Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/07 bl. 23-25
  • Kan jy die Bybel se raad vertrou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy die Bybel se raad vertrou?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae oor die dood en die hiernamaals
  • Wat is die regte manier om God te aanbid?
  • Raad wat lewens verander
  • ‘Sy het ons geleer om haar godsdiens te respekteer’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vigs—Die epidemie duur voort
    Ontwaak!—1998
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 11/07 bl. 23-25

Kan jy die Bybel se raad vertrou?

‘Moet ek glo wat hierdie persoon vir my sê?’ Jy vra jou dalk hierdie vraag af wanneer ’n verkoopsman ’n gebruikte motor aan jou probeer verkoop of wanneer ’n politikus ’n belofte maak tydens ’n verkiesingsveldtog. Jy wil nie geld of tyd mors op produkte en inligting wat van min waarde is nie.

NET so wonder jy dalk: ‘Bevat die Bybel enigiets wat vir my die moeite werd is om te leer? Kan ek, as ek daardie boek lees en bestudeer, seker wees dat my tyd en inspanning beloon sal word?’ Die sleutel om hierdie vrae te beantwoord, kan gevind word in ’n vers in die Bybel: “Wysheid staan of val by sy resultate” (Matteus 11:19, Phillips). Ja, die resultate wat mense verkry wanneer hulle ’n sekere soort raad, of “wysheid”, toepas, bewys of daardie raad nuttig is. Hier volg die ondervindinge van mense wat tyd ingeruim het om die Bybel te leer ken. Wat hulle sê, sal jou help om te besluit of jy daardie unieke boek moet lees en bestudeer.

Vrae oor die dood en die hiernamaals

Karen se ma is ’n ruk terug oorlede. Van haar kinderdae af het Karen, wat in die Verenigde State woon, geglo dat alle goeie mense hemel toe gaan wanneer hulle sterf. Hierdie oortuiging het haar nie juis vertroos nie. Sy het gewonder: ‘Hoe lyk my ma noudat sy in die hemel is? Hoe gaan ek haar vind wanneer ek daar kom, dis te sê as ek daar uitkom? Sal ek dalk iewers anders beland wanneer ek doodgaan?’

Karen het ’n noukeurige studie van die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin. Sy het geleer dat die dooies nie in die hemel is nie, maar dat hulle as ’t ware in ’n diep slaap is. “Hulle is bewus van hoegenaamd niks”, sê Prediker 9:5. Maar sou sy haar ma ooit weer sien?

Die volgende duidelike stelling in die Bybel het haar vertroosting en hoop gebied: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Christus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Karen het geleer dat die God van die Bybel deur middel van sy Seun die dooies weer hier op die aarde gaan laat lewe. “Bybelleringe oor die dood en die opstanding maak soveel sin”, het sy gesê.

Wat is die regte manier om God te aanbid?

Toe Angela, ’n Roemeense meisie, 14 jaar oud was, het ’n Pinksterpredikant gebid dat sy heilige gees ontvang, en sy het in tale begin praat. Maar haar ouers het gemeen dat Pinksterleerstellings nie met die Bybel strook nie. Die gesin het opgehou om dienste by te woon en het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.

Hoewel Angela aanvanklik teleurgesteld was, het sy kort voor lank verskille tussen die gebruike van haar vorige godsdiens en die leringe van die Bybel gesien. Sy het byvoorbeeld Johannes 17:3 gelees, wat sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” Angela het besef dat diegene wat God se guns ontvang, eers kennis van hom moet hê. “Hoe kon ek God se gees op so ’n spesiale manier ontvang het as ek niks omtrent hom geweet het nie?” het sy gevra. Angela sê: “Ek dank Jehovah dat hy my gehelp het om die weg van ware aanbidding deur middel van sy geïnspireerde Woord te vind.”

Raad wat lewens verander

“Ek was baie kort van draad”, sê Gabriel, ’n man in Indië. “As iemand my kwaad gemaak het, het ek geskreeu, dinge rondgegooi en mense selfs te lyf gegaan. Bybelstudie het my gehelp om my humeur in toom te hou. Nou bly ek selfs in gespanne situasies kalm.”

Gabriel het tekste gelees soos Spreuke 16:32, wat sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem.” Dhiraj, nog ’n man wat ’n slegte humeur te bowe gekom het, sê: “Daardie selfde teks het my help besef dat dit ’n teken van swakheid is as ek my humeur verloor, maar dat dit ’n bewys van innerlike krag is as ek dit in toom hou.”

Philip was ’n lid van ’n bende in Suid-Afrika. Bakleiery, diefstal en kru taal was deel van sy lewe. Hy het in die tronk beland weens sy misdade. Maar ten spyte van sy lewenswyse wou Philip God graag ken. Nadat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy die begeerte ontwikkel om God te dien en het hy besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Hy het sy verkeerde weë laat staan en kontak verbreek met sy misdadigervriende. Watter Bybelwaarhede het hom beweeg om hierdie veranderinge aan te bring?

Jehovah se Getuies het vir hom Jesus se woorde in Johannes 6:44 gewys. Dit sê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Philip sê: “Jehovah het iets goeds in my gesien en my na sy volk, hierdie wonderlike broederskap, getrek.” Philip het ook Bybelverslae oor Jehovah se barmhartigheid teenoor berouvolle sondaars ter harte geneem. “Hierdie verslae”, sê Philip, “het my gehelp om te sien hoe redelik Jehovah is teenoor onvolmaakte mense wat berouvol is.”—2 Samuel 12:1-14; Psalm 51.

’n Jong Australiese man met die naam Wade het alkohol en dwelms misbruik, gedobbel en talle onsedelike verhoudings gehad. Hy kon egter nie geluk vind nie. Op ’n dag het hy ’n bespreking met een van Jehovah se Getuies gehad en ’n gratis tuisbybelstudie aanvaar. Wat het Wade geleer?

“Ek was diep beïndruk deur die manier waarop Jesus ander behandel het”, sê Wade. “Hy het almal, insluitende kinders, goedhartig behandel en medelye en liefde aan hulle betoon. Hoe meer ek geleer het, hoe meer wou ek soos hy wees. Die Bybel het my geleer hoe om ’n ware man te wees en hoe om my persoonlikheid te verbeter.” Maar wat van al die slegte dinge wat hy gedoen het? Wade sê verder: “Die Bybel het my geleer dat God my sal vergewe as ek berou het oor my sondes en my gedrag verander. Trouens, ek kan vir ewig op ’n paradysaarde lewe. Uiteindelik het ek ’n toekoms gehad!” (Matteus 5:5). Wade het sy lewe verander en aanbid Jehovah nou met ’n skoon gewete.

Die ondervindinge wat jy so pas gelees het, kom van mense wat hulle lewe wou verbeter. Hulle het die Bybel bestudeer om te sien of die leringe daarin hulle met hulle probleme kon help en hulle vrae kon beantwoord. Die goeie resultate wat hulle verkry het, het hulle oortuig dat hulle die Bybel se praktiese riglyne kan vertrou. Jy kan ook.

’n Geïnspireerde stelling uit die ou tyd sê: “Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het en die mens wat onderskeidingsvermoë verkry, want om dit as gewin te hê, is beter as om silwer as gewin te hê, en om dit as opbrengs te hê, beter as goud. Dit is kosbaarder as korale, en al jou ander verlustiginge kan nie daarmee gelykgestel word nie. Lengte van dae is in sy regterhand; in sy linkerhand is rykdom en heerlikheid. Sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.”—Spreuke 3:13-18.

[Venster/Prent op bladsy 25]

HOE DIE BYBEL ’N GEVANGENE GEHELP HET

’n Man met die naam Bill was baie gelukkig getroud. Maar voor sy eerste huweliksherdenking is hy tronk toe gestuur vir ’n misdaad wat hy jare tevore gepleeg het.

Nadat hy oor die skok van sy verlore vryheid gekom het, het Bill besluit om die lang dae wat voorgelê het, goed te gebruik. “Ek het op my bed gebly en die Bybel gelees en bestudeer”, sê hy. Hy het ook toegepas wat hy geleer het. “Ek was vriendelik teenoor my selmaats, en hulle het gesien dat ek nie die slegte dinge wou doen wat hulle gedoen het nie. Hulle het van my gesê: ‘Bill wil sy tronkstraf op sy eie manier uitdien, deur God en die Bybel te leer ken. Hy gaan nie vir enigiemand moeilikheid veroorsaak nie.’

“Weens my reputasie het die ander gevangenes my nie betrek by argumente en ander onaangename situasies nie. Die wagte het ook besef dat ek nie vir hulle probleme sou gee nie. Hulle het my aanbeveel vir werk wat my die geleentheid gegee het om die grootste deel van die dag weg van die hoofgroep gevangenes te werk. Die toepassing van die Bybel in my lewe was ’n groot beskerming.”

Bill het die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon wat in die tronk gehou is, en hy het ander gevangenes graag vertel van die dinge wat hy geleer het. Hy is as een van Jehovah se Getuies gedoop terwyl hy sy vonnis uitgedien het. Hy vertel: “Ek het amper 50 jaar van my lewe gemors, en ek wou verbeteringe aanbring. Ek is oortuig dat die enigste manier waarop ’n gevangene dit kan doen, is om die Bybel se leringe toe te pas. En die manier om juiste kennis van die Bybel te verkry, is om dit saam met Jehovah se Getuies te studeer. Dis die enigste godsdiens wat die waarheid uit die Bybel leer. Dis so eenvoudig soos dit.”

Bill is nou uit die tronk en dien in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in die Verenigde State. Hy en sy vrou hou aan om God se Woord te bestudeer en volgens die leringe daarvan te lewe. Hulle het diepe waardering vir wat Jesaja 48:17, 18 sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”

[Prent op bladsy 23]

Karen, VSA

[Prent op bladsy 23]

Angela, Roemenië

[Prent op bladsy 24]

Gabriel, Indië

[Prent op bladsy 24]

Dhiraj, Indië

[Prent op bladsy 24, 25]

Philip en sy gesin, Suid-Afrika

[Prent op bladsy 24]

Wade, Australië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel