Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/07 bl. 19-23
  • My liefde vir musiek, die lewe en die Bybel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My liefde vir musiek, die lewe en die Bybel
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek verloor my sig
  • My eie huis
  • ’n Fluitorkes
  • Ontdekkings en onsekerhede
  • Groot veranderinge
  • My soeke na die waarheid
  • Groter vasbeslotenheid
  • Die lig van begrip
  • Verenig in God se diens
  • Die verbasende grasorkeste van die Salomon-eilande
    Ontwaak!—2002
  • Nuttig en gelukkig al is ek blind
    Ontwaak!—1999
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ’n Klassieke pianis verduidelik waarom hy aan God glo
    Ontwaak!—2013
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 8/07 bl. 19-23

My liefde vir musiek, die lewe en die Bybel

Soos vertel deur Boris N. Goelasjefski

Stel jou ’n blinde man in sy sestigerjare voor wat al twee ernstige hartaanvalle gehad het. Trane rol oor sy wange terwyl hy God dank dat Hy hom aan die man geopenbaar het. Dit was die situasie waarin ek my net 11 jaar gelede bevind het.

EK IS in 1930 gebore in die Oekraïnse dorp Tsiboelef, in die Tsjerkassi-streek. In 1937, gedurende een van Stalin se onderdrukkingsveldtogte, is my pa in hegtenis geneem en daaraan skuldig bevind dat hy “’n vyand van die Staat” is. Daar is beslag gelê op ons woonstel, en die meeste van ons kennisse het ons verstoot. Kort voor lank is baie van hulle ook in hegtenis geneem. Dit was ’n tyd van wydverspreide wantroue, verraad en vrees.

Twee maande nadat my pa in hegtenis geneem is, is my suster, Lena, gebore. Ek, my ma, Lena en my broer Nikolai het daardie winter in ’n klein kamertjie sonder vensters of ’n stoof gewoon. Later het ons na my oupa se huis getrek. Ek en Nikolai het na die huis omgesien, vuurmaakhout gekap en herstelwerk gedoen. Dit was vir my lekker om met my hande te werk. Ek het skoene gemaak en houtwerk gedoen. Ek was ook lief vir musiek, en daarom het ek vir my ’n balalaika uit ’n stuk laaghout gemaak en dit leer speel. Later het ek ook die kitaar en mandolien leer speel.

Ek is vroeër in die Katolieke Kerk gedoop. Maar aangesien ek nie die leerstellings of die gebruike van die kerk verstaan het nie, het ateïstiese opvattings vir my redelik geklink. Ná die Tweede Wêreldoorlog het ek by die Komsomol (’n Kommunistiese jeugorganisasie) aangesluit, en wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het ek en ander lede met gelowiges gestry en probeer bewys dat daar geen God is nie.

Ek verloor my sig

Ná Duitsland se aanval op die Sowjetunie in 1941 het die frontlyn etlike kere gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur ons dorp beweeg. Op 16 Maart 1944 is ek gedurende ’n bomaanval beseer en het ek my sig verloor. Ek het wanhopig begin voel en het in pyn verkeer.

Toe die gevegslyn weswaarts beweeg het en die Duitsers teruggedryf is, het ek soms in die tuin gaan stap en geluister na die voëls wat sing. My ma het vir my jammer gevoel en vir my vodka gegee om te drink, en die plaaslike mense het my na hulle partytjies genooi, waar ek musiek gespeel het. Ek het gerook, en ek het my verdriet in alkohol probeer verdrink. Ek het gou besef dat dít niks sou help nie.

My tante, ’n onderwyseres, het uitgevind omtrent skole vir die blindes en het my ma oorreed om my by een in te skryf. In 1946 het ek begin skoolgaan in wat nou Kamjanets-Podilskji genoem word, waar ek gretig begin studeer het. Ek het geleer om braille te lees en te tik. Ek het ook aangehou om musiek te studeer, en ek het ure lank geoefen om die konsertina te speel. Die onderhoof het my pogings opgemerk en my toegelaat om op sy trekklavier te speel. Ek het ook die klavier leer speel.

My eie huis

In 1948 het ek met een van die skoolonderwyseresse wat my met my studies gehelp het, getrou. Haar man het gedurende die oorlog gesterf, en sy moes na twee jong dogters omsien. Nadat ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek by haar huis ingetrek. Ek het my bes gedoen om ’n goeie man en vader te wees en het ’n bestaan gemaak deur musiek te speel. Toe, in 1952, het ons ’n seun gehad.

Ek het reëlings getref om vir ons gesin ’n huis te bou. Ek het ander gehuur om die fondasie en die buitemure te bou, maar ek het baie dinge self gedoen. My tassin en verbeelding het vir my blindheid vergoed. Ek het ’n stuk hout in my hande vasgehou, dit gevoel en my voorgestel hoe dit lyk. Dan kon ek houtvoorwerpe daarmee maak, insluitende houtgereedskap. Staalgereedskap het ek by ’n fabriek bestel. Ek het ’n stoof van bakstene gebou, meubels gemaak en ander take verrig.

’n Fluitorkes

Ek het verdere musikale opleiding gekry en ’n professionele musikant geword. Nadat ek verskeie musiekinstrumente leer speel het, het ek ook die fluit leer speel. Eenkeer het ek ’n klein bamboesfluitjie reggemaak. Mettertyd het ek geleer om my eie fluite te maak. Destyds het die kenners nie gedink dat enigiemand ’n fluit kan maak wat basnote sou voortbring nie, aangesien die klank te sag sou wees weens die grootte van die fluit. Daarom was daar geen fluitorkeste nie.

Ek het dit egter reggekry om ’n fluit te maak met ’n spesiale resonator wat die klank versterk het. Dit het beteken dat fluite wat lae basnote voortbring, gemaak kon word sonder om klanksterkte prys te gee. Ná verloop van tyd het ek verskillende stelle, of families, fluite begin maak wat ingewikkelde harmonieë kon voortbring.

Ek het voorheen orkeste van tradisionele musiekinstrumente saamgestel. In een van my orkeste was daar net blinde musikante. Toe het ek, in 1960, ’n orkes saamgestel wat net op fluite speel—die enigste van sy soort in die Sowjetunie en moontlik die wêreld.

Ontdekkings en onsekerhede

In 1960 het ek ’n paar musiekinstrumente deur ’n kenner laat regmaak, wat met my oor godsdiens begin gesels het. Soos gewoonlik het ek met hom gestry en beweer dat daar nie ’n God is nie. Hy het voorgestel dat ek net luister na wat hy uit die Bybel lees. Aangesien ek nog nooit die Bybel gelees het nie, het ek besluit om te luister.

Ek is diep geraak deur die verslag van Jakob wat hard gewerk het om vir sy gesin te sorg. Toe ek luister na die verslag van Josef se broers wat hom as ’n slaaf verkoop het en die beproewinge wat hy verduur het, asook hoe hy sy broers later vergewe het, het dit my laat huil (Genesis, hoofstukke 37, 39-45). Ek het ook baie gehou van die Gulde Reël, wat sê dat ’n mens ander moet behandel soos jy graag behandel wil word (Matteus 7:12). Ek het dus die Bybel leer ken en dit liefgekry.

Ek het die Baptiste se vergaderinge saam met my vriend begin bywoon, waar die “Nuwe Testament” in braille vir my gegee is, en ek het dit sorgvuldig begin lees. Maar ek het opgelet dat die Baptisteleerstellings teenstrydig was met wat die Bybel sê. Byvoorbeeld, volgens die Bybel is God en Jesus twee verskillende individue en is God groter as Jesus (Matteus 3:16, 17; Johannes 14:28; Handelinge 2:32). Maar die Baptiste hou vol dat God en Jesus gelyk is, deel van ’n Drie-eenheid. Ek het my “Nuwe Testament” etlike kere gelees deur letterlik elke woord te voel, en ek was seker dat hierdie leerstelling nie in die Bybel is nie.

In die Bybelvertaling wat ons gehad het, is die woord “hel” gebruik. Ek het my die hel probeer voorstel volgens wat die Baptiste geleer het—’n plek van ewige, vurige foltering. Dit het my vreeslik laat voel! Die Bybel sê dat God liefde is, en ek kon my nie voorstel dat hy so ’n plek sou skep nie (1 Johannes 4:8). Met verloop van tyd het ek al hoe meer oor die hel sowel as ander Baptisteleerstellings getwyfel.

Groot veranderinge

Teen 1968 was my stiefdogters reeds getroud en het hulle hulle eie kinders gehad. Op dié stadium het daar ernstige meningsverskille tussen ek en my vrou ontstaan. Wanneer ek aan daardie dae terugdink, is ek spyt dat ons nie genoeg liefde en geduld teenoor mekaar betoon het nie. Ons is geskei, en my daaropvolgende twee huwelike het ook op ’n egskeiding uitgeloop.

In 1981 het ek van Kamjanets-Podilskji, waar ek 35 jaar lank gewoon het, getrek na Josjkar-Ola, omtrent 600 kilometer oos van Moskou. Daar het ek my musiekloopbaan voortgesit. In een van my orkeste was daar 45 lede wat op ’n verskeidenheid fluite gespeel het. Dit het gewissel van ’n fluit met ’n hoë toon, wat 20 sentimeter lank en minder as een sentimeter in deursnee was, tot ’n kontrabasfluit wat meer as 3 meter lank en 20 sentimeter in deursnee was. Ons konserte is oor die radio en televisie uitgesaai, en ons het regoor die land opgetree.

In 1986 het ek in ’n kompetisie vir musiekgroepe van regoor die Sowjetunie ’n sertifikaat en medalje ontvang vir die bevordering van die fluit. Jare later is ’n dokumentêre rolprent met die titel Solo for Pipe, or the Fairy Tale of a Musician gemaak. Die koerant Mariiskaja Prawda het berig: “Boris Nikolaiewitsj Goelasjefski, wat in hierdie rolprent verskyn, het ’n spesiale sertifikaat ontvang omdat hy die eerste persoon was wat so ’n fluitorkes, die enigste van sy soort in Rusland, saamgestel het.”

My soeke na die waarheid

Toe ek na Josjkar-Ola getrek het, het ek by die biblioteek aangesluit, wat baie materiaal vir blindes gehad het. Ek het met die leerstellings van Katolieke, Pinkstergroepe en Metodiste vertroud geraak. Ek het ook die vergaderinge van die Ortodokse Kerk bygewoon. Tot my verbasing het ek gevind dat hulle dieselfde dinge leer as wat ek in die Baptistekerk gehoor het, wat ek alreeds geweet het nie op die Bybel gebaseer is nie.

’n Ortodokse priester, Aleksander Men, het geskryf dat God ’n persoonlike naam het—Jahweh. Hy het ook gesê dat die Jode eens op ’n tyd ware aanbidding beoefen het, wat later deur heidense leerstellings en afgodediens besmet is. Wat hy geskryf het, het my baie beïndruk en my begeerte versterk om na die waarheid te soek.

Groter vasbeslotenheid

In een van my orkeste was daar ’n musikant genaamd Liza, wie se sig so beperk is dat sy as blind geklassifiseer word. Ons is in 1990 getroud, en sy het ook in geestelike dinge begin belangstel. Daardie selfde jaar het ek by my ma gaan kuier, wat by my suster, Lena, in Baranowitsji, Belo-Rusland, gewoon het. Op my ma se versoek het ek ’n diens van die Katolieke Kerk bygewoon, waar ek die Nagmaal ontvang het. Dit was gedurende die tyd van perestroika in die Sowjetunie, en die priester het die meeste van sy preek aan die politieke veranderinge gewy. Ek was weer eens seker dat dit nie is wat ek nodig het nie.

In 1994 het ek twee hartaanvalle gehad en ernstig siek geword. My ma is daardie selfde jaar oorlede. Ondanks dit alles het ek aangehou om die Bybel te lees. Ek het die “Nuwe Testament” reeds 25 keer deurgelees, en toe het ek opgehou tel. Maar ek het aangehou om dit te lees en het al hoe meer vrae gehad. Dit het vir my duidelik geword dat ek nie Bybelwaarhede op my eie kon verstaan nie.

Die lig van begrip

In 1996 het Jehovah se Getuies in Josjkar-Ola aan ons deur geklop. Ek was agterdogtig teenoor hulle, aangesien die koerante gesê het dat hulle ’n gevaarlike sekte is. Maar toe het ek gedink: ‘Watter leed kan hulle my tog aandoen?’ Die eerste ding wat ek gevra het, is wat hulle van die Drie-eenheid dink. Hulle het geantwoord dat nie die woord of die begrip in die Bybel is nie. Ek was verheug, aangesien ek tot dieselfde slotsom gekom het.

Toe ek Eksodus 6:3 in die Russiese sinodale Bybel gelees het, waar God se naam, Jehovah, verskyn, was ek baie opgewonde. Ek was verstom oor die bedrog wat godsdienste beoefen deur hierdie naam vir mense weg te steek. En om te dink dat die Getuies die naam van die Skepper dra en dit aan ander bekend maak!—Jesaja 43:10.

Ek het die Getuies met vrae bestook. Byvoorbeeld: “Waarom praat die Bybel oor die hel? Waarom sê dit in die gewilde Russiese sinodale vertaling dat die aarde verbrand sal word?” Ek het vraag na vraag gevra, maar toe ek antwoorde uit die Bybel kry, het ek besef dat ek die godsdiens gevind het waaroor ek al jare gedroom het. Met trane van vreugde het ek op my knieë geval en God gedank.

Die Getuies het my kort voor lank na hulle vergaderinge begin neem, en ek was beïndruk deur hoe aandagtig die gehoor geluister het en deur die geritsel van bladsye terwyl die spreker sy deel behartig het. Wanneer die spreker ’n Bybelvers genoem het, het mense dit in hulle eie Bybel nageslaan. Ek het nog nooit so iets ondervind nie. By daardie vergadering het die Getuies ’n lied gesing wat gebaseer is op Jesaja 35:5 en wat begin met die woorde: “As blinde oë weer kan sien.”

Ek het die Bybel saam met die Getuies begin studeer en het tot vier studies per week gehad. Ek het gou geleer waarom God probleme en oorloë toelaat en wat hy gaan doen omtrent die gevolge van hierdie lyding. Ek was veral beïndruk toe ek geleer het omtrent God se liefdevolle belofte aangaande sy Koninkryk, waardeur sy voorneme dat gehoorsame mense die ewige lewe op ’n paradysaarde moet geniet, verwesenlik sal word (Genesis 1:28; Jesaja 65:17-25; Openbaring 21:1-5). Bybelwaarhede het vir my al hoe duideliker geword, en op 16 November 1997 het ek my toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer.

Verenig in God se diens

Kort ná my doop het Liza ook die Bybel begin studeer. Ondanks die feit dat sy verlam was, het sy vinnig geestelike vordering gemaak en is sy in 1998 gedoop. Sy moes na die doopbad gedra word, maar was vasbeslote om God heelhartig te dien. Ons het die dienste van ’n masseerterapeut verkry, en Liza het oefeninge gedoen. Die verlamming het mettertyd verdwyn. Nou woon sy nie net al die vergaderinge by nie, maar sy neem ook deel aan die deur-tot-deur-getuieniswerk en reis na afgeleë gebiede om daar te preek.

Elke keer dat ek in die bediening uitgaan, bid ek vir moed. Nadat ek gebid het, tel ek my kierie op, loop ek by die huis uit en gaan ek na die trembushalte langs ’n roete wat ek goed ken. Wanneer ek iemand hoor nader kom, begin ek ’n gesprek oor die Bybel. Wanneer ek op die trembus klim, gaan sit ek iewers in die middel, praat ek met mense oor die Bybel en laat ek lektuur by hulle. As iemand belangstelling toon, ruil ons telefoonnommers uit.

Ek het onlangs die geleentheid gehad om met ’n musiekonderwyser by ’n sanatorium te praat. Hy was verstom oor die wysheid wat in die Bybel gevind word. Toe hierdie man teruggegaan het huis toe, het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. By dieselfde sanatorium het ek die bestuurder van ’n plaaslike fabriek ontmoet, wie se seun blind is. Ek het hom van my hoop vertel, en hy het belangstelling getoon en die Bybelwaarhede wat hy gehoor het, waardeer.

Sedert my doop het ek agt mense gehelp om ook Koninkryksverkondigers te word, en ek het die Bybel met baie ander gestudeer. Jehovah voorsien steeds ongelooflike ondersteuning aan my en my vrou deur middel van ons Christenbroers en -susters. Hulle lees vir ons, en ons bespreek Bybelpublikasies saam. Hulle neem ook vir ons toesprake by streekbyeenkomste en gemeentelike vergaderinge op. Dit alles het ons gehelp om Bybelwaarhede in ons harte in te prent en om daardie waarhede aan ander te vertel. So het die gemeente vir ons “’n versterkende hulp” geword.—Kolossense 4:11.

Ek het baie jare aan musiek gewy, en nou sing ek Koninkryksliedere met graagte. Ek het al die liedere in die Russiese liedereboek Sing lofliedere voor Jehovah uit die kop geleer. Ek glo dat Jehovah my in hierdie bose wêreld gevind het en my gehelp het om die weg uit geestelike duisternis te vind. Dit is waarom ek oortuig is dat hy my ook eendag uit my letterlike duisternis sal verlos.

[Prent op bladsy 19]

Ek speel op ’n C-majeur-basfluit

[Prent op bladsy 20]

Ek speel op ’n trekklavier, 1960

[Prent op bladsy 20, 21]

’n Fluitorkes

[Prent op bladsy 23]

Vandag saam met Liza

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel