Toledo—’n fassinerende mengsel van Middeleeuse kulture
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
IN DIE middel van die Iberiese skiereiland staan ’n granietheuwel wat aan drie kante deur die Taagrivier begrens word. Oor die eeue heen het die rivier kranse uitgesny wat die heuwel se flanke beskerm. Op hierdie strategiese ligging is Toledo gevestig, ’n stad wat sinoniem geword het met Spanje en Spaanse kultuur.
Vandag voer die nou, kronkelende strate van ou Toledo die besoeker terug na die Middeleeue. Die stad se poorte, kastele en brûe het nog almal hulle middeleeuse styl en lewer stille getuienis van die dae toe Toledo een van die belangrikste stede in Europa was.
Maar Toledo is nie ’n tipiese Europese stad nie. Selfs die treinstasie het ’n Oosterse atmosfeer. ’n Nadere ondersoek van Toledo se monumente en kunswerk onthul ’n stad waarin die vaardighede van etlike beskawings wat oor die eeue heen hier gefloreer het, opgeneem is. Ongeveer 700 jaar gelede, gedurende die goue eeu van Toledo, het die stad werklik ’n smeltkroes van middeleeuse kulture geword.
Verskillende kulture
Voordat die Romeine na Spanje gekom het, het Keltiese en Iberiese volke alreeds ’n dorp op hierdie strategiese ligging gebou. Die Romeine het dit Toletum genoem (na tollitum, wat “hooggeleë” beteken) en het dit een van hulle provinsiale hoofstede gemaak. Die Romeinse geskiedkundige Livius het Toledo beskryf as “’n klein maar versterkte stad danksy sy ligging”. Toe die Wes-Gote Spanje ná die val van die Romeinse Ryk verower het, het hulle Toledo as hulle hoofstad gekies. Dit is hier waar koning Reccared Arianisme in die sesde eeu verwerp het, ’n stap wat die weg gebaan het vir Spanje om ’n sentrum van ortodokse Katolisisme te word en vir Toledo om die setel van die vernaamste aartsbiskop daarvan te word.
Die godsdienssituasie het verander toe Toledo deel geword het van die Moslemkalifaat. Die nou strate van die ou stad dateer uit hierdie tydperk, wat van die 8ste tot die 11de eeu geduur het. Moslemverdraagsaamheid het die naasbestaan van Christelike, Joodse en Moorse kulture in Toledo toegelaat. Uiteindelik, in 1085, het koning Alfons VI (’n Katolieke koning) die stad verower. Ondanks dié verandering het hierdie kulture etlike eeue lank saam voortbestaan.
Baie van Toledo se indrukwekkendste monumente dateer uit die Middeleeue. Katolieke heersers het die stad hulle hoofstad gemaak, Joodse burgers het hulle vaardighede in handewerk en die handel gebruik en Moslemvakmanne het hulle talent in die boukuns bygedra. Geleerdes van die drie verskillende gelowe het saam in die Skool van Vertalers gewerk. Gedurende die 12de en 13de eeu het hulle ’n groot aantal eertydse literêre werke in Latyn en Spaans vertaal. Die Arabiese beskawing se groot skat van wetenskaplike kennis is ook danksy hierdie vertalers aan die Weste beskikbaar gestel.
Godsdiensverdraagsaamheid het in die 14de eeu tot ’n einde gekom toe duisende Joodse burgers in godsdienspogroms omgekom het. Teen die tyd dat Columbus Amerika ontdek het, het die Spaanse Inkwisisie ’n tribunaal in Toledo opgestel, en Jode sowel as Moslems moes kies tussen gedwonge bekering en ballingskap.
Monumente vir vergange glorie
Vandag is daar meer as honderd monumente in die middestad van Toledo. Weens hierdie geskiedkundige rykdom het die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur dit tot ’n Wêrelderfenisstad verklaar. Twee van die indrukwekkendste middeleeuse strukture is die brûe oor die Taagrivier, waarvan een toegang tot die stad van die oostekant af bied en die ander van die westekant af. En min besoekers sal die yslike Puerta Nueva de Bisagra miskyk, die poort wat toegang tot die ou ommuurde stad verleen.
Van ’n afstand af oorheers twee monumente die stadsprofiel van Toledo. ’n Enorme vierkantige vesting wat die Alkazar genoem word, staan in die ooste. Dit was al deur die eeue heen ’n goewerneurswoning vir Romeinse pretors, ’n paleis vir Wes-Gotiese konings, ’n Arabiese vesting en ’n woning vir Spaanse konings. Dit bevat nou die Militêre Museum en ’n groot biblioteek. Maar aangesien Toledo bowenal ’n godsdiensstad is, oorheers die yslike Gotiese katedraal die middestad.—Sien die venster op bladsy 17.
Die katedraal en ander kerke in Toledo bevat skilderye van ’n beroemde kunstenaar wat hom in Toledo gevestig het. Hy staan bekend as El Greco, wat “Die Griek” beteken. Sy volle naam is Doménikos Theotokópoulos. In die gebied waar hy gewoon het in die ou Jodebuurt, is daar nou ’n museum waarin ’n aantal van sy skilderye uitgestal word.
Toledo lyk moontlik die indrukwekkendste wanneer ’n mens dit van die heuwels af sien wat van die suide op die stad uitkyk. Maar daar is geen beter manier om die bekoring van Toledo te ervaar as om deur sy nou strate te wandel nie. Die besoeker sal dalk tydelik verdwaal, maar hy sal gou gefassineer word deur die interessante stegies, ou geboue, sierlike balkonne en aanloklike soewenierwinkels.
Hoewel dit lyk asof die tyd in hierdie ou stad stilgestaan het, moet die toeris Toledo uiteindelik verlaat. Die beste plek om dit te doen, is op die suidelike oewer van die Taagrivier. Aan die einde van die dag werp die son ’n warm gloed oor die stad en herinner die stad se imponerende monumente ’n mens aan sy goue eeu.
[Venster/Prente op bladsy 17]
DIE DRIE KULTURE VAN TOLEDO
Gedurende die Middeleeue is Toledo in drie verskillende buurte verdeel, waar Katolieke, Jode en Moslems volgens hulle eie wette en gebruike gelewe het. Sommige van hulle eertydse plekke van aanbidding het nou vername toeriste-aantreklikhede geword.
➤ In ’n moskee uit die tiende eeu, wat nou as Cristo de la Luz bekend staan, sien ’n mens die kunstige steenwerk waarvoor Moslemvakmanne so bekend is. Dit staan in die Medina-deel van die stad, waar ryk Moslems destyds gewoon het.
➤ Twee Middeleeuse sinagoges, wat later in Katolieke kerke omskep is, staan nog en lewer bewys van Toledo se groot Joodse gemeenskap, wat op ’n tyd ’n derde van die stad se bevolking uitgemaak het. Santa María la Blanca is die oudste en, soos in die moskee hierbo, is daar talle ryklik versierde kolomme in hierdie sinagoge. In ’n groter sinagoge, El Tránsito (regs), is daar nou ’n Sefardiese museum van die Joodse kultuur.
➤ In die 13de eeu is daar begin met die bou van Spanje se grootste Gotiese katedraal, wat meer as 200 jaar geneem het om te voltooi.
[Venster/Prente op bladsy 18]
SPESIALE SWAARDE EN SOET MARSEPEIN
Die stad se ystersmede maak al die afgelope tweeduisend jaar swaarde, en die naam Toledo het sinoniem geword met goeie staal. Hannibal se leërs sowel as die Romeinse legioene het hierdie swaarde gebruik, wat langs die Taagrivier gesmee is. Eeue later het Moslemvakmanne damassering gebruik om hulle Toledaanse swaarde en wapenrusting te versier. Die replika van ’n Toledaanse swaard (links) is ’n voorbeeld hiervan. (Sien die artikel “Patrone van goud op staal”, in die Ontwaak! van 22 Januarie 2005.) Deesdae het die meeste van die stad se soewenierwinkels ’n groot verskeidenheid swaarde en natuurlik harnasse. Hierdie swaarde is nie net versamelstukke nie, en sal waarskynlik eerder in ’n rolprent gesien word as op ’n slagveld.
Nog ’n tradisie in Toledo is die maak van marsepein, waarvan die oorsprong teruggevoer kan word tot die Arabiese verowering van die stad. Spanje het alreeds uitgestrekte amandelboorde gehad toe die Moslems daar aangekom het, maar suiker—die ander noodsaaklike bestanddeel—het ontbreek. Binne 50 jaar ná die Moslemverowering het suikerrietplantasies in die suide van Spanje opgeskiet. Teen die 11de eeu het marsepein ’n spesialiteit van Toledo geword, en sedertdien word dit terdeë deur fynproewers geniet. Daar is nou winkels in Toledo wat net marsepein verkoop, dikwels in die vorm van klein beeldjies. ’n Mens kan Toledo nie besoek sonder om hierdie heerlike happies te proe nie.
[Erkenning]
Agustín Sancho
[Kaart op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PORTUGAL
SPANJE
Madrid
Toledo
[Prent op bladsy 18]
San Martin-brug