Is jy voorbereid op ’n natuurramp?
1. Waarom is dit verstandig om op rampe voorbereid te wees?
1 Miljoene mense oor die hele wêreld, wat baie van ons broers en susters insluit, word elke jaar deur aardbewings, tsoenami’s, moesonreëns, orkane, tornado’s en oorstromings geraak. Aangesien natuurrampe onverwags plaasvind en enigeen van ons kan tref, is dit die verstandige weg om voorbereid te wees.—Spr. 21:5.
2. Waarom moet ons sorg dat die ouer manne altyd ons huidige adres en telefoonnommer(s) het?
2 Voor die tyd: Die owerheid kan soms waarskuwings oor naderende rampe gee. Dit is belangrik om op hierdie waarskuwings ag te slaan (Spr. 22:3). Onder sulke omstandighede sal die ouer manne met almal in die gemeente in aanraking probeer kom om hulle te help om die nodige voorbereidings te tref. Ná ’n ramp sal die ouer manne ook met almal wat met die gemeente omgaan, in aanraking probeer kom om te hoor of hulle veilig is en om vas te stel watter hulp dalk nodig is. Kosbare tyd kan verlore gaan as die ouer manne nie die jongste kontakbesonderhede het nie. Dit sal dus goed wees as verkondigers sorg dat die sekretaris en hulle boekstudieopsiener altyd hulle huidige adres en telefoonnommer(s) het.
3. Hoe kan ons met die ouer manne saamwerk as ons in ’n gebied woon waar rampe dikwels plaasvind?
3 As die gemeente in ’n gebied is waar rampe dikwels plaasvind, sal die ouer manne miskien vra dat verkondigers die naam en telefoonnommer voorsien van ’n familielid of vriend wat nie in die omgewing woon nie en met wie hulle in ’n noodgeval in aanraking moet kom. Dit sal die ouer manne in staat stel om uit te vind waar diegene is wat die gebied ontruim het. Die ouer manne wil dalk ook ’n gebeurlikheidsplan vir die gemeente uitwerk wat dinge insluit soos ’n eenvoudige lys van noodvoorrade wat byderhand gehou moet word, reëlings vir ontruiming en planne om diegene met spesiale behoeftes te help. Dit is belangrik om met hierdie liefdevolle reëlings saam te werk.—Heb. 13:17.
4. Wat moet ons doen as ’n ramp ons gebied tref?
4 Ná ’n ramp: Wat moet jy doen as ’n ramp julle gebied tref? Maak seker dat daar in jou gesin se onmiddellike fisiese behoeftes voorsien word. Help ander wat geraak is en hulp nodig het, as jy daartoe in staat is. Probeer om so gou moontlik met jou boekstudieopsiener of ’n ander ouer man in aanraking te kom. Dit moet gedoen word, al is jy veilig en al het jy nie hulp nodig nie. As jy hulp nodig het, kan jy seker wees dat jou broers alles in hulle vermoë doen om jou te help (1 Kor. 13:4, 7). Onthou dat Jehovah van jou situasie bewus is; vertrou op hom om jou te onderskraag (Ps. 37:39; 62:8). Wees op die uitkyk na geleenthede om geestelike en emosionele ondersteuning aan ander te gee (2 Kor. 1:3, 4). Volg so gou moontlik weer jou teokratiese roetine.—Matt. 6:33.
5. Hoe raak die gevaar van rampe ons as Christene?
5 Hoewel die moontlikheid van rampe vir die wêreld baie kommerwekkend is, kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan. Binnekort sal alle rampe tot die verlede behoort (Op. 21:4). Intussen kan ons redelike stappe doen om ons op moeilike tye voor te berei terwyl ons aanhou om die goeie nuus met ywer aan ander te verkondig.