Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/07 bl. 16-17
  • Die haai—’n vis in krisis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die haai—’n vis in krisis
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Optrede is noodsaaklik vir oorlewing
  • Die witdoodshaai—in gevaar
    Ontwaak!—2000
  • Die vis vir wie niemand lief is nie
    Ontwaak!—1991
  • Die haai se vel
    Is dit ontwerp?
  • Die haai se vel
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 10/07 bl. 16-17

Die haai—’n vis in krisis

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

DAAR is min diere wat soveel vrees inboesem as ’n haai. Wêreldwyd vind daar jaarliks gemiddeld ongeveer 75 onuitgelokte haai-aanvalle op mense plaas, waarvan sowat 10 noodlottig is. Die wye publisiteit wat aan hierdie aanvalle gegee word, sowel as die negatiewe indruk wat in rolprente geskep word, laat mense die haai as ’n mensvreter beskou. Haaie moet natuurlik met respek behandel word. Maar om die saak in perspektief te stel, baie meer sterftes word deur bysteke en krokodille veroorsaak as deur haai-aanvalle.

Aan die ander kant word haaie deur mense bedreig. “Elke jaar word 100 miljoen haaie gevang—so baie dat as ons hulle agter mekaar sou neerlê, hulle vyf keer om die aarde sou gaan”, berig ’n navorser verbonde aan die organisasie Argus Mariner Consulting Scientists in die tydskrif Premier. As ’n mens byreken dat haaie se voortplantingstempo van nature laag is, dat hulle lank neem om volwassenheid te bereik en dat hulle lang draagtye het, tesame met die feit dat hulle broeiplekke besoedel word, is die gevolg ’n haaibevolking wat vinnig krimp. Wanneer dit eers ’n kritieke punt bereik, sal dit jare neem om dit weer op te bou.

Die meeste haaie word vir hulle vinne gevang, wat baie gesog is onder sommige Asiërs omdat dit glo geneeskragtige en geslagsprikkelende eienskappe het.a Haaivin-sop is ’n duur keurgereg wat tot R1 000 per bord kan kos! Die groot aanvraag deur die winsgewende Asiatiese mark het gelei tot die wrede en kwistige gebruik wat as “haaivinnery” bekend staan—die vinne van ’n lewende haai word afgesny, en dan word die haai teruggegooi in die see, waar dit van honger sterf of verdrink.

Optrede is noodsaaklik vir oorlewing

Behoort ons bekommerd te wees oor die haaikrisis? Dit is dalk moeilik om dieselfde simpatie vir haaie te hê as vir olifante of walvisse. Maar ons moet die noodsaaklike rol erken wat hulle daarin speel om die ekologiese balans van die oseane te handhaaf. Hulle eetgewoontes hou byvoorbeeld ander visbevolkings in toom.

Die vang van haaie word in baie lande nie gereguleer nie. Onlangs het Mexiko, ’n land wat meer as 30 000 ton haaie per jaar vang, ’n wet uitgevaardig wat haaivinnery verbied, nadat die saak tien jaar lank betwis is. Nog ’n probleem is dat die aanvraag na haaivinne gelei het tot die toename van onwettige vissery in mariene reservate in verskillende wêrelddele. Byvoorbeeld, die direkteur van die Galápagos- Nasionale Parkdiens sê: “Onwettige haaivinnery in die Galápagos het in die afgelope paar jaar drasties toegeneem. Dit is baie winsgewend en het ’n mafia hier laat ontstaan.”

’n Positiewe stap is wel geneem om haaie te red—haaivinnery is deur party lande verbied. Maar Charlotte Mogensen, ’n beleidsamptenaar vir die Wêreld-natuurfonds, waarsku dat baie meer nodig is. Sy sê: “Haaie is nog steeds regoor die wêreld in gevaar. Ons spoor alle visvangowerhede aan om nie net haaivinnery te verbied nie, maar ook om dataversamelingstandaarde aan te neem, byvangs te verminder en volhoubare kwotas in te stel.”

Gelukkig sal die Skepper van die natuurlewe nie die roekelose misbruik van sy grootse skepping veel langer duld nie. Dit sluit die skrikwekkende maar onontbeerlike haai in.—Openbaring 11:18.

[Voetnoot]

a Haaivinne bevat, ironies genoeg, ’n hoë konsentrasie kwik, wat steriliteit by mans kan veroorsaak.

[Venster/Prente op bladsy 17]

FEITE OOR HAAIE

Grootte: Die grootste spesie, die walvishaai (hierbo), word tot 18 meter lank en weeg etlike tonne. Maar dit is ’n onskadelike dier wat plankton en klein vissies vreet.

Draagtyd: Kleintjies word gebore ná ’n draagtyd van tot 22 maande.

Voortplantingstempo: Haaie gee geboorte aan tussen twee en tien kleintjies op ’n slag. Die meeste spesies word lewend gebore.

Groeitempo: Die meeste bereik geslagsrypheid ná 12 tot 15 jaar.

Lewensduur: Dit is moeilik om die lewensduur van die meeste haaispesies vas te stel, maar die aggressiewe witdoodshaai (hieronder) kan volgens skatting tot die ouderdom van 60 lewe.

[Erkennings]

Seawatch.org

© Kelvin Aitken/age fotostock

[Prent op bladsy 16, 17]

Van die meer as 300 haaispesies word 62 tans met uitsterwing bedreig

[Erkenning]© Mark Strickland/SeaPics.com

[Prent op bladsy 17]

Net een kilogram haaivinne kan vir R3 000 of meer verkoop word. ’n Witdoodshaai se kakebene kan tot R70 000 kos

[Erkenning]

© Ron & Valerie Taylor/SeaPics.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel