Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/22 bl. 16-19
  • Venesië—“Stad in die see”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Venesië—“Stad in die see”
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onherbergsame terrein
  • Die geboorte en opkoms van ’n republiek
  • “Koningin van die Middellandse See”
  • ’n Droomagtige stad
  • Die stryd om voortbestaan duur voort
  • ’n Besoek aan die glaseiland
    Ontwaak!—2004
  • ’n “Swart swaan” op die kanale van Venesië
    Ontwaak!—2007
  • Die vergete glorie van die Bisantynse Ryk
    Ontwaak!—2001
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/22 bl. 16-19

Venesië—“Stad in die see”

Deur Ontwaak!-medewerker in Italië

“Daar is ’n glorieryke stad in die see. Die see is in die breë en smal strate, dit daal en dit styg; en die seegras kleef aan die marmer van sy paleise.”—Samuel Rogers, Engelse digter, 1822.

DIE “glorieryke stad” is Venesië. As eertydse hoofstad van ’n groot republiek kon Venesië spog dat dit eeue lank geheers het oor ’n groot ryk wat oor land en see gestrek het. Hoe en waarom is hierdie stad “in die see” gebou? Wat het dit ’n glorieryke stad gemaak? Hoe het daardie ryk ineengestort, en wat bly vandag van Venesië se luister oor?

’n Onherbergsame terrein

Venesië, wat in ’n strandmeer aan die noordwestekant van die Adriatiese See geleë is, strek oor 118 eilande. Riviere wat daar naby in die see vloei, set groot hoeveelhede slyk in die vlak kuswaters af. Hier het die werking van getye en strome gelei tot die formasie van ’n reeks sandbanke wat ’n kalm strandmeer, ongeveer 51 kilometer lank en tot 14 kilometer breed, vorm. Drie smal openinge na die see toe, laat getye wat een meter in hoogte verskil, sowel as bote deur. “Eeue lank”, sê een bron, “was die strandmeer die eindpunt van druk handelsverkeer wat in die Adriatiese See opgevaar het of langs riviere of karavaanroetes van Sentraal- of Noord-Europa af gekom het.”

Geleerdes glo dat die stad Venesië tussen die vyfde en die sewende eeu G.J. ontstaan het, toe barbare vanuit die noorde die nedersettings op die vasteland herhaaldelik aangeval en dit afgebrand en geplunder het. Die mense het voor die plunderaars gevlug en baie het op die minder toeganklike maar veiliger eilande in die strandmeer skuiling gesoek.

Antieke dokumente toon dat die eerste konstruksies op ’n fondament van pale gebou is wat in die modder ingedryf en met dun takkies of riete deurvleg is. Later het die Venesiërs met klip op ’n fondament van duisende heipale van hout gebou. Die strandmeereilande van Rialto, wat die middestad sou word, was dikwels moerasagtig en nie stabiel of groot genoeg om ’n groot instroming van setlaars te huisves nie. Die eilande moes drooggelê en deur primitiewe grondherwinningsmetodes vergroot word. Die inwoners het dus kanale vir hulle bote uitgegrawe en die eilande versterk om beter bouterreine te kan hê. Kanale, wat deur brûe oorspan is om voetgangerverkeer vanaf een eiland na ’n ander te vergemaklik, het hulle strate geword.

Die geboorte en opkoms van ’n republiek

Ná die ondergang van die Romeinse Ryk in die weste, het die strandmeereilande onder die beheer van die Bisantynse Ryk gekom, waarvan die hoofstad Konstantinopel, nou Istanboel, was. Die strandmeergemeenskappe het egter in opstand gekom en hulle onafhanklikheid opgeëis. Venesië het gevolglik in ’n situasie beland wat beskryf is as die ongewone “posisie van [’n] klein onafhanklike . . . hertogdom in territoriale afsondering tussen twee groot ryke”, die Franke en die Bisantyne. Daardie unieke situasie het die stad in staat gestel om as ’n groot “handelsbemiddelaar” te ontwikkel en te floreer.

In die daaropvolgende eeue het Venesië teen ’n aantal vyandige magte in die Middellandse See-gebied oorlog gevoer, insluitende die Sarasene, die Normandiërs en die Bisantyne. Venesië het uiteindelik magtiger as enige van hierdie vyande geword, maar nie voordat hy sake so bewerk het dat die vierde kruistog in 1204 sy gedugste mededinger, Konstantinopel, vernietig het nie. Venesië het baie handelsposte gehad—langs die Swart See en die Egeïese See sowel as in Griekeland, Konstantinopel, Sirië, Palestina, Siprus en Kreta. Nou het hy van die ondergang van die Bisantynse Ryk gebruik gemaak om ’n aantal daarvan in kolonies te verander wat onder sy beheer was.

“Koningin van die Middellandse See”

Reeds in die 12de eeu het Venesië se ontsaglike skeepsbouwerwe elke paar uur ’n ten volle toegeruste galei vervaardig. Plaaslike nywerhede het glas en duur weefstowwe—kant, brokaat, damas en fluweel—vervaardig. Venesiaanse en buitelandse handelaars het wapens, perde, amber, pelse, hout, wol, heuning, was en slawe uit die weste gebring. Aan die ander kant is goud, silwer, sy, speserye, katoen, kleurstowwe, ivoor, parfuum en ’n menigte ander goedere uit die Moslem-Levant ingevoer. Die stadsamptenare het seker gemaak dat belasting op al die goedere gehef is wat by die markte aangekom het of dit verlaat het.

Aangesien beroemde argitekte en kunstenaars—soos Palladio, Titiaan en Tintoretto—Venesië versier het, is dit la serenissima, “die rustigste” of “voortreflikste”, genoem. Die stad kon dus tereg as “koningin van die Middellandse See, . . . die rykste en die voorspoedigste kommersiële sentrum van die beskaafde wêreld”, beskryf word. Dit was eeue lank die geval, en sy mag het eers gedurende die 16de eeu begin afneem toe die hoofhandelsroetes na die Atlantiese Oseaan en die Nuwe Wêreld verskuif het.

Venesië se kolonies, wat regdeur die Middellandse See-gebied versprei was, het nooit geografiese eenheid, eenheid van regering of doeltreffende kohesie geniet nie. Dit was dus onvermydelik dat hulle die kolonies sou verloor. Aangrensende magte het Venesië se besittings een vir een afgeneem totdat Napoleon I die strandmeerstad uiteindelik in 1797 verower het en dit aan Oostenryk afgestaan het. In 1866 het Venesië deel van Italië geword.

’n Droomagtige stad

Vir baie is ’n besoek aan Venesië amper soos om twee- of driehonderd jaar in tyd terug te gaan. Die stad het ’n unieke atmosfeer.

Een van sy kenmerke is die rustigheid. In die meeste gevalle word voetgangerverkeer in smal stegies van die waterverkeer geskei, behalwe waar paadjies langs kanale loop of hulle met karaktervolle steenbrûe oorsteek. Die enigste voertuie is bote omdat die strate met water “geplavei” is. Die stad is buitengewoon ryk aan skilderagtige tonele. Kunstenaars word geïnspireer deur die San Marco-plein met sy basiliek, kloktoring en pragtige waterfront, waar die son op die groen strandmeer skitter.

Bedrywige opelugkafees in die hoofplein lok toeriste sowel as inwoners. Hier kan jy ’n drankie of ’n gelato (roomys) geniet, terwyl jy na die musiek van klein klassieke orkeste luister. Terwyl jy die verbygangers daar sit en dophou en die pragtige argitektuur om jou bewonder, sonder ’n motor in sig, voel dit werklik asof jy in tyd teruggegaan het.

Vir diegene wat na kunsskatte op soek is, het die stad ’n spesiale aantrekkingskrag. Sy talryke paleise, museums en kerke vertoon die skilderye van talle beroemde kunstenaars. Maar sommige besoekers is tevrede om net deur die stegies te dwaal en hulle oor die besienswaardighede te verwonder. ’n Menigte winkels bied toeriste items aan waarvoor die stad beroemd is—kant en borduurwerk van die strandmeereiland Burano en skitterende kristal en glaswerk van Murano. ’n Kort rit in ’n vaporetto, of motorboot, wat al klaar ’n unieke ondervinding is, sal jou na enige van hierdie eilande toe neem, waar jy kan sien hoe hierdie produkte gemaak word.

Indrukwekkende paleise met gespitste, smal boë getuig van die Oosterse invloed van vroeër dae. Die welbekende Rialto-brug oor die Canal Grande—die stad se hoofverkeersweg—en die blink, swart gondels wat stilletjies onder die brug deur vaar ding mee om die besoekers se aandag.

Die stryd om voortbestaan duur voort

Twee eeue na die ondergang van die “voortreflikste Republiek” veg Venesië nog steeds om voortbestaan, maar in ’n ander soort stryd. Die aantal inwoners in die ou stadsdeel het afgeneem van 175 000 in 1951 tot ’n skrale 64 000 in 2003 weens eiendomspryse wat die hoogte in geskiet het, ’n tekort aan werk en min moderne fasiliteite. Komplekse maatskaplike en ekonomiese probleme moet opgelos word, soos hoe die stad, wat besig is om te vergaan, herstel moet word—en of dit hoegenaamd gedoen moet word.

In die 1920’s is ’n nuwe nywerheidsgebied op die vasteland ontwikkel met die hoop dat dit die plaaslike ekonomie ’n hupstoot sou gee, en ’n diep kanaal is oor die strandmeer uitgebagger om olietenkskepe in staat te stel om die raffinaderye te bereik. Die nywerhede het werksgeleenthede gebied, maar dit is ook blameer vir besoedeling en die vernielende getye wat acqua alta (hoë water) genoem word en groot dele van die historiese middestad al hoe meer dikwels oorstroom.

Dit is al lank bekend dat die omgewing van die strandmeer en die beweging van die water ’n delikate, natuurlike funksie verrig wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van die stad. Reeds in 1324 het die Venesiërs reusagtige ingenieurswerke aangepak om riviere af te keer wat die strandmeer sou laat toeslik. In die 18de eeu het hulle seewerings gebou om te verhoed dat die water van die Adriatiese See die strandmeer op ’n vernietigende wyse binnestroom.

Die situasie lyk nou meer kritiek as ooit. Daar word gehoop dat die insakkingsprobleem, wat ontstaan het omdat ondergrondse waterbronne vir industriële doeleindes leeggemaak word, nou heeltemal tot ’n einde gebring is, maar seevlakke is wêreldwyd besig om te styg. Die oppervlakte van die strandmeer het bowendien kleiner geword weens drooglegging, en die ewewig tussen die land en die water is versteur. Die hoë water was lank ’n bedreiging, maar dit is nóú erger as ooit. Aan die begin van die 20ste eeu het die San Marco-plein omtrent vyf tot sewe keer per jaar oorstroom. ’n Eeu later het dit in net een jaar 80 keer oorstroom.

Die probleme wat Venesië se uitsonderlike geskiedkundige en kunserfenis in die gesig staar, het internasionale kommer gewek. Spesiale wette is aangeneem met die doel om die stad teen die hoë water te beskerm en die omgewing in ag te neem sonder om die werking van sy hawe te belemmer en die daaglikse lewe van sy bevolking te benadeel. Die beste manier om dit te doen, is nog nie gevind nie.

Daar word gewerk om die walle van die kanale hoër te bou en om geplaveide dele ondeurdringbaar te maak vir water wat uit die grond boontoe syfer sowel as om te keer dat riool tydens acqua alta terugstroom. Die mees omstrede maatreël is die voorgenome oprigting van ’n stelsel van mobiele versperrings wat oor die ingange van die strandmeer sal strek en na die oppervlak sal styg wanneer hoë water dreig.

Dit is ’n veeleisende taak. Die “glorieryke stad in die see” getuig van ’n kleurryke geskiedenis, maar soos verskillende skrywers opgemerk het, loop dit gevaar om “deur buitestanders in ’n museum [verander te word] wat sal vereis dat die plaaslike inwoners opofferings moet maak of die stad moet verlaat”. Venesië worstel al lank met ’n moeilike omgewing, maar nóú sal “fisiese verdediging nutteloos wees tensy die stad ook op maatskaplike en ekonomiese gebied versterk word en weer bewoon, lewend en bedrywig word”.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Venesië

[Prent op bladsy 16]

Die Rialto-brug oor die Canal Grande

[Prent op bladsy 16, 17]

San Giorgio Maggiore

[Prent op bladsy 17]

Santa Maria della Salute

[Prent op bladsy 18]

Restaurante langs die Canal Grande

[Prent op bladsy 19]

Vloed op die San Marco-plein

[Erkenning]

Lepetit Christophe/ GAMMA

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.; agtergrondfoto: © Medioimages

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel