Betowerende rose uit Afrika
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
“Die pragtigste blomme wat ek nog ooit gesien het!” “Die beste geskenk om vir ’n dierbare vriendin te gee.” “’n Manier om te sê: ‘Iemand gee om.’”
MISKIEN voel jy ook soos die inwoners van Nairobi, Kenia, wat hierbo aangehaal is. Van al die blomplante, dié wat wild groei sowel as dié wat deur die mens gekweek word, het geen ander blom moontlik al soveel internasionale lof ontvang soos die roos nie. Dit gryp die mens se verbeelding al eeue lank aan. Digters het daaroor geskryf, en kunstenaars het dit al dikwels in hulle kunswerke uitgebeeld. Shakespeare het dit besing in sy beroemde woorde uit Romeo and Juliet: “Wat is ’n naam dan tog? Wat ons ’n roos noem, sou geurig wees met enige ander naam.” Die roos het al gehelp om nuwe vriendskappe te smee en te versterk, gespanne verhoudings te herstel en talle siekes op te beur.
Benewens dit alles het die roos ook groot ekonomiese waarde. In baie lande waar die klimaatstoestande geskik is vir blomkwekery, is die roos ’n vername bron van buitelandse valuta. In Kenia, byvoorbeeld, het rose meer as 70 persent van die miljoene blomme uitgemaak wat in ’n onlangse jaar uitgevoer is, wat dié land een van die wêreld se topprodusente maak.
In die verlede, voordat die mens die betowerende eienskappe van die blom ontdek het, was roosbome volop in die natuur. Vandag is party van die meer as 100 soorte wilde rose veredel deur middel van sorgvuldig gekontroleerde kruisteling, en sodoende is die duisende roosvariëteite verkry wat vandag bekend is. Gevolglik het die blom wêreldwyd bekend geword en word dit in byna elke land op aarde aangetref. Die gewildste en algemeenste is die basterteeroos.
Van die plaas na jou vaas
Die meeste mense koop hulle rose by ’n bloemis of by ’n supermark. Hierdie blomme word kommersieel op groot plase gekweek en het baie meer aandag nodig as die gewone tuinroos. Op ’n besoek aan so ’n plaas naby Nairobi het ons gesien hoeveel ekstra aandag nodig is om die blomme vir die mark gereed te kry.
Hier, soos elders in Kenia, kan die kommersiële roosplase maklik uitgeken word aan die groot poliëtileenkweekhuise. (Sien foto op bladsy 26.) Hierdie strukture dien verskeie doeleindes. Die pas geënte rose is delikaat en moet teen gure weer beskut word. Swaar reën, wind of direkte sonlig kan groot skade aanrig. Om ’n konstante temperatuur te handhaaf, moet koel lug maklik in die kweekhuis kan invloei en warmer lug verwyder word.
Binne-in die kweekhuise is daar rye jong plante in verskillende stadiums van ontwikkeling. By hierdie plaas word verskeie soorte rose gekweek, van die gewilde basterteerose, wat gesny word wanneer die steel net oor die 70 sentimeter lank is, tot die 35 sentimeter lange sweetheart-roos, ’n spesifieke soort basterteeroos. Op hierdie plaas, wat een hektaar beslaan, kan daar tot 70 000 plante wees.
Hoe kry die plante die nodige voedingstowwe? Gewone grond word nie gebruik nie. Die blombedding bestaan uit puimsteen (vulkaniese rots) wat op poliëtileenseile gegooi word. Dit is die metode wat by voorkeur gebruik word, aangesien daar geen grondgedraagde siektes in die rots is nie. Drupbesproeiing word gebruik om die plante nat te lei. Volgens hierdie metode word klein pype in die blombeddings aangebring wat water en ander voedingstowwe in gekontroleerde hoeveelhede aan die plante lewer. Omdat die vulkaniese rots poreus is, kan die water van die plastiekseil af dreineer. Dan word dit opgevang en weer gebruik.
Ondanks die gespesialiseerde sorg kan rose deur ’n aantal siektes besmet word, wat hoofsaaklik deur swamme veroorsaak word. Dit sluit knopvrot en poeiermeeldou in, wat die blare en stingels van die plante aanval. As dit nie behandel word nie, kan hierdie siektes die blomgehalte verswak. Swamdoders word gebruik om die probleem onder beheer te hou.
Met verloop van tyd begin spatsels helder kleure te voorskyn kom, wat ’n duidelike aanduiding is dat die rose gereed is om geoes te word. Die blomme word versigtig gesny gedurende die toeknopstadium. Op hierdie stadium moet die kroonblare nog begin oopgaan. As die blomme op hierdie stadium geoes word, hou die blomme sowel as hulle kleur langer. Maar die snytyd kan wel effens verskil van roos tot roos. Dit is baie belangrik om die blomme in die oggend of laatmiddag te sny, wanneer die humiditeit hoog is en die blomme stadiger verwelk. Geoeste blomme word dan na die koelkamer geneem vir voorkoeling. Dit verseker ook dat die rose langer vars bly.
Die blomme gaan dan deur nog ’n belangrike proses—sortering. Hier word hulle volgens kleur en grootte gesorteer. Verpakking word volgens die kliënt se vereistes gedoen. Uiteindelik is die blomme gereed vir die mark. Van hierdie plaas af word hulle na Nairobi se hooflughawe geneem, en van daar af sal hulle uitgevoer word na Europa, duisende kilometers daarvandaan. Omdat die blomme maklik verwelk, moet hulle die mark, plaaslik of internasionaal, binne 24 uur ná die oestyd bereik.
Wanneer jy weer ’n bos rose as ’n geskenk ontvang of dit by ’n supermark of ’n bloemis koop, dink gerus vir ’n oomblik aan die lang reis wat hulle dalk afgelê het. Miskien sal dit jou waardering vir die Skepper, Jehovah God, vergroot.—Psalm 115:15.
[Venster/Prente op bladsy 26]
Sal daar ooit ’n blou roos wees?
Die roos het ’n lang pad gekom, en dit lyk nie of dit die einde van sy reis bereik het nie. Baie nuwe teel- en kweektegnieke word deesdae in hierdie bedryf gebruik. Min blomme kan soveel kleurskakerings voortbring soos die roos. Watter kleur is vir jou die mooiste? Wit, geel, pienk, donker karmosynrooi of dalk wynrooi? Die meeste hiervan is die produk van verskeie metodes van kruisteling.
Het jy byvoorbeeld geweet dat hoewel mense van “rooi” rose praat, daar oorspronklik geen ware rooi blomme in die roosfamilie was nie? Die roosfamilie het nie die geen wat die rooi pigment voortbring nie. Die helder rooi kleur is die gevolg van ’n genetiese mutasie wat omstreeks 1930 voorgekom het, en dit het uiteindelik tot die helder rooi rose gelei wat ons vandag sien. In alle roosvariëteite was een kleur lank afwesig—blou. Die geen wat die blou pigment voortbring, delfinidien, kom nie natuurlik in die roosfamilie voor nie. Maar ná jare van gesamentlike navorsing deur ’n Australiese en ’n Japannese maatskappy is ’n “blou” roos met behulp van genetiese manipulering in 2004 geskep. Nog werk moet egter gedoen word om ’n dieper skakering van blou te kry.
[Prent]
Poliëtileenkweekhuis
[Prent op bladsy 25]
Gereed om geoes te word