Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/08 bl. 12-15
  • Van militêre bevelvoerder tot “soldaat van Christus”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van militêre bevelvoerder tot “soldaat van Christus”
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek ontvang my “vlerkies”
  • Terug na Australië
  • Diane se vrae word beantwoord
  • Ek neem my standpunt in vir Bybelwaarheid
  • Ek word ’n voltydse bedienaar
  • Oorvloedige seëninge
  • Vasbeslote om Jehovah te dien!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wat my tot Jehovah se Getuies aangetrek het
    Ontwaak!—2010
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wees vreugdevol saam met die gelukkige God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 2/08 bl. 12-15

Van militêre bevelvoerder tot “soldaat van Christus”

Soos vertel deur Mark Lewis

“Goeiemôre, U Majesteit.” “Goeiemiddag, U Eksellensie.” “Goeienaand, Eerste Minister.” Dit is party van die begroetinge wat ek as vlieënier en die bevelvoerder van die Koninklike Australiese Lugmag se BBP-eskader gebruik het. As vlieënier het ek staatshoofde en hooggeplaastes van die regering regoor Australië en die wêreld geneem. Maar nou doen ek iets baie meer bevredigends. Laat ek verduidelik.

EK IS in 1951 in Perth, Wes-Australië, gebore en het in ’n militêre gesin grootgeword. Toe ek 15 jaar oud was, het ek by ’n sweefvlugklub aangesluit. En so het ’n lewenslange liefde vir vlieg begin.

My ouers is kort daarna uitmekaar, en ons gesin het verbrokkel. Die bevelvoerder van ’n straalvegter-eskader in die lugmag en sy gesin het my uit die goedheid van hulle hart ingeneem totdat ek klaar was met skool. Sy invloed het my aangespoor om ’n kadetoffisier by die Koninklike Australiese Lugmag-akademie te word.

Ek ontvang my “vlerkies”

Ek het sowat ses jaar later as lugmagoffisier gegradueer en ’n graad in die wetenskap sowel as my vlieëniersvlerkies ontvang. My eerste werk was om militêre vragvliegtuie regoor Australië, die Stille Suidsee en Suidoos-Asië te vlieg. Ons het dikwels deur hoë bergpasse en in diep valleie gevlieg waar ons op graslandingstroke geland het. Dit was gevaarlike werk. Ons eskader het in daardie jare ’n hele paar vliegtuie en goeie mense verloor. Tog het ons sendings dié gehelp wat in afgesonderde gebiede gewoon het. Ons het boumateriaal vir brûe, klein stootskrapers om paaie mee te bou, mediese spanne en noodvoorraad in die vorm van voedsel vervoer. Ons het ook pasiënte in noodsituasies vervoer.

In 1978 het ek as vlieginstrukteur gekwalifiseer, na die lugmag-akademie teruggekeer en een van die instrukteurs geword. Hier het ek my vriendskap hervat met Diane, ’n jong weduwee met ’n driejarige dogtertjie. Diane se man was een van my klasmaats by die akademie, maar het later in ’n vliegongeluk gesterf. Toe ek haar vra om met my te trou, het sy gevra of sy daaroor kon dink. Sy was nie seker of sy weer met ’n vlieënier getroud wou wees nie.

Intussen het ek ’n pos aanvaar om 12 maande lank as ’n adjudant van die Goewerneur-generaal van Australië te dien. Die lewe by die Goewerneurswoning, in Canberra, het my insig gegee in wat in die politieke wêreld gebeur en het noue omgang met burgerlike, militêre en godsdiensowerhede ingesluit. Aan die einde van my dienstyd het ek weer as ’n vlieginstrukteur begin werk. Ek en Diane het kort daarna, in 1980, getrou.

In 1982 het ek ’n twee jaar lange uitruiltoewysing aanvaar om by die Amerikaanse Lugmag as ’n vlugveiligheidsoffisier te werk en ook vliegtuigongelukke te ondersoek. Die werk het my deur die hele Verenigde State en selfs tot in Noord-Ierland geneem. Ek moes vliegtuigongelukke ondersoek en die ontwerp van vliegtuie sowel as lugoperasies evalueer, sodat die veiligheid daarvan verbeter kon word.

Terug na Australië

Nadat ek na Australië teruggekeer het, het ons gesin tot vier lede gegroei toe ons dogter Kerry gebore is. Weens my werklas was Diane ma sowel as pa vir ons dogters, en ons gesinslewe het daaronder gely. Drie jaar later het ek my eerste pos as bevelvoerder ontvang—by die lugmag se BBP-eskader, wat vroeër gemeld is. Toe die Persiese Golfoorlog in 1991 uitgebreek het, het my eskader die VN se operasie daar ondersteun, en daarna ander operasies in Pakistan, Afganistan, Afrika en Israel.

In 1992 het ek die stafoffisier van die hoof van die weermag geword. My diens as persoonlike assistent van die mees senior militêre bevelvoerder in Australië het my goeie insig gegee in die verhouding tussen die weermag, die politiek en die VN. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die VN in baie opsigte te kort skiet. Tog het dit gelyk asof dit ons enigste hoop op ’n beter wêreld is. Toe het verwikkelinge by die huis gemaak dat ek my beskouings heroorweeg.

Diane se vrae word beantwoord

Ná die dood van haar eerste man het Diane, ’n Rooms-Katoliek, na antwoorde op haar vrae gesoek, maar tevergeefs. Sake het egter vererger toe ons ouer dogter, Renee, in die okkult begin belangstel het. Terwyl Diane by ’n vriendin se huis was, het sy ’n nommer van die Ontwaak! gesien wat ’n komende artikel oor Satanisme gemeld het.a Sy het nog nooit tevore die Ontwaak! gesien nie. Op pad huis toe het sy heeltyd gewonder: ‘Hoe kan ek daardie tydskrif in die hande kry?’

Drie dae later het Jehovah se Getuies aan ons deur geklop, en Diane het haar tydskrif gekry. Sy het later ’n Bybelstudie aanvaar en toe Christelike vergaderinge begin bywoon. Ek het glad nie omgegee dat sy studeer nie en het selfs saam met haar na party van die vergaderinge gegaan, maar ek het nie gevoel dat dit nodig was om self betrokke te raak nie. Ek het my nie as godsdienstig beskou nie. Ek het aan God geglo, maar het te veel huigelary gesien om godsdiens ernstig op te neem. Ek kon byvoorbeeld nie verstaan waarom militêre kapelane oor liefde en vrede preek, maar oorlog ondersteun nie.

Diane het goeie oordeel aan die dag gelê en eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! laat rondlê vir my om te lees. Ek het party gelees en dit dan versigtig op die oorspronklike plek teruggesit. Ek wou nie hê sy moes dink dat ek dalk belangstel nie. Namate my Bybelkennis toegeneem het, het twee tekste my begin pla. Een was Openbaring 19:17, 18, wat praat van voëls wat die vlesige dele van “militêre bevelvoerders” eet. Die ander een was Openbaring 17:3, wat “’n skarlakenkleurige wilde dier” meld. Die Getuies het hierdie dier as ’n simbool van die VN beskou, iets wat teenstrydig was met my idees oor hierdie wêreldliggaam.b Maar ek het enige vrae wat ek gehad het, probeer ignoreer.

In 1993 het Diane my genooi om haar doop by te woon. Haar versoek het my onkant gevang. Ek het haar gevra: “As jy moes kies, wie sou jy kies: my of Jehovah?” Sy het geantwoord: “Jehovah. Maar dit hoef nie ’n keuse te wees nie. Ek wil julle albei in my lewe hê.” Ek het toe besef dat ek meer oor hierdie ander persoon in haar lewe moes leer. ’n Plaaslike Christen- ouer man het aangebied om die Bybel met my te studeer, en ek het die aanbod aanvaar.

Ek het baie in Bybelprofesieë begin belangstel, veral hoe dit verband hou met militêre en politieke geskiedenis. Gedurende my opleiding in die lugmag het ek byvoorbeeld die militêre prestasies van die eertydse Grieke bestudeer. Nou het ek geleer dat baie van daardie geskiedenis eeue tevore in Daniël hoofstuk 8 opgeteken is. Hierdie profesie, en ander, het my geleidelik oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is.

Ek het ook opnuut na die VN gekyk. Ek het geweet dat die militêre magte nie die mensdom se probleme kon oplos nie, dat ware vrede nie deur die bedreiging van oorlog teweeggebring kon word nie en dat die VN nie die politieke, godsdienstige en etniese verdeeldheid wat tot oorlog lei, uit die weg kon ruim nie. Ek het begin sien dat net God die mensdom se probleme kan oplos. Om die waarheid te sê, dit het gelyk asof hy dit reeds onder die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies begin doen het (Psalm 133:1; Jesaja 2:2-4). ‘Maar sou ek my militêre loopbaan kon prysgee om God te dien?’ het ek gewonder.

Ek neem my standpunt in vir Bybelwaarheid

In 1994 het sake ’n keerpunt bereik toe ek ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Sydney bygewoon het. Deel van die program was ’n gekostumeerde Bybeldrama wat die aandag gevestig het op die keuse wat die eertydse nasie Israel moes maak—sou hulle Jehovah dien of sou hulle Baäl, ’n Kanaänitiese god, dien? Jehovah se profeet Elia het die volgende uitdaging aan die Israeliete gerig: “Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink? As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom” (1 Konings 18:21). Daardie woorde het my diep getref. Soos die Israeliete, het ek op die draad gesit. Ek moes ’n keuse maak: Sou ek Jehovah dien of my militêre loopbaan voortsit?

Toe ons daardie aand huis toe ry, het ek vir Diane gesê dat ek die lugmag gaan verlaat en een van Jehovah se Getuies gaan word. Sy was verbaas deur my skielike besluit, maar het my ten volle ondersteun. Etlike dae later het ek nog nie van plan verander nie, en ek het dus my bedanking ingedien.

Ek was op daardie stadium die bevelvoerder van die kadetoffisierskorps by die Australiese Weermag-akademie in Canberra, die hoofstad van die land. Ek het toesig gehou oor die militêre en akademiese opleiding van sowat 1 300 kadetoffisiere en personeellede van die leër, vloot en lugmag. Op die laaste dag van die akademiese jaar het ek vir ’n gehoor van 400 senior kadette en personeellede gesê dat ek die weermag gaan verlaat sodat ek van huis tot huis kan gaan en mense die Bybel kan leer as ’n vrywillige Christenbedienaar. Hierdie aankondiging het tot ’n paar interessante besprekings gelei.

Ek word ’n voltydse bedienaar

Ek het die dag nadat ek die weermag verlaat het, met die predikingswerk begin. Drie maande later, in April 1995, is ek gedoop. By die eerste geleentheid het ek as ’n gewone pionier begin dien, wat beteken het dat ek voltyds aan die openbare bediening deelgeneem het.

Ek moes baie aanpassings maak om van ’n militêre bevelvoerder in ’n “soldaat van Christus” te verander (2 Timoteus 2:3). Een van my eerste toewysings was om die mikrofone gedurende Christelike vergaderinge te behartig. Ek moes leer om te vra dat dinge gedoen word en om nie bevele te gee nie. Bedagsaamheid en liefde het belangriker geword as doeltreffendheid, hoewel ek nog steeds sukkel om hierdie eienskappe te balanseer. En weens my kleiner inkomste moes ons gesin ons lewenstyl vereenvoudig.

Ek het die predikingswerk werklik geniet, en ek geniet dit nog steeds. Toe ek eenkeer aan die predikingswerk deelgeneem het saam met ons dogter Kerry, wat destyds nege was, het ek haar gevra om te let op die huisbewoners se reaksies. Ons het gou gesien dat baie mense nie belangstel nie, maar dat party vriendelik is en selfs belangstel. Dit was bemoedigend vir ons albei. Ons ander dogter het die Bybel ’n ruk lank bestudeer, maar het besluit om Jehovah nie op hierdie stadium te dien nie.

Ek en Diane het Kerry aangemoedig om die voltydse bediening na te streef. Ek het onlangs die opwindende voorreg gehad om die Pionierdiensskool saam met haar by te woon. Dit was haar eerste keer en my tweede. Wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe sy en ander jongmense geestelike vordering maak en die Christelike bediening nastreef!—Psalm 110:3.

Oorvloedige seëninge

Wanneer ek terugkyk, sien ek ooreenkomste en verskille tussen diens in die weermag en diens as ’n soldaat van Christus. Albei rolle vereis lojaliteit, gehoorsaamheid, onkreukbaarheid, selfdissipline en selfopoffering. Maar hoewel baie in die weermag dalk bereid is om te sterf vir hulle land en vriende, word daar van ware Christene vereis om selfs hulle vyande lief te hê (Matteus 5:43-48). En terwyl militêre helde ’n medalje kan ontvang vir ’n enkele moedige daad, verkry ware Christene God se goedkeuring deur in getroue diens te volhard—wat kan beteken dat hulle jaar ná jaar moedig moet bly ondanks teenstand, bespotting en ander beproewinge (Hebreërs 10:36-39). My mede-Christene is die beste mense wat ek ken.

In teenstelling met die begroetinge wat aan die begin van hierdie verhaal gemeld word, sê ek deesdae “Goeiemôre, suster” of “Goeienaand, broer” wanneer ek groet. Wat ’n vreugde is dit tog om aan die Christelike bediening deel te neem saam met mense wat God waarlik liefhet! Die grootste eer is egter om die Allerhoogste, Jehovah self, te dien! Ek kan my nie ’n bevredigender manier voorstel om my lewe te gebruik nie.

[Voetnote]

a Het verskyn in die nommer van 22 Oktober 1989, bladsye 2-10.

b Sien bladsye 240-3 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 14]

Hoewel baie in die weermag dalk bereid is om te sterf vir hulle land en vriende, word daar van ware Christene vereis om selfs hulle vyande lief te hê

[Prent op bladsy 12, 13]

Ek vlieg ’n BBP-straler van die lugmag oor die Parlementshuis, in Canberra

[Prent op bladsy 15]

Bybeldrama, streekbyeenkoms van 1994 in Sydney, Australië

[Prent op bladsy 15]

Saam met Kerry by die Pionierdiensskool

[Prent op bladsy 15]

Saam met Diane en Kerry vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel