Die slag van Ain Jaloet—’n Keerpunt in wêreldgeskiedenis
GENADELOSE krygsmanne het te perd uit Mongolië vertrek en elke stad verwoes wat geweier het om oor te gee. In Februarie 1258 het hulle ’n verwoede aanval teen Bagdad geloods en deur die stadsmure gebreek. Hulle het ’n week lank gemoor en geplunder. Die hele Islamitiese wêreld het gesidder van vrees weens die Mongole.a
In Januarie 1260, toe die Mongole weswaarts beweeg het, is Aleppo, Sirië, deur dieselfde lot as Bagdad getref. In Maart het Damaskus sy poorte voor die Mongole oopgemaak en oorgegee. Kort daarna het die Mongole die Palestynse stede Nabloes (naby die ligging van eertydse Sigem) en Gasa ingeneem.
Hoelagoe, die Mongoolse generaal, het geëis dat sultan Al-Moezaffar Saïf al-Din Koetoez, die Moslemheerser van Egipte, ook die knie voor hulle buig. Hoelagoe het gedreig dat Egipte noodlottige gevolge sou ly as hy dit nie doen nie. Die Egiptiese leër van 20 000 was ongeveer 15 keer kleiner as Hoelagoe se leër. “Die Moslemwêreld het algehele uitwissing in die gesig gestaar”, sê professor Nazeer Ahmed, ’n geskiedkundige op die gebied van Islam. Wat het sultan Koetoez te doen gestaan?
Koetoez en die Mammelukke
Koetoez was ’n Mammeluk, ’n slaaf van Turkse afkoms. Die Mammelukke was slawe wat deur die Ajjoebiede-sultans van Kaïro, Egipte, as soldate gebruik is. Maar in 1250 het hierdie slawe teen hulle meesters in opstand gekom en oor Egipte begin heers. Koetoez, wat self vroeër een van hierdie slawe was, het later die bewind oorgeneem, en in 1259 het hy sultan geword. Hy was ’n ervare krygsman wat nie van plan was om sonder ’n stryd oor te gee nie. Sy kanse om die Mongole te verower, het egter skraal gelyk. Maar toe het ’n reeks gebeurtenisse gevolg wat die loop van die geskiedenis sou beïnvloed.
Hoelagoe het ’n berig ontvang dat Mongke, die Mongoolse grootkhan, in verafgeleë Mongolië gesterf het. Omdat Hoelagoe ’n magstryd in sy vaderland verwag het, het hy met die grootste deel van sy leër teruggetrek. Hy het tussen 10 000 en 20 000 troepe agtergelaat—na sy mening genoeg om Egipte te verower. Koetoez het toe besef dat hierdie wending in sy guns tel. As hy die invallers wou verslaan, was dit nou die geleentheid.
Tussen Egipte en die Mongole was daar egter nog ’n vyand van die Moslems—die kruisvaarders wat na Palestina gekom het om die “Heilige Land” vir die Christendom te verower. Koetoez het hulle gevra of hy deur hulle gebied kon reis, asook vir die reg om voorraad te koop sodat hulle in Palestina teen die Mongole kon veg. Die kruisvaarders het ingestem. Koetoez was immers die kruisvaarders se enigste hoop om die gebied te bevry van die Mongole, wat vir hulle net so ’n groot probleem was as vir die Moslems.
’n Beslissende stryd tussen die Mammelukke en die Mongole het dus voorgelê.
Ain Jaloet in Palestina
In September 1260 het die leërs van die Mammelukke en die Mongole by Ain Jaloet op die Esdraelonvlakte teen mekaar opgetrek. Ain Jaloet was blykbaar naby die eertydse stad Megiddo geleë.b
Die geskiedkundige Rashid al-Din sê dat die Mammelukke die Mongole by Megiddo in ’n hinderlaag gelok het. Koetoez het die meeste van sy ruiters in die heuwels om die vlakte laat skuil en ’n klein deel van sy leër uitgestuur om die Mongole tot ’n aanval uit te lok. Die Mongole het gedink dat dit die hele Mammelukke-leër was en het tot die aanval oorgegaan. Toe het Koetoez sy verrassingsaanval geloods. Hy het reserwetroepe beveel om uit hulle skuilplekke te storm en die Mongole in die flank aan te val. Die invallers is verslaan.
Dit was die Mongole se eerste nederlaag sedert hulle 43 jaar vroeër in ’n westelike rigting uit Mongolië opgeruk het. Hoewel betreklik min soldate by die geveg betrokke was, word die slag van Ain Jaloet as een van die belangrikste gevegte in die geskiedenis beskou. Dit het die Moslems van uitwissing gered, die idee dat die Mongole onoorwinlik is, uit die weg geruim en die Mammelukke-leër in staat gestel om verlore gebiede terug te kry.
Die nadraai
Die Mongole het ’n aantal kere na die gebied van Sirië en Palestina teruggekeer, maar hulle was nooit weer ’n bedreiging vir Egipte nie. Hoelagoe se nakomelinge het hulle in Persië gevestig, hulle tot Islam bekeer en het later bewakers van die Islamitiese kultuur geword. Hulle gebiede het bekend geword as die Persiese ilkhanaat, dit wil sê “ondergeskikte khanaat”.
Koetoez kon hom nie lank in sy oorwinning verlustig nie. Hy is kort daarna deur sy mededingers doodgemaak. Een van hierdie mededingers was Baibars I, die eerste sultan van ’n herenigde koninkryk van Egipte en Sirië. Baie het hom beskou as die werklike stigter van die Mammelukke-regime. Sy nuwe ryk—wat goed bestuur is en welvarend was—het twee en ’n half eeue lank bestaan, tot 1517.
Gedurende hierdie tydperk van ongeveer 250 jaar het die Mammelukke die kruisvaarders uit die Heilige Land verdryf, die handel en nywerheid bevorder, die kunste begunstig en hospitale, moskees en skole gebou. Onder hulle heerskappy het Egipte die onbetwiste sentrum van die Moslemwêreld geword.
Die slag van Ain Jaloet het nie net ’n uitwerking op die Midde-Ooste gehad nie. Dit het ook die geskiedenis van die Westerse beskawing beïnvloed. “As die Mongole Egipte verslaan het, sou hulle moontlik, ná die terugkeer van Hoelagoe, daarin geslaag het om hulle veroweringstog dwarsoor Noord-Afrika en tot by die Straat van Gibraltar voort te sit”, sê die tydskrif Saudi Aramco World. Aangesien die Mongole intussen ook Pole bereik het, sou hulle Europa van alle kante bedreig het.
“Sou die Europese Renaissance onder sulke omstandighede plaasgevind het?” vra dieselfde tydskrif. “Die wêreld van vandag sou dalk heeltemal anders gewees het.”
[Voetnote]
b Aangesien talle beslissende gevegte in hierdie gebied gevoer is, is die woord “Megiddo” later geassosieer met die bekende slag wat Armageddon—Har–Magedon in Hebreeus—genoem word. Die Bybel verbind Armageddon met “die slag van daardie groot dag van God die Almagtige”.—Openbaring 16:14, 16, Authorized Version.
[Kaart op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Damaskus
SIRIË
Berg Tabor
Esdraelonvlakte
Ain Jaloet (naby Megiddo)
Nabloes (Sigem)
Jerusalem
Gasa
EGIPTE
[Prent op bladsy 12]
Terrein van die eertydse stad Megiddo
[Prent op bladsy 13]
In September 1260 het die leërs van die Mammelukke en die Mongole by Ain Jaloet op die Esdraelonvlakte teen mekaar opgetrek
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 14]
Die ruïnes van die eertydse stad Sigem, met ’n deel van die hedendaagse stad Nabloes op die agtergrond