Is dit God se skuld?
“GOD is liefde”, sê die Bybel (1 Johannes 4:8). Hy is ook regverdig en barmhartig. “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.”—Deuteronomium 32:4.
As die Skepper het Jehovah God die vermoë om alles wat ons moontlik leed kan aandoen, vooruit te sien, en hy het die mag om tussenbeide te tree. In die lig van hierdie feite en die eienskappe wat in die Bybel aan God toegeskryf word, vra baie mense tereg: “Waarom laat God toe dat natuurrampe plaasvind?”a Soos miljoene opregte waarheidsoekers al gevind het, het God self ’n baie redelike antwoord in sy geskrewe Woord voorsien (2 Timoteus 3:16). Kyk asseblief na die volgende.
Hulle het God se liefde verwerp
Die Bybel sê vir ons dat God ons eerste ouers alles gegee het wat hulle nodig gehad het om ’n gelukkige en veilige lewe te hê. Daarbenewens kon die groeiende mensegesin daarop reken dat God altyd vir hulle sou sorg terwyl hulle en hulle nakomelinge God se opdrag gehoorsaam het om ‘vrugbaar te wees en baie te word en die aarde te vul’.—Genesis 1:28.
Maar ongelukkig het Adam en Eva opsetlik hulle rug op hulle Skepper gedraai deur doelbewus ongehoorsaam aan hom te wees en ’n onafhanklike weg in te slaan (Genesis 1:28; 3:1-6). Die oorgrote meerderheid van hulle nakomelinge het in hulle voetspore gevolg (Genesis 6:5, 6, 11, 12). Kortom, die mensdom in sy geheel het besluit om oor hulleself en hulle tuiste, die aarde, te regeer sonder enige leiding van God af. Aangesien Jehovah ’n God van liefde is wat die beginsel van wilsvryheid respekteer, dwing hy nie sy soewereiniteit op mense af nie, al lei hulle weg dalk na rampspoed.b
Nietemin het Jehovah nie die mensdom aan hulle eie lot oorgelaat nie. Tot vandag toe “[laat] hy sy son . . . opgaan oor goddeloses en goeies en [laat hy] dit . . . reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:45). Daarbenewens het God die mensdom die vermoë gegee om te leer omtrent die aarde en sy siklusse, en hierdie kennis het mense in mindere of meerdere mate in staat gestel om uiterste weerstoestande en ander moontlike gevare, soos vulkaniese uitbarstings, te voorspel.
Mense het ook uitgevind watter dele van die aarde meer geneig is tot seismiese of atmosferiese uiterstes. In sommige lande het hierdie kennis gehelp om lewens te red deur middel van opvoeding sowel as die ontwikkeling van beter boumetodes en waarskuwingstelsels. Nogtans neem die aantal natuurrampe wat jaarliks aangemeld word, voortdurend toe. Die redes hiervoor is talryk en kompleks.
Die lewe in hoërisikogebiede
Die verwoesting wat ’n ramp saai, hou nie altyd verband met die hewigheid van die betrokke natuurkragte nie. Die digtheid van die bevolking in die rampgebied is dikwels ’n groter faktor. In oor die 160 lande woon meer as ’n kwart van die bevolking in gebiede waar mense groot gevaar loop om weens natuurrampe te sterf, volgens ’n verslag van die Wêreldbank. “Namate al hoe meer mense in [gevaarsones] gaan woon, word iets wat voorheen bloot ’n natuurverskynsel sou wees, ’n ramp”, sê die wetenskaplike Klaus Jacob van Columbia-universiteit in die Verenigde State.
Ander verergerende faktore is vinnige, onbeplande verstedeliking, ontbossing en die grootskaalse gebruik van beton om grond te bedek waardeur afloopwater normaalweg geabsorbeer sou word. Veral die laaste twee faktore kan vernietigende modderstortings en uitermatige oorstroming veroorsaak.
Die menslike faktor kan ’n aardbewing ook in ’n groot ramp laat ontaard, want dit is nie die skokgolf van energie wat die meeste sterftes en beserings veroorsaak nie, maar geboue wat ineenstort. Seismoloë het met goeie rede die gesegde: “Aardbewings maak nie mense dood nie. Geboue maak mense dood.”
Die onbevoegdheid van politici kan die sterftesyfer verhoog. In een Suid-Amerikaanse land het aardbewings die hoofstad drie keer in die afgelope 400 jaar verwoes. En sedert die laaste aardbewing, wat in 1967 plaasgevind het, het die bevolking verdubbel tot vyfmiljoen. “Maar bouregulasies wat die bevolking kan beskerm, bestaan óf glad nie óf word nie toegepas nie”, sê die tydskrif New Scientist.
Daardie laaste stelling is veral van toepassing op die stad New Orleans, Louisiana, VSA, wat gebou is in ’n laagliggende gebied wat onderhewig is aan oorstromings. Ondanks die teenwoordigheid van afsluitdamme en pompe het die ramp wat baie gevrees het, uiteindelik in 2005 plaasgevind toe die orkaan Katrina die stad getref het. “Waarskuwings wat al lank voor die tyd gegee is”, is óf geïgnoreer óf “daar is halfhartig daarop gereageer”, het ’n berig in USA Today gesê.
Daar is ’n soortgelyke halfhartige reaksie op aardverwarming, wat volgens baie wetenskaplikes weerverwante rampe kan vererger en seevlakke kan laat styg. Dit is duidelik dat politieke, sosiale en ekonomiese faktore—dinge waarvoor God nie geblameer kan word nie—in ag geneem moet word. Hierdie menslike faktore herinner ons aan die Bybelwaarheid dat die mens nie in staat is om “sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Nog ’n menslike faktor is die gesindheid van mense teenoor waarskuwings—dié van die natuur en uit amptelike bronne.
Leer om waarskuwingstekens raak te sien
Eerstens moet daar erken word dat natuurrampe sonder waarskuwing kan tref. “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref [ons] almal”, sê Prediker 9:11. Dikwels is daar egter die een of ander aanduiding—in die natuur of uit ’n amptelike bron—dat moeilikheid op pad is. Wanneer mense die tekens ken, kan hulle dus hulle kanse op oorlewing verbeter.
Toe ’n tsoenami die Indonesiese eiland Simeulue in 2004 getref het, het sewe mense uit ’n bevolking van etlike duisende gesterf. Aangesien hulle geweet het dat tsoenami’s voorafgegaan word deur getye wat buitengewoon ver terugtrek, het die meeste mense gevlug toe die see terugtrek. Mense het ook al hewige storms en vulkaniese uitbarstings ontkom deur op waarskuwings ag te slaan. Omdat die natuur se waarskuwings soms amptelike waarskuwings voorafgaan, is dit verstandig om met albei vertroud te wees, veral as jy in ’n gebied woon wat dikwels deur rampe getref word.
Maar ongelukkig is “mense geneig om te ontken dat ’n gevaar bestaan, selfs wanneer dit ooglopend is”, het ’n vulkanoloog gesê. Dit is veral die geval in gebiede waar vals alarms algemeen is of waar ’n vorige ramp lank gelede plaasgevind het. En soms wil mense eenvoudig nie hulle besittings agterlaat nie, selfs wanneer ’n ramp hulle in die gesig staar.
In baie gebiede is mense eenvoudig te arm om na ’n veiliger gebied te trek. Die werklikhede van armoede stel nie ons Skepper in ’n slegte lig nie, maar wys eerder op menslike tekortkominge. Regerings bestee byvoorbeeld dikwels ontsaglike hoeveelhede geld op wapens, maar doen min om behoeftiges te help.
Nietemin is daar tog hulp beskikbaar aan die meeste mense, ongeag wat hulle situasie is. Hoe so? In die sin dat God, deur middel van sy geskrewe Woord, die Heilige Bybel, ons talle goeie beginsels gegee het, wat lewens kan red as dit toegepas word.
Beginsels wat lewens red
◼ Moet God nie op die proef stel nie. “Julle mag Jehovah julle God nie op die proef stel . . . nie”, sê Deuteronomium 6:16. Ware Christene het nie ’n bygelowige beskouing van die lewe wat hulle laat dink dat God hulle altyd fisies sal beskerm nie. Wanneer gevaar dreig, gee hulle dus ag op die geïnspireerde raad: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.”—Spreuke 22:3.
Heg groter waarde aan lewe as aan materiële besittings. “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Ja, materiële dinge het hulle plek, maar dit is vir die dooies van geen waarde nie. Diegene wat lief is vir die lewe en wat die voorreg koester om God te dien, stel hulleself dus nie onnodig in gevaar om eiendom te beskerm nie.—Psalm 115:17.
In 2004 het Tadasji, wat in Japan woon, sy huis onmiddellik ontruim nadat ’n aardbewing daar plaasgevind het en voordat amptelike instruksies gegee is. Sy lewe het vir hom meer beteken as sy huis en sy besittings. Akira, wat in dieselfde gebied woon, het geskryf dat “die werklike omvang van die skade nie afhang van die materiële verlies nie, maar van ’n mens se beskouing. Ek het hierdie ramp beskou as ’n goeie geleentheid om my lewe te vereenvoudig.”
Slaan ag op die regering se waarskuwings. “Wees [onderdanig] aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Wanneer ’n amptelike bevel uitgereik word om die gebied te ontruim of om ’n ander veiligheidsmaatreël te volg, is dit verstandig om daarop ag te slaan. Tadasji het van die rampgebied af weggebly in gehoorsaamheid aan ’n ontruimingsbevel en het dus beserings en die dood as gevolg van die naskokke vrygespring.
Wanneer daar geen amptelike waarskuwings van ’n dreigende ramp is nie, moet mense self besluit wanneer en hoe om te reageer terwyl hulle alle beskikbare feite in ag neem. In sommige gebiede voorsien plaaslike regerings moontlik nuttige riglyne oor hoe om ’n ramp te oorleef. Is jy vertroud met sulke inligting, indien dit in jou gebied beskikbaar is? En het jy dit al met jou gesin bespreek? (Sien die bygaande venster.) In baie wêrelddele het gemeentes van Jehovah se Getuies, onder leiding van hulle plaaslike takkantoor, noodprosedures daargestel wat gevolg moet word as ’n ramp sou dreig of plaasvind, en hierdie prosedures was al in die verlede uiters nuttig.
◼ Betoon Christelike liefde. “Ek gee julle ’n nuwe gebod”, het Jesus gesê, “dat julle mekaar moet liefhê . . . soos ek julle liefgehad het” (Johannes 13:34). Mense wat selfopofferende, Christelike liefde betoon, doen alles wat menslik moontlik is om mekaar te help om vir ’n natuurramp voor te berei of dit te oorleef. Gemeentelike ouer manne van Jehovah se Getuies werk onvermoeid om in aanraking te kom met alle gemeentelede om seker te maak dat hulle veilig is of veiligheid kan bereik. Die ouer manne maak ook seker dat elkeen die lewensbenodigdhede het, soos skoon drinkwater, voedsel, klere en noodsaaklike medisyne. Terselfdertyd voorsien Getuiegesinne in veilige gebiede verblyf aan mede-Getuies wat hulle gebied moes ontruim. Sulke liefde is waarlik “’n volmaakte band van eenheid”.—Kolossense 3:14.
Sal natuurrampe vererger, soos sommige voorspel? Dalk, maar net ’n tyd lank. Waarom? Omdat die mensdom se tragiese tydperk van onafhanklikheid van God binnekort tot ’n einde sal kom. Dan sal die hele aarde en al sy bewoners heeltemal onder die liefdevolle soewereiniteit van Jehovah wees, met wonderlike gevolge, soos ons nou sal sien.
[Voetnote]
a Aardbewings, uiterste weerstoestande, vulkaniese uitbarstings, ensovoorts is nie op sigself rampe nie. Dit is net ’n ramp wanneer dit ’n nadelige uitwerking het op menselewe en eiendom.
b Vir ’n breedvoeriger bespreking van God se tydelike toelating van lyding en boosheid, sien gerus die reeks artikels getiteld “‘Waarom?’—Die moeilikste vraag om te beantwoord” wat in hierdie tydskrif se nommer vir November 2006 verskyn het, sowel as hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 7]
IS JY GEREED OM TE VLUG?
New York-stad se Kantoor vir Noodbeheer beveel aan dat huishoudings vir ontruiming beplan deur ’n “saamneem-sak” te pak—’n sterk sak op ’n maklik bereikbare plek, wat maklik is om te dra en belangrike nooditems bevat. Die volgende kan ingesluit word:c
◼ Afskrifte van belangrike dokumente in ’n waterdigte houer
◼ ’n Ekstra stel motor- en huissleutels
◼ Krediet- of debietkaarte en kontant
◼ Bottelwater en onbederfbare voedselprodukte
◼ Flitslig(te), AM/FM-radio, selfoon (as jy een het), ekstra batterye
◼ Medisyne vir ten minste een week, ’n lys van dosisse, voorskrifte en die name en telefoonnommers van dokters. (Maak seker dat jy medisyne vervang voordat dit verval)
◼ Noodhulpkissie
◼ Stewige, gemaklike skoene en reënjasse
◼ Kontakbesonderhede vir jou huisgesin en inligting oor waar julle gaan ontmoet, sowel as ’n kaart van die gebied
◼ Benodigdhede vir kindersorg
[Voetnoot]
c Hoewel die bogenoemde gebaseer is op die amptelike lys, is dit effens gewysig. Nie elke item op die lys is dalk in jou geval of in jou deel van die wêreld gepas nie, en sommige items sal dalk bygevoeg moet word. Bejaardes en gestremdes het byvoorbeeld hulle eie spesiale behoeftes.
[Foto-erkenning op bladsy 4]
USGS, David A. Johnston, Cascades Volcano Observatory