Bootvaart op die waterweë van Kerala
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË
STEL jou voor dat jy op ’n pragtig gemeubileerde woonboot vaar wat jou deur die deltas van 44 riviere kan neem. Op die 900 kilometer lange waterweë (of, backwaters) van die staat Kerala, in Suidwes-Indië, kan jy dit doen. Dit is waarlik ’n vreugdevolle, unieke ondervinding. Terwyl jou boot luilekker voortbeweeg, kan jy nie anders nie as om jou te verwonder oor die prag van die kokospalm-omsoomde strandmere, lowergroen ryslande, natuurlike mere en mensgemaakte kanale. Ja, dit is waarskynlik weens hierdie waterweë dat die National Geographic Traveler Kerala as “een van die 50 ‘moet-sien-bestemmings van ’n leeftyd’” beskryf het.
Die mense wat op die oewers van die kanale woon, is net so besonder. Hulle onthou nog ’n tyd toe daar nie toeriste of vyfsterhotelle in hulle omgewing was nie. Hulle lewe het egter nie baie verander nie. Hoewel sommige van hulle nou in nuwe hotelle of in ander ondernemings werk wat met toerisme verband hou, het hulle kultuur en hulle daaglikse roetine baie dieselfde gebly. Hulle werk in hulle ryslande en kokospalmboorde en vul hulle daaglikse dieet en inkomste aan deur vis te vang en te verkoop.
Visvang in die waterweë
Visvang is hier ’n deel van die lewe. Iets wat jy moontlik nêrens anders sal sien nie, is vroue wat karimeen, ’n soort vis, met hulle kaal hande vang. Karimeen, wat net in Kerala se waters voorkom, is vir Indiërs sowel as uitlanders ’n lekkerny. Die vroue loop deur die water op soek na die visse, met hulle potte wat agter hulle dryf. Wanneer die visse die vroue sien aankom, duik hulle af en steek hulle hulle koppe in die modder. Die vroue word nie geflous nie en voel met hulle sensitiewe voete in die modder rond om die visse op te spoor. Dan buk hulle vinnig onder die water in, vang die niksvermoedende vis met hulle kaal hande en gooi die wriemelende vangs in die drywende potte. Wanneer hulle genoeg gevang het, loop hulle terug na die oewer, waar gretige kopers op hulle wag. Die groter en duurder visse word deur die vyfsterhotelle gekoop, waar die rykes aan hulle smul, terwyl die kleineres ’n smaaklike maaltyd word vir dié wat dit nie so breed het nie.
Chinese visnette
Sierlike visnette in die Chinese styl is ’n algemene gesig op die oewers van hierdie waterweë. Dit dien ook as ’n vername toeristeaantreklikheid.
Chinese handelaars aan die hof van Koeblai Khan het die nette vermoedelik voor die jaar 1400 vir die eerste keer na Cochin (nou Kochi) gebring. Hierdie handbeheerde visvangtoestelle is deur die Chinese en toe later deur die Portugese nedersetters gebruik. Vandag gebruik baie Indiese vissermanne dit om ’n bestaan te maak, en dit voorsien voedsel vir tallose mense, net soos dit meer as 600 jaar gelede gedoen het. Die vangs uit een net kan verbasend genoeg ’n hele dorpie van voedsel voorsien. Vir baie toeriste het ’n romantiese foto van die silhoeët van nette teen die ondergaande son, terwyl dit droog word, ’n spesiale plekkie in hulle vakansie-fotoalbum.
Dit is nie net beelde van Chinese nette wat toeriste na hierdie waterweë lok nie. Wateraktiwiteite, soos die tradisionele slangbootwedrenne, lok elke jaar duisende.
Bootwedrenne op die waterweë
Slangbote is lang, smal kano’s. Die agterstewe is in die vorm van ’n kobra se bakkop, vandaar die naam slangboot. In vervloë tye het die strydende konings van die waterweë hierdie bote ná die oestyd gebruik om oorlog te voer. Toe die oorloë uiteindelik opgehou het, was daar nie meer so ’n groot behoefte aan die bote nie. Hierdie majestueuse vaartuie het net gedurende tempelfeeste die waters bevaar. Dit is met groot seremonie beman en versier en as vertoonstukke van die plaaslike kultuur gebruik. Gedurende die feestyd is bootwedrenne gehou ter ere van die hooggeplaastes wat dit bygewoon het. Hierdie tradisie, wat omtrent duisend jaar gelede begin het, is nog steeds baie gewild.
Daar is gewoonlik tot 20 van hierdie bote met ’n bemanning van tussen 100 en 150 wat aan die wedrenne deelneem. Meer as honderd mans met kort spane sit in twee lang rye aan weerskante van elke boot. Vier stuurmanne met langer spane staan op die agterstewe om die boot te stuur. Twee ander staan in die middel van die boot en slaan met houtstokke op ’n klankbord om vir die roeiers tyd te hou. Ten minste ses ander gaan ook saam om die roeiers verder aan te spoor. Hierdie mans klap hulle hande, fluit, skree en sing die unieke liedjies van die bootvaarders om die bemanning aan te moedig om die pas vol te hou. Nadat die jong mans ’n ent lank presies op hierdie ritme geroei het, roei hulle vir al wat hulle werd is wanneer hulle op die eindstreep afpyl.
In 1952 het Indië se eerste Eerste Minister, Jawaharlal Nehru, besoek afgelê in Alleppey, ’n belangrike dorp in hierdie gebied, en hy was baie beïndruk deur ’n bootwedren waarna hy gaan kyk het. Trouens, hy was so meegevoer dat hy, ten spyte van die veiligheidsmaatreëls, op die wenboot gespring het en saam met die roeiers hande geklap en gesing het. Terug in Delhi het hy ’n silwer replika van ’n slangboot as ’n geskenk gestuur met sy handtekening daarop, asook die inskripsie: “Aan die wenners van die bootwedren, wat ’n unieke aspek van gemeenskapslewe is.” Hierdie silwerboot word gebruik as die trofee vir die jaarlikse Nehru-trofee-wedren. Omtrent honderdduisend mense kom kyk elke jaar na hierdie resies. Dan kry hierdie waterweë, waar die pas van die lewe oor die algemeen stadig is, weer lewe.
Luukse hotelle op die water
Slangbote is nie die enigste vaartuie op die waterweë wat toeriste lok nie. Rysbote—outydse vaartuie wat in luukse woonbote omskep is—word ook al hoe gewilder.
Hoewel baie van dié wat deur toeriste gebruik word, onlangs gebou is, bestaan daar nog rysbote wat meer as honderd jaar oud is en in bote vir toeriste omskep is. Hulle het oorspronklik as kettuvallam bekend gestaan, wat “boot met knope” beteken. Die hele boot is gemaak van planke van ’n soort broodboom wat met klapperhaartou aanmekaargeknoop is, sonder die gebruik van ’n enkele spyker. Hierdie bote is gebruik om rys en ander handelsartikels van dorpie na dorpie te vervoer en om speserye na verafgeleë plekke te neem. Met die koms van moderne vervoermiddele het die bote byna heeltemal in onbruik geraak. Toe het ’n slim entrepreneur die idee gekry om hulle in woonbote vir die toeristebedryf te omskep. Die woonbote, wat ’n balkon, luukse slaapkamers met hulle eie badkamers en pragtig gemeubileerde sitkamers het, kan drywende hotelle genoem word. Boothulpe word voorsien om jou boot te stuur waar jy ook al wil gaan en om te kook wat jy ook al wil eet.
Wanneer die son sak, gooi hulle anker naby die oewer of, vir dié wat meer vrede en privaatheid soek, in die middel van ’n meer. Daar kan ’n mens die bekorende stilte van die waterweë geniet, behalwe natuurlik wanneer ’n slapelose vis nou en dan in die water plons!
Maar die lewe is nie vir almal wat hier woon, so rustig nie. “Vissers van mense” is wakker en bedrywig in die gebied.
“Vissers van mense”
Die uitdrukking “vissers van mense” kom van Jesus se woorde aan die vissermanne wat sy dissipels geword het. Hy het gesê: “Kom agter my aan, en ek sal julle vissers van mense maak.” Jesus het verwys na die werk om mense te help om sy dissipels te word (Matteus 4:18, 19; 28:19, 20). Daardie opdrag word wêreldwyd uitgevoer deur Jehovah se Getuies, insluitende dié in die gebiede om die waterweë.
Daar is 132 gemeentes van Jehovah se Getuies in Kerala, insluitende 13 in die gebiede om die waterweë. Baie van die lede van hierdie gemeentes is ook vissermanne van beroep. Terwyl een van hulle besig was om vis te vang, het hy met ’n mede-visserman oor God se Koninkryk gepraat. Kort voor lank kon die man die verskil sien tussen die leringe van sy kerk en die Bybel. Sy vrou en vier kinders het ook begin belangstel. ’n Bybelstudie is met hulle begin. Hulle het vinnig vordering gemaak, en vier van die ses is alreeds gedoop. Twee van die kinders is besig om vordering te maak sodat hulle daardie doelwit kan bereik.
Lede van een gemeente het per boot na ’n klein eiland gereis om daar te gaan preek. Weens die ongereelde bootdienste van en na die eiland, noem die plaaslike mense dit kadamakudi, wat “vasgevang as jy binnekom” beteken. Daar het die Getuies vir Johny en sy vrou, Rani, ontmoet. Hoewel hulle as Katolieke grootgeword het, het hulle met ’n meditasiesentrum geassosieer en al die geld wat hulle kon, daaraan geskenk. Johny het baie in die boodskap van Bybelwaarheid belanggestel, en ’n Bybelstudie is met hom begin. Hy het ander van sy nuutgevonde geloof begin vertel. Bybelwaarheid het hom gehelp om op te hou om te rook en nie meer alkohol te misbruik nie!
Daarbenewens was Johny se sekulêre werk nie in ooreenstemming met die Skrif nie, en daarom het hy veranderinge aangebring. Aanvanklik het dit vir die gesin finansiële probleme veroorsaak. Maar toe het Johny krappe begin vang om te verkoop en kon hy sodoende vir sy gesin sorg. Hy is in September 2006 gedoop, en sy vrou en twee kinders ’n jaar later. Die vooruitsig om vir ewig in ’n aardwye paradys te lewe, het hulle beskouing van die lewe heeltemal verander.—Psalm 97:1; 1 Johannes 2:17.
Dit is waarlik ’n heerlike ondervinding om Kerala se waterweë te besoek. Dit is nie net weens die Chinese visnette, die slangbote en die woonbote nie, maar ook weens die “vissers van mense”, die getroue Getuies van Jehovah wat daar woon.
[Kaart op bladsy 22, 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
INDIË
KERALA
[Prent op bladsy 23]
In Kerala is visvang ’n deel van die lewe
[Erkenning]
Boonste foto: Salim Pushpanath
[Prent op bladsy 23]
Vroue wat met hulle kaal hande visvang
[Prent op bladsy 24]
Slangbootwedren
[Prent op bladsy 24]
“Kettuvallam”
[Prent op bladsy 24, 25]
Woonboot
[Prent op bladsy 24, 25]
Johny en sy vrou, Rani
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Salim Pushpanath