Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/10 bl. 12-15
  • Wat my tot Jehovah se Getuies aangetrek het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat my tot Jehovah se Getuies aangetrek het
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Militêre orde het my aangetrek
  • Ek verkry ’n hoë posisie
  • Ordelikheid by die Koninkryksaal
  • Vordering tot doop
  • Samewerking wat op liefde gegrond is
  • Die eerste keer in die predikingswerk
  • Van militêre bevelvoerder tot “soldaat van Christus”
    Ontwaak!—2008
  • Versterk vir beproewinge wat voorgelê het
    Ontwaak!—1996
  • Ons soeke na geregtigheid
    Ontwaak!—1997
  • Waarom dit my vreugde verskaf om dissipels te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 3/10 bl. 12-15

Wat my tot Jehovah se Getuies aangetrek het

Soos vertel deur Tomás Orosco

Die eerste keer toe ek ’n vergadering van die Getuies by hulle Koninkryksaal bygewoon het, het ’n klein seuntjie ’n toespraak gehou. Al kon hy skaars oor die rostrum sien, was hy besonder kalm en het hy hom goed van sy taak gekwyt. Ek was werklik beïndruk.

EK KON sien dat die gehoor noukeurig aandag skenk. Aangesien ek gedien het as ’n Boliviaanse militêre diplomaat in die Verenigde State, ’n bevelvoerder in die weermag en ’n persoonlike assistent van die president, was ek gewoond daaraan om respek te ontvang. Maar die respek wat hierdie kind ontvang het, het my my doelwitte in die lewe weer laat ondersoek.

My pa het in die middel-1930’s in die Chaco-oorlog tussen Paraguay en Bolivia gesterf. Kort daarna is ek na ’n Katolieke kosskool gestuur. Ek het jare lank die daaglikse mis bygewoon, waar ons gesange gesing het, na kategismus geluister het en gememoriseerde gebede opgesê het. Ek was selfs ’n altaarknaap en het in die koor gesing. Tog het ek nooit die Bybel gelees nie; trouens, ek het nooit een gesien nie.

Ek het die godsdienstige vakansiedae geniet, want dit was soos ’n partytjie, en ek het gehou van die verandering van roetine. Maar die priesters en ander wat godsdiensonderrig gegee het, was hardvogtig. Hulle het my eerder afgestoot as aangetrek. Ek wou nie verder by godsdiens betrokke raak nie.

Militêre orde het my aangetrek

Een mooi sonskyndag het twee deftig geklede jong militêre offisiere na my tuisdorp, Tarija, gekom. Hulle was op verlof en het van La Paz, Bolivia se hoofstad, gekom. Hulle het met gemak en grasie oor die stadsplein gestap. Ek was beïndruk deur hulle statige, skoon en waardige voorkoms. Hulle was uitgevat in groen gala-uniforms en het blinkrandhoede opgehad. Ek het daar en dan besluit om ’n militêre offisier te word. Ek het gedink dat hulle lewe vol interessante ondervindinge en eervolle dade moet wees.

In 1949, toe ek 16 was, het ek toelating tot Bolivia se militêre kollege verkry. My ouer broer het saam met my in die lang ry jong mans gestaan wat tot by die hek van die barak gestrek het. Hy het my aan die luitenant voorgestel en hom gevra om mooi na my te kyk. Hy het my toe aanbeveel deur ’n goeie woordjie vir my te doen. Toe hy daar weg is, het ek die gebruiklike verwelkoming vir nuwelinge ontvang. Ek is teen die grond platgeslaan, en daar is vir my gesê: “Ons sal sien wie beveel wie hier aan!” Dit was hoe ek met militêre dissipline en intimidasie kennis gemaak het. Maar ek was taai, en net my trots was gekrenk.

Mettertyd het ek geleer hoe om oorlog te voer en het ek ’n gerespekteerde militêre offisier geword. Maar ek het uit ondervinding geleer dat die skoon en waardige uiterlike van militêre personeel misleidend kan wees.

Ek verkry ’n hoë posisie

Vroeg in my loopbaan het ek opleiding ontvang op die General Belgrano, ’n slagkruiser van die Argentynse Vloot, wat oor ’n duisend personeellede kon huisves. Dit is voor die Tweede Wêreldoorlog in die Verenigde State as die USS Phoenix te water gelaat en het later die Japannese aanval op Pearl Harbor, Hawaii, in 1941, oorleef.

Uiteindelik het ek in rang geklim en tweede in bevel geword van Bolivia se Vloot, wat die waterweë patrolleer wat Bolivia se grense vorm. Hierdie waterweë het die riviere van die Amasone-bekken sowel as die hoogste bevaarbare meer in die wêreld, die Titicaca-meer, ingesluit.

Intussen is ek in Mei 1980 gekies om deel te wees van ’n sending militêre diplomate wat na Washington, DC, die hoofstad van die Verenigde State, gestuur is. ’n Hoë offisier is gekies uit elke afdeling van die weermag—die leër, lugmag en vloot—en weens my senioriteit is ek as koördineerder van die groep aangestel. Ek het byna twee jaar lank in die Verenigde State gewoon en het later die persoonlike assistent van die president van Bolivia geword.

As ’n militêre bevelvoerder moes ek elke Sondag kerk toe gaan. Ek was teleurgesteld in godsdiens as gevolg van die kapelaan en priesters se betrokkenheid by revolusies en oorloë. Ek het geweet dat dit verkeerd is van die kerke om sulke bloedvergieting te ondersteun. Maar hierdie huigelary het nie gemaak dat ek godsdiens verwerp nie, dit het my eerder aangespoor om na geestelike waarheid te soek. Hoewel ek nooit tevore die Bybel gelees het nie, het ek begin om dit van tyd tot tyd oop te slaan en hier en daar verse te lees.

Ordelikheid by die Koninkryksaal

Tot my verbasing het my vrou, Manuela, die Bybel begin studeer saam met een van Jehovah se Getuies, ’n sendeling genaamd Janet. Later het Manuela vergaderinge begin bywoon by hulle plek van aanbidding, die Koninkryksaal. Ek het nie omgegee om haar daarheen te neem nie, maar ek wou nie die vergaderinge bywoon nie. Ek het aangeneem dat die vergaderinge luidrugtig en emosioneel sou wees.

Eendag het Manuela gevra of ek sou omgee as Janet se man my kom besoek. Eers wou ek niks daarvan weet nie. Toe het ek gedink dat ek met al my godsdiensopleiding enigiets wat hy sê, sal kan weerlê. Toe ek Ian die eerste keer ontmoet het, was dit sy houding wat my beïndruk het—nie noodwendig wat hy gesê het nie. Hy het my nie in die verleentheid probeer bring met sy opleiding en Bybelkennis nie. Hy was eerder vriendelik en respekvol.

Die volgende week het ek besluit om na die Koninkryksaal te gaan waar ek, soos ek aan die begin gemeld het, die klein seuntjie hoor praat het. Toe ek hoor hoe hy tekste uit die Bybelboek Jesaja lees en verduidelik, het ek geweet dat ek ’n unieke organisasie gevind het. Dit is ironies dat ek as ’n jong man ’n gerespekteerde militêre offisier wou wees, maar dat ek nou soos hierdie seuntjie wou wees en Bybelonderrig wou voorsien. Dit was asof my hart skielik sag en ontvanklik geword het.

Met verloop van tyd is ek ook beïndruk deur die stiptelikheid van die Getuies en die hartlike wyse waarop hulle my altyd gegroet en tuis laat voel het. Hulle skoon, netjiese kleredrag het my ook beïndruk. Ek het veral van die ordelikheid van die vergaderinge gehou—as ’n spesifieke toespraak gereël is, was dit presies wat ek daardie dag sou hoor. Ek het besef dat hierdie dissipline op liefde gegrond is en nie op intimidasie nie.

Ná my eerste vergadering het ek ingestem om die Bybel saam met Ian te studeer. Ons het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe as ’n studiehulp gebruik.a Ek kan nog die derde hoofstuk onthou, met die prentjie van ’n biskop wat die troepe voor ’n veldslag seën. Ek het die akkuraatheid daarvan nie vir ’n oomblik betwyfel nie, want ek het dit al met my eie oë gesien. By die Koninkryksaal het ek die boek Redenering uit die Skrif gekry. Toe ek lees wat die Bybel oor neutraliteit sê, het ek geweet dat ek veranderinge moes maak. Ek het besluit om nooit weer na die Katolieke Kerk terug te gaan nie en het vergaderinge by die Koninkryksaal gereeld begin bywoon. Ek het ook reëlings getref om uit die weermag te tree.

Vordering tot doop

’n Paar weke later het ek gehoor dat die gemeente die stadion gaan skoonmaak wat vir ’n komende streekbyeenkoms gebruik sou word. Ek het baie daarna uitgesien om dit by te woon en het met die skoonmaakwerk gaan help. Ek het saam met die ander gewerk en die werk en assosiasie baie geniet. Terwyl ek die vloer gevee het, het ’n jong man my genader en gevra of ek die admiraal is.

“Ja”, het ek geantwoord.

“Ek kan dit nie glo nie!” het hy verbaas uitgeroep. “’n Admiraal vee die vloer!” ’n Hoë offisier sal nie eers ’n stukkie papier optel nie, wat nog te sê die vloer skoonmaak. Die man was vroeër my persoonlike militêre chauffeur en was nou een van Jehovah se Getuies!

Samewerking wat op liefde gegrond is

Militêre orde is gegrond op respek vir rang, ’n konsep wat by my ingeprent is. Ek onthou byvoorbeeld dat ek gevra het of party van Jehovah se Getuies hoër as ander is op grond van hulle posisies van verantwoordelikheid of die take wat hulle uitgevoer het. My beskouing van rang en posisie was nog diepgewortel, maar dit sou weldra drasties verander.

Omstreeks dié tyd—in 1989—het ek gehoor dat ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies van New York sou kom om Bolivia te besoek en ’n toespraak in ’n stadion sou lewer. Ek wou graag sien hoe ’n “vername” lid van die organisasie behandel sou word. Ek het gedink dat iemand met soveel verantwoordelikheid met groot vertoon daar sou aankom.

Wel, toe die vergadering begin, was daar geen aanduiding dat enigiemand spesiaals opgedaag het nie, en ek het begin wonder. Langs my en Manuela het ’n bejaarde egpaar gesit. Manuela het gesien dat die vrou ’n Engelse liedereboek het en het dus tydens ’n pouse met haar begin gesels. Maar daarna het die egpaar geloop.

Hoe verras was ons albei tog toe die vrou se man later na die verhoog stap om die hooftoespraak te lewer! Op daardie oomblik het my siening oor alles wat ek in die weermag omtrent rang, respek, mag en posisie geleer het, verander. “Stel jou voor”, het ek later gesê, “die broer wat langs ons op een van daardie ongemaklike stadionsitplekke gesit het, was ’n lid van die Bestuursliggaam!”

Ek glimlag nou wanneer ek dink aan hoeveel keer Ian my probeer help het om Jesus se woorde in Matteus 23:8 te begryp: “Julle [is] almal broers.”

Die eerste keer in die predikingswerk

Toe ek my militêre verpligtinge afgehandel het, het Ian my genooi om saam met hom aan die predikingswerk van huis tot huis deel te neem (Handelinge 20:20). Die buurt waarheen ons gegaan het, was een wat ek wou vermy—dit was vol militêre huise. ’n Generaal wat ek juis wou vermy, het die deur oopgemaak. Ek was senuweeagtig en bang, veral toe hy my aktetas en Bybel sien en smalend vra: “Wat het met jou gebeur?”

Ná ’n vinnige gebed het ’n gevoel van selfvertroue en kalmte oor my gekom. Die generaal het na my aanbieding geluister en selfs Bybellektuur geneem. Hierdie ondervinding het my aangespoor om my lewe aan Jehovah toe te wy. Ek het my toewyding op 3 Januarie 1990 deur waterdoop gesimboliseer.

Mettertyd het my vrou, my seun en my dogter ook Jehovah se Getuies geword. Ek dien nou in die gemeente as ’n ouer man en ’n voltydse prediker van die goeie nuus van God se Koninkryk. Die kosbaarste voorreg wat ek het, is om Jehovah te ken en om deur hom geken te word. Dit oortref enige rang of posisie wat enigiemand kan nastreef of bereik. Ja, ordelikheid moenie met hardvogtigheid of ontoegeeflikheid gepaardgaan nie, maar met hartlikheid en liefde. Jehovah is ’n God van orde, maar nog belangriker, hy is ’n God van liefde.—1 Korintiërs 14:33, 40; 1 Johannes 4:8.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 13]

Saam met my broer Renato, in 1950

[Prent op bladsy 13]

’n Sosiale geleentheid saam met militêre personeel van China en ander lande

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel