Brittanje se kanale—nog steeds fassinerend
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
Teen die vroeë 19de eeu het kanale van sowat 6 000 kilometer Engeland, Skotland en Wallis deurkruis. Waarom is dit gebou, en wie gebruik dit in die 21ste eeu?
BRITTANJE se 18de-eeuse industriële revolusie het ’n goedkoop en vinnige vervoerstelsel vir grondstowwe en voltooide produkte genoodsaak. Voor daardie tyd is spanne perde gewoonlik gebruik om vragte te dra of waens te trek oor paaie wat in die winter so uitgery en modderig geraak het dat hulle onbegaanbaar was. Aan die ander kant kon een perd ’n kanaalboot met ’n vrag van tot 30 ton maklik en vinnig sleep.
In 1761 het die Hertog van Bridgewater ’n kanaal laat bou om steenkool van sy myne af te vervoer na kopers in Manchester, 16 kilometer daarvandaan. Dit het nie net die Hertog finansieel bevoordeel nie, maar ook die koste van Manchester se steenkool gehalveer. Teen 1790 het ’n meer ambisieuse projek, die Grand Cross-kanaalstelsel, uiteindelik vier belangrike riviere aaneengeskakel en Engeland se industriële hartland met seehawens verbind. Brittanje se era van kanaalvaart het begin.
Die bou en gebruik daarvan
Bekwame ingenieurs, onder andere James Brindley, ’n selfopgeleide man wat al sy werk sonder enige geskrewe berekeninge of sketse gedoen het, het vindingryke boumetodes ontwikkel om water oor kilometers ongelyke terrein te kanaliseer. Die gevolglike akwadukte, tonnels, sluise en brûe wat deur spanne arbeiders bekend as navigators, of navvies, gebou is, word nog steeds as ’n merkwaardige prestasie beskou.
“Smalbote”, oop houtvaartuie wat sowat 20 meter lank en 2 meter breed is, is gebou vir die vervoer van massavrag soos steenkool, kalk, kalksteen, porseleinklei, ystererts, bakstene en meel. Hierdie bote is deur perde getrek wat op sleeppaaie op die kanaaloewer geloop het. Ander bote het ’n sneldiens gelewer vir dringende of bederfbare vragte en het ononderbroke gevaar, terwyl hulle bemanning regdeur die nag gewerk het.
Op sommige kanale het spanne perde, wat met gereelde tussenposes vervang is, vaartbelynde bote wat tot 120 passasiers vervoer het, teen ’n gemiddelde spoed van 15 kilometer per uur getrek. Soos die sneldiens-bote het hulle voorkeur bo ander vaartuie geniet en, op die Bridgewater-kanaal, het hulle ’n groot lem aan die boeg gehad om deur die sleeptou te sny van enige vaartuig wat in hulle pad gekom het! Met die koms van die kanale het gewone mense vir die eerste keer die geleentheid gehad om goedkoop en gerieflik oor lang afstande te reis.
Die lewe op ’n smalboot
Die lewe op die kanale was vir die bootmense moeilik. Hulle moes hard werk, dikwels onder gevaarlike toestande. Aangesien hulle altyd aan die beweeg was, was daar min geleentheid vir opvoeding en het hulle al hoe meer afgesonderd geraak van die mense om hulle.
Hierdie smalboot-gemeenskap het ’n eiesoortige volkskuns ontwikkel en het hulle vaartuie met helderkleurige landskaptonele, blommotiewe en geometriese patrone versier, wat die buitekant van die boot bedek het en tot binne-in die kajuit, in die agterstewe, herhaal is. Hierdie woonplek, wat maar drie meter by twee meter was, het die skipper, sy vrou en hulle kinders gehuisves. Maar die bootmense het vergoed vir hulle gebrek aan ruimte deur opslaanbeddens en sluitkaste op vindingryke wyse te versteek. Gehekelde kant is oor die rakke gehang, en om die stoof het mooi porselein en blink koperornamente die lig weerkaats. Dit alles het ’n atmosfeer van geselligheid en warmte geskep. Die skipper se hardwerkende vrou het dit reggekry om haar gesin en hulle boot silwerskoon te hou, ondanks al haar verpligtinge en die vuil vrag wat hulle so dikwels vervoer het. Selfs die touwerk wat as versiering om die helmstok geplaas is, is met trots geskrop totdat dit skitterwit was.
Die agteruitgang en herlewing van die kanale
In 1825, toe die netwerk kanale byna voltooi was, het George Stephenson die Stockton-en-Darlington-spoorweg geopen, een van die eerste openbare spoorweë wat van stoomlokomotiewe gebruik gemaak het. Binne 20 jaar het spoorweë handel by die kanale oorgeneem, wat toe in onbruik geraak het en agteruitgegaan het. Party is selfs deur spoorwegmaatskappye gekoop om kompetisie uit te skakel. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die kanale verder agteruitgegaan namate nuwe en beter paaie gebou is. Selfs optimiste het getwyfel of die kanale veel langer gebruik sou word.
Maar danksy die werk van individue en groepe gedurende die afgelope 50 jaar was dit nie die geval nie. Hoewel party kanaalbote nog steeds vragte vervoer, is ander in permanente wonings of vakansiebote omskep. Dit is nou moontlik om kanale van meer as 3 000 kilometer te verken, wat deur van Brittanje se mooiste en mees ongerepte natuurskoon loop. Smalboot-geesdriftiges het ook ou tradisies laat herleef, en gereelde feeste op die waterweë gee dit groter publisiteit. Ja, danksy die gewildheid van hierdie helderversierde ontspanningsbote is daar nou meer smalbote op die kanale as tydens die bloeityd van die handelsverkeer, en kanale word tans teen dieselfde tempo herstel as wat hulle 200 jaar gelede gebou is.
Tog is net ’n klein persentasie van diegene wat vandag die kanale geniet, bootvaarders. Waarom? Omdat die opknapping van die waterweë ’n netwerk “lineêre parke” geskep het. Dit bied toegang tot ontspanningsterreine met voorheen onbekende uitsigte oor dorpies en tot landelike gebiede vir stappers, fietsryers en vissermanne, wat almal van die sleeppaaie gebruik maak. Reservoirs wat gebou is om kanaalwatervlakke te reguleer, het belangrike habitats vir natuurlewe geword, en die kanale self onderhou ’n wye verskeidenheid plant-, voël- en dierelewe.
Die bou van Brittanje se kanale het ’n dramatiese era van verandering ingelui—maar een met ’n ironiese nadraai. Dieselfde kanale bied nou ’n manier om van die druk van die moderne wêreld af weg te kom—’n wêreld wat hulle help skep het.
[Venster/Prent op bladsy 14]
KANAALTONNELS
Baie min tonnels het ’n sleeppad. Voor die koms van selfaangedrewe bote was die enigste manier om smalbote deur ’n tonnel te kry die gevaarlike gebruik bekend as legging. Twee planke is aan weerskante van die boot se boeg vasgemaak. Mans het op hulle rug op die planke gelê, wat hulle met hulle hande vasgegryp het, en het die boot deur die tonnel gestoot deur met hulle voete teen die wand te trap. In die donkerte, wat deur net ’n enkele kers verlig is, kon ’n legger maklik mistrap en in die water val, en soms tussen die romp en die tonnelwand verbrysel word. Die tonnels in Brittanje se netwerk kanale was vroeër altesaam 68 kilometer lank, en vir die langer tonnels is professionele leggers in diens geneem. Die langste tonnel, wat nou in Standedge, Yorkshire, heropen is, is vyf kilometer lank.
[Erkenning]
Courtesy of British Waterways
[Venster/Prente op bladsy 15]
KANAALSLUISE EN ’N VINDINGRYKE BOOTHYSER
Wat gebeur wanneer ’n kanaal by ’n opdraand kom, aangesien water nie opwaarts kan vloei nie? Die water kan ’n kontoerlyn volg om op dieselfde vlak te bly, wat die roete langer sal maak, of dit kan met ’n tonnel langs deur die versperring vloei. ’n Derde moontlikheid is om die waterweg deur middel van ’n sluis te lig. Dit bestaan uit ’n sluiskamer wat twee watervlakke verbind, met ’n sluisdeur aan elke kant. Nadat ’n boot ’n sluiskamer binnegegaan het, word albei sluisdeure toegemaak. Dan word meer water in die sluiskamer ingelaat om die boot tot op sy volgende vlak te lig of dit word leeggemaak om die boot te laat sak—afhangende van wat nodig is.
Gestel ou sluise kan nie herstel word nie? Dit was die probleem in Skotland, waar ’n groot projek twee kanale tussen Glasgow en Edinburgh wat lank in onbruik was, verbind het. Dit was onprakties om die sluistrap van 11 sluise by Falkirk te herbou, wat vroeër die Union-kanaal met die wêreld se oudste see-tot-see-kanaal, die Forth-en-Clyde-kanaal, verbind het. Die vindingryke oplossing was die Falkirk-wiel met sy unieke ontwerp, ’n draaiende boothyser met ’n deursnee van 35 meter. Hierdie wiel kan binne net 15 minute agt vaartuie, vier op ’n slag in twee teenoorgestelde hysers, van een vlak na die ander verskuif.
Die wiel, wat deur The Times van Londen beskryf is as “’n verstommende ingenieursprestasie”, word in ’n groot ronde poel weerkaats, wat vasmeerplek vir meer as 20 bote het.
[Erkenning]
Top right: Courtesy of British Waterways
[Venster/Prente op bladsy 16, 17]
WAAROM ONS DIT GENIET OM OP DIE KANALE TE VAAR
In onlangse jare het ek en my vrou, senior burgers, rustige vakansies geniet deur met ’n boot op die kanale te vaar. Waarom rustig? Eerstens is ons weg van al die swaar padverkeer en die dolle gejaag. In ’n smalboot kan jy teen ’n topspoed van vyf kilometer per uur vaar. Waarom teen so ’n stadige spoed? Om te keer dat dit golwe maak wat die oewers van die kanaal kan beskadig. Gevolglik sal mense ons dikwels verbysteek wanneer hulle met hulle honde langs die ou sleeppaaie gaan stap!
Nog ’n voordeel van die stadige pas is dat ons tyd het om die natuurskoon te geniet en selfs verbygangers te groet. En die natuurskoon is soms manjifiek. Ons huur gewoonlik ons boot in Suid-Wallis op die Monmouthshire-en-Brecon-kanaal. Dit strek ongeveer 50 kilometer van die grens van Wallis tot by die Brecon-berge, wat meer as 886 meter hoog is. Elke nou en dan is daar ’n bietjie opwinding wanneer ons die sluise bereik en die boot na ’n ander vlak gelig of laat sak moet word.—Sien die venster op bladsy 15.
Die bote is ten volle toegerus en uiters gerieflik. Party het selfs twee dubbelkamers, elk met sy eie stort en toilet. Daar is ook sentrale verhitting indien die aande koel raak. Ons kook gewoonlik self, maar as ons lus voel vir ’n verandering, kan ons stop en ’n smaaklike ete by een van die eetplekke op die kanaaloewer geniet.
Dit is alles baie rustig, veral vroeg in die oggend wanneer die kanaal soos ’n spieël lyk en die bome en heuwels daarin weerkaats word. Alles is so stil dat die voëls se sang duidelik gehoor kan word. Op die oewers hou reiers geluidloos wag terwyl hulle stadig en onverstoord voor ons uit beweeg.—Bygedra.
[Erkennings]
Courtesy of British Waterways
Regs bo: By kind permission of Chris & Stelle on Belle (www.railwaybraking.com/belle)
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Courtesy of British Waterways