Asiatiese nomades wat ’n ryk tot stand gebring het
Rusland was in die greep van vrees en wanorde. Hordes berede krygers uit die ooste het soos sprinkane oor die steppe geswerm en gemoor, geplunder en enige leërmag wat hulle teëgestaan het, uitgewis. Die enigste deel van Rusland wat die aanslag vrygespring het, was die vorstedom van Nowgorod. Daar het ’n vreesbevange kroniekskrywer die gebeure beskryf as ’n inval deur “onbekende stamme” wat ’n vreemde taal praat.
DIE invallers was die Mongole, ’n volk wat afkomstig was van die grasplato wat vandag as Mongolië bekend staan, in Sentraal- en Noordoos-Asië. Hulle blitsige verowerings, wat in die vroeë 13de eeu G.J. begin het, het Asië en die helfte van Europa drasties verander. In net 25 jaar het die Mongole die inwoners van meer gebiede onderwerp as wat die Romeine in vier eeue verower het. Toe hulle op hulle magtigste was, het hulle geheers oor ’n gebied van Korea tot by Hongarye en van Siberië tot by Indië—die grootste aaneenlopende ryk in die opgetekende geskiedenis!
Die annale van die relatief kortstondige Mongoolse Ryk werp nie net lig op die geskiedenis van Asië en Europa nie, maar beklemtoon ook die waarheid van baie Bybelleringe oor die menslike natuur en die mens se heerskappy oor sy medemens. Hierdie waarhede sluit die volgende in: Menslike heerlikheid is tevergeefs en vlietend (Psalm 62:9; 144:4). “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). En soos dit in die Bybel uitgebeeld word, het magtige politieke koninkryke soos wilde diere opgetree deur ander nasies op aggressiewe wyse te probeer oorheers.a
Wie was die Mongole?
Die Mongole was nomadiese stamme en vaardige perderuiters wat ’n bestaan gemaak het deur met vee te boer, handel te dryf en te jag. Anders as die meeste ander volke—van wie net ’n klein persentasie vir oorlogvoering opgelei en toegerus was—was feitlik elke Mongoolse man wat ’n perd en ’n boog gehad het, ’n geharde en wrede krygsman. En elke stam was onwrikbaar lojaal aan sy leier, wat ’n khan genoem is.
Nadat hulle 20 jaar lank geveg het, het een khan, Temüjin (ca. 1162-1227), sowat 27 Mongoolse stamme onder sy leierskap verenig. Later het Moslems van Turkiese oorsprong wat Tatare genoem is, saam met die Mongole geveg. Trouens, toe die reusagtige Mongoolse krygsmag weswaarts gery het, het verskrikte Europeërs die invallers Tartare genoem.b In 1206, toe Temüjin net oor die 40 jaar oud was, het die Mongole hom die titel Djengis Khan gegee—wat “sterk heerser” of “universele heerser” kan beteken. Hy het ook as die Groot Khan bekend gestaan.
Djengis Khan se hordes berede boogskutters het vinnig en genadeloos toegeslaan, dikwels op talle fronte wat oor duisende kilometers gestrek het. Op militêre gebied “was hy die gelyke van Aleksander die Grote of Napoleon I”, sê die Encarta Encyclopedia. Die Persiese geskiedkundige Joezjani, ’n tydgenoot van Djengis Khan, het hom beskryf as “iemand met baie energie, onderskeidingsvermoë, vernuf en begrip”. Hy het hom ook as “’n wreedaard” bestempel.
Buite die grense van Mongolië
Noord-China is beset deur die Mantsjoes, wat hulle dinastie Jin, of die “Goue”, genoem het. Om die Mantsjoe-gebiede te bereik, het die Mongole die skrikwekkende Gobiwoestyn oorgesteek—nie ’n groot probleem vir nomade wat, indien nodig, van die melk en bloed van perde kon lewe nie. Hoewel Djengis Khan sy heerskappy tot in China en Mantsjoerye uitgebrei het, het die gevegte sowat 20 jaar lank voortgesleep. Onder die Chinese het hy soldate, vakmanne en handelaars gewerf sowel as ingenieurs wat beleëringswerktuie, katapulte en buskruitbomme kon maak.
Nadat Djengis Khan beheer verkry het oor die Chinese syroete, wat na lande verder wes gestrek het, wou hy ’n handelsooreenkoms met die naburige Turkiese sultan Mohammed aangaan. Die Sultan het oor ’n ontsaglike ryk regeer wat die hedendaagse Afganistan, Oesbekistan, Tadjikistan, Turkmenistan en die grootste deel van Iran sou beslaan.
In 1218 het ’n Mongoolse afvaardiging, wat skynbaar in handel belanggestel het, by die Sultan se landsgrens aangekom. Maar die plaaslike goewerneur het hulle laat teregstel, en dit het gebeure aan die gang gesit wat gelei het tot die eerste Mongoolse inval in ’n Moslemland. Oor die daaropvolgende drie jaar het die Mongole, wat volgens party talryker was as miere, stede en landerye stelselmatig geplunder en verbrand en sultan Mohammed se onderdane op groot skaal uitgemoor, behalwe dié met vaardighede wat vir die Mongole nuttig was.
Mongoolse magte, wat volgens skatting sowat 20 000 sterk was, het toe deur Azerbaidjan en Georgië gery na die steppe noord van Kaukasië en het elke leërmag wat hulle teëgekom het, verslaan, insluitende ’n Russiese mag van 80 000. Die Mongole het sowat 13 000 kilometer afgelê terwyl hulle om die Kaspiese See beweeg het in wat party mense as een van die grootste kavallerieveldtogte in die geskiedenis beskou. Hulle reeks oorwinnings het ’n presedent geskep vir die toekomstige invalle van Oos-Europa deur latere Mongoolse heersers.
Djengis Khan se opvolgers
Ögödei, die derde van Djengis Khan se vier seuns wat hy by sy hoofvrou gehad het, is as die volgende Groot Khan aangestel. Ögödei het strenger beheer oor die verowerde lande uitgeoefen, skatting ontvang van heersers wat aan hom onderhorig was en die verowering van die Jin-dinastie in Noord-China voltooi.
Om die Mongoolse Ryk sowel as die oordadige lewenstyl waaraan die Mongole gewoond geraak het, in stand te hou, het Ögödei uiteindelik besluit om weer oorlog te maak—maar teen lande wat nog nie geplunder is nie. Hy het aanvalle op twee fronte geloods—teen Europese lande in die weste en teen die Soeng-dinastie in Suid-China. Die Europese veldtog was suksesvol, maar nie die ander een nie. Ten spyte van ’n paar oorwinnings kon die Mongole nie die hoofgebied van die Soeng verower nie.
Die westelike veldtog
In 1236 het ’n geskatte 150 000 krygsmanne weswaarts na Europa gery. Hulle eerste teikens was die streke langs die Wolgarivier; daarna het hulle Russiese stadstate aangeval en Kiëf tot as verbrand. Die Mongole het belowe om die stede te spaar as die mense hulle een tiende van alles gee. Maar die Russe het verkies om te veg. Die Mongole het katapulte gebruik om die vyande met rotse, brandende nafta en salpeter te bestook. Toe hulle deur die stadsmure gebreek het, het die invallers binnegestroom en soveel bloed vergiet dat daar volgens een geskiedskrywer “nie ’n oog oopgebly het om oor die dooies te huil nie”.
Mongoolse magte het Pole en Hongarye verwoes en tot naby die grens van hedendaagse Duitsland gekom. Wes-Europa het hom gestaal vir ’n aanval, maar dit het nooit gekom nie. In Desember 1241 het Ögödei Khan gesterf, blykbaar terwyl hy smoordronk was. Die Mongoolse bevelvoerders het hulle dus na hulle hoofstad, Karakorum, 6 000 kilometer daarvandaan, gehaas om ’n nuwe heerser te verkies.
Ögödei se seun, Güyük, het hom opgevolg. ’n Ooggetuie van Güyük se troonbestyging was ’n Italiaanse monnik wat die reis van 15 maande deur gebied onder Mongoolse beheer afgelê het om ’n brief van pous Innocentius IV af te lewer. Die Pous wou die versekering hê dat Europa nie weer ingeval sou word nie, en hy het die Mongole aangespoor om die Christelike godsdiens aan te neem. Güyük het niks belowe nie. In plaas daarvan het hy vir die Pous gesê om met ’n afvaardiging konings te kom om aan die Khan eer te bewys!
Nog ’n aanval op twee fronte
Die volgende Groot Khan was Mongke, wat die troon in 1251 bestyg het. Hy en sy broer Koeblai het aanvalle geloods op die Soeng-dinastie in Suid-China, terwyl ’n ander mag weswaarts beweeg het. Hierdie mag het Bagdad verwoes en Damaskus gedwing om oor te gee. Die sogenaamde Christene wat kruistogte teen die Moslems gevoer het, het hulle hierin verlekker, en die “Christene” wat in Bagdad gewoon het, het hulle Moslembure doodgemaak en hulle besittings geplunder.
Op daardie beslissende tydstip—toe dit gelyk het asof die Mongole op die punt was om die Moslemwêreld te verbrysel—het die geskiedenis hom herhaal. Nuus is ontvang dat Mongke gesterf het. Weer eens het die invallers teruggekeer huis toe, en hierdie keer het hulle net 10 000 man agtergelaat om die front te verdedig. Kort daarna is hierdie onvoldoende mag uitgewis deur ’n leër van Egipte.
Die aanval in Suid-China op die welgestelde Soeng-dinastie was suksesvol. Om die waarheid te sê, Koeblai Khan het hom die stigter van ’n nuwe Chinese dinastie verklaar en dit die Joean genoem. Die ligging van sy nuwe hoofstad is vandag bekend as Beijing. Nadat Koeblai in die laat 1270’s die laaste oorblyfsels van die Soeng verslaan het, het hy regeer oor ’n China wat vir die eerste keer sedert die val van die Tang-dinastie in 907 verenig was.
Verbrokkeling en ineenstorting
Teen omtrent die begin van die 14de eeu het die magtige Mongoolse Ryk begin verbrokkel. Die redes hiervoor is talryk. Om maar een ding te noem, die magstryd onder Djengis Khan se afstammelinge het die ryk in ’n aantal khanate verdeel. Mongole het ook deel geword van party van die beskawings wat hulle verower het. In China het magstryde die gesag van Koeblai se afstammelinge verswak. In 1368 het die Chinese, wat moeg was vir onbekwame heersers, korrupsie en hoë belasting, teen hulle Joean-meesters in opstand gekom en hulle na Mongolië teruggedryf.
Soos ’n verwoestende storm het die Mongoolse bewind skielik verskyn, ’n kort rukkie voortgeduur en toe verdwyn. Nogtans het dit ’n merk gelaat op die geskiedenis van Europa en Asië en ook ’n groot invloed gehad op die vereniging van Mongolië en China. Trouens, die Mongole van vandag beskou die eerste groot khan, Djengis Khan, as die vader van hulle nasie.
[Voetnote]
a Let op die verwysings na diere sowel as politieke heerskappy, of regerings, in die volgende Bybelgedeeltes: Daniël 7:6, 12, 17, 23; 8:20-22; Openbaring 16:10; 17:3, 9-12.
b Europeërs het gedink dat die Tatare duiwels uit “Tartarus” was (2 Petrus 2:4). Hulle het die invallers dus Tartare genoem.
[Venster/Prent op bladsy 13]
Van veroweraars tot handelaars
Die Joean-dinastie, wat deur Koeblai Khan gestig is, het gedurende sy bloeityd mense aangemoedig om handel te dryf en te reis. Dit het gelei tot die tydperk wat al “die grootste uitbreiding van die handel in die Eurasiese geskiedenis” genoem is. Dit was die era van die groot Venesiese reisiger Marco Polo (1254-1324).c Arabiese, Persiese, Indiese en Europese handelaars het oor land of per skip gereis en perde, tapyte, edelstene en speserye saamgeneem om te ruil vir keramiek, lakwerk en sy.
In 1492 het Christophorus Columbus, met ’n verslag van Marco Polo se reise in die hand, van Europa af weswaarts geseil in die hoop om handelsbetrekkinge met die Mongoolse koninklike hof te hervat. Hy was egter onbewus van die feit dat die ryk meer as ’n eeu tevore opgehou bestaan het! Die val daarvan het ’n ineenstorting van kommunikasie tot gevolg gehad, en die Moslems het die gebruik van die landroete van Europa na die Ooste belet.
[Voetnoot]
c Sien die Ontwaak! van 8 Junie 2004 vir ’n artikel oor Marco Polo se reis na China.
[Venster/Prent op bladsy 14]
Bekend vir hulle godsdiensverdraagsaamheid
Hoewel die eertydse Mongole animiste was, het hulle ander opvattings verdra. Die boek The Devil’s Horsemen verduidelik dat Westerlinge wat die Mongoolse hoofstad, Karakorum, binnegegaan het, verstom was, nie net oor die rykdom daarvan nie, maar ook oor die godsdiensverdraagsaamheid daarvan—kerke, moskees en tempels het sy aan sy gestaan.
Die sogenaamde Christelike godsdiens het die Mongole bereik deur middel van die Nestoriane, wat van die Bisantynse, of Oostelike, Kerk weggebreek het. Die Nestoriane het baie bekeerlinge gemaak onder die Turkiese stamgroepe van Asië, waarmee die Mongole kontak gehad het. Party van hierdie vroulike bekeerlinge het selfs in die Mongoolse koninklike familie ingetrou.
Vandag is daar ’n verskeidenheid godsdiensopvattings onder die Mongole. Ongeveer 30 persent van die bevolking hang inheemse opvattings aan; 23 persent is Lamaïstiese (Tibettaanse) Boeddhiste; en 5 persent is Moslems. Die res is meestal niegodsdienstig.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Omvang van Mongoolse invloed
HONGARYE
RUSLAND
Kiëf
Wolgarivier
SIBERIË
Kaspiese See
Damaskus
Bagdad
IRAN
OESBEKISTAN
MONGOLIË
Karakorum
Gobiwoestyn
KOREA
CHINA
Beijing
INDIË
Nowgorod
[Prent op bladsy 15]
Trop perde, Mongolië
[Prent op bladsy 15]
Djengis Khan
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Bildarchiv Preussischer Kulturbesitz/Art Resource, NY
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Landskap: ©Bruno Morandi/age fotostock; Djengis Khan: ©The Stapleton Collection/The Bridgeman Art Library