Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/22 bl. 18-19
  • Kerala se “vlieënde” slangbote

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kerala se “vlieënde” slangbote
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bietjie agtergrond
  • Oorblyfsels van ’n vroeëre beskawing
  • Bootvaart op die waterweë van Kerala
    Ontwaak!—2008
  • Die Galilese boot—’n Skat uit Bybeltye
    Ontwaak!—2006
  • Gestrand op ’n eiland
    My boek met Bybelverhale
  • Op die See van Galilea
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/22 bl. 18-19

Kerala se “vlieënde” slangbote

Deur Ontwaak!-medewerker in Indië

“GOEIE genugtig! Watter boaardse wesens! Wat is dit?” het Neville, my Australiese vriend, uitgeroep toe hy ’n paar swart voorwerpe in ons rigting sien jaag. Hulle het vinnig nader gekom en dit het gelyk of hulle hulle vlerke klap en vlieg terwyl hulle skaars die water raak.

My vriend kon nie op sy plek bly sit nie. Hy het op ’n houtpaviljoen gaan sit en sy nek gerek om beter te kan sien. Hy het vir die eerste keer na ’n slangbootwedren gekyk.

Die bote was nog meer as ’n kilometer daarvandaan, maar ons kon ’n ritmiese getrommel en ’n skril gefluit hoor. Toe, terwyl hierdie vinnige vaartuie met 100 bemanningslede elk die eindstreep nader, was die skare buite hulleself van opgewondenheid. Entoesiaste van elke ouderdom het op en af gespring en hande geklap terwyl hulle hulle geliefkoosde bootspan aangespoor het. Vroue met kleurvolle sari’s aan het hulle sysakdoeke wild gewaai. Dit was net die begin van die jaarlikse Nehru-trofee-bootwedren in Alleppey in die staat Kerala, Suid-Indië.

Slangbote is ’n unieke kenmerk van die waterfeeste wat op die riviere en damme van die laaggeleë, sentrale Travancorestreek gehou word. ‘Maar wat is slangbote presies’, wonder jy dalk, ‘en hoe het die hele gedoente begin?’

’n Bietjie agtergrond

Slangbote is aanvanklik gebou om in gevegte gebruik te word. ’n Aantal plaaslike radjas, of konings, het vroeër oor die hedendaagse staat Kerala geregeer, en elkeen het sy eie stukkie grondgebied gehad. Daar was talle oorloë wat om die geringste rede gevoer is. Vyf slangbote kon maklik ’n heerser se hele skeepsmag dra.

Eindelik het ’n sterk heerser die bewind oorgeneem en die gebied verenig sodat die bote bloot vertoonstukke geword het. Die bote word tydens feestelike geleenthede opgetooi en gebruik om politieke en godsdienstige hooggeplaastes te verwelkom. Daar word altyd bootwedrenne tydens sulke geleenthede gehou. Jawaharlal Nehru, Indië se eerste Eerste Minister, het Alleppey in 1952 besoek en na ’n bootwedren gaan kyk. Ten spyte van sy ouderdom en die veiligheidsmaatreëls is hy deur die opwinding meegesleep en het hy op die oorwinningsboot gespring en saam met al die ander hande geklap en gesing. Hy het later ’n silwer slangboottrofee geskenk en dít het tot die Nehru-trofee-wedren, waarna ek en my vriend gekyk het, aanleiding gegee.

Oorblyfsels van ’n vroeëre beskawing

Die slangbote is lang, smal, gladde en gestroomlynde houtkano’s. Hulle is tussen 25 en 30 meter lank en hulle wydste deel is net ongeveer 1,5 meter wyd. Die agterste gedeelte van die boot staan in party gevalle ses meter bo die watervlak uit en het die vorm van ’n kobra se bakkop; vandaar die naam slangboot. Die voorste gedeelte is egter spits, soos ’n voël se snawel.

Daar word deesdae maar selde van hierdie skaars oorblyfsels uit ’n eeue oue beskawing gebou. Hierdie ontsaglike taak behels hope duur timmerhout en maande se harde werk, en baie min bedrewe ambagsmanne—nasate van eertydse timmermangesinne—sal dit aandurf. Wanneer ’n boot voltooi is, word dit in die son gedroog en sorgvuldig bewerk met ghries en olie wat met eierwitte gemeng is sodat dit vinniger kan “vlieg”.

Dit is ook glad nie maklik om ’n span wat met so ’n boot aan ’n wedren gaan deelneem op te lei en te oefen nie. Ongeveer honderd roeiers met kort spane sit in twee lang rye aan weerskante van die boot. Twee of drie ander wat langer spane het en die vaartuig stuur, staan op die agterste gedeelte van die boot. ’n Man slaan ritmies met ’n houtstamper op ’n klankbodem sodat die ritmiese beweging volgehou kan word. Minstens ses ander ry saam om die roeiers met eenstemmige handegeklap, fluite en krete aan te spoor.

Namate die wedren vorder en die opwinding toeneem, versnel die maatslag en beweeg die spane in ’n harmoniese eenheid. Die 50 spane wat ritmies weerskante van die boot op en af beweeg, laat dit lyk of die vaartuig vlieg. Dít is waarom my vriend verbaas was en verwonderd gestaar het na die bote wat lyk of hulle net-net oor die water skeer.

Deelname aan ’n wedren verg geweldige konsentrasie en ’n groepspoging wat goed gekoördineer word. As ’n enkele roeier sy aandag net vir ’n oomblik laat aflei, kan dit die hele span van stryk bring. Daarom probeer sangers op mededingende bote soms die konsentrasie met eienaardige geluide en snaaksighede verbreek. Roeispanne gebruik dikwels slenters om hulle eie span te bevoordeel.

’n Spankaptein het tydens een wedren ’n aap op die hoogste gedeelte van sy boot laat sit. Toe die dier geluide begin maak en gesigte begin trek, het die mededingende kaptein gou agtergekom wat aangaan. Laasgenoemde wou nie agterbly nie en het die ander hard toegejuig, sy klere uitgepluk en poedelnakend voor op sy boot gaan staan. Dit het die gewenste uitwerking gehad. Terwyl die ander span na hom gekyk het, het sý manne hulle egalige snelheid behou en die wedren gewen. Dit sou vir hom ’n groter skande gewees het om die wedren te verloor as om kaal gesien te word.

’n Dorp kry aansien as hy ’n slangboot besit en kry selfs groter eer as hy ’n wedren wen. Wanneer dit wedrentyd is, daag die hele dorp se inwoners op om hulle span aan te moedig. Slegte weer skrik entoesiaste nie af nie, en hulle gaan na die wedrenne kyk al moet hulle die reënseisoen se stortreëns en muskiete trotseer en kniediep in modderige water staan. Ondersteuners van mededingende spanne bots dikwels, raak handgemeen en koester dan hulle wrok tot volgende jaar se byeenkoms.

Heersers wedywer nie meer om beheer oor gebied en heerskappy soos hulle voorvaders vroeër gedoen het nie. Maar die wedywering gaan voort in Kerala se geliefde slangbootresies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel