Stap 6
Erken jou kind se gevoelens
Waarom is hierdie stap nodig? Iets wat kinders nodig het en graag wil hê, is dat die belangrikste mense in hulle lewe—hulle ouers—moet weet hoe hulle voel. As kinders alewig gekritiseer word wanneer hulle hulle gevoelens uitdruk, is die kanse kleiner dat hulle vryelik met hulle ouers sal praat, en die kinders sal dalk selfs twyfel aan hulle vermoë om hulle eie gevoelens te hê of vir hulleself te dink.
Die uitdaging: Kinders is geneig om hulle gedagtes en gevoelens in oordrewe terme uit te druk. Ja, party dinge wat kinders sê, sal ouers dalk ontstel. ’n Gefrustreerde kind kan byvoorbeeld sê: “Ek haat my lewe.”a ’n Ouer se instinktiewe antwoord hierop is moontlik: “Dis nie waar nie!” Ouers is dalk bekommerd dat dit sal lyk asof hulle die kind se negatiewe gevoelens of gedagtes vergoelik as hulle dit erken.
Die oplossing: Pas die Bybel se raad toe om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Let op dat Jehovah God baie van sy getroue knegte se negatiewe gevoelens erken het deur dit in die Bybel te laat opteken (Genesis 27:46; Psalm 73:12, 13). Job het byvoorbeeld gesê dat hy wou sterf toe hy uiterste beproewinge deurgemaak het.—Job 14:13.
Party van Job se gedagtes en gevoelens moes natuurlik reggestel word. Maar Jehovah het Job met waardigheid behandel deur geduldig toe te laat dat hy sy hart uitstort, en Hy het nie Job se gevoelens ontken of gekeer dat hy daaroor praat nie. Eers daarna het Jehovah hom liefdevol tereggewys. Een Christenvader het die volgende hieroor gesê: “Aangesien Jehovah toelaat dat ek my hart voor hom uitstort in gebed, dink ek dat dit niks minder as reg is dat ek my kinders toelaat om hulle positiewe en negatiewe gevoelens teenoor my uit te stort nie.”
Die volgende keer dat jy in die versoeking kom om vir jou kind te sê: “Jy voel nie regtig so nie” of “Jy dink tog nie werklik so nie?”, onthou Jesus se bekende reël: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Stel jou byvoorbeeld voor dat jy sleg behandel is by die werk of dat jy die een of ander teleurstelling ondervind het, moontlik weens jou eie tekortkominge. Jy vertel ’n goeie vriend van jou frustrasie, en sê dat jou werk jou onderkry. Wat sou jy wou hê moet jou vriend doen? Moet hy vir jou sê dat jy nie werklik so voel nie en jou dadelik daarop wys dat die probleem in elk geval jou eie skuld is? Of sou jy verkies dat hy sê: “Dit moes moeilik gewees het. Jy het ’n slegte dag gehad”?
Die kanse is baie groter dat kinders sowel as volwassenes raad sal aanvaar as hulle voel dat die een wat die raad gee, hulle en die probleme waarmee hulle te kampe het, werklik verstaan. “Die hart van die wyse laat sy mond insig toon, en by sy lippe voeg dit oorredingskrag”, sê God se Woord.—Spreuke 16:23.
Hoe kan jy verseker dat enige raad wat jy gee, ernstig opgeneem word?
[Voetnoot]
a Neem dit ernstig op as jou kinders enigiets oor selfmoord sê.
[Lokteks op bladsy 8]
“Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant.”