen die einde van die 15de eeu is dit vir die eerste keer in skilderye uitgebeeld. Maar dit was gedurende die 17de en 18de eeu dat dit die kenmerkende voorkoms gekry het wat dit so bekend en anders as alle ander bote maak. Die gondel het reeds ’n plat boom gehad, maar gedurende hierdie tydperk het die boot sy unieke verlengde vorm en ystervoorstewe gekry.
Dit is net so moeilik om te bepaal waar die gondel sy naam gekry het. Party sê dat die naam “gondel” afgelei is van die Latynse woord cymbula, wat die naam van ’n klein boot was, of van conchula, die verkleinwoord van concha, wat “skulp” beteken.
Kenmerkend van Venesië
Een ding waarvan ons wel seker kan wees, is die sterk verband tussen hierdie boot en Venesië. Trouens, die gondel is moontlik die stad se belangrikste simbool. Dink net aan al die prente van Venesië waarin die gondel verskyn.
Nog iets verbind hierdie boot ten nouste aan sy stad. Om in ’n gondel op die kanale te vaar, “is ’n heel ander manier om Venesië te verken”, sê Roberto, ’n gondelier wat toeriste op die stad se kanale neem. “Jy sien nie net die normale besienswaardighede nie, maar jy ontdek die ware karakter van Venesië.” Die beroemde Duitse skrywer Johann Wolfgang von Goethe het gesê dat hy op hierdie boot gevoel het soos “die Meester van die Adriatiese See, nes enige Venesiër sodra hy agteroor in sy gondel lê”. Roberto sê: “Die luilekker spoed van die gondel is in absolute harmonie met die atmosfeer van Venesië. Jy sit gemaklik op sagte kussings en voel asof niks in die wêreld jou kan aanjaag nie.”
Eienaardighede van die gondel
Wanneer jy na ’n gondel kyk, sal jy dalk verbaas wees dat dit in ’n reguit lyn beweeg, aangesien daar net een roeispaan in ’n roeimik aan die regterkant van die boot is. Dit is dalk logies om te dink dat die boot eenkant toe sal trek en in sirkels sal vaar tensy die koers aanhoudend aangepas word—maar dit is nie die geval nie. Waarom nie? Gilberto Penzo, ’n kenner van eertydse bote, skryf: “As ons ’n metafoor gebruik wat die struktuur van die boot vergelyk met ’n mens se bolyf, waarin die kiel die ruggraat en die raam die ribbes verteenwoordig, kan ons sê dat die gondel aan ’n ernstige soort ruggraatverkromming ly.” Met ander woorde, die romp is asimmetries—die regterkant is byna 24 sentimeter nouer as die linkerkant. Gevolglik lê die gondel se regterkant laer in die water as sy linkerkant. Hierdie oneweredige ontwerp vergoed vir die feit dat die gondel met ’n enkele roeispaan aangedryf word en ook vir die gewig van die gondelier wat links van die middellyn van die boot staan terwyl hy roei, en daarom kan die gondel reguit vaar.
’n Kenmerkende element van hierdie “swaan” is sy nek, of voorstewe. Buiten die ysteragterstewe is dit die enigste deel van die boot wat van metaal gemaak is. Die voorstewe is “so treffend en kenmerkend”, skryf die outeur Gianfranco Munerotto, “dat dit enigiemand wat dit vir die eerste keer sien, sal bybly”. Oorspronklik het die ystervoorstewe as ’n teengewig gedien vir die gondelier wat in die agterstewe roei, maar nou dien dit net as versiering. Volgens oorlewering verteenwoordig die elemente van die voorstewe die ses sestieri, of buurte, waarin die stad Venesië verdeel is, terwyl die klein tandjie aan die agterkant van die nek die Venesiese eiland Giudecca verteenwoordig. Die S-vormige kurwe van voorstewe verteenwoordig blykbaar die vorm van die Canal Grande van Venesië.
Nog ’n eienaardigheid is die gondel se swart “vere”. Allerhande redes is al gegee om te verduidelik waarom hierdie bote swart is. Volgens een was die spoggerigheid, kleure en luuksheid van die gondels gedurende die 16de en 17de eeu so oordadig dat die Venesiese senaat, in ’n poging om matigheid aan te moedig, die eienaars van gondels wat te vertonerig was, beboet het. Maar baie het verkies om die boetes te betaal eerder as om hulle versierings prys te gee. As gevolg daarvan het ’n magistraat beveel dat alle gondels swart geverf moet word. Nog ’n verduideliking is dat swart as ’n teken van rou gedien het vir die duisende wat weens die Swart Dood gesterf het. Nog ander sê dat die swart kleur van die gondels die sneeuwit velkleur van Venesiese edelvroue die beste beklemtoon het. Die waarheid is veel eenvoudiger. Die swart kleur het, ten minste aanvanklik, gekom van die pik wat gebruik is om die gondels waterdig te maak.
Nadat jy rustig op die rug van ’n swart swaan oor stille waters gevaar het, keer jy terug na die trappies van die kaai langs die kanaal waar jou reis begin het. Jy hou die gondel dop terwyl dit wegvaar en wonder dalk vir ’n oomblik of die swaan sy lang nek sal terugbuig en ’n paar vere sal platstryk.
[Prent op bladsy 24]
Die raam van die gondel is asimmetries
[Prent op bladsy 25]
Die kenmerkende voorstewe
[Prent op bladsy 25]
Roberto, ’n gondelier op die kanale van Venesië
[Foto-erkenning op bladsy 25]
© Medioimages